Toekomstige wording van die Afrikanervolk

Deur Dr. Breytie Breytenbach in April 2008

1. Inleiding

Daar is niks in my opleiding of my persoonlike geskiedenis wat my besonder geskik maak om 'n artikel soos hierdie te skryf nie. Gewoonlik sal iets soos hierdie tema aan 'n historikus, volkekundige of futuris gegee word om te hanteer. Ek is nie een van hulle nie. Maar ek het 'n jarelange belangstelling in die wording van die individuele mens, veral die eerste 25 jaar daarvan. Alleen daarin kan ek vir regverdiging pleit.

Om hierdie rede moet die leser verstaan dat ek berekend op grond van basiese inligting spekuleer oor moontlikhede. Die standpunt in hierdie artikel staan dus wawyd oop vir bespreking, oorweging, aanpassing en verwerping.

2. Wordingskunde

Hoewel ek menslike wording bestudeer het, het ek vir die eerste keer met die term "Wordingskunde" te doen gekry in 'n boekie van Prof. FJ Potgieter met die titel "Historiese Wordingskunde" (HAUM, 1980). Die term "wording" word gebruik vir mense, in plaas van "ontwikkeling", wat dui op 'n voorspelbare proses by diere en plante. Omdat die mens van konsepsie af ope moontlikheid is, is sy lewenspad onvoorspelbaar en sy bestemming onbekend. Daarom kan die mens se liggaam wel ontwikkel, maar as geestelike entiteit is die mens 'n wordende wese. Daar is wel aanwysbare lewensfases wat veral van groot belang is vir die begryping van die kind en jongmens. Terme soos "kleuter", "puber" en "adolessent" is algemeen in gebruik. Volwassenheid word ook ingedeel in fases,maar is minder prominent omdat daar nie spesifieke begeleiding ter sprake is soos met kinders nie.

Prof. Potgieter het, as historikus in die eerste plek, ontdek dat die mensdom deur fases gaan wat vergelykbaar is met die fases tot volwassenheid. Ons kan daaruit aflei dat die mensdom as geheel ook op pad is na 'n volwassenheid. Dit is nie waaroor Potgieter se boek handel nie, maar is 'n aspek wat ek in hierdie artikel wil te berde bring. Die model wat in die boekie bekend gestel word, wil ek gebruik met die aanname dat dit aanvaarbaar sal wees as ek interpretasies daaraan heg wat nie deel is van die inhoud van die boek nie. Juis daarom staan my standpunt oop vir kritiek, solank dit nie vanuit moedswillige blindheid gelewer word nie.

3. Die basiese model

In die model word die mens se lewe in ses fases verdeel, waarvan die laaste die volwasse stadium is. Daar is dus vyf fases wat lei tot volwassenheid en aan die einde van die derde fase is daar 'n baie prominente wending, waarop die volgende twee fases volg. Vir my eie doeleindes het ek hierdie model verder gevoer om te gebruik vir berading. Dit het geblyk baie suksesvol te wees, omdat dit die individu benader as mens wat kan verander sodat daar gevorder kan word op die wordingspad. Ek glo die rede vir die sukses is omdat die model eintlik die skeppingskrag van die mens struktuur gee. Die gedagte of filosofie daaragter is dat die Skepping nog altyd voortgaan en nie 'n klaargemaakte werk is soos 'n standbeeld nie. Elke dag is 'n nuwe begin en verandering is die enigste blywende konstante. So gesien, is die wording van elke individu 'n skeppingsgebeure.

