Die teorie van Evolusie

Deur Prof. Alex Antonites op 1 Mei 2012

(Soos gedeeltelik gepubliseer op die Nuwe Hervorming Netwerk webtuiste.)

Ons kan onsself die volgende vrae afvra: Wat is evolusie? Wat sê dit vandag vir ons? Waarom is daar so iets soos evolusie? Waarom is daar so baie pragtige maar ook aaklige dinge in die natuur? Wat beteken dit alles? Is die mens die hoogtepunt van die skepping? Op hierdie vrae en dergelike vrae probeer die evolusieteorie antwoorde verskaf.

Die woord "evolusie" kom van die Latynse woord evolvere wat beteken om "uit te rol." In 'n sekere sin is dit wat evolusie vandag letterlik nog beteken, naamlik "die uitrol van een spesie uit 'n ander" (in Engels: speciation). Dis nuwe spesies wat uit voorafgaandes ontstaan. Almal gaan uiteindelik terug na voorgangers tot uiteindelik primitiewe organismes soos mikrobes. Hierdie lang lyn van afstamming staan ook bekend as evolusionêre kontinuïteit. Die evolusieteorie is vandag die fundamentele en standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Sedert Charles Darwin (1809–1882) die moderne evolusieteorie verwoord het, was daar tot vandag toe debatte en kontroverse. Vandag handel die debat hoofsaak oor ID, oftewel "Intelligent Design". Die vraag is: Was en is daar 'n goddelike ontwerp agter die biologiese proses in die natuur? Dis veral fundamentaliste binne die Christendom, Islam en Judaïsme wat evolusie verwerp en meen dat die skeppingsverhale 'n alternatiewe basis bied vir die idee van evolusie. Die vraag wat ons onsself hier rondom kan afvra, is: "Is kontroversie per se altyd iets negatiefs?" Ek meen nie so nie. Dit hang natuurlik af. Indien die debat op 'n hoë argumentatiewe vlak gevoer word, kan kontroverse iets baie positief wees. Dit laat mense dink, selfstandig dink oor sake. Dit verruim hul visie. Dit leer hulle om ander se sienings beter te ken en leer hulle ook om hul eie siening beter te ken en te verstaan. Dit slyp dus jou eie sieninge. Wanneer die gesprek egter op blote emosionele vooronderstellings of argumente berus, dan word dit "lae vlak" argumentering en dra nie veel by tot verstaan nie.

Ek wil die volgende sake kortliks as agtergrond aansny: Eerstens, na regte is Charles Darwin nie die grondlegger van die evolusieteorie met sy boeke Origin of Species (1859) en Descent of man (1871) nie. Die idee van evolusie gaan terug na die Griekse filosoof Anaximander (611-547 vC). Hy het die basiese gedagte dat een spesie uit 'n ander "uitrol", geformuleer. Anaximander stel dit dat lewe in die oseaan ontstaan het vanweë sonlig se interaksie met water. Hy het nog nie die begrip "energie" geken nie en praat dus van sonlig. Primitiewe eenvoudige lewe ontstaan in water, ontwikkel tot visse, visse migreer land toe en ontwikkel so tot plante en diere. Uiteindelik volg die mens. Darwin se oorspronklikheid is nie geleë in die idee van evolusie nie, maar in die feit dat hy daarin geslaag het om dit tot 'n moderne kousale teorie te ontwikkel. Darwin het onder andere onder die wetenskapsfilosoof William Whewell en die sterrekundige Herschel studeer. Albei was sterk Newtoniaans-kousaal georiënteerd en het beklemtoon dat oorsaaklikheid (die wet van oorsaak en gevolg) grondliggend aan die wetenskap is. Elke selfde oorsaak het altyd dieselfde wetmatige gevolg. Hiermee hang saam induktiewe veralgemenings uit waarneming wat gelei het tot die formulering van natuurwette. Darwin se ideaal was om die Newton van biologie te word. Wat Newton vir die natuurwetenskappe was, wou hy vir die biologiese wetenskappe wees. Darwin ontwikkel dus evolusie tot 'n kousale teorie. Dit doen hy deur natuurlik seleksie as kousaal prinsipe te ontwerp. Kousale verklaring (dieselfde oorsaak lei tot dieselfde gevolg) is vandag steeds van kardinale belang in wetenskaplike verklarings. (Daar het wel in die tussentyd meer as hierdie siening in die wetenskap bygekom.) Anders as die prosesse in die fisika en chemie is biologiese prosesse meer kompleks, daarom is voorspellings in evolusie en biologie in die algemeen minder moontlik. Dit maak egter nie van die evolusieteorie 'n minder wetenskaplike teorie nie. Die evolusieteorie is vandag 'n teorie wat bevestig is. Daar bestaan oorgenoeg bewyse om dit as waar te kan aanvaar.

