.

Vergifnis

Deur Dr. Piet Muller op 1 Januarie 2020

.

Hoe dikwels gebeur dit nie dat 'n mens iemand krenk of leed aandoen, nie omdat jy dit wil doen nie, maar bloot omdat jy onvanpas of onbeholpe optree. Ongelukkig is die gevolge daarvan dieselfde as wat dit sou wees as jy dit doelbewus gedoen het. Drie dae gelede was ek self by so 'n voorval betrokke en ek kan maar net nie van my skuldgevoel ontslae raak nie.

Hier kan ons gerus iets by die Boeddhisme leer. Hulle besef baie goed dat 'n mens dikwels nie moedswillig optree nie, maar dat jy dikwels – om watter rede ook al – nie die vaardigheid het om reg op te tree nie. Hulle maak dus nie 'n onderskeiding tussen goed en kwaad nie, maar tussen vaardig en onvaardig.

Uit 'n Christelike hoek sal ons gou sê: "Maar daardie persoon het doelbewus probeer om my kwaad aan te doen" terwyl die Boeddhisme sal soek na waar so iemand se onvaardigheid vandaan kom. Thich Nhat Hanh vertel van die tyd toe hy nou betrokke was by Viëtnamese bootmense, vlugtelinge wat uit desperaatheid in onseewaardige bootjies klim en van die kommunistiese bewind probeer wegkom deur na een van die buurlande te vaar.

Dikwels word hulle weer die slagoffers van seerowers wat hulle voorkeer, verkrag, die bietjie wat hulle besit steel en soms die skuite sink, sodat daar geen getuies teen hulle kan oorlewe nie.

Terwyl hy in Singapoer was vir moeilike onderhandelinge met die regering van daardie stad, wat min simpatie vir die bootmense gehad het, het die nuus hom bereik van seerowers wat 'n boot voorgekeer, 'n twaalfjarige meisie voor haar ouers verkrag en haar toe oorboord gegooi het. Hy vertel dat hy so verontwaardig was dat hy nie kon helder dink nie en 'n lang tyd heen en weer in sy hotelkamer geloop en mediteer het. Uiteindelik het hy rustigheid sowel as insig bereik. Hy het besef dat die seerowers al geslagte lank die slagoffers van hul eie omstandighede is. Van ouer na kinders word hulle in armoede groot, sonder die opleiding om iets anders te doen as om vis te vang en misdaad te pleeg.

As hy dus een van die bootmense se grootste probleme wil oplos, moet hy eers die seerowers se probleme help oplos, deur vir hulle skole op te rig en aan hulle die vaardighede te leer om te oorlewe sonder om misdaad te pleeg.

Hoe stel A Course in Miracles dit? Daar is net twee basiese emosies: liefde en vrees. Mense gee óf liefde óf hulle roep om hulp.

Die uitgangspunt van Jesus se leer was liefde en vergifnis. "Julle moet hulle liefhê wat julle haat" en "Bid vir die wat julle kwaad aandoen." En toe Petrus verontwaardig wou weet of hy sy broer dan sewe maal moet vergewe het Jesus geantwoord: "Nie sewe maal nie, maar sewentig maal sewe maal."

Wat Jesus bedoel het kan 'n mens makliker verstaan deur weer eens na die Boeddhisme te verwys.

In Pali, toe ou taal waarin die Boeddha se lering opgeteken is, is daar 'n klein woordjie met 'n groot betekenis. Die woord vera, wat vertaal kan word as vyandiggesindheid of haatdraendheid, of dalk nog beter as "ek-sal-jou-terugkry", of met "weerwraak."

In die Dhammapada verwys die Boeddha hierna:

Hy het my beledig
My geklap,
My geslaan,
My besteel
Wie so tob sal nooit vry raak van vera nie.
Hy wat nie loop en tob:
Hy het my beledig,
My geklap,
My geslaan
My besteel nie
Is vry van vera.
Vera kan nie oorwin word deur vera nie,
Maar vera word oorwin deur nie-vera.

'n Paar jaar gelede het daar in die geledere van die Amerikaanse Boeddhiste 'n twis uitgebreek oor vergifnis. 'n Mahayana-monnik (die "hervormde" Boeddhiste, waartoe ook die Tibetane en die Zen-boeddhiste behoort) het 'n artikel geskryf waarin hy beweer dat vergifnis nie 'n Boeddhistiese beginsel is nie, maar iets wat vanuit die Christendom oorgeneem is. Hy het die voorbeeld gebruik van 'n bank wat iemand se skuld "vergewe" en dit totaal afskryf. Met daardie daad laat vaar die bank sy houvas oor die skuldenaar en hou die skuldenaar se verpligting teenoor die bank op. Op 'n morele vlak kan dit tog nie so werk nie, want vergifnis skort die skuldige se "karma" daarmee op.