Verwysing na die model as 'n skeppingsmodel is dus nie vir my onvanpas nie, veral ook omdat dit gebaseer is op die skeppingsverhaal soos dit in Genesis 1 verhaal word. Die ses skeppingsdae kan soos volg in die model georden word:

Model 1
Die dinamiek in die model is kloksgewys vanaf dag 1 na dag 6, asook oorkruis tussen dag 1 en dag 4 ensovoorts. In die eerste drie dae word vorm geskep en in die laaste drie dae word inhoud aan die vorm gegee. 'n Wending kom dus voor tussen dag drie en dag vier, net soos tussen die jong kind en die puberfase by 'n individu, soos aangetoon in die volgende weergawe van die model:

Model 2
Volwassenheid is die doel van opvoeding. Daarom is dit die laaste fase en ook die tydperk waarna 'n mens reikhalsend uitsien terwyl jy 'n kind is. Maar elke fase is 'n wordingsfase wat tot stand kom uit die wording wat in die vorige fases plaasgevind het. Die eerste drie fases vorm die fundamentele oriëntering wat nodig is om jou eie liggaam en die fisiese skepping rondom jou werklik te begryp. In die volgende drie fases vind die wording meer op 'n geestelike vlak plaas. Soos in die skeppingsmodel (model 1), is daar 'n herhaling van die eerste fase in die vierde fase, maar met 'n uitkoms wat op 'n emosioneel-geestelike vlak lê. Fisiese afhanklikheid wat in die eerste drie jaar allesoorheersend is, tree in die tienertyd te voorskyn as 'n allesoorheersende emosionele en geestelike afhanklikheid. Ontdekking van die fisiese omgewing wat in die kleutertyd oorheers, is in die jongmenstyd (18 tot 25 jaar) 'n passievolle soektog na sin in die geestelike, emosionele, sosiale en politieke wêreld.

Vir die doeleindes van hierdie geskrif is dit nie nodig om veel verder te delf in die wording van die individu nie, solank die basiese werking van die model begrypbaar is.

4. Die model t.o.v. die mens se geskiedenis

Wat Potgieter ontdek het en in sy boek noem, is dat die mensdom reeds deur die eerste drie fases van wording gegaan het. Ek wil die volgende aanhaal:

"Die wording van die mensheid in sy totaliteit blyk agtergrond te wees vir die wording van die kind in 'n besondere tyd of epog. Elkeen van hierdie epogge korrespondeer weer met die wordingsfases van die kind. Die vergelyking van 'n fase in die geskiedenis of wording van die mensheid, met 'n fase in die geskiedenis of wording van die kind, bring telkens nuwe insigte na vore en help om die kinderlike wording beter te begryp."

Om by sulke "nuwe insigte" te kom, wil ek die aangehaalde proses omdraai deur die fases van volwassewording te gebruik om die wording van spesifiek die Afrikanervolk op spekulatiewe wyse te voorspel. Dit moet duidelik gestel word dat ek nie ander volke van die Westerse Wêreld op kwaadwillige wyse uitsluit nie. Dit lê nie op my weg om oor hulle te spekuleer nie en ek laat dit liewer oor aan mense wat oor toepaslike kennis van daardie volke beskik, om langs dieselfde weg 'n voorspelling te waag.

Potgieter het die eerste drie fases of epogge van mensdomwording soos volg bepaal:

Model 3
Eerste staan die Argaïese epog wat ooreenstem met die eerste lewensfase, naamlik die eerste drie jaar van baba-wees. By albei fases is fisiese koestering, liggaams-ontwikkeling en reëlmaat die drie oorheersende aspekte.

Dan volg die Magiese epog wat ooreenstem met die kleuterfase van drie tot sewe jaar. Storie en spel, taal of naamgewing, selfontdekking, normontdekking en selfbeheersing is hier aan die orde. Die Magiese mens is baie bewus van die eksterne natuur, net soos die kleuter uitgaan om die buitewêreld te ontdek.

Derdens volg die Mitiese epog en die jong-kind-fase van ouderdom sewe tot twaalf. Belangrik is die gode waarmee die mens identifiseer en die identifikasiepersoon wat vir die kind 'n voorbeeld is van wie hy self sal wil wees. Dit is gewoonlik die ouers maar ook helde – werklik of fiktief. In kinderspel en in politiek word reëls en grense belangrik. Aanskoulikheid is aan die orde, daarom ontstaan stories oor gode wat aan die alledaagse lewe deelneem, terwyl die kind fokus op visuele ervaringe.

Ná die Mitiese epog kom die wending net soos 'n wending intree in die kind wat soms feitlik oornag verander in 'n tiener wat in vele opsigte anders is as die jong kind.

Hoewel die fases van volwassewording duidelik afgegrens word in terme van jare, kan dit nie werklik in individuele lewens so presies gedoen word nie. Dit stem ooreen met breinontwikkeling in die eerste 25 jaar en kan van persoon tot persoon verskil met 'n jaar of langer. Nog meer arbitrêr is die tydperke van mensdomwording. Met terugblik kan aannames gemaak word van waar die grense tussen epogge lê. Dit kan egter nie voorspel word nie. Grense is op sigself ook fases of grys gebiede.

Met hierdie feit in gedagte, word algemeen aanvaar dat die wending ná die Mitiese epog saamval met die koms van Christus, hoewel as 'n wendingstydperk en nie 'n wendingsdatum nie. Dit het die mensdom ingelei in 'n totaal nuwe belewenis van die werklikheid. Klem sou voortaan val op die individu se geestelike wording.

5. Die era wat verby is

Direk ná die wending verwag ons dan 'n herhaling van die Argaïese epog, maar op 'n geestelike vlak. Fisiese koestering, liggaamsontwikkeling en reëlmaat moet kenmerkend wees van hierdie tydperk, al word dit op heel ander wyse uitgedruk.

Binne die Romeinse Ryk is fisiese koestering intensief nagejaag deur die ontwikkeling van infrastruktuur wat dit vir die individu soveel gemakliker gemaak het om sy lewe te voer. Hoe langer hoe meer het 'n materialistiese benadering gegroei waardeur weelde en gemak die ideaal geword het. Bevrediging van die behoefte aan mag en besittings om emosioneel-geestelike sekuriteit te verseker, is suksesvol voortgesit deur Europese lande wat seevaart ontwikkel het om meer en meer van die aardbol in te palm. Uiteindelik het dit 'n klimaks bereik in die Nywerheidsomwenteling en alles wat daarna gevolg het. Vandag is 'n materialistiese benadering om koestering te bewerkstellig so alledaags dat ons nie vir onsself 'n ander benadering kan indink nie. Dit is gedryf tot op 'n punt waar menseverhoudings in werklikheid geskaad word in 'n poging om dit te verbeter. Daarom is daar so min werklike kommunikasie ten spyte van al die tegnologie; so baie vereensaamdes ten spyte van al die programme om dit te ondervang; so baie patologiese gedrag ten spyte van al die psigiatriese navorsing en ingryping.

Tegelykertyd het die mens se liggaam 'n al meer belangrike plek ingeneem. Kleredrag het vir Jan en Alleman 'n teken geword van status. Fisiese wedywering het sportmangees verdring. Menslike lewe is as heilig verklaar. Vandag is al die belange van die liggaam op hoogspanning. 'n Duisternis van modeparades en klerewinkels beklemtoon klere se rol in die samelewing; verskeie wêreldtoernooie op sportgebied en die geld daarmee saam, verkondig die eer aan die liggaam; verfynde mediese tegnologie en die soeke na ewige jeug en gesondheid leef die heiligheid van lewe uit, selfs in pasiënte wat lank reeds hulle lewenskwaliteit verloor het.

Ook reëlmaat het verander oor die eeue. Maar helder en duidelik staan die Roomse Kerk wat vir baie eeue die reëlmaat bepaal het in die mens se geestelike bestaan. Al die reëls en rituele het die lidmate die versekering verskaf dat hulle nie in die buitenste duisternis gewerp sal word nie. Selfs die hervorming het nie hierdie soort geborgenheid van die kerklidmaat weggeneem nie. Die Kerk het ook deur die eeue mag en besittings vergader om by te dra tot die gevoel van sekuriteit waaraan die reeds marerialistiese mens behoefte het. Dink maar aan al die oorweldig indrukwekkende katedrale en ook moderne kerkgeboue.

