.

Vyf lewenslesse op die Camino-staptog

Deur Chrizane Geldenhuys op 1 Junie 2019

(Soos gepubliseer op Litnet, Reis)

Daar is baie wanpersepsies gekoppel aan die hedendaagse Camino-stap, waarvan miskien die grootste lui dat dit 'n spirituele affêre is. Jy gaan stap die Camino om jouself te vind. Die Camino roep jou en verander jou lewe vir altyd. Dis 'n magiese ervaring en dit bied antwoorde op die sin van die lewe.

Met 'n geskiedenis wat dateer uit die Romeinse era en in die Katolieke Christendom gegrond is, is dit te verwagte dat die pelgrimstog baie simboliek dra. Die tradisies en mistiek is onmisbaar: in die relikwieë langs die pad, die Bybelse legendes, argitektuur en gewigtigheid van die katedraal wat ten einde op jou wag.

Ek het egter vooraf min geweet van die geskiedenis van die Camino na Santiago (feitlik niks nie), en na afloop van die reis en 'n besoek aan die pelgrimsmuseum was ek nóg meer verward oor die ware verloop van sake.

.

'n Klipkerk op pad na Valença teen die Portugese-Spaanse grens. Ek onthou 'n ongelooflike Sondag deur woude
en in die platteland waartydens ons kon hoor hoe die Portugese hul diens oor 'n luidspreker uitsaai. In die verlede was dit blykbaar so om seker te maak dat ook die werkers in die veld die boodskap kan hoor.

.

Die Obradoiro-plein (Praça do Obradoiro) is die finale bestemming waar verskeie Camino-roetes van
regoor Europa bymekaarkom. Van daar kan jy na Finisterre stap (nóg drie dae se reis te voet) wat
in die Romeinse tyd as die "einde van die wêreld" beskou is.

.

Op elke klein dorpie wag daar 'n ou kerkgebou. Die blou en wit teëls is eg Portugees.

Tog vind duisende mense regoor die wêreld steeds aanklank daarby om in die voetspore van die apostel Jakobus (St James) te volg en ek vermoed dit het niks met die tradisionele definisie van 'n pelgrimstog te doen nie. Die Camino-stap het 'n moderne, mediagedrewe fenomeen geword en al hoe meer Suid-Afrikaners (byna so baie soos die Duitsers) vat die pad Spanje toe.

Die gewildheid hiervan het sekerlik baie te doen met die feit dat Camino-toerisme nou 'n toppunt bereik het. Jy kan gemaklik slaap en jou rugsak met 'n afleweringsdiens vooruit stuur. Daar is selfs diensondernemings wat jou visumaansoek behartig, roete beplan en begeleide gidsdienste aanbied – boonop nog alles in Afrikaans ook.

.

Die Portugese Camino bied twee opsies: die kus- of sentrale roete. Ons het ná dag 1 langs die kus
genoeg van die wind en see-uitsig gehad en besluit om van daar na die sentrale roete te skuif. In Spanje
het ons weer die "spirituele roete" bygelas met die kus langs en dit was 'n onvergeetlike ervaring.

.

Ons is bederf met ongelooflike woude. Spanje se natuur was 'n hoogtepunt.

.

Die ikoniese geel Camino-pyle is maklik om te volg en ons het feitlik heelpad gestap soos die pyle verskyn
het. Ek het boonop 'n hele dag lank alleen gestap sonder enige GPS, selfoonontvangs, 'n kaart of app!

Hoekom die Camino na Santiago?

Iewers kom ek op die konsep van spirituele magnetisme af. Is daar 'n groter krag in hierdie "heilige plekke" wat mense van verskillende geloofsoortuigings in massas soontoe roep? In Taoïsme word daar na "die weg tot volmaaktheid" gesoek. Boeddhiste gaan op 'n innerlike reis om Nirvana te vind. In die Joodse tradisie beteken die naam Jehovah "God op die Pad", en Christene volg die pad wat die apostels na verre lande geneem het om die Woord te versprei.

