Vrydenkers en Vrygeeste

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Februarie 2012

Dit is vir my al meer duidelik dat meeste mense in Suid Afrika (en wêreldwyd) nog steeds vasgevang sit binne 'n kudde-mentaliteit. Hiermee verwys ek spesifiek na die onvermoë van meeste mense om vir hulle self te dink. Of dit nou 'n onkritiese na-dink, na-praat, na-volg of na-doen van godsdienstige of politieke leiers is – die feit is, meeste mense is nie vry genoeg om 'n enkele kreatiewe gedagte toe te laat nie.

Dit is seker omdat ons van kleins af so geleer is, nee, geïndoktrineer is; om te glo dat eie denke altyd ondergeskik is aan die kultuur, geloofstradisie en "waarheid" van die dag. Daardie idee dat net diegene wat soos die kudde dink en doen aanvaarbaar is. Dit is ook hoe ek grootgeword het. My skool- en universities-opleiding was tipies hiervan. Ek onthou selfs die dag toe ek my Afrikaanse opstelpunte teruggekry het, en my Afrikaanse juffrou gesê het ek sal nooit 'n 'A' kry vir sulke opmaak-stories nie. Iets van my kreatiewe gees het daardie dag groot skade gely.

En in my studentejare is ek net verder ontnugter toe ek agterkom dat die ongeskrewe reël vir goeie punte is, jy moet die dosent so akkuraat moontlik na-dink en na-praat. Geen beloning vir kritiese denke nie. Dink maar net hoe kreatief en vreesloos sou mense gewees het as ons amptelike onderrig eerder gebaseer was op die Amerikaanse joernalis, skrywer en digter Christopher Morley (1890-1957) se sienings. Hy het net voor sy dood die volgende geskrywe wat dit goed saamvat: "Read, every day, something no one else is reading. Think, every day, something no one else is thinking. Do, every day, something no one else would be silly enough to do. It is bad for the mind to continually be part of unanimity."

'n Ander voorbeeld is Walter Lippmann (1889-1974), ook 'n Amerikaanse joernalis, skrywer en filosoof wat gesê het: "When all think alike, then no one is thinking." Hoe anders sou ons wêreld nie gelyk het as hierdie mense se woorde deel was van elkeen van ons se opvoeding nie. Vrydenkers sou heel waarskynlik die norm gewees het, en nie die buitestaanders, soos die werklikheid vandag daar uitsien nie.

Soos meeste mense het ek ook van vroeg af probeer om by die reëls te hou en te konformeer, maar dit het nie gehou nie. Reëls was altyd vir my 'n probleem. Ek is baie keer gesê dat ek moedswillig is. En dit het my altyd laat voel soos 'n buitestaander. Dit was eers jare later dat ek besef het dat hierdie kudde-mentaliteit my en baie Afrikaners groot skade aangedoen het. Dit wat J. Krishnamurti verwoord het as: "It is no measure of health to be well adjusted to a profoundly sick society."

Gelukkig vir ons was daar altyd 'n individu of twee, wat getrou aan hulle gewete by hulle oortuigings gebly het, ongeag persoonlike benadeling, verwerping of skade. Hierdie mense was meestal uitgedruk en as buitestaanders gebrandmerk. Friedrich Nietzsche omskryf hulle so: "The individual has always had to struggle to keep from being overwhelmed by the tribe. If you try it, you will be lonely often, and sometimes frightened. But no price is too high to pay for the privilege of owning yourself."

In my eie lewe het ek ook te doen gekry met vrydenkers en vrygeeste. Hulle woorde en dade het my geïnspireer en gehelp om myself te aanvaar. Selfs vandag nog ontmoet ek gereeld vrygeeste wat my aanspoor om self 'n vrydenker en nonkonformis te wees. Ek het ook geleer dat ander mense se eerlike twyfels en soeke my inspireer om dieselfde te doen. En baie van hierdie mense wat ek ontmoet is nie noodwendig bekend of radikaal anders nie. Nee, ek't gou agter gekom daar is soos enigiets in die lewe, verskillende grade van vrydenkers en nonkonformiste. Sommiges beur teen die grense van die aanvaarde en ander deurbreek die grense. Net soos daar uitgesproke en aktiewe vrydenkers is, is daar ook swygende en passiewe vrydenkers.