Reëlmaat het in ons tyd amper die punt van slawerny bereik. Klokslag elke oggend gaan duisende mense werk toe om klokslag in die middag terug te ry. Dis ondenkbaar om sonder 'n instrument te wees wat tyd aandui, ondenkbaar om sonder verkeersligte te wees wat beurte aanwys, ondenkbaar om sonder gereelde vakansietye te wees.

'n Fyner analise van die afgelope epog van omtrent 2000 jaar sal sekerlik meer ooreenkomste aanton tussen die soort samelewing wat ontstaan het en die mens se tienerfase, wat weer teruggryp na die Argaïese epog of babafase. Hopelik is genoeg egter aangedui om die punt te illustreer.

6. Die era wat aanbreek

Na die tienertyd volg die adolessensie of jongmenstyd wat strek vanaf 18 tot 25 jaar, met die vanselfsprekende oorgangstyd. Die ooreenkoms met die kleutertyd tussen 3 en 7 jaar lê op 'n hoër, abstrakte vlak. Spel word nou beroepsbeoefening en die voorbereiding daartoe; taal en naamgewing geskied binne nuwe lewensareas wat betree word, soos vak- en beroepsterminologie, uitgebreider sosiale beweeglikheid en vestiging in 'n woonbuurt; selfontdekking is die inneem van 'n plek in die samelewing; normbelewing lei tot verantwoordelikheid vir eie inkomste en dikwels ook die neem van 'n huweliksmaat. Dis 'n gewigtige tyd waar onsekerheid nog aan die orde is, veral omdat ondersteuning nie meer so vanselfsprekend is nie en ambisieuse planne deur die realiteit erg gesnoei kan word.

Teen hierdie agtergrond kan nou gespekuleer word oor die aard van die epog wat pas begin het en hoe die Afrikaners se wording daarin moontlik kan lyk.

Die eerste duidelik aanwysbare verandering gaan sekerlik lê op die gebied van persoonlike geborgenheid. Terwyl dit in die afgelope epog verskaf is deur die twee materiële aspekte mag en besittings asook die kerk se reëlmaat, sal dit voortaan gevind moet word in fundamentele beginsels wat Skepping moontlik maak. Die soektog na en ontdekking van Waarheid sal noodwendig gepaard gaan met die mens se ontdekking van 'n nuwe identiteit, naamlik skepsel tussen skepsels binne 'n monumentale Skeppingsgebeure wat daagliks onverstoorbaar voortgaan. Onderwerping as onverbiddelike eis, sal in die wêreld van plante en diere nagevors moet word om tot 'n bevredigende toestand van "behoort aan" die groter werklikheid te kom. Persoonlike sekuriteit sal dus gevind moet word deur 'n geestelike wete dat alles wat bestaan, op uitnemende wyse versorg word. Dit impliseer 'n uittrede uit 'n materialistiese wêreld na 'n groter werklikheid waar menslike bestaan 'n geestelike ervaring is wat nie bedreig kan word nie.

Wanneer materialistiese doelstellings nie meer die motivering vir volhoubare arbeid is nie, sal die uitkomste van arbeid nie meer eksploitasie van die natuur wees nie, maar 'n inskakeling by die natuurwerking en die gevolglike ontdekking van kragte wat in die vorige epog as ongekend beskou sou gewees het. Dit sal uiteindelik lei tot 'n lewenstyl totaal anders as wat ons vandag kan voorsien of sal kan begryp, al word dit verduidelik.

