.

Van mite tot dogma

Deur Dr. Flip Schutte op 1 April 2017

.

Ons gaan verder met ons reeks oor hoe 'n mitologiese verhaal 'n godsdienstige dogma geword het. Die tema op die tafel is die skeppingsverhale in Genesis en die dogmas wat gedekonstrueer word, is in die eerste plek die geloof dat die hemel en aarde soos wat ons dit vandag ken, op 'n stadium geskape is deur 'n Godheid, en in die tweede plek die dogma dat Jesus aan 'n kruis moes sterf as gevolg van die sondeval van Adam en Eva in die paradys.

Oor drie minute van nou af gaan u besef dat u nooit weer aan 'n debat oor evolusie gaan deelneem nie, want dis totaal sinneloos en oor 7 minute van nou af gaan u nooit weer sleg voel oor die hele dogma dat ons na die sondeval verlore is en dat ons 'n verlosser nodig het om ons te red nie.

In Genesis kry ons twee sogenaamde skeppingsverhale. Die eerste verhaal is die bekende ses-dae verhaal. Dis die jongste van die twee verhale. Alles was woes en leeg. En God het orde gebring. Die verhaal het ontstaan in die laat ballingskap en in die tyd toe 'n deel van Israel uit ballingskap teruggekeer het Palestina toe om die tempel te herbou.

Kyk mens na die teks, sien jy dat dit 'n gedig is met 'n baie mooi poëtiese struktuur. Die gedig is simmetries gekomponeer, en is bedoel as 'n lied wat by tempelbyeenkomste gesing is. Wanneer mens na die inhoud van lied kyk, sien jy dat dit nie geskiedenis, werklikheid of feite kan wees nie, want dit maak nie sin nie en dis totaal onlogies. Maar 'n gedig en 'n lied hoef nie feitelik korrek te wees nie. Dis tog nie geskiedenis nie. Dis poësie!

Die simmetrie lê in die feit dat dag 1, 2 en 3 aan die een kant van die vers, balanseer met dag 4, 5 en 6 aan die ander kant.

So, op dag een is die lig gemaak. Logies maak dit nie sin nie, want die bron van lig is eers op dag vier gemaak, naamlik die son, maan en sterre. Maar poëties balanseer dag een en dag vier. Dieselfde balans vind mens ook in die res van die gedig. Dag twee en dag vyf balanseer. Want op dag twee is die water en die lug gemaak en op dag vyf, die bewoners van die water en lug, naamlik die voëls en die visse. Dag drie en ses werk ook so. Op dag drie is die aarde en land gemaak en op dag ses, die plante en diere wat by dag drie hoort. En dan word die ritme in die gedig versteur want dag sewe verbreek die patroon. Op dag sewe, die Sabbat, is daar gerus. So die gedig loop op na 'n klimaks naamlik na God wat op die sewende dag gerus het.

So, nou is die logiese vraag: Maar waarom het Israel dan die verhaal so vertel? U sien, nadat Jerusalem in 586 v.C. verwoes is, is die Jode in ballingskap weggevoer. Daar in ballingskap het hulle ander skeppingsverhale gehoor en ander gode ontmoet. Gode soos die son, maan en van die sterre. So, die doel van die verhaal was om Israel daaraan te herinner dat húlle God die skeppergod is want die dinge wat deur Babel as gode aanbid word, is skeppinge van Israel se God, en eers op dag vier gemaak.

Maar veral ná die ballingskap het hierdie gedig 'n groot rol gespeel in die tempelliturgie, want dit het Israel gehelp om weer hulle identiteit te vind. Die skeppergod is hulle God en die Sabbat is hulle feesdag. Dit gee hulle identiteit. So by die tempelbyeenkoms is die lied antifonies gesing deur die priesters en die koor as 'n loflied en 'n belydenis. U het mos al gehoor hoe die Ooste se musiek werk. Een persoon sou iets voorsing (chant) en dan val die res later in. Die priester sou byvoorbeeld sing: God het die lig op dag een gemaak. En dan val die koor in met: God het gesien dat dit goed was en dit was dag twee. En dan sal die priester weer sing: God het die water en lug op dag twee gemaak, en dan val die koor weer in met: God het gesien dat dit goed was en dit was dag drie.

