‘n Tekslose verstaan van God

Deur Prof. Sakkie Spangenberg op 1 November 2010

Inleiding

Die meeste van ons het grootgeword met die siening dat alles wat 'n mens van God kan weet in die Bybel, die ekumeniese belydenisse en die gereformeerde belydenisskrifte te vind is. Op grond hiervan het ons geweet dat God eerstens Skepper en Vader is, maar ook die Een wat by die oordeelsdag as Regter gaan optree. Voorts sou hierdie geskrifte ons meedeel dat God eintlik 'n Drie-eenheid is wat as Vader, Seun en Heilige Gees van alle ewigheid af bestaan. Die Vader is die Skepper en Onderhouer van alles wat is. Die Seun is die Verlosser en Middelaar. Hy het deur die maagd Maria mens geword om die ganse mensdom van sonde en ellende te verlos en die breuk wat tussen God en die mensdom na die skepping ontstaan het, weer heel te maak. Die Heilige Gees gaan van die Vader en die Seun uit en kom woon in verloste mense. Hy maak die verlossingswerk 'n werklikheid en omvorm sondaars daagliks sodat hulle weer beelddraers van God kan wees. Aan die einde van die tyd sal die Seun weer kom en die Vader sal dan regspreek en almal veroordeel wat nie die verlossing wat Jesus kom bewerk het, aanvaar het nie.

Enigeen wat meer van hierdie God wil weet, moet die Bybel, die ekumeniese belydenisse en Protestantse belydenisskrifte noukeurig bestudeer asook al die teologiese geskrifte wat oor die afgelope byna twee millenniums geskryf is. Die mense wat die Christelike God die beste geken het (en ken), is teoloë soos Origines, Hieronimus, Augustinus, Anselmus, Karl Barth, Herman Bavinck, G.C. Berkouwer, Oepke Noordmans en vele ander. ('n Mens sou Johan Heyns, Willie Jonker, Flip Theron, Danie du Toit hier kon byvoeg.) Philip Kennedy som hierdie soort tekstuele verstaan van die Christelike God goed op wanneer hy soos volg skryf:

To the question, 'How does one learn to speak of God', theologians in modern western universities have long replied along the following lines: 'Study Hebrew, Greek, and Latin; contemplate the Bible in reverential solitude; read books; labour in libraries; listen to professors; obey tutors; write essays; avoid pubs and disreputable people; and strive to pass examinations. That's the best route to discovering God.' (Kennedy 2006:193).

Afskeid van die buiksprekende God

Van ons het hierdie weg wat Philip Kennedy skets, gevolg, maar ontdek dat alles wat oor die Christelike God geskryf is, menslike insigte en perspektiewe is. Geen Bybelboekskrywer of latere Christelike teoloog bied 'n objektiewe beskrywing van God nie. Alles wat geskryf is, hetsy in die Bybel, die ekumeniese belydenisse of belydenisskrifte is subjektiewe beskrywings. Wat die Bybel bied, is antieke Israeliete en Jode se sienings en uitsprake oor húl God. Wat die belydenisse en belydenisskrifte bied, is latere Christelike teoloë se verwoordings van hul verstaan van die Bybel en van húl God. Die Christelike idee van God bestaan nie van alle ewigheid af nie, maar slegs van die tyd toe Christene hulle van die Jode begin afsonder en 'n eie identiteit en godsbeeld ontwikkel het. En dit is maar ongeveer van die einde van die eerste eeu nC. Na regte kan 'n mens sê dat die Christendom soos ons dit tans ken, eers sedert die vierde eeu nC bestaan. Om Philip Kennedy nog 'n keer aan te haal:

If Christianity is understood as a body of people who worship a Triune God, and Jesus Christ as truly God and truly a human being, then such a group emerged during the fourth and fifth centuries, not the first. (Kennedy 2006:137)

Geeneen van die Bybelskrywers het die idee van 'n Drie-eenheid geken nie. Dis 'n idee wat dateer van die teologiese debatte in die derde en vierde eeu.