Vandag nog reis mense na Jerusalem, Rome, Santiago, Mekka en Medina. Bykans 10 miljoen pelgrims vertrek elke jaar na Indië en in Europa is daar soveel as 20 miljoen mense op pad na heilige bestemmings.

Elke pelgrim stap om 'n ander rede en die meeste kom terug met 'n nuwe uitkyk op die lewe wat dikwels niks met verlossing te doen het nie. Langs die pad ontmoet jy hier en daar iemand wat met 'n gruduiwel worstel, maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die meerderheid mense dit deesdae vir die eenvoudige genot en avontuur daarvan doen.

Ek is terug huis toe met letsels van die blase tussen my tone, 'n lelike sonbril-tan, fermer bene en 'n nuutgevonde waardering vir my eie bed. Die stories, kameraadskap en vriendskappe wat jy vorm, het vir my egter die belangrikheid om "myself te vind" oortref.

Tog kry jy baie kans om te dink en is dit byna onmoontlik om nie 'n paar waardevolle dinge te besef nie. Die Camino bied jou 'n luuksheid om harde dinkwerk te doen en terselfdertyd ook net in jou "niks-boks" te verkeer.

.

Pak so lig as moontlik en beperk jou sak tot minder as 10% van jou liggaamsgewig. My rugsak
het net minder as 7 kg geweeg en ek het niks onnodig saamgedra nie.

.

Ek en my vriendin, Alison op dag 1 op pad na die Katedraal in Porto waar ons reis begin het.

Hier is my vyf groot Camino-lesse om te onthou:

1.  Ouderdom is 'n relatiewe begrip

Ek is jonk en aktief en was gewillig om my gemak vir 'n avontuur te verruil, maar as ek vooraf geweet het wat die Camino-stap gaan behels, het ek dalk kop uitgetrek. Die gidsboeke waarsku jou nie teen die talle heuwels wat op jou wag nie!

Ek was absoluut stomgeslaan deur die aantal bejaardes (dis nou mense ouer as aftree-ouderdom) wat die reis meegemaak het.

Dit het my laat besef dat ek tot baie meer fisiek in staat is en dat my denke rondom ouderdom en gesondheid my beperk en net voortydig sal laat oud word.

.

Ponte de Lima is die oudste villa in Portugal (gaan lees gerus meer oor die legende van die
Romeinse brug). Die digter António Gonçalves Ferreira is in 1885 hier gebore. Sy werk as magistraat,
skrywer en vertaler word steeds erken as van die mees beduidende bydraes tot Portugese literatuur
in die 20ste eeu. Hy is in 1963 in die stad Porto oorlede.

2.  Laat vaar jou liggaamlike hangups

Benewens die publieke storte en ou ooms in wit onties by die herberge, het ek besef dat veral ons Suid-Afrikaanse vroue onnodig selfbewus oor ons lywe is. In Galicia het ons op die strand baljaar waar vroue van verskillende ouderdomme en liggaamsgroottes in die kleinste baaibroekies en selfs sonder bikinitoppies rondgeloop het.

Die pelgrimstog dwing jou om jouself grimering- en filtervry aan vreemdelinge te ontbloot. Die mooi en die lelik kom na vore en daar is fisies en metafories geen wegkruipplek nie. Ek het ook besluit om nooit weer vir my voete te vertel hulle is lelik nie. Hulle het my immers oor berge, grasvelde, ongemaklike keisteenpaadjies, in stede en deur twee lande gedra!

.

In Ponte de Lima maak die straatligte musiek en het ons oor 'n Romeinse brug uit die eerste eeu gestap.

3.  Die natuur bied meer verlossing as 'n klipkerk

In die 6de eeu voor Christus het die Hindoes reeds in groot groepe na riviere en ander heilige plekke saamgetrek. Die Boeddhiste het talle heilige plekke waarheen pelgrims vandag nog reis, en die Sjinto-gelowiges onderneem pelgrimstogte na plekke in die natuur waar die kami of natuurgeeste woon.

