.

Die verowering van Kanaän

Deur Prof. Diek van Wyk op 1 September 2012

.

Prof. Diek van Dyk gaan voort om oor argeologie en die ou Israeliete te skryf, gefokus op 'n oorsig oor wat argeologie oor die verowering van Kanaän ons vandag kan leer. Hierdie bydrae het oorspronklik in die elektroniese nuusbrief Markplein verskyn, waarvan Diek van Wyk redakteur is.

Daar is geen argeologiese bewyse van 'n gewelddadige verowering van Kanaän nie. My bronne is weer eens Finkelstein en Dever se boeke.

Na hulle lang verblyf by Kades sou die Israeliete eers die gebied oos van die Jordaan verower het, wat aan die stamme van Manasse, Gad en Reuben toegeken is. Die koning van Edom sou hulle aanvanklik toegang tot sy land geweier het. Argeologie het egter bewys dat die gebied van Edom eers rondom die 8ste eeu permanent bewoon is, d.w.s. baie later as die 13de eeu vC, toe die deurtog moes plaasgevind het,. Daar kon nie dus toe al nie 'n koning gewees het om die Israeliete toegang te weier en ook nie 'n koninkryk om te onderwerp nie.

Die Israelite sou op 'n stadium ook die stad Arad en al die ander stede in die omgewing verwoes het. Daar is vasgestel dat Arad omstreeks 2600 vC verlaat is en vir sowat 1700 jaar onbewoon gelaat is, d.w.s. tot die 9de eeu, voordat dit weer bewoon is. Daar was dus geen Arad wat verwoes kon word nie. Daar is ook geen stede met bewoning in die Laat Bronstydperk in die omgewing van Arad gevind wat vir verwoesting kon kwalifiseer nie.

Om kort te gaan wat die Trans-Jordaniese verowering betref: van geen een van die stede wat in die veroweringsverhale genoem word is daar enige tekens van bewoning of verwoesting in die 13de eeu gevind nie. Ironies genoeg is daar tog een gevind, maar toevallig een wat nie in die Bybelse verhale genoem word nie. Die slotsom is dat die Bybelse verhale die geografie van dié streek in die 8ste eeu en ook die demografie van die tye akkuraat beskryf maar beslis nie die geskiedenis van die 13de eeu nie.

Nou na die heilige land. Hier vind ons dieselfde storie as oos van die Jordaan: geen argeologiese getuienis van 'n gewelddadige verowering deur die Israeliete nie.

Die Bybelse verhale en verskeie historiese en argeologiese gegewens dui daarop dat die verowering van Kanaän tussen kort na 1200 vC, d.w.s. in die Laat Bronstydperk, moes plaasgevind het. Opgrawings het aan die lig gebring dat die meeste stede in die Laat Bronstydperk nie die ommuurde vestings was soos die Bybelse verhale dit wil hê nie, maar wel administratiewe setels van konings met kleinboere wat in gehuggies in die omgewing gebly het. Kanaän was in dié periode onder Egiptiese beheer en die Kanaänitiese kultuur en samelewing was in die finale stadium van ineenstorting. Stede was verlate of het in grootte gekrimp. In die geval van Jericho is daar in elk geval geen tekens van bewoning in die 13de eeu vC gevind nie. Bewoning voor dié tyd dui op 'n armoedige en onbeskermde dorpie. Soortgelyke bevindinge is gemaak t.o.v. Ai en die meeste ander stede wat in die Bybelse verhaal genoem word.

Sommige stede wat in die veroweringsverhale genoem word, o.a. Megiddo, is wel rondom die tydperk van die verowering verwoes, maar dit beteken nie dat die Israeliete daarvoor verantwoordelik was nie. Die Laat Bronstydperk was 'n gewelddadige en chaotiese tydperk. Talle stede in die bekende ou wêreld is verwoes, nie net in Kanaän nie. Dit word toegeskryf aan die seemense. Die seemense, waarskynlik die voorlopers van die Filistyne, het van die weste, moontlik vanuit die omstreke van Griekeland, gekom en geplunder en verwoes so ver as hulle gegaan het. Gelees saam met die res van die argeologiese rekord, moet die agente van die genoemde stede se verwoesting dus eerder by hierdie adres gesoek word as by dié van die Israeliete, of miskien ook by dié van farao Shishak, wat toe in Kanaän in beheer was.

Die verhaal van Josua en die verowering van Kanaän is volgens Finkelstein klaarblyklik die produk van 'n verstommend kreatiewe periode in die 7de eeu vC wat die afronding van die veroweringsverhale opgelewer het. Die redigeerders daarvan het geweet hoe om omwentelinge wat op verskillende tye plaasgevind het en deur verskillende faktore en groepe mense veroorsaak is binne die raamwerk van 7de eeuse realiteite te plaas. Want die verhale reflekteer die geografie, geskiedenis en versugtinge van die 7de eeu vC eerder as dié van die 13de eeu. Volgens Finkelstein skuil niemand anders nie as koning Josia agter die masker van die seëvierende Josua.