Die ontdekking van ander beskawings, kulture en geskrifte en die vertaling van antieke godsdienstige geskrifte het egter tot die gevolgtrekking gelei dat daar nie maar net één godsdienstige waarheid bestaan nie. Diegene wat reken dat daar net één absolute godsdienstige waarheid bestaan en dat dit die duidelikste tot uitdrukking kom in die Bybel, neem nie al die feite in ag nie. Die Christelike godsdiens bestaan slegs maar die afgelope byna tweeduisend jaar. Die spesie homo sapiens daarteen, bestaan al vir die afgelope byna honderdduisend jaar. Uitgedruk as 'n persentasie van die tyd wat hierdie spesie bestaan, beteken dit dat die Christelike godsdiens maar slegs 2% van hierdie tyd bestaan. Die aanspraak dat net Christene die ware God ken, word na my mening deur die geskiedenis en hierdie persentasie geloënstraf. Vroeë Christene was persentasiegewys ook net 'n klein groepie binne die poel van mense wat toe op aarde geleef het. Was dit nie vir keiser Teodotius die Grote (346-395) se handeling om die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens van die Romeinse ryk te verklaar nie, het hierdie godsdiens nooit geword wat dit tans is nie. Die veranderinge wat die Protestantse Hervorming in die vyftiende en sestiende eeu teweeggebring het, het ook nie veel aan hierdie godsdiens verander nie. Dit is wel so dat die hervormers die Katolieke pous en die konsilies se greep op Bybelinterpretasie verbreek het. Die gebeure het Bybelinterpretasie verdemokratiseer, want gewone lidmate is skielik ook as legitieme uitleggers van die Bybel beskou. Dit het egter tot 'n veelheid van kerke en sienings gelei en die idee dat die Bybel ons die enigste toegang tot die ware God bied, versterk. In 'n sekere sin kan 'n mens sê dat fundamentaliste met hulle oorbeklemtoning van die Bybel en die sogenaamde openbaring wat dit bevat die ware kinders van die Hervorming is. David Katz vat dit goed saam in die volgende woorde:

From the viewpoint of our story, the birth of the Fundamentalist movement brings us right back to the beginning, when scriptural authority was axiomatic and the Bible was self-evidently God's Last Words to mankind. Far from being a deviant group of religious extremists, Fundamentalists are actually those whose theological position is closest to the message of the Protestant revolution, while we are the ones who have gone into the sunset of the 'horizon of expectations'. (Katz 2004:315)

Dit was egter nie net die ontdekking van ander beskawings, kulture en geskrifte wat Christene se siening van God ondermyn het nie, maar ook die besef dat ander volke soortgelyke idees as Israeliete en Christene gekoester het. Om die waarheid te sê daar bestaan ooreenstemmende sienings in ander kulture en godsdienste. Geleerdes het daarom die uniekheid van die Bybelse verhale begin betwyfel en sommige het selfs gemeen dat die Ou Testament slegs maar 'n afgewaterde weergawe van ou Nabye Oosterse verhale bied. Die sogenaamde Babel-Bybel-stryd wat teen die einde van die negentiende eeu gewoed het, is hiervan 'n voorbeeld. Die siening dat die Bybel 'n gesagvolle dokument is wat op goddelike openbaring berus, moes wyk voor die siening dat die Bybel 'n doodgewone menslike geskrif is wat wette, voorskrifte, wysheidsleringe, ensovoorts bevat wat ook by ander volke en kulture te vind is. God spreek dus nie buik deur hierdie dokumente nie.

Die meule van die tyd

Wat die gesag van die Bybelboeke, die belydenisse en belydenisskrifte finaal ondermyn het, was die besef dat tyd niks onveranderd laat nie. Hierdie insig het gedurende die agtiende en die negentiende eeu in Europa wortel geskiet. Meer en meer geskiedeniswetenskaplikes het dit beklemtoon dat tyd 'n enorme invloed op mense se leef- en denkwêreld het. Hulle het as 't ware die grond voorberei vir 'n boek wat 'n radikale verandering in die Westerse denkwêreld teweeg sou bring. Hierdie boek was The Origin of Species van Charles Darwin (1809-1882). Hy het dit in 1859 gepubliseer – dieselfde jaar waarin die teologiese seminarium op Stellenbosch tot stand gekom het. Vir vele Christene is dit 'n verwerplike boek, want volgens hulle ondermyn dit die idee dat daar 'n Skeppergod is wat alles eeue gelede gemaak het presies soos dit tans nog is. Dit geld nie net van die kontinente en oseane nie, maar ook van plant- en dierespesies – en veral die mens. Die gedagte dat die mens en sommige mens-ape 'n gesamentlike voorouer gehad het, is vir vele Christene totaal onaanvaarbaar. Volgens hul oortuiging vertel die Bybel – die enigste gesagvolle godsdienstige dokument van die enigste ware godsdiens – 'n ander verhaal.

Baie wetenskaplikes het met Darwin en ander bioloë se insigte begin woeker. Selfs Bybel-wetenskaplikes het hierdie insigte benut en aangetoon dat Israel se godsdiens oor eeue heen verander het. Die godsdienstige oortuigings in die tyd van Jesus (6 vC tot 30 nC) het radikaal verskil van die oortuigings wat Dawid en Salomo (1000-950 vC) gedeel het. James Barr (1966:149) vat dit raak saam wanneer hy skryf: "Devils, hell and the end of the world are New Testament rather than Old Testament realities." Lees 'n mens byvoorbeeld die Markus-evangelie is dit opvallend hoeveel keer daar van duiweluitdrywings sprake is. Daar is géén vergelykbare boek in die Ou Testament wat soveel aandag aan duiwels gee nie. Die duiwel of Satan is 'n totaal afwesige figuur in die Ou Testament.

'n Paradigmaverandering

Die bovermelde ontdekkings en insigte het tot 'n radikale paradigmaverandering in die Bybelwetenskappe gelei en baie Ou-Testamentici is as ketters gebrandmerk. Maar ook Nuwe-Testamentici het in die warm water beland. David Friedrich Strauss (1808-1874) wie se boek oor Jesus so 'n storm ontketen het dat hy as professor aan die Universiteit van Tübingen in Duitsland afgedank is, is maar een voorbeeld.

Charles Darwin was egter nie die enigste wetenskaplike wie se insigte 'n radikale invloed uitgeoefen het op mense se denke oor hulself, hul omgewing en selfs die goddelike nie. Twee ander wetenskaplikes verdien na my mening om ook vermeld te word. Die eerste hiervan is die sterrekundige Edwin Hubble (1889-1953). Aan die begin van die twintigste eeu was daar twee groepe sterrekundiges. Die een groep was vas oortuig dat daar net één sterrestelsel in die ganse heelal bestaan en dat die aarde deel daarvan is. Die ander groep was weer oortuig dat daar meer as een sterrestelsel bestaan. Die tweede groep se oortuigings het geseëvier toe Edwin Hubble ander sterrestelsels ontdek het. Wat hom egter beroemd gemaak het, is dat hy ook kon bewys dat hierdie stelsels besig is om van mekaar weg te beweeg. Die heelal is dus steeds besig om uit te dy. Selfs Albert Einstein (1879-1955) het hierdie ontdekking met ongeloof begroet.

Die tweede wetenskaplike wie se naam vermeld moet word, is Alfred Wegener (1880-1930). Hy het met die idee na vore gekom dat Suid-Amerika en Afrika miljoene jare gelede aan mekaar geheg was, maar dat hulle mettertyd van mekaar losgeskeur en weggedryf het. Dit geld ook van Noord-Amerika en van ander kontinente. Geoloë het moeilik aan hierdie gedagte gebyt, want Wegener was 'n kartograaf en nie 'n geoloog nie. Voorts was die kragte wat hierdie verskuiwings moontlik maak, nog onbekend. Alex du Toit (1878-1948) 'n Suid-Afrikaanse geoloog het egter met harde feite na vore gekom en Wegener se teorie as waar bewys. Wegener en Du Toit het die basis gelê vir die teorie wat later bekend sou staan as plaattektoniek. Volgens die teorie bestaan die aarde uit 'n aantal aardplate wat rondbeweeg en teen mekaar skuur en selfs onder mekaar inskuif. Hierdie teorie het 'n radikale verandering in mense se verstaan van die aarde en lewe daarop teweeggebring. Vele raaisels rondom plante en diere wat op verskillende plekke op die aarde voorkom en met mekaar verband hou of radikaal van mekaar verskil, kon nou opgelos word. Dit geld ook van die ontdekking van dieselfde soort fossiele op plekke op aarde wat duisende kilometers van mekaar geleë is en selfs deur oseane geskei word. Hierdie teorie het bygedra tot 'n beter verstaan van evolusie. Mense het begin besef dat nie net plant- en dierespesies aan verandering onderworpe was nie, maar die ganse aarde. Die klimaat van sekere dele op aarde het oor tyd heen verander vanweë die verskuiwende aardplate en dit het 'n invloed uitgeoefen op die plant- en dierespesies.

Die einde van die Vader in die hemel

Ter opsomming kan ons dus sê dat die volgende ontdekkings en teorieë bygedra het tot die ineenstorting van die drieverdieping heelal en die idee dat daar buite die heelal êrens in die hemelruim 'n "enige en éénvoudige geestelike wese" bestaan wat ons "God" noem en dat Hy sy wil en raadsplan ondubbelsinnig deur die één geskrif, naamlik die Bybel aan mense openbaar:

Hierdie nuwere insigte het tot gevolg dat vele mense anders oor God / die goddelike begin dink en dat hulle wegbeweeg het van 'n tekstuele verstaan van God / die goddelike. Om die waarheid te sê ons beleef tans 'n "godsverduistering" en ons weet na regte nie mooi hoe om meer oor God / die goddelike te praat nie. Die Duitse Ou-Testamentikus, Erhard Gerstenberger, vat dit raak saam:

The image, or rather the images, of God corresponding to our time have in part still to be found. Our religious imagination is impoverished; it has constantly fixated itself only on what is there in the Bible and has regarded these images as the only possible metaphors.
(Gerstenberger 2000:304)

Erhard Gerstenberger is reg deur daarop te wys dat die Bybel nie meer die enigste gesaghebbende dokument vir ons spreke oor God / die goddelike kan wees nie. Ons moet kreatief met die inligting waaroor ons beskik, omgaan en nuwere metafore skep. Don Cupitt slaan op sy beurt die spyker op die kop wanneer hy die volgende oor religie skryf:

In effect, the only religion that can save you is one that you have made up for yourself and tested out for yourself: in short, a heresy. Heresy, heresy is the way to salvation.
(Cupitt 2008:68)

My eie verstaan van en spreke oor die goddelike

Hoe praat ek vandag dan oor die goddelike?

Bibliografie

Barr, J. 1966. Old and New in Interpretation: A Study of the Two Testaments. London: SCM.
Cupitt, D. 2001. Reforming Christianity. Santa Rosa: Polebridge.
Cupitt, D. 2008. Above Us Only Sky: The religion of ordinary life. Santa Rosa: Polebridge.
Gerstenberger, E.S. 2002. Theologies in the Old Testament. London: T&T Clark.
Katz, D.S. 2004. God's Last Words: Reading the English Bible from the Reformation to Fundamentalism. New Haven: Yale University Press.
Kennedy, P. 2006. A Modern Introduction to Theology: New Questions for Old Beliefs. London: I.B. Tauris.
Spies, L. 2004. Duskant die einders. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za