Karma sou vertaal kan word as die wet van oorsaak en gevolg. As 'n mens te veel eet gaan jy sooibrand kry; as jy te lank aanhou met 'n ongesonde dieet gaan jy 'n hartaanval kry. In die Ooste word dit egter as 'n kosmiese beginsel beskou en as 'n mens tydens jou lewe nie jou karma "vergoed" het nie, sal dit jou in 'n volgende lewe bly volg.

Daar is mense wat so ernstig aan karma glo dat hulle glad nie 'n ernstige sieke of iemand in groot nood wil help nie, uit vrees dat hulle so iemand se "slegte karma na hulle self sal aantrek." Uit die geledere van die Theravada-boeddhiste (die skool wat nog deur die Boeddha self gestig is), het 'n monnik sy kollega geantwoord met die argument dat vergifnis nie iemand se karma kan oplos nie, maar wel nog meer karma verhoed. Hy verwys toe ook na die woord vera of weerwraak. As 'n mens bly tob oor die onreg wat jou aangedoen is, word jy 'n slagoffer daarvan. En alle pogings om wraak te neem vir die onreg wat jou aangedoen is, lei uiteindelik tot nog meer wraak, soos in die geval van bloedwraak wat oor geslagte kan strek.

Jesus se antwoord op onreg was baie duidelik en baie prakties: "Doen goed aan hulle wat julle kwaad aandoen en bid vir hulle wat julle vervolg." Jesus is dikwels al as 'n "mislukte messias" beskryf. Iemand wat met leë belofte en onpraktiese etiek mense verlei het en uiteindelik, soos 'n misdadiger, gekruisig is.

Tog was daar mense wat na sy dood sy weg bly volg het. Wat nie kwaad met kwaad vergeld het nie, wat nie gedreig het wanneer hulle vervolg is nie maar eerder lydsaam was. Wat armes versorg en hongeriges kos gegee het; wat gevangenes in die tronk besoek het, en dooies begrawe het sodat hulle nie op 'n onwaardige wyse op ashope hoef te lê en ontbind nie.

Uiteindelik het hulle die magtige Romeinse Ryk sonder slag of stoot oorgeneem, hoewel hulle "nie baie magtiges, nie baie edeles" was nie, maar meesal juis die armstes van die armes. Inderdaad 'n geval van "salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe."

Die probleem van wrokkigheid is dat dit 'n mens gevange neem en jou hele lewe lank gevange kan hou. Soos in die staaltjie van die twee mense wat jare lank as politieke gevangenes saam opgesluit was. Toe hulle uiteindelik vrygelaat is het hul paaie geskei en toe hulle na jare mekaar weer ontmoet vra die een aan sy maat: "Het jy al die ouens vergewe wat jou in die tronk gegooi het?"

"Nee, wragtag ek sal dit nóóit doen nie."

"Dan sluit hulle jou na al die jare sowaar nog altyd toe."

Dit is al vyf en twintig jaar sedert 1994 se verkiesing en hoeveel van ons is nie nog kwaad nie? Luister maar na die geselskap om die braaivleisvure of oor 'n glas bier. Ons is kwaad vir ons teenstanders, kwaad vir ons leiers, kwaad vir die kerk wat ons oor apartheid "mislei" het, kwaad vir ons eie aandeel in apartheid en rassedenke. Ons kan ons self nie vergewe nie en daarom kan ons ander mense ook nie vergewe nie.

Ons is nog altyd kwaad omdat soveel mense hul werk moes verloor ter wille van mense wat nie daardie werk kon doen nie; ons is kwaad omdat soveel instellings waarop ons met reg trots was in die grond in bestuur is. Hoe trots was ons nie op die SAL wie se diens met die bestes in die wêreld kon vergelyk nie; hoe trots was ons nie op die prestasies van Eskom, Krygkor of die Kernkragraad nie.

Hoe trots was ons dat mense op die mees afgeleë platteland met veiligheid water uit 'n kraan kon drink, voordat die inwoners van die Franse hoofstad Parys met veiligheid water uit hulle krane kon drink.

Ons ervaar 'n mengsel van woede en verdriet oor alles wat rondom ons verval en ons kan net nie bid vir hulle wat ons glo ons kwaad aandoen nie. Terselfdertyd is ons swart landgenote net so ontnugter en woedend omdat hulle na vyf en twintig jaar nog steeds minder het as ons, en kan ons nie daarvoor vergewe nie, en voel dalk in die geheim ook skaam oor vermeende onvermoë.