So, die doel van die gedig was om die Sabbat as hoogtepunt van die skepping te bely en om Israel te help om hulle identiteit weer te vind in die God van Israel wat hulle as die skeppergod bely. Die doel van die gedig lê dus totaal en al op 'n spirituele of godsdienstige vlak en dit het geen raakpunte met enige feite nie. Dit probeer nie die wetenskap of ontstaansproses van alles verduidelik nie. Dit kan met ander woorde glad nie as 'n bron of verwysing in enige debat oor evolusie of die ontstaan van alles gebruik word nie. Dit verwoord nie geskiedenis nie. Dis poësie. Dis 'n lied. Dis spirituele fiksie!

Die geldige argument waarom dit nooit in enige debat gebruik kan word nie, is die feit dat die verhaal wat volg op Genesis een, naamlik die verhaal vanaf Genesis 2:4, amper 500 jaar ouer is as die verhaal in Genesis een, en dat dit ook 'n skeppingsverhaal is, wat radikaal verskil van die eerste skeppingsverhaal. En in geskiedenisnavorsing is die oudste bron altyd die meer betroubare bron.

Die verhaal in Genesis twee vertel 'n totaal ander verhaal. So, die oudste skeppingsverhaal vertel dat die mense heel eerste geskape is, en nie op dag 6 soos wat die eerste verhaal sê nie. En in hierdie verhaal skape God nie die mens deur net 'n woord te spreek soos in die eerste verhaal nie. Hier maak God die mens uit stof. En as Hy hou van hierdie beeld wat Hy uit stof gevorm het, besluit Hy om lewe of asem in hierdie stofpop se neus te blaas. En toe begin Adam lewe. En toe Adam daar is, maak God vir hom 'n blyplek. Hy plant 'n tuin. En toe gee God vir hom plante en bome om van te eet. Heeltemal anders as die eerste storie. En toe, veel later eers, sien God dat Adam eensaam is. Toe maak Hy hom aan die slaap en bou 'n vrou uit sy rib.

Dis ook 'n skeppingsverhaal, maar waarom gebruik mense die een nooit? Hoekom ignoreer hulle hierdie verhaal uit dieselfde Bybel en bou 'n dogma rondom die eerste verhaal? Of baie mense ignoreer die feit dat dit twee verskillende verhale is wat amper 500 jaar uit mekaar deur verskillende groepe outeurs geskryf is en hulle gooi die twee verhale saam. In die volksmond bestaan daar eintlik net een verhaal waarin hierdie twee se verhaalelemente saamgegooi is. Mense vertel 'n skeppingsverhaal oor aan hulle kinders wat definitief nie in die Bybel staan nie.

Nou kan ons dieselfde vraag aan hierdie verhaal vra as aan die eerste: maar waarom het Israel dit vertel? Nie om Jesus se kruisdood as gevolg van 'n sogenaamde sondeval mee te regverdig nie.

Dit lyk asof hierdie verhaal vertel is, ook nie om die skepping mee te verklaar nie, maar om die lewe en stryd van die mensdom te verklaar. Die doel van 'n mite is om ons wêreld met 'n ander wêreld te verbind. Dis antieke wetenskapsbeoefening. God het die hemel en die aarde geskape en om enigiets te verklaar wat die voor-wetenskaplike mens nie kon verklaar nie, is verhale geskep. 'n Verhaal waarin God en mens 'n rol speel.

Hierdie verhaal wil dan die spanning verduidelik tussen God se goedheid aan die een kant en die mens se swaarkry en lyding aan die ander kant. En op 'n metaforiese, mitologiese vlak gee die verhaal die antwoord op die kwelvraag van die mens deur alle tye naamlik, waarom moet ons swaar en seerkry. God is tog goed en groot. En dan verduidelik die verhaal die spanning tussen God en mens, tussen goed en kwaad en tussen lig en donker! Dis 'n verhaal van positiewes en negatiewes, van 'n pendulum wat swaai ... en vir die oomblikke wat die pendulum by die middelpunt verbyswaai is daar vrede en rus, maar energie bly voortdurend beweeg.