In vandag se tyd word die evolusieteorie soms aangevul met 'n alternatiewe teorie, maar wat na my mening nie teenoor die evolusieteorie staan nie. Dit is die teorie van panspermia. Letterlik beteken dit "die saai van biochemiese molekules of selfs biologiese organismes deur komete en meteoriete in die heelal." Die pan verwys na "oral" in die heelal, terwyl sperma "saad" beteken. Panspermia het dan so lewe op aarde ge-"jumpstart" toe biochemiese omstandighede reg was. Dit gebeur oral in die heelal. Organiese molekules is inderdaad deur NASA-ondersoeke in komete en meteore ontdek en bevestig. Hierdie biochemiese molekules ontstaan veral in gasnewels tussen sterre. Die grondleggers van die idee van panspermia is die Griekse filosoof Anaxagoras. Die twee moderne wetenskaplike wat dit tot 'n moderne teorie ontwikkel het, is die sterrekundiges Fred Hoyle en Chandra Wicremasinghe.

Mikro- en makro-evolusie

Ons moet egter onderskei tussen mikro- en makro-evolusie. Die twee is deel van mekaar, of twee kante van dieselfde munt. Die mikro-evolusieteorie stel dit dat evolusie binne een enkel spesie plaasvind, terwyl die makro-evolusieteorie sê dat evolusie van een spesie na 'n ander kan plaasvind. So byvoorbeeld is in vandag se tyd bevind dat evolusie van dinosourus na voëls plaasgevind het. Ou spesies verdwyn gewoonlik, maar nie altyd nie. Neem as voorbeeld die selakant ('n ouer vis wat herontdek is) en sekere insekte. Dis ou spesies wat nie uitgesterf het nie. Die nuutheid en radikaliteit van die evolusieteorie het die effek op fundamentalistiese denke gehad dat fundamentaliste onderskei het tussen die twee. Maar dit is wel so dat sommige fundamentaliste redeneer dat hulle nog mikro-evolusie kan aanvaar, maar makro-evolusie misken. Hierdie standpunt van fundamentaliste is nie op wetenskaplike insigte gebaseer nie, maar op 'n fundamentalistiese en letterlike interpretasie van die twee skeppingsverhale in Genesis (Gen 1 en Gen 2–3).

Ek wil beklemtoon dat daar geen, maar geen goeie wetenskaplike rede is waarom mense uitgesluit moet word van evolusie nie. As ons daarop let dat daar vele ooreenkomste is tussen mense en ander diere, soos byvoorbeeld dieselfde tipe skelet en liggaamlike organe en stelsels, is dit byna ondenkbaar om die mens wel uit te sluit. Dink aan die volgende ooreenkomste: bloed en bloedsirkulasie; die rol van die hart en longe; die brein en die senuweestelsel, en vele ander. As die evolusieteorie verkeerd moet wees, dan is al hierdie ooreenkomste een reuse toeval. Dit kan tog wees nie. Die ooreenkomste wys 'n bepaalde samehang uit.