En ons woede en onvergewensgesindheid bou 'n tronk rondom ons waaruit niemand kan ontsnap nie. So lank as ons nie kan laat gaan en vergewe nie, so lank sal ons verdoem wees om dieselfde scenario oor en oor te beleef – omdat onvergewensgesindheid dit vir ons onmoontlik maak om terug te staan en kreatief te dink aan beter alternatiewe.

Ek self behoort aan 'n geslag wat treur oor hul kinders en kleinkinders wat vir altyd die land verlaat het. Hierdie Kersfees was daar stellig nie 'n Afrikaanssprekende huis waarin daar nie met hartseer gedink is aan 'n geliefde wat miskien nooit weer saam met ons Kersfees sal vier nie. Ons is woedend oor die ekonomiese verval en rasse-wetgewing wat ons kinders dwing om 'n heenkome oorsee te gaan soek. Daar is waarskynlik sedert 1990 reeds 'n miljoen Afrikaanssprekendes alleen die land uit, en saam het hulle ook hul kinders, gebore en ongebore. Demografies gaan ons 'n verskriklike prys hiervoor betaal. Maar het ons nie ook met ons eie woede en onverwerkte frustrasies hulle die afgelope kwart eeu die land uit gewens nie?

Ons is almal woedend en kan nie vergewe nie, want vergifnis is net moontlik as ons eers kan verstaan waarom die ander party op 'n sekere manier opgetree het. Eers as ons wedersyds mekaar se motiewe, beweegredes, vrese en swakhede kan verstaan sal ons kan vergewe. Maar wanneer ons dit verstaan sal vergifnis onnodig wees, omdat ons dan nie meer vyande sal hê nie.

Ons staan aan die begin van 'n nuwe jaar. Laat ons nie hierdie jaar ingaan sonder om minstens onsself vir ons eie swakhede te vergewe nie. Ek nooi julle om saam met my deel te neem aan 'n visualisering oor selfvergifnis.

Maak gerus jou oë toe en haal 'n paar keer rustig en diep asem. Sien in jou verbeelding jou gunsteling vertrek. Bekyk dit goed. Watter kleur is die mure? Watter prente hang teen die mure?

Hierdie keer is daar ook iets anders in die vertrek: 'n tafel met sewe bokse in verskillende kleure, en op die grond 'n groot swart boks wat as snippermandjie kan dien.

Die eerste boks is rooi. Dit verteenwoordig angs. Maak dit oop en haal die brief uit wat onder in die boks lê. Gooi nou die rooi boks in die snippermandjie en lees die brief.

Daarin staan: "Die lewe het jou nodig en jy het die volste reg om hier te wees. Boonop weet jy dat jy die moed het om voortdurend aan jouself te bou en jou lewensomstandighede te verander."

Die tweede boks is oranje. Dit verteenwoordig al jou skuldgevoelens. Maak dit oop en haal die brief uit wat vir jou bedoel is. Gooi die boks met sy skuldgevoelens in die swart boks en lees jou brief.

Daarin staan: "Jy verdien ten volle om die lewe te mag geniet en jy beskik oor die vermoë om vreugde te ervaar."

Die derde boks is geel en verteenwoordig jou skaamte. Gooi dit in die swart snippermandjie en lees jou brief: "Ek is nie langer die slagoffer van myself en van die wêreld nie. Ek het 'n innerlike gloed wat sigbaar is in alles wat ek doen."

Die volgende boks is groen en verteenwoordig jou hartseer en verdriet. Tel dit op, haal die brief uit en gooi die boks weg. In jou brief staan: "Ek beskik nou oor die krag om my menings en projeksies oor ander mense te verander. Ek het die sterkte om liefdevol teenoor ander te wees en ek self verdien liefde."

Die volgende boks is ligblou en verteenwoordig al die leuens wat jy uit selfbeskerming aan jouself vertel het. Gooi dit weg en lees jou brief: "Ek is nie langer bang dat slegte dinge met my sal gebeur nie. Ek weet dat ek net so goed soos enigiemand anders is. Kreatiwiteit vloei deur my; ek is 'n goeie luisteraar en druk myself goed uit."

Die volgende boks is hemelsblou en verteenwoordig jou illusies. Lees jou brief "Ek het die moed om my valse selfbeeld te vernietig. Ek het die moed om myself oop die stel vir my eie innerlike wysheid."

Die laaste boks is violet en verteenwoordig alles waaraan jy vasklou. Gooi dit vir altyd weg en lees jou brief: "Ek laat vaar alle gevoelens van wraak en vergelding waaraan ek vasklou. Dit smelt soos sneeu in die son. Ek het die moed om myself oop te stel vir die goddelike in my...

As daar 'n brief was wie se inhoud jou op 'n besondere manier geraak het, oorweeg dit 'n rukkie en maak dan rustig jou oë oop.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.