.

Die Vier Wette van Geluk

Deur Dr. Piet Muller op 1 April 2014

.

Wees soos 'n spieël wat alles weerkaats soos wat dit is, sonder om te oordeel. (Lesse uit die Jesus-soetras van die Chinese kerk in die 6de eeu.)

Kan verskillende gelowe in vrede naas mekaar bestaan? Klaarblyklik nie, as 'n mens kyk na die gedrag van Amerikaanse fundamentaliste en Islam se jihadiste.

Die waarheid is egter dat geen religie ooit in 'n lugleegte ontstaan nie. Almal het 'n geskiedenis, wat kontak met ander gelowe insluit.

Die Judaïsme het, as gevolg van die ballingskap in Babilonië, 'n enorme kwalitatiewe sprong gemaak vanaf 'n stamreligie tot 'n universele godsdiens wat die bewondering van mense buite die sirkel van die Joodse volk geniet het.

Judaïsme, Christendom en Islam het van die Zoroastrianisme van Persië, die begrip van 'n stryd tussen goed en kwaad geërf.

Of dink aan watter lewenskragtige nuwe godsdiens ontstaan het toe die Jesusbeweging en die groot godsdienste van die Romeinse Ryk mekaar ontmoet het.

Die Christendom het self 'n merkwaardige ontmoeting met die Taoïsme en die Boeddhisme van Asië gehad, waartydens die Christendom tot 'n blink diamant geslyp is, wat weer in die 21ste eeu herontdek word en mense inspireer.

Hierdie geskiedenis was lank onbekend, totdat 'n groep grafgrawers 1633 in die buitewyke van die Chinese stad Xian afgekom het op 'n kliptafel van 2 ton en byna drie meter hoog. Dit het gerus op twee reuse gekerfde skilpaaie en aan die bopunt het dit twee drake gehad (volgens Chinese die simbool van die hoogste spirituele gesag) wat 'n skild vashou waarop 'n lotus uitgebeeld is (die simbool van Boeddhisme) en uit die lotus 'n kruis wat te voorskyn kom.

Op hierdie klip-stele is in 2000 Chinese lettertekens die verhaal opgeteken van biskop Aleben en sy monnike se Godsdiens van die Lig, wat hulle saamgebring het uit die Weste, toe hulle in die sesde eeu die Christendom in China gaan vestig het.

In hulle boek The Lost Sutras of Jesus, skryf Thomas Moore en Ray Riegert hieroor: "Op die bopunt van die groot Monument-soetra in Xian is die kragtige simbool van die kruis wat uit die lotus te voorskyn kom. Hierdie kliptafel beeld nie net die inspirerende idee uit dat die een godsdiens in die ander verankerd kan wees nie, maar dra ook die ewe belangrike boodskap dat die wêreld van ons sintuie ook kan aanleiding gee tot 'n visionêre wêreld van spirituele bewussyn. Dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie.

Hierdie misterie speel ook af in ons persoonlike, daaglikse lewens. Ons lewe in die lotus van die liggaam en van die sinnelike wêreld en tog kan ons mense word van buitengewone visie en deugde. Hier beteken deug kwaliteit en diepte en nie moralistiese perfeksie nie. Dit is die geskenk van die lotus, om ons idees oor die spirituele hoogtes wat bereik kan word in die skoonheid van die gewone lewe te anker. Die lotus vermenslik ons en die kruis inspireer ons tot onbeperkte deernis.

"Op hierdie manier korrigeer die Jesus Soetras die moderne neiging om spiritualiteit te geaffekteerd te maak, te ver verwyderd van die lief en leed van die daaglikse lewe; en om die daaglikse lewe te persoonlik, te materialisties en grootliks onbewus te maak. Wat Boeddhisme en Taoïsme in hierdie Soetras vir die Evangelie gedoen het kan ander godsdienste ook vir mekaar doen ... en die beste in mekaar uitbring.

"Mense vra dikwels hoe godsdiens in die toekoms sal lyk. Die Jesus-soetras gee ons 'n idee van hoe die ontmoeting tussen verskillende godsdienste kan lei tot 'n nuwe, helderder visie..." (Moore en Riegert pag. 138.)

Maar wat is die verhaal agter hierdie verhaal?

Dit begin in die jaar 535, toe 'n biskop met die naam Aleben en 'n groepie monnike in Persië (vandag Iran) met 'n voetreis na Xian, die destydse hoofstad van China begin het, om die Christendom daar aan die Chinese keiser van die T'ang-dinastie, Taizong, bekend te stel. Dit was 'n reis van 5000 kilometer, oor twee bergreekse, oor verskeie gletsers en deur twee woestyne.

Hulle het China besoek op uitnodiging van die stigter van die T'ang-dinastie, wat hulle seremonieel ontvang het toe hulle die stad binnekom. Hulle het gou die vertroue gewen van die Chinese heerser en hy het hulle in beheer geplaas van die keiserlike welsynswerk.