'n Derde terrein waarna met vrug vooruit gekyk kan word, lê op die terrein van onderlinge verhoudings. In die komende epog sal mense geestelik nader aan mekaar beweeg en onderlinge vertroue sal 'n vanselfsprekendheid word. So iets kan egter nie gebeur sonder dat dit voorafgegaan word deur nederigheid nie. Waarskynlik is nederigheid die aspek wat vroeg in die nuwe epog op die Afrikaners afgedwing gaan word.

7. 'n Toekomsblik vir die Afrikanervolk

Die Afrikanervolk het ontstaan teen die heel einde van die vorige epog, uit 'n verskeidenheid van Europese volke. Soos ons almal weet, was dit 'n moeilke geboorte wat gepaard gegaan het met allerlei folterings. Maar juis deur die swaarkry is 'n splinternuwe volk geskep met 'n relatief eenvoudige taal en 'n onblusbare wil tot oorlewing. Vir 'n kort rukkie kon die nuwe baba kans kry om asem te skep voordat die huidige verdrukking tevoorskyn gebring is. Dit is moontlik om van al hierdie dinge die gevolgtrekking te maak dat die Afrikanervolk in werklikheid tot stand gekom het om in die volgende epog in vryheid te gedy.

'n Volgende Groot Trek
Net soos 'n agtienjarige gedwing word om skool en huis te verlaat om 'n eie lewe te begin, so sal die Afrikaners gedwing word om huidige geriewe en sekuriteite agter te laat en in te tree in 'n volkswerklikheid waar vryheid 'n geestelike belewenis is en mag 'n totaal nuwe definisie gaan hê.

Net soos die voorvaders vanaf Europa na 'n onbekende en ongetemde suidpunt van Afrika getrek het, die land mak gemaak het, weer getrek het na 'n onbekende gebied, weer die land mak gemaak het, net so staan die Afrikanervolk op die punt om weer na 'n onbekende gebied te trek waar die nuwe land mak gemaak sal moet word. Maar hierdie keer wag daar 'n geestelike of abstrakte bestemming.

Met voorgaande in gedagte, is dit vervolgens moontlik om 'n paar van die huidige groot kwellings te bekyk in terme van die vyfde epog wat ons nou binnegaan.

Godsdiens
Die Afrikaner sal beweeg van 'n kerksentriese na 'n Godsentriese belewenis van Waarheid. Daar sal waarskynlik minder deur die kerk gefokus word op maatskaplike opheffing en meer op 'n werklik transendentale verhouding. Sodoende sal die kerk 'n plek of omgewing word waar waarheids-beginsels gesoek, ontdek en voorgeleef sal word. Dit sal die bron kan wees waar 'n nuwe lewenstyl sy oorsprong vind en met tyd uitgebrei en gevestig kan word. Die motivering sal kan kom uit 'n verlange na die opvolgende epog van geestelike volwassenheid, wanneer God direk regeer, sonder die nodigheid van menslike strukture soos 'n parlement, landswette en strafstelsels. Die huidige onrus in die kerke is dalk die eerste geluide in die verandering wat kom.

Politiek
Vir die baba is die allesomvattende gesag geleë in die moeder. Vir die tiener in die teenoorstaande fase, is die finale gesag geleë in die vader. Die argaïese mens (baba) vind sy gesag in die aarde. Met die teenoorstaande afgelope materialistiese epog (tiener) was die gesag by die kerk. Ons weet watter mag die pous gehad het oor die konings. In ons eie geskiedenis het die regeerders ook weekliks in die kerk gesit om te luister wat die kerk sê, al was dit reeds deel van die afloop van daardie epog.

Nou is ons gestroop van politieke mag en die verhouding kerk-staat bestaan eenvoudig nie meer in ons land nie. 'n Nuwe soort politiek sal onder die Afrikanervolk ontstaan waarin mag in eenvoud en in klein, onbelangrike faktore sal lê. Dit sal na binne die volk gerig wees en nie na die politieke oorheersers nie. Mag sal uitgeoefen word deur onderwerping in plaas van die huidige opstandige benadering. Die volk sal geestelik laer trek en mense of groepe buite hou wat waarskynlik nou eers aan die begin staan van die wending en vierde epog. Die vermoë sal ontdek word om 'n volk te wees met eie strukture te midde van en ten spyte van die landsregeerders.