Konvergensie (beweging na eenvormigheid) is iets wonderliks in die evolusieteorie, maar terselfdertyd ook 'n vorm van bevestiging van die evolusieteorie. In die evolusieteorie speel natuurlike seleksie 'n groot rol: die natuur selekteer 'n bepaalde organisme (plant, dier, mens – na regte is die mens ook 'n dier). Met ander woorde as kameelperde wat eers kort nekke gehad het met veranderende omstandighede in die natuur (soos klimaat en voedsel) mettertyd lang nekke ontwikkel om voedsel vir oorlewering te bekom, selekteer die natuur die lang nekke en oorleef hulle. Dit word 'n genetiese tendens en diegene met lang nekke oorleef en word 'n nuwe kameelperd-spesie. Die met kort nekke is nie geskik genoeg vir die natuur nie en verdwyn gevolglik.

Dis ook maar wat "survival of the fittest" inhou en nie juis 'n "oorlog" tussen spesies of individue nie. Die bewussyn wat by seker spesies (insluitende die mens) voorkom, is ook so 'n seleksie deur die natuur. Bewussyn en veral selfbewussyn is egter 'n baie goeie seleksie en dis nie vreemd dat die natuur dit meer as een keer geselekteer het nie. So het bewussyn by verskillende spesies (wat in terme van tyd en plek geen verband met mekaar het nie) meer as een keer deur evolusie ontstaan. Met ander woorde evolusie herhaal homself. Die oog het al veertig (40) keer onafhanklik van mekaar in verskillende spesies ontstaan. Neem as voorbeeld die mens en die seekat. Die seekat en die menslike oog is feitlik dieselfde tipe oog, maar het onafhanklik van mekaar in die twee spesies geëvolueer. Ons sal seker saamstem dat walvisse/dolfyne en vlermuise nie familie van mekaar is nie. Tog het albei op hul eie sonar ontwikkel. Om dieselfde rede meen ek dat evolusie elders in die heelal op soortgelyke wyse gaan plaasvind. Gegee dat alles uit dieselfde chemie, biochemie, dieselfde natuurwette ontstaan, kan dit kwalik anders dat daar groot ooreenstemming tussen ons en "extraterrestrials" (nie-aardbewonders) sal wees. Konvergensie meen ek, sal daar soos hier voorkom en natuurlike seleksie sal daar soos hier 'n rol speel. Hoewel daar uiteraard ook verskille sal wees, meen ek dat selfbewuste wesens dáár baie soos ons sal wees. Dis ook Chandra Wicremasinghe, die bekende wetenskaplike wat panspermia voorstaan, se gevolgtrekking.

Homo sapiens

Hoe pas ons, homo sapiens, in by die teorie van evolusie? Fundamentaliste verwerp die gedagte dat ons geheel en al deel is van evolusie. Dit bots met hul verstaan van die twee skeppingsverhale in Genesis. Volgens hulle verstaan, is die mens die kroon van God se skepping en is hulle geskep na die beeld van God. As die mens uit sjimpansees ontwikkel het dan moet God 'n aap wees, want hulle moet dan ook na sy beeld geskep wees. Ander mense wat nie noodwendig fundamentalisties is nie, het ook soms 'n probleem met die teorie van evolusie, vir soverre dit die mens betref. Dit voel net ongerieflik om die mens met 'n sjimpansee gelyk te stel. Dit tas volgens hulle die waardigheid van menswees aan. Baie waardes soos medemenslikheid, liefde, wetenskap, tegnologie kom volgens hulle in die gedrang. Die mens is te hoogstaande en anders as sjimpansees en diere om daarmee gelyk gestel te word.

Hieromtrent die volgende: Nuwe bevindinge toon aan dat die mens nie direk afstam van die primate soos sjimpansees nie (ek sou egter nie probleme daarmee gehad het nie, indien dit wél so sou wees nie). Die mens, sjimpansees gorillas en orang-oetangs stam van 'n gemeenskaplike mensagtige voorganger (hominied) af. Die Barcelona wese wat sowat 13 miljoen jaar gelede geleef het, lyk na 'n baie sekere kandidaat vir hierdie voorganger. 'n Fossiel van hierdie wese is in die omstreke van Barcelona in Spanje gevind. Dis 'n mens-aap (Pierolapithecus catalaunicus) wat geleef het voor die afsplitsing van sjimpansees. Hierdie aapmens se ribbekas en skedel is aapagtig, so ook dui die kort tone en klein hande aan dat dit nog aan takke gehang het. Die wese is kleiner as die hedendaagse sjimpansees. Gorillas en orang-oetangs het later afgesplits.

