.

Uitdaging tot ‘n oop gesprek

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2013

.

Soos geplaas in Beeld (BY) op 2 Maart 2013.

Die tradisionele kerke is onder druk omdat hulle toenemend vervreemd staan van die eietydse wetenskap en kosmologie. Enige ander strategie as om eerlik oor onsekerhede te praat, gaan nie werk nie, skryf Abel Pienaar.

Die onlangse gebeure om die onttrekking van die NG Kerk as borg van twee oop gesprekke oor godsdienskwessies op die Stellenbosse Woordfees het bevestig onder watter enorme druk tradisionele kerke soos onder meer die Afrikaanssprekende kerke is.

Hul wêreldbeskouing, wat duidelik nog gebaseer is op 2000 jaar gelede se wetenskap en kosmologie, maak hulle wêreldvreemd.

Seker daarom dat die strategie van hierdie kerke is om laer te trek, te probeer verdedig en om twyfelvrae te probeer stilmaak – eerder as om eerlik met die onsekerhede van die tyd te probeer omgaan.

Dit is natuurlik 'n groot fout. Want om met mag en gesag al die ou vrae en nuwe stemme te probeer stilmaak, werk nie en het nog nooit gewerk nie. Dink maar aan gebeure om die Italianer Giordano Bruno.

Bruno is ongeveer 400 jaar gelede, op Donderdagoggend 17 Februarie 1600, deur die kerk van sy dag lewend op die Campo dei Fiori in Rome as 'n ketter verbrand.

Hoekom het die Rooms-Katolieke Kerk so sterk geglo dat Bruno moes sterf? Omdat hy gewaag het om die kerk uit te daag tot oop gesprek.

Want sien, Bruno was nie tevrede met die eng verstaan van God en die wêreld deur die kerkvaders van sy tyd nie. Hy het dit byvoorbeeld gewaag om te sê dat alles (diere, mense, natuur en kosmos) deel van God is.

Hy het God vergelyk met die son, en die mens se bewussyn met dié van 'n spieël wat gebreek het.

Hy het verduidelik dat in al die skerwe op die grond 'n mens vele sonne in die skerwe weerkaats sien, maar eintlik is daar net een son wat gereflekteer word.

Hy het daardeur probeer sê miskien is ons almal deel van die groter geheel, dat ons deel is van die oneindige natuur en dat as ons in harmonie met die natuur lewe, dat ons die spieël kan heelmaak en sodoende weer net een son sien.

Dat ons almal 'n weerspieëling van dieselfde son is. En as ons dít besef, sal ons alle lewensvorme ewe veel reg gee om te lewe, en dan sal ons vrede ken.

Hy was dus 'n baanbreker vir die "interfaith"-gesprek wat tans wêreldwyd aan die groei is.

Die kerk het egter anders gevoel. In daardie tyd is dikwels nog geglo die aarde is die middelpunt van alles, en God is 'n koning op 'n hemelse troon wat neerkyk op die sukkelende, sondige spulletjie mense.

Die kerk was die agent en spreekbuis van hierdie kwaai God, en redding en verlossing was slegs by hom te vind (klink dit bekend?).

Indien jy sou waag om oor hierdie God te wonder, of sou twyfel aan die kerk se wette en reëls, is jy vinnig uitgewys en gebrandmerk as 'n vyand van almal. 'n Antichris.

Daarom moes Bruno op daardie Donderdagoggend sterf, omdat hy durf sê het dat ons moontlik anders oor die lewe en God kon dink.

Dink net hoeveel minder bloedig die Christendom se geskiedenis sou gewees het as hulle eerder met Bruno in gesprek getree het as om 'n voorwerp in sy mond te druk sodat hy nie dalk hardop kon laster nie, en hom vas te bind en lewend te verbrand.

Maar selfs dit kon Bruno se stem nie stilmaak nie. Want vandag nog is Bruno vir baie 'n simbool van vryheid van denke en die belangrikheid van oop en eerlike gesprek.

Natuurlik verbrand die kerk niemand meer op brandstapels nie. Maar hy probeer steeds ander "stemme" stilmaak. Hoekom? Waarvoor sou die kerk vandag nog bang wees?