Grondsake
Daar word dikwels gekla dat die Afrikaners nie 'n volk kan wees sonder 'n eie grondgebied nie. Maar die proses van onteiening van die Afrikaner het reeds begin. In die nuwe epog sal ons leer dat dit nie moontlik is vir enige mens om die bodem te besit nie. Besitreg is die uitnemende styl van die materialistiese tydperk en die oergesag van die Argaïese epog.

Waarheid is dat die bodem 'n deel van die natuurelemente is soos wind en reën. Daar kan politieke toewysings van grond gemaak word, maar die grond is nie vanselfsprekend diensbaar aan die "eienaar" nie. Dit sal alleen diensbaar wees aan hulle wat onderwerp is aan al die wette en beginsels wat die skeppingswerklikheid in stand hou. Daarom is dit nie onmoontlik nie dat baie Afrikaners die platteland sal betrek sonder dat hulle die grond hoef te "besit".

Veiligheid en sekuriteit
Teen die einde van die materialistiese vierde epog het ons begin leef agter tralies met slotte en alarms. Ons het so baie om te beskerm. Daarmee saam het dit vereiste geword om alles te verseker en te verassureer, vanaf huishoudelike besittings, verby elke toon en vinger tot by enige fiktiewe gebeurtenis in die toekoms.

Maar in die epog wat kom, gaan die Afrikaner heelwat armer word en dus minder hê om oor te bekommer en minder wat gesteel kan word. Dit sal geleentheid bring om te fokus op werklike waardes.

'n Faktor wat reeds in sommige gemeenskappe sigbaar is, is die samewerking tussen 'n groep bure om skelms weg te hou. Dit is bekend dat misdaad in sulke buurtes dramaties verminder het. Dalk gaan misdaad in die toekoms gesien word as een van die groot seëninge wat die Afrikanervolk gehelp het om na mekaar toe te draai aan die begin van die vyfde epog.

Opvoeding en onderwys
Vir eeue al word kinders in groot groepe byeengeplaas waar van hulle verwag word om met mekaar te wedywer. Dit het die materialistiese lewenswyse baie goed gedien en daar is sterk ekonomieë daardeur tot stand gebring. In die nuwe tydperk, waarin die klem gaan val op nederigheid en onderlinge vertroue, gaan ons ontdek dat die beste leermeesters die kinders se ouers is. Met die druk van materiële prestasie uit die weg uit en salarisberoepe buite die Afrikaner se bereik, kom daar geleentheid vir ouers om vanaf die tuiste hulle arbeid uit te voer. Dit sal hulle in staat stel om hulle kinders tuis te onderrig op 'n wyse wat pas by die nuwe lewe.

8. Slotwoord

Ek wil weer eens beklemtoon dat hierdie artikel 'n berekende spekulasie is op grond van die skeppingsmodel of wordingsmodel. Daar sal verseker ander interpretasies van die model kan wees en ander spekulasies oor die toekoms van die Afrikanervolk.

Ook wil ek beklemtoon dat ek nie ander Europese volke uitsluit nie. Dit lyk juis of Europa reeds oorspoel word deur mense van ander lande en ander kulture. My fokus is egter in hierdie artikel op die Afrikanervolk.

Een ding is baie duidelik: ons lewe gaan dramaties verander. Ons volk se babas wat vandag gebore word, gaan 'n ander werklikheid tegemoet as die een wat ons tot dusver geken het.

Dr. Breytie Breytenbach is 'n afgetrede opvoedkundige berader wat fokus op Menslike Wordingskunde.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za