Tot sover lyk dit of die mens en mensagtiges in Afrika ontstaan het. Ons meer direkte voorgangers is die Australopithecus Africanus (die Taungwese en andere aapagtiges) en in die noorde van Afrika Australopithecus Afarensis. Albei hierdie spesies het sowat 3 miljoen jaar gelede geleef en het waarskynlik reeds regop geloop. Hulle breinkapasiteit was effens minder as die hedendaagse sjimpansee. Hulle is voorafgegaan deur die Ardipothecus wat sowat 4.4 miljoen jaar gelede in Ethiopië geleef het. Hierdie spesie het nog sterker aap-karaktertrekke as die twee australopithecii gehad. Ondertussen is die "missing link" tussen die twee soorte in April 2006 ontdek. Hierdie spesie het kake en tande van beide soorte. 'n Mate van verrassing was egter die ontdekking van die Noumai skedel in Tjaad (Sahelanthropus tchadensis). In tyd het dit ná die Barcelona wese geleef, maar volgens sommige navorsers skyn dit weer 'n voorganger van sowel die ardipothecus en australopithecii te wees en het 6-7 miljoen jaar gelede geleef. Verrassend egter was die bevinding dat die Noumai wese meer homo sapiens gelyk het as wat dit veronderstel was om te wees. Die wese is meer sapiens as australopithecus! Die breinkas is soortgelyk aan die sjimpansees, terwyl die gesig en tande (met die effens afgeplatte voorkop) mensagtig lyk. Die tande se patroon is definitief mensagtig. Dis dus ouer as die australopithecii en ardipothecii maar is meer mens soos die latere homo sapiens! Paleontoloë verkies om dit onder die genus homo te klassifiseer.

Hieruit is dit baie duidelik dat die mens volgens die teorie van evolusie nie net sinvol inpas by evolusie nie, maar dat die skakels ("missing links") tussen ons en aap-mense duidelik is. Radikaal soos wat dit is, moet ons aanvaar dat ons en die aapagtiges een groot familie vorm. Waarom het die mens dan anders as die sjimpansee so geweldig vooruitgegaan op wetenskaplike en tegnologiese asook andere gebiede? Waarom het ons taal en die ape nie? Volgens die bevindinge van die voltooide genoomprojek die afgelope twee jaar met betrekking tot mens en sjimpansee, is die genetiese verskil tussen mens en sjimpansee slegs 2.7%. Dit is eintlik 'n klein verskilletjie wat geweldige effekte gehad het! Sowel aap as mens het die FOXP2 gene. By die mens kom die paar proteïene ietwat meer voor en is aktief in die brein. Dit het die effek gehad dat die mens beter beheer oor sy strottehoof- en mondspiere verkry het as sjimpansees en gorillas. Dit het gelei tot die ontwikkeling van taal by mense wat ook denke sterker gestimuleer het as by ape.

Daar is natuurlik ook ander redes vir die ontstaan van taal. Hieruit volg egter nie dat die groot ape nie ingestel is op taal nie. Ondanks die agterstand kan hul wel menslike taal nie net aanleer nie, maar ook sinvol gebruik. Sommige sjimpansees kan tot meer as een duisend (mens)woorde sinvol aanwend (nie nabootsing nie) en leer op eie inisiatief ook hul "kinders" menslike taal as aanvullend tot hul eie kommunikasie aan. Volgens dieselfde genoomprojek-navorsers is die ontwikkeling van ape se brein (vanweë natuurlike seleksie) besig om te versnel terwyl die mens s'n besig is om te verstadig.

Prof. Alex Antonites, Departement Filosofie, Universiteit van Pretoria.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za