Dit bring ons by die vraag wie die Israeliete was en waar hulle vandaan gekom het. Dié vraag is nogal belangrik, want die antwoord kan politieke gevolge hê. As die eksodus- en veroweringsverhale nie geskiedenis is nie, kan dit geïnterpreteer word as sou die Jode nie aanspraak mag maak op Israel as hulle voorvaderlike grondgebied nie, wat Palestynse en ander Arabiese politici en akademici dan ook gou was om uit te wys. Dit kan ook godsdienstige gevolge hê. Die sogenaamde revisionistiese denkrigting het bv. daarin gronde gevind om Bybelse verhale as blote fiksie af te maak.

Finkelstein en Dever is albei "middle-of-the-roaders" wat die Bybel nie opsy skuif nie maar in dialoog daarmee bly. Dit hou in dat hoewel van die Ou Testamentiese verhale seer seker nie geskiedenis is soos ons dit verstaan nie, dit nie net goeie geografiese en demografiese inligting bevat nie, sy dit dan van ander eras as waaroor die verhale berig, maar dat van die verhale wel naas historiese motiewe en verwerkte herinneringe ook historiese inligting bevat as dit net binne konteks geplaas word.

Albei skrywers plaas die geboorte van die Israeliete in die hooglande van die ou Kanaän, 'n gebied wat taamlik bar is in die suidelike helfte maar meer geskik word vir landbou na die noorde toe. Albei onderskryf die standpunt dat die ou Israeliete Kanaäniete was wat hier 'n eie etniese identiteit gekry het. Dit baseer hulle op die verandering wat die materiële kultuur van die inwoners van die nedersettings wat bestudeer is, ondergaan het. Dit sluit in die ontwerp van hulle wonings, die vorm van hulle keramiekwerk en dies meer. Oor hierdie veranderinge is argeoloë dit eens. Maar beteken dit dat dit juis Israeliete in wording was soos Finkelstein en Dever (en baie ander argeoloë) aanneem?

Finkelstein verskaf die deurslaggewende argument. In die meer as 500 argeologiese terreine in die hooglandgebied wat ekstensief ondersoek is, is daar, anders as in omringende gebiede en in vroeër bewoningslae, geen varkreste gevind nie! Die inwoners het dus klaarblyklik nie varkvleis geëet nie, 'n aanduiding dat hulle toe al dié dieetvoorskrif wat ons in die Bybel vind, nagekom het.

Tot hiertoe is argeologie nog op veilige grond. Wanneer gevra word waar dié Kanaäniete vandaan gekom het wat die hooglande betrek het, wat voorheen yl bevolk en in die suidelike dele plek-plek selfs onbewoon was, is argeologiese data minder behulpsaam en verlaat ons die gebied van bevindinge om die gebied van teoretiese bespiegeling, gebaseer op karige getuienis, te betree. Daar is inderdaad dan ook verskeie Kanaänitiese oorsprongteorieë, waarvan die eerste, interessant genoeg, van so vroeg as 1920 dateer. Die meeste hiervan is verouder en ons hoef dus slegs na ons twee skrywers s'n te kyk.

Finkelstein se teorie kan die nomadeteorie genoem word. Daarvolgens sou daar 'n migrasie van pastorale nomade, hoofsaaklik vanuit die ooste, d.w.s. die woestyngebiede, na die hooglande plaasgevind het. Daar is aanduidings dat daar voortdurend 'n heen en weer beweging van inheemse nomade tussen die droër ooste en die hoogland was wat deur ekonomiese faktore, klimaatstoestande en ander omstandighede bepaal was. Na die ineenstorting van die Kanaänitiese politieke stelsel kon die nomade nie meer, soos voorheen, met landbouers handel dryf nie en was hulle genoodsaak om 'n meer gevestigde lewenswyse aan te neem en self bestaansboere te word wat naas veeboerdery veral olyfbome en wingerde verbou het. Hulle was volgens hom die eerste Israeliete.

Dever staan weer 'n "motley crew" teorie voor. Hy argumenteer dat nomade nie alleen verantwoordelik kon gewees het vir die hoogbloei van die Israelitiese kultuur in die hooglande in die Vroeë Ystertydperk nie. Volgens hom moes dit 'n verskeidenheid groepe uit die Kanaänitiese samelewing gewees het wat 'n ideologiese eerder as 'n biologiese eenheid gevorm het. Hy noem vier sulke groepe, nl. (1) stedelinge wat wou ontkom aan die korrupsie, uitbuiting en swak regering in die noorde en weste, (2) Apiru's, d.w.s. skelms, vrybuiters, rebelle, huursoldate en dergelike, (3) vlugtelinge wat aan Egiptiese despotisme wou ontkom, wat uit hulle dorpies gesit is, wat wou padgee voor 'n ramp wat hulle sien kom het, en so meer, en (4) nomade soos dié van wie Finkelstein praat en van wie sommige selfs voorheen slawe in Egipte kon gewees het.

Daar is dit dan: twee teorieë wat wel verskil maar tog nie onversoenbaar is nie. Dit is duidelik dat Dever s'n voorsiening maak vir Finkelstein se nomade maar meer omvattend is. Miskien lê die antwoord in 'n sintese van die twee, 'n iets van albei.

Diek van Wyk

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.