Jean Oosthuizen, joernalis van die Kerkbode, die NG Kerk se amptelike koerant, is summier geskors omdat hy dit durf waag het om op 'n openbare forum soos die Woordfees aandag te gee aan mense met twyfelvrae, of dan weens die een of ander tegniese punt wat op dieselfde neerkom.

Die realiteit van die saak is egter dat enige kerk sonder oop dialoog en debat vinnig die broeiplek van onderdrukking, ongelykheid, korrupsie, miskenning en selfs geweld word. Presies dit wat binne baie tradisionele kerke plaasvind.

Die filosoof Karl Popper het hom met sy idee van 'n "oop samelewing" hierby aangesluit.

Hy het gesê 'n gemeenskap wat oop vir kritiese debat is en waar opponerende idees aanvaar en verdra word, is 'n gemeenskap waar verdraagsaamheid, respek, ontwikkeling van selfwaarde en demokrasie sal kan floreer.

En hierin speel openbare dialoog en debat 'n belangrike rol. Dit is van onskatbare waarde vir die vrye vloei van idees. En daarmee saam bring dit insig en groei.

Dit beteken beslis nie dat almal met almal sal saamstem nie. Maar die vryheid om self jou sinvolle middelpunt te vind en te mag redeneer en self te besluit wie jy glo en wie nie, is een van die waardevolste vryhede wat 'n mens kan hê.

Om eerlik, twyfelend en in die openbaar te mag praat, stry, verskil en bely is nie net nodig vir die kerk se groei nie, dit is onontbeerlik vir sy relevansie in vandag se "nuwe" wêreld.

Want dit is waaroor dit eintlik gaan. Mense het nodig om sin te maak van 'n snel veranderende wêreld, en godsdiens en spiritualiteit se grootste uitdaging in die 21ste eeu is juis om mense hiermee te help.

Maar as mense nie openlik en eerlik oor hul verskille kan redeneer nie, is die alternatief om met mekaar te baklei.

Kyk maar net na die lande waarin nie openlik oor godsdiensverskille gepraat mag word nie. Die woede, geweld, menseregte-miskenning en selfs bloedvergieting in sulke lande kan skrikwekkend wees.

Dieselfde geld wanneer die kerk krampagtig vasklou aan 'n verstaan wat volgens hom die enigste korrekte verstaan is. En enige ander idees word met suspisie bejeën, en enigiemand wat daarmee verskil, word dadelik as vyandig bejeën.

Daarom is dit so nodig dat elkeen van ons (binne en buite die kerk) sal veg vir die reg om deel te kan hê aan die openbare gesprek, ook natuurlik vir die regte van diegene met wie ons verskil. Veral vir hulle.

Die Franse filosoof Voltaire het gesê: "Ek stem nie saam met wat jy sê nie, maar ek sal jou reg om dit te mag sê met my lewe verdedig."

Daarsonder sal ons bitter min wedersydse begrip vir mekaar kan ontwikkel en sal ons nooit werklik by mekaar kan leer en saam 'n beter verstaan van mekaar se oortuigings en geloof kan kry nie.

Die reg om te kan verskil en die reg op die vrye vloei van inligting is onontbeerlik vir 'n vrye gemeenskap.

Ons is die nuwe generasie van vrydenkers, mense vir wie die beginsels van liefde, eerlikheid, gelykheid, integriteit, kreatiwiteit, respek, kritiese denke, oop soeke, verantwoordbaarheid, verdraagsaamheid, medemenslikheid en vryheid ononderhandelbaar moet wees.

Ons wêreld het vrydenkers, mense wat diep spiritueel is, so nodig; dit is mense wat met die onsekerheid van die veranderende wêreld kan saamleef.

Mense wat daagliks kan spook om teenstellings en opponerende inligting sinvol te integreer. Mense wat 'n sinvolle middelpunt soek.

Hierdie groep ag die vrye vloei van inligting en toegang tot verskillende idees baie hoog. Maar meer nog as dit, die vryheid om self te kan besluit, sonder sensuur, hoe hulle hul werklikheid wil vertolk.

Dit is die mense wat weet dat die oorsteek van 'n grens nie noodwendig die vernietiging daarvan beteken nie, slegs die verskuiwing daarvan.

Daar word nie probeer om die goddelike weg te verklaar nie; nee, eerder net om ons denke rondom die goddelike te verskuif.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.