Daar is vrydenkers wat die geskiedenis radikaal beïnvloed en daar is die wat ongemerk verbygaan. Vrydenkers verskyn in verskillende gedaantes op die toneel; van aktiviste, politici, filosowe tot kunstenaars. Nietemin speel elkeen 'n belangrike rol. 'n Paar gunstelinge van my is:

George Bernard Shaw (1856-1950), 'n Ierse dramaturg en 'n mede stigter van die London School of Economics. Hy is die enigste persoon wat in die geskiedenis 'n Nobelprys vir Letterkunde en 'n Oscar ontvang het vir sy werk. Shaw was ook openlik 'n buitestaander en nonkonformis. Hy het sy Nobelprys geweier maar word later deur sy vrou oortuig dit kan as 'n huldeblyk aan Ierland gesien word. Hy was 'n vurige vegter teen uitbuiting van die werkersklas. Hier is iets van hom: "A life spent making mistakes is not only more honorable, but more useful than a life spent doing nothing."

Franz Kafka (1883-1924) 'n Duitse romanskrywer. Kafka se werke het merendeels ná sy dood bekend geword. Tans word Franz Kafka as een van die invloedrykste skrywers van die 20ste eeu beskou. Hy het onder andere die volgende gesê: "All great truths begin as blasphemies."

Jean-Paul Sartre (1905-1980) was een van die belangrikste Franse filosowe en een van die hooffigure van die Franse eksistensialisme. Wat my so na Sartre aantrek, is sy eerlikheid oor sy buitestaander posisie. 'n Goeie voorbeeld hiervan is dat hy ook geweier het om die Nobelprys vir Letterkunde in ontvangs te neem, sy rede was dat hy daardeur van sy Vryheid sou verloor om te sê wat hy wil. Een van sy wonderlike wyshede was: "Freedom is what you do with what's been done to you."

Albert Camus (1913-1960), 'n Frans-Algerynse skrywer en joernalis. Hy het ook die Nobelprys vir Letterkunde ontvang. Hoor hoe hy sy buitestaander en vrydenker identiteit verstaan: "Don't walk behind me; I may not lead. Don't walk in front of me; I may not follow. Just walk beside me and be my friend."

En dan meer onlangs, nader aan my vel. Wie sal kan vergeet hoe die tagtigs gekenmerk was deur vrydenkers wat teen die denke en gees van die tyd ingegaan het. 'n Groep individue wat na Dakar vertrek het om met die ondergrondse ANC te gaan praat, na die politieke skuif waarin Van Zyl Slabbert uit die parlement geloop het. Alhoewel in die minderheid, het hulle seer sekerlik die weg gebaan vir dit wat gevolg het.

Ook die herlewing van Afrikaanse musiek wat aan die einde van die tagtigs deur die Voëlvry-beweging ingelei is. Die Voëlvry-beweging wat gekenmerk was deur 'n verset teen die kudde-mentaliteit wat so sigbaar was in ons politieke stelsel en Calvinisties nasionale breinspoeling van die tyd. Hierdie rock rewolusie is ingelei deur vrydenkers en nonkonformiste soos o.a. Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand.

Daarom is ek so dankbaar vir al die vrydenkers, nonkonformiste en meestal buitestaanders wat eerlik en openlik hulle waarheid leef. Ek besef dat hulle is meestal hoogs individualisties en alleenlopers. Maar sonder hulle kritiek en uitwysing van alles wat bydra tot die verontmensliking, afstomping en ontkenning van eie denke, sal dogmas, ideologieë, sosiale strukture wat mense nommers en kommoditeite maak, altyd heers. Hulle is die wat konstant besig is om grense af breek; om teenoorgesteldes by mekaar uit te bring en om 'n nuwe logika oor die lewe te vind.

