.

Verskoning of regtig geloof

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2019

.

Gedurende die week iewers luister ek na Theo Venter van Noordwes Universiteit se kommentaar oor Zuma voor die Zondo-kommissie. Afgesien van die duisende kere wat hy keel skoongemaak het, en niks kon onthou nie, het hy iewers iets gesê van spioene, rassiste en mense wat dreig om hom dood te maak. Volgens Venter het Zuma 'n skema van hoe die lewe werk vir homself geskep en hy funksioneer daarbinne en volgens hierdie skema verklaar hy dan gebeure in die lewe en maak hy sin vir homself uit gebeure.

Volgens die Zuma-skema is swart mense wat teen hom is, apartheidspioene en wit mense wat teen hom is, rassiste, en die wat hom ondersteun, is comrades; en hulle verstaan waaroor die lewe en die struggle gaan. Dit is hoe die lewe werk volgens die Zuma-skema.

Dit is helaas nie net Zuma wat volgens 'n skema leef nie, ons elkeen het ons skema wat ons geskep het en waarby ons ingekoop het en waarvolgens ons mense en gebeure in ons lewe interpreteer, klassifiseer en kategoriseer.

Meeste fundamentalistiese gelowiges het ook so 'n tipe skema soos Zuma. Als wat goed is in die lewe kom van God af en als wat verkeerd loop, laat God toe om jou geloof te toets. Als wat jy verkeerd doen, kom van die duiwel af want dit is hy wat jou verlei en in versoeking bring en oorreed om die kwaad te doen. So, net soos Zuma, hoef hulle nie verantwoordelikheid vir iets te neem nie, want dis of die Here, of die duiwel. Alles is tog vooraf bepaal en hulle is maar net die marionet aan die toutjie wat of deur die een of deur die ander een in 'n rigting gepluk word.

Ek het hierdie week weer 'n intense ervaring daarvan gehad en toe net weer besef hoe ons skemas skep om ons te help sin maak en hoe pynlik die eerlikheid van spirituele groei is. Daarom verkies baie mense steeds die opium van die godsdiens in plaas van die waarheid wat jou vry maak om in jou menswees te groei.

Donderdag en Vrydag bied ek 'n kort-kursus aan vir 'n groep mense en tydens die teepouse vertel die een jongman vir my dat hy so twee jaar gelede in 'n verskriklike ongeluk was. Hulle was drie persone in die voertuig en die ander twee is op slag dood. Hulle het 'n ent gery en toe iewers uitgeklim. Toe sê die een ou hulle moet plekke omruil en hy sê toe, dat dit nie nodig is nie. Hy is okay waar hy sit. En glo, toe hulle weer ry, nie vyf minute later nie, is hulle in die ongeluk. So, as hulle plekke omgeruil het, was hy dood.

Vir twee jaar het hierdie ding by hom gespook en het hy geworstel met skuldgevoelens, tot 'n paar weke gelede, toe besef hy skielik dit was die Heilige Gees wat vir hom gesê het om nie plekke om te ruil nie. En nou, vir die eerste keer in twee jaar, voel hy nie meer skuldig nie. Want dit was die Here se wil dat dit so moes gebeur en dat hy moes oorleef.

Hy het met ander woorde bly wroeg, totdat hy vir hom 'n skema geskep het waarmee hy sy omstandighede kan verklaar. En toe het hy vrede.

Mens sien veral hoe werk hierdie skemas by die dood en hoe gebruik mense dit om die dood sagter te maak. As iemand byvoorbeeld ná 'n siekbed sterf, sal familie sê: ag hy is beter af in die hemel waar hy nou is, want daar het hy ten minste nie meer pyn nie. Of mense sal 'n geliefde by die graf groet met die woorde: Totdat ons mekaar eendag weer in die hemel sien! As 'n kind sterf sê mense dikwels: Sy was te mooi en te sag vir hierdie wrede wêreld. Die Here het haar kom haal vir sy hemelse tuin.

Afgesien van rondom die dood, sukkel mense om weg te kom van hulle mitologiese wêreldbeeld. Baie mense verklaar hulle en ander se lewe rondom hemel en hel met die konsepte van straf en belonging. Baie keer word verliese en moeilike tye, en tye van swaarkry geïnterpreteer as straf van God, en goeie tye word gesien as seën. So skep ons konstant skemas waarbinne ons leef, interpreteer en sin van die lewe maak.

Toe ek ná die kursus huis toe ry Vrydagmiddag besef ek net weer dat 'n mens nooit genoeg selfondersoek kan doen nie. Want niemand is gevrywaar van skematjies nie. My persoonlike skema sê: jy moet vir alles self verantwoordelikheid neem en aanvaar. Soms maak jy verkeerde keuses dan ly jy onder die gevolge daarvan, en soms kies jy goed, dan pluk jy die vrugte daarvan. Maar so eenvoudig is die lewe ook nie. Want soms het jy nie gekies of besluit nie en dan gebeur óf goed óf kwaad sommer net en dan moet jy maar daarmee deel.

So, die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat mens konstant op soek is na sin. En mens vind sin in antwoorde wat jy vir van jou vrae het. Dis, neem ek aan, hoe dit werk. Ek sou net wou bysê dat mens dan ten minste in hierdie proses van antwoorde soek om sin te vind, eerlik en self-ondersoekend ook moet wees. As 'n mens dan 'n antwoord gevind het, moet 'n mens ten minste ook bereid wees om jouself te vra, hoe het jy by daardie antwoord uitgekom.

In Wiskundevraestelle iewers in die hoërskool het daar aan die einde van 'n vraag gestaan: Toets jou antwoord.

Ek dink wanneer 'n mens in jou menswees wil groei en spiritueel eerlik teenoor jouself wil wees, is dit die basiese vraag wat jy aan die einde van elke probleemsom in jou lewe vir jouself moet vra. Hoe het ek by die antwoord uitgekom?

Hoe lyk die skema wat ek gebruik het? Met ander woorde: hoe dink ek? Watter patroontjies span ek in? Hoe sekulêr of mitologies, of godsdienstig of filosofies dink ek hieroor? Want nie een van ons het al die antwoorde nie en nie een van ons is sonder vooroordele nie.

Die groot verskil is net: 'n Mens wat ingestel is op persoonlike groei besef dit darem so effens, waar 'n mens wat gevangene van 'n godsdienstige paradigma is, dit dalk nie altyd besef nie. Dan staan jy die gevaar om Zuma te wees. Die lewe werk volgens jou skema en daar is ruimte vir niks anders nie.

En dis 'n gevaarlike plek om te wees, want dan veroordeel jy ander wat nie soos jy dink nie. En jou ruimte om ander opinies te kan akkommodeer, word klein. Toets dus jou antwoord en wees ten minste met jouself eerlik oor die skema wat jy inspan om sin te vind.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.