Die keiser het vir hulle 'n klooster laat bou en opdrag gegee dat Christelike geskrifte in Chinees vertaal moet word. Onder sy beskerming en later die van sy seun, het die Christendom regoor China uitgebrei, totdat 'n regent in die 12de eeu, alle "vreemde godsdienste", dus ook die Boeddhisme, verbied het. Hoe sterk die Christendom reeds op daardie tydstip was, kan 'n mens aflei uit die feit dat 3000 monnike uit die klooster verdryf is. Elders lees 'n mens dat meer as 100 gemeentes oor die hele China gevestig is.

Toe omstandighede weer gunstig word om terug te keer, het die verowerings van Islam egter alle kontak tussen die Christelike wêreld en China onmoontlik gemaak. Maar die evangelie wat hulle van Persië na China gedra het, het deur kontak met die Taoïsme en die Boeddhisme ontwikkel tot 'n geloof wat steeds mense van die 21 ste eeu kan inspireer.

In hierdie soetras uit die 6de eeu van China lees ons van 'n Jesus wat nie sê "Aanbid my" nie, maar "Volg my en ek sal julle heel maak. Julle sal die ewigheidslewe ervaar midde in die wêreld van geboorte en dood; en met sereniteit lewe in 'n wêreld vol pyn en lyding".

In 1900 is daar in 'n toegemesselde grot in die oase-stad Dunhuang, op die antieke sy-roete, duisende geskrifte gevind, hoofsaaklik Boeddhistiese geskrifte, maar ook 'n versameling Christelike geskrifte, die sg. Jesus-soetras. Die meeste hiervan het uiteindelik beland in die British Museum en in die Louvre in Frankryk. Daar het dit vir 'n eeu gelê en verwaarloos, voordat iemand die moeite gedoen het om dit ernstig op te neem.

'n Mens kan dit maklik verstaan, want voordat die ontdekking van die Evangelie van Thomas, in 1945, ons insig gegee het in die aard van die oorspronklike Joodse Christendom, moes hierdie Chinese geskrifte bra esoteries en onrelevant geklink het. Vandag herken ons die Evangelie van Thomas daarin, soos gesien deur 'n Taoïstiese en Boeddhistiese bril.

Van die Taoïsme is die begrip Tao oorgeneem (deesdae uitgespreek as Dao), wat vertaal kan word as Weg of pad (onthou die vroeë Christene is ook "mense van die Weg" genoem). Maar Tao is ook veel meer: dit is die grond van alle bestaan; die godheid aan wie geen kenmerke of name toegeskryf kan word nie. Dit kan selfs ook die natuurlike harmonie van dinge beteken.

Wie die harmonie in alle dinge raaksien en sy lewe daarvolgens inrig, lewe in harmonie met die Tao en vir hom gebeur alles moeiteloos. Hieruit kom weer die begrip wu wei voort, 'n bedrieglik eenvoudige begrip wat vertaal kan word as moeitelose moeite of selfs inspanningslose inspanning.

Van die Boeddhisme kom die insig dat begeerte die bron van alle lyding is en dat niks ooit permanent is nie. Natuurlik ook die insig dat daar in elke mens 'n Boeddha-natuur is, die moontlikheid om 'n Boeddha, 'n verligte, te word, soos wat elke mens (volgens die vroeë Christene) ook 'n Christus, 'n gesalfde kan word.

Uit die Boeddhisme kom ook die begrip karma, wat letterlik beteken oorsaak en gevolg. Die mens word nie na 'n finale oordeel deur 'n goddelike regter gestraf vir sy dade nie, maar elke daad het sy eie gevolg. As 'n mens die verkeerde dieet volg kry jy diabetes of hartkwale; as 'n mens ander mense sleg behandel gaan hulle vyandig teenoor jou wees. Aan die ander kant, as jy mense goed behandel sal hulle jou goedgesind wees. 'n Mens 'straf' jouself as't ware self deurdat al jou dade gevolge het.

Trouens daar is soveel raakpunte tussen die Thomas-evangelie en die Boeddhisme dat dit vir die Persiese monnike min moeite moes gewees het om hul eie godsdiens deur die bril van hul nuwe omgewing te sien en om daardeur nuwe insigte in ou waarhede te vind. Dit gebeur trouens in die Soetra oor die Vier Dharma-wette.

(Dharma is 'n Sanskrit woord met 'n veelheid van betekenisse. Dit kan beteken die goeie leer wat Boeddha geleer het, of selfs die ewige natuurwet, wat dit weer verwant maak aan die begrip Tao; of dit kan selfs daardie dinge beteken wat ons sintuiglik kan waarneem. Soetra is Sanskrit vir 'n lyn – soos in rig-lyn – en word in Asië algemeen gebruik om 'n preek of 'n leerstelling mee aan te dui).

