.

Vonke spat oor godsdiens in skole

Deur Jean Oosthuizen op 1 Julie 2017

.

(Soos gepubliseer op Litnet.)

Die land kan hom gereedmaak vir 'n waterskeidingsaak ten opsigte van godsdiens in skole. Die hooggeregshof hoor in Johannesburg van 15 tot 17 Mei die stryd teen die beoefening van godsdiens gedurende skoolure aan.

Die voorstanders sowel as die teenstanders daarvan glo albei hulle het 'n sterk saak wanneer die hof volgende maand daaroor moet besluit. Skole wat slegs een geloof wil bevoordeel, kry egter al hoe meer die wind van voor, selfs uit eie geledere.

Die hofsaak volg na 'n jare lange stryd sedert 2014 tussen die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) en 'n aantal skole wat na bewering diskrimineer teen leerders wat nie die Christelike geloof aanhang nie.

Die twis gaan nie oor godsdiensonderrig as sodanig in skole nie, maar oor die beoefening daarvan gedurende skoolure en die wyse waarop dit geskied.

Terwyl Ogod gekant is teen die beoefening van godsdiens gedurende skooltyd in openbare skole, meen die skole met 'n Christelike etos dit is hulle grondwetlike reg om hulle geloof tydens skoolure te beoefen.

Die hof gaan nou gevra word om te beslis dat dit in stryd is met die Nasionale Onderwysbeleid en die land se Grondwet om slegs 'n sekere geloof se etos in openbare skole te verkondig.

Die skole wat by die hofsaak betrek word, is die Laerskool Randhart, die Laerskool Baanbreker, die Laerskool Garsfontein, die Hoërskool Linden, die Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium, wat almal 'n Christelike etos het.

Die skole staan die hofaansoek teen.

In 'n onverwagse wending het die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) 'n verrassende ommeswaai oor sy standpunt oor godsdiens in skole gemaak in die hofstukke wat hulle by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het. Dit kan die skole wat daarop aandring om 'n Christelike etos te handhaaf, se saak erg in die wiele ry.

Dié vakbond waaraan die meeste Afrikaanse onderwysers in die land behoort, sê in hulle hofstukke skole behoort hulself nie met slegs 'n enkele geloof te identifiseer nie.

Tot baie se verbasing stem dit grootliks ooreen met Ogod se aansoek wat voor die hof dien.

SAOU se uitvoerende hoof, Chris Klopper, ontken dat hulle Ogod se hofaansoek skielik ondersteun, maar Ogod se voorsitter, Hans Pietersen, is verheug oor dié nuwe wending.

Voorheen het Klopper gesê die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), wat die skole gedagvaar het, "kan in die hel in vlieg".

Nóú blyk dit dat SAOU en Ogod se standpunte glad nie meer so onversoenbaar is nie.

Albei stem saam skole moet hulle nie met 'n bepaalde geloof vereenselwig nie en dat dit nie in leerlinge se belang is om deur een geloof bedien te word nie.

Pietersen sê hy is dankbaar oor die houding wat Klopper nou inneem. Die "manmoedigheid" wat Klopper aan die dag gelê het om die hofdokumente te onderteken, moet volgens Pietersen verwelkom word.

Voorstanders van skole met 'n Christelike etos is egter woedend vir Klopper.

Die voormalige hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg vra in 'n brief aan 3000 onderwysers landwyd om 'n petisie te teken om te eis dat sy eertydse bondgenoot, SAOU, hom aan die hofsaak oor godsdiens in skole onttrek.

Die uitvoerende hoof van die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Paul Colditz, bly egter optimisties oor die uitslag van die hofsaak.

Fedsas verteenwoordig die ses skole in die saak, terwyl AfriForum, wat as vriend van die hof by die saak betrokke is, finansiële steun bied vir die skole se regskoste.

"As ek nie optimisties was oor die saak nie, sou ons lede dit tog immers nie opponeer het nie en sou ons as Fedsas ons ook nie met die opposisie assosieer het nie," het Colditz op navraag aan LitNet gesê.

Hy wou hom nie te veel oor die saak uitspreek nie, "omdat dit sub judice is en ek die regsproses respekteer". Colditz sê dit is 'n belangrike saak in dié opsig dat dit vir albei partye en vir meerdere mense die geleentheid gee om te sê in watter tipe samelewing hulle hul wil bevind.

"Een waarin mense en instellings die vryheid het om te glo soos hulle glo en om daardie geloof ook vrylik te manifesteer en uit leef, beide in die private en in die openbare ruimtes, of een waarin mense van 'n bepaalde oortuiging andere deur middel van hofbevele tot swye probeer dwing."

Pietersen, 'n sakeman van Stellenbosch wat die hofsaak dryf, ontken dat hulle enigiemand tot stilswye wil dwing.