Hierdie mense beskou die pelgrimstog eerder as 'n geleentheid om in 'n heilige plek te verkeer en dankbaarheid teenoor die natuur te bewys. Die woude veral, en die Spaanse kus was hoogtepunte.

Die Portugese Camino bied nog talle geleenthede vir mense om ongerepte plekke te verken waar geen begeleide toer of reisgids jou sal neem nie. My volgende uitdaging is om die Kumano Kodo-pelgrimsroete in Japan te stap en die Sjinto-Boeddhiste se heilige grond te betree.

.

Die Camino is nie altyd idilliese strande en groen woude nie. Ons het by 'n kruispad regs gedraai
en vir 18 km deur 'n aaklige nywerheidsgebied gestap.

4.  Die reis is belangriker as die bestemming

Enige pelgrimstog sal mens dwing om eksistensiële vrae te vra: Wie is ek, wat maak ek hier, wat is die doel van my lewe en hoe kan ek 'n beter mens wees? Tog het ek besef dat daar geen doel is om té diep in jou eie gedagtes en onsekerhede verstrengel te raak nie.

Die reis is in baie opsigte 'n metafoor vir die lewe en dwing jou om werklik in die oomblik teenwoordig te wees. As ons tog net meer gereeld kan stop en besef dat die sin van die lewe nie veel meer is as om bloot in die oomblik te leef nie!

.

In Portugal móét jy 'n Francesinha eet. Dit bestaan uit brood met ham, varkvleis, kaas en 'n soet
vleissous (dit proe amper soos monkey gland- of Jimmy-braaivleissous). Google gerus ook
pastel de nata, pulpofeira en bacalhau indien jy honger is.

5.  Die mens is nie 'n eiland nie

Die grootste geskenk wat die Camino-stap vir elke pelgrim bied, is vriendskap. Ja, dis 'n cliché, om goeie rede.

Die aard van die pelgrimstog ontsluit 'n spesiale verhouding tussen die aardse en die heilige, tussen die individu en gemeenskap, en daarom word jou lewe op een of ander geheimsinnige manier getransformeer.

Ek vind soveel aanklank by die konsep van die pelgrimsreis as feesviering, en dit was 'n ongelooflike ervaring om deel te wees van 'n groep mense wat uiteindelik dieselfde eenvoudige doel gehad het: om die eindbestemming te haal en dit in die proses te geniet.

Langs die pad het ons nie net saam oor moeilike dinge nagedink, ons pyn gedeel en saam getreur nie; ons het saam gelag, die eenvoudige dinge waardeer en ongelooflike dinge buite ons gewone verwysingsraamwerke beleef.

Só het ek gestap:

Portugal
Dag 1:  Porto tot by Vila Chá (29 km)
Dag 2:  Vila Chá tot by São Pedro de Rates (20 km)
Dag 3:  São Pedro de Rates tot by Tamel (25 km)
Dag 4:  Tamel tot by Ponta de Lima (25 km)
Dag 5:  Ponta de Lima tot by Fervença (30 km)

Spanje
Dag 6:  Fervença tot by Tui, (13 km)
Dag 7:  Tui tot by Mos (22 km)
Dag 8:  Mos tot by Pontevedra (29 km)
Dag 9:  Pontevedra tot by Armenteira (25 km)
Dag 10:  Armenteira tot by Vila Nova de Arousa (24 km)
Dag 11:  Vila Nova de Arousa tot by Padron (3 km stap en 2 uur per boot)
Dag 12:  Pádron tot by Santiago de Compostela (24 km)

Praktiese wenke:

Indien jy nog vrae het, kontak gerus vir Chrizane via Instagram by @kostelikblog of stuur vir haar 'n e-pos na kostelik@chrizane.com.
Vir nog foto's, besoek Chrizane se Insta-blad by @chrizane_g

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.