Op 'n positiewe vlak het God uit stof 'n mens gevorm en vir hom 'n wonderlike tuin aangeplant om in te bly. Toe is die mens ongehoorsaam en hy eet iets wat hy nie mag nie. Die gevolg van die mens se keuse was dat dit hom die paradys gekos het en die mens moes buite die tuin, oos van Eden tussen dorings en distels gaan leef, met moeite kinders baar, in die sweet van sy aangesig eet en die slang moes op sy maag seil. Maar dan swaai die pendulum weer terug en God gee vir die mens kinders. Dis positief. Dan gebeur iets negatiefs want een kind maak die ander een dood. Dan weer 'n positief want hulle kry nog 'n kind. Maar dan swaai die pendulum weer negatief en hierdie kinders hoer en rumoer met die hemelwesens en die reuse word gebore. Op 'n positiewe noot bou Noag toe 'n ark en die skadukant daarvan is dat die res van die mensdom vergaan. Positief bou die paar wat uit die ark kom, toe weer 'n volk, maar negatief bou hierdie volk toe die toring van Babel en almal begin in tale babbel. Positief word Abraham toe geroep om die stamvader van God se uitverkore volk te word ... en so gaan die storie aan. Die verhaal wil met ander woorde sê: Dis maar hoe die lewe werk. Lig en donker volg mekaar op. Goeie goed en slegte goed gebeur. Dis die lewe. Maak vrede daarmee.

Op 'n metaforiese vlak het baie Jode hulleself in hierdie tweede skeppingsverhaal raakgesien en daarmee geïdentifiseer, want Adam in die mite is op die metaforiese vlak die uitverkore volk van God. Adam kry 'n tuin, Israel kry 'n beloofde land. Adam kry die opdrag om nie van die boom te eet nie. Israel kry die opdrag tot geen ander gode nie. Die slang verlei vir Adam, die slang as simbool van vrugbaarheid verlei vir Israel tot die Kanaänitiese Baälgode. Adam word verjaag uit die tuin en die Jode word verjaag uit Israel en albei leef in ballingskap. Adam oos van Eden en Israel in Persië en Babel.

Wanneer ons dan vandag die verhale lees, kan ons insien dat die eerste 'n loflied en 'n stuk poësie is wat antifonies deur 'n cantor en 'n koor as liturgiese musiek gesing is en ons kan dit daarvoor waardeer. En daar stop dit. En die tweede verhaal, wat 'n mitologiese vertelling oor goed en kwaad en seën en swaarkry is, maak vir ons sin. Dis hoe die lewe is. Dit gaan nie oor sondeval en 'n bloedige verlossing nie.

En as ons dan iets daaruit wou leer en saamvat, soos wat ons maar doen met enige storie wat ons lees, sou mens kon sê dat dit die universele storie van die mensdom is. Tot 'n groot mate leef ons almal op hierdie wipplank tussen lig en donker. Tussen positief en negatief, tussen lekkerkry en seerkry. Ons weet nooit hoe die volgende oomblik gaan wees nie.

Maar spiritueel is ons doel tog om te streef na heelheid, eenheid, vrede en liefde. Om weer terug te keer na die paradystoestand waar ons een met God kan wees. Want op hierdie stadium is ons ontnugter en leef ons oos van Eden. Ons het almal van die vrug geëet. Ons het 'n bewussyn van goed en kwaad. Ons ken dorings en distels en pyn. Maar ons wil ook graag herenig (reconnect). En daarom mediteer ons, raak ons stil, soek ons vrede, omhels ons die lig en maak ons liefde deel van ons lewe.

Oos van Eden wil ons nie, daarom hoop ons op 'n spirituele terugkeer na die aangeplante tuin waar 'n mens jou siel, in die skemer kan vind, wanneer daar in die tuin gewandel word as die aandwind opkom.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.