Hy sê sy organisasie tref 'n onderskeid tussen godsdiensbeoefening in skole waar slegs een groep se godsdiens bevoordeel word en godsdiensonderrig waar alle godsdienste gelyke erkenning kry.

Pietersen meen leerders behoort gelykmatig oor alle godsdienste onderrig te word. Die beoefening van enige spesifieke godsdiens moet buite skoolure geskied sonder om direk of indirek teen leerders te diskrimineer wat nie daaraan deelneem nie.

Die hofstukke beslaan meer as 2000 bladsye en verteenwoordig wyd uiteenlopende sienings.

Die betooghoofde van die opponente, die Minister van Basiese Onderwys asook die vriende van die hof is op 28 Februarie ontvang.

Volgens Pietersen was die skole se hoofde "'n potpourri van ontkenning en pogings om die saak en aantygings af te weer".

Hy sê dit was egter verblydend om toe sien hoe deeglik die Minister en die CASAC (casac.org.za) ten gunste van die Nasionale Beleid oor Godsdiens, waarteen die skole en hul ondersteuners skop, argumenteer.

"Dit bly steeds onverklaarbaar hoe die skole, en deur assosiasie ook Fedsas, Paul Colditz en AfriForum, argumenteer vir die beweerde reg van meerderhede om beleide en gebruike tot uitsluiting of vervreemding van minderhede te bepaal."

In Ogod se betooghoofde van 69 bladsye steun hulle swaar op die handves van menseregte soos vervat in die Grondwet. Van die besware wat geopper word, is dat leerders glo by sommige skole geviktimiseer en gestigmatiseer word as hulle nie aan die skole se godsdiensaktiwiteite wil deelneem nie.

Van die leerlinge word glo selfs vertel dat hulle hel toe gaan as hulle nie Christene is nie. Volgens die hofstukke is daar onderwysers wat hieraan meedoen.

Pietersen sê die hofsaak gaan nie daaroor om godsdiens uit skole te verban nie, maar dat alle godsdienste gelyke erkenning by openbare skole moet kry.

"Daar moet 'n duidelike onderskeid getref word tussen godsdiensbeoefening waar slegs een godsdiens bevoordeel word en godsdiensonderrig waar leerders op 'n professionele wyse blootstelling aan alle godsdienste kry."

Godsdiensonderrig en godsdiensdiversiteit moet volgens Ogod se betooghoofde gefasiliteer word deur opgeleide professionele mense en objektiewe kriteria en deur geloofwaardige en objektiewe personeel aangebied word.

Hulle sê die beoefening van godsdiens (in teenstelling met godsdiensonderrig) mag nie deel wees van die formele skoolprogram nie. Skoolgeriewe mag wel vir sulke programme gebruik word op 'n wyse wat nie afwyk van die kernfunksies van 'n skool nie, mits dit nie tydens skoolure is nie.

Pietersen sê die hof moet die nasionale godsdiensbeleid van 2003 en die bepalings van die Grondwet afdwing. "Skole moet gelas word om daarby te hou. Ek wil hê alle gelowe moet gelyke erkenning by skole kry. Een geloof mag nie bevorder word ten koste van 'n ander nie."

Die skole dring op hulle beurt aan op die reg van op godsdiensvryheid soos hulle dit sien en sê hulle oortree nie die Grondwet nie. Volgens die skole word kinders nie benadeel as hulle nie die meerderheidsgeloof van 'n betrokke skool volg nie.

Hulle voer aan dat daar geen indirekte dwang vir die minderheid is om skole met 'n Christelike etos se geloofspraktyke by te woon nie. Leerders wat nie daarmee saamstem nie, het die reg om hulleself daarvan te verskoon. Colditz sê hy is verras om te hoor Ogod wil nie teen enige godsdiens diskrimineer of die Christelike godsdiens bykom nie. Hy sê die stelling dat hulle eerder wil toesien dat alle geloofsoortuigings dieselfde hanteer word, stem nie ooreen met hulle hofaansoek nie.

Pietersen hou egter vol dit was nog nooit Ogod se standpunt om godsdiensonderrig by skole te belet nie. "Ons sê net daar mag nie ongelyke bevordering van een godsdiens bo 'n ander wees nie." Hy sê sy organisasie het geen beswaar teen godsdiensonderrig as sodanig by openbare skole nie, mits alle godsdienste gelyke behandeling ontvang soos wat deur die Grondwet voorgeskryf word. Vir hom gaan dit oor die beoefening van godsdiens gedurende skooltyd en dat sekere leerders direk of indirek geviktimiseer word as hulle nie daaraan deelneem nie.

* Die Hooggeregshof het toe wel in die guns van Ogod beslis. In wat as 'n waterskeiding saak beskou word is beslis skole mag godsdiens beoefen maar nie 'n spesifieke godsdiens bevorder nie. Openbare staatskole en skole wat deur staatsfinansiering gehelp word, word deur die hofuitspraak geraak.

Jean Oosthuizen is 'n vryskutjoernalis.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.