In die soetra of preek oor die Vier Dharma-wette gee Jesus raad oor hoe om te lewe as 'n mens gelukkig wil wees. Eenvoudige, maar praktiese raad:

Moenie begeer nie,
Moenie materiële dinge najaag en die geestelike dinge vergeet nie
Moenie goeie dade doen net om raakgesien te word nie, en
Moenie van dogma's en leerstellings afgode maak nie.

In hierdie soetra verskil een van Jesus se studente van hom. Hy vind die vier dharma-wette klaarblyklik te beperkend en wil weet hoe 'n mens gelukkig kan wees as jy nie kan lewe nie:

"U sê dat geen begeerte, moeitelose aksie, geen meriete en geen waarheid is die vier wette is wat na vrede en vreugde lei. Maar ek verstaan nie hoedat daar vreugde kan wees as 'n mens nie kan lewe nie."

"Die Een Heer, die Messias, antwoord: "Wat 'n goeie vraag. Laat ek dit weer verduidelik. Dit is slegs niks wat aanleiding tot iets kan gee. As dit in iets was sou vrede en vreugde nooit kon ontstaan nie. En hoekom nie? Neem as voorbeeld 'n berg met 'n digte woud. Die blare en takke van die bome sprei vanself uit en bied skaduwee en skuiling. Hulle het nie nodig om voëls en diere te gaan soek om daar te skuil nie, hulle kom uit hul eie soontoe om nes te maak en weg te kruip.

"Of dink aan die oseaan wat die water van al die riviere en fonteine aantrek en wie se dieptes onpeilbaar is. So 'n oseaan het tog nie nodig om visse en ander waterdiere te gaan soek nie. Hulle kom woon daar uit hul eie.

"Die van julle wat vrede en vreugde soek is soos die voëls en die visse. Julle hoef net julle gemoed te kalmeer en stil te lewe. Wanneer julle dit doen hoef julle nie eens te soek na vrede en vreugde nie, dit sal vanself daar wees, nes die woud en die see. Dit is hoe niks aanleiding gee tot iets.

"Die eerste wet is die wet van geen begeerte. Julle harte soek die een ding na die ander en julle skep in die proses vir julself 'n magdom probleme. Julle moet begeerte nooit toelaat om op te vlam nie. Begeertes is soos die wortels van plante. Omdat dit onder die grond bedek is sien 'n mens dit nie en merk jy nie as dit beskadig is nie, totdat die plant begin verwelk en die blare afval. Begeerte in 'n mens se hart kan nie van buite af gesien word nie. Maar begeerte tap 'n mens se energie, versteur jou gemoedsrus en en maak jou ontevrede en ongelukkig.

"Begeerte sny ons af van die wortels van vrede en vreugde. Dit is waarom julle die wet van geen begeerte moet onderhou.

"Die tweede wet is die wet van moeitelose moeite. Om bloot dinge te doen vir wêreldse redes is nie deel van julle ware wese nie. Verwerp ydele dade en oppervlakkige begeertes. Anders bedrieg julle julself.

"Dan word julle soos 'n skip wat hulpeloos op die see ronddobber. Die seewater rol en swel saam met die wind, dit veroorsaak golwe wat die skip dié kant en daardie kant toe laat dobber. Daar is geen vrede aan boord nie en almal is bang hulle gaan sink.

"Ons doen dinge ter wille van vooruitgang en geldelike gewin en verwaarloos wat werklik belangrik is en sien later die Weg nie meer raak nie. Dit is waarom julle moet oppas vir die materiële wêreld en moeitelose moeite beoefen.

"Die derde wet is die wet van geen meriete. Moenie vir jou 'n naam probeer maak deur goeie dade nie. Beoefen liewer deernis teenoor almal. Moet nooit beloning soek vir wat jy doen nie. Dink aan die aarde, dit bring kos voort en voed 'n menigte van wesens, want elkeen vind wat hy nodig het. Daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir alles wat die aarde voorsien nie.

"Net soos die aarde ondervind julle vrede en vreugde wanneer julle die wette toepas en die lewe van lewende wesens spaar. Maar moenie 'n ophef daarvan maak nie. Dit is die wet van geen meriete.

"Die vierde wet is die wet van geen waarheid nie. Moenie 'n ophef maak oor dogmas en leerstellings nie en vergeet van reg en verkeerd, sink of dryf, wen en verloor. Wees soos 'n spieël. Dit weerkaats alles: blou, geel en alle ander kleure, sonder om om te dink die een is mooi en die ander lelik.

"Hulle wat die Weg ontdek het, wat 'n gemoed vol vrede en vreugde bereik het, wat karma verstaan en wat hulle wysheid met ander deel, is soos 'n spieël wat alles weerkaats sonder om 'n spoor van hulself agter te laat."

Die beste van alles, ons is reeds 'n spieël, ons moet net die stof daarvan afvee dat dit weer kan begin weerkaats. Soos hierdie soetra sê: Ons moet net weer ons ware goedgeaardheid herontdek: Ons Christusnatuur.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.