Aanvanklik het my 'van die kudde' afskeid neem nie op 'n dramatiese wyse plaasgevind nie. Dit het oor 'n verloop van tyd gebeur. Maar nog voor dit uiterlik sigbaar was het dit al my hele lewensloop bepaal. En op 'n dag kon ek dit eenvoudig nie meer wegsteek nie, veral nie vir myself nie. En ek het gerebelleer, teen dit wat in my lewe die kudde mentaliteit verteenwoordig het, die kerk. Ek het bedank as NG predikant, bedank as NG lidmaat, bedank as Christen en bedank as konformis, bedank as een van die kudde. Daardeur het ek my vryheid en kreatiwiteit gevind.

Dit was my lot, en my keuse, om 'n vrydenker te wees, 'n buitestaander, innerlik op 'n afstand van die kudde. Dit het al hoe meer vorm begin gee aan my lewe en nou ook die koers daarvan. Dit het veroorsaak dat ek tot op hede wel baie dinge het waaroor ek jammer is en graag sou wou anders doen. Foute wat ek gemaak het, skerp woorde waarvoor ek nie verskoning gevra het nie, medemense na wie ek nie uitgereik het nie, arrogansie toe ek nederig moes gewees het en baie woorde toe ek eerder meer moes gedoen het. Maar die een ding waaroor ek geen berou het nie, is dat ek nie meer een van die kudde is nie, dat ek dit nie kan wees nie en nooit weer sal wees nie.

Wêreldwyd is daar ook al meer die wegbeweeg van die kudde-mentaliteit se onkritiese aanvaarding van gesag. Dink maar aan die "Occupy Movement" wat nou 'n wêreldwye beweging is. Dit het ontstaan vanuit 'n protes-optog in Spanje op 15 Mei 2011. Die protes was 'n reaksie teenoor die ekonomiese situasie en veral die banke en eienaars se selfverryking en ondeursigtigheid. Hierdie beweging kring vinnig uit na ander Europese lande en spoel oor na Amerika se "Occupy Wall Street" betogings. Die eerste internasionale Aksiedag is gehou op 15 Oktober 2011. En hierdie beweging is nou wêreldwyd en groei by die dag.

Dit is soos Alan Keightley (1843-1926), Amerikaanse politikus, dit stel: "Once in a while it really hits people that they don't have to experience the world in the way they have been told to." Dit is net jammer dat in die populêre Afrikaanse kultuur nog min van hierdie kritiese selfdenke teenwoordig is.

Dit het egter nou tyd geword dat ek en my mede vrydenkers die grense moet oorskry en die noodsaaklike teenwig vir versmorende kuddementaliteit moet word. Ons moet die agente van vernuwing en hervorming wees, daar waar ons leef en werk. Natuurlik, sonder om te wil voorskryf hoe mense moet dink en voel. Anders is ons nie veel anders as die wat ons verdruk het nie. Om 'n vrydenker te wees wat mense probeer help om vry te word, moet ons vanuit 'n ingesteldheid werk waarvan Karin Armstrong praat: "Look into your heart, discover what it is that gives you pain, and then refuse, under any circumstance whatsoever, to inflict that pain on anybody else."

Kom ons verkondig hierdie eenvoudige, voor die hand liggende boodskap: Dink vir jou self! En weet dat wanneer mense dink, bly die gemeenskap aan die lewe. Soms vat dit net een idee of woordjie om iemand wat vasgevang is, vry te maak. Maar meestal vra dit van vrydenkers om hulle waarheid te leef.

"The only way to deal with an unfree world is to become so absolutely free that your very existence is an act of rebellion." – Albert Camus

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za