.

Superman, Jesus, mitologie en jy

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Julie 2013

.

Die nuwe Superman-rolprent, Man of Steel is hier. Nou, buiten die feit dat ek nog altyd mal was oor superhelde, en veral Superman, is dit vir my 'n wonderlike voorbeeld van moderne mitologie.

Interessant is dat Hollywood ook nou hierdie konneksie maak. Want op die Amerika se nuuskanaal CNN adverteer hulle die nuwe rolprent met die titel: "Jesus: The Original Superhero." Die berig gaan oor die ooreenkomste tussen Jesus en Clark Kent / Superman. Hier is 'n uittreksel uit die artikel: "Warner Bros. Studios is aggressively marketing Man of Steel to Christian pastors. The movie studio even asked a theologian to provide sermon notes for pastors who want to preach about Superman. The notes run nine pages and asks: 'How might the story of Superman awaken our passion for the greatest hero who ever lived and died and rose again?"

Hierdie vergelyking illustreer die invloed van mitologie baie goed. Kom ek verduidelik.

Clark Kent is 'n gewone nuusman. Ja, toegegee, Superman se hart klop warm binne hom, maar hy bly net 'n gewone sterfling soos die res van ons. Dan verf die mitologie-kwas oor hom en ewe skielik is hy die seun van 'n ander wêreld se heerser, met bonatuurlike kragte en hy is selfs onsterflik.

Moses is 'n Israeliet, 'n vername profeet wat die Israeliete uit Egipte help lei. 'n Besonderse leier maar 'n gewone sterfling soos die res van ons. Dan verf die mitologie-kwas oor hom en ewe skielik word hy iemand met bonatuurlike kragte wat volgens sy wil natuurkragte kan beheer. Van die verskillende plae, die Rooi See wat oopgaan en weer toe, kos wat uit die hemele val om die honger Israeliete te voed, water uit 'n rots, tot en met sy vermoë om direk met God – in die vorm van 'n brandende braambos – te kan praat. (Terloops, die skeppers van Superman het juis sy karakter gegrond op die mitologiese Moses.)

So kan ek voortgaan om te illustreer hoe gewone, alhoewel besondere karakters, deur mitologie heeltemal getransformeer word na bonatuurlike wesens. Boeddha, 'n Indiese prins word 'n god wat op water kan loop en onsterflik is; Jesus, 'n Joodse Rabbi word 'n god wat wonderwerke kan doen en ook onsterflik is.

Daarom is dit vir seker nie verregaande om Jesus en Superman te vergelyk nie. Want albei verhale is mitologiese verhale. Ek moet darem hier sê dat Jesus, Moses en Boeddha wel historiese wortels het, terwyl Superman 'n moderne fiktiewe skepping is. Nietemin, die historiese Jesus en die Christus Jesus, word ook deur mitologie maar net 'n fiktiewe skepping.

Nou voor ons verder gaan, kom ek verduidelik net weer vinnig wat ek met 'n mite bedoel.

Wel, per definisie is 'n mite 'n storie wat vertel is om te probeer verduidelik hoe die wêreld werk en hoe mense, binne 'n sekere tyd, hulleself daarbinne probeer verstaan het. Mitologie is dus 'n storie vol simbole en metafore. Maar soos met enige simboliese en metaforiese uitbeelding van die werklikheid, kan dit nooit letterlik verstaan word nie.

Byvoorbeeld, in antieke tye was gode en bonatuurlike wesens maklik deel gemaak van verklarings van dinge en gebeure. Dink maar aan die Griekse god, Poseidon (Romeinse naam: Neptunus), wat gesien is as die heerser van die see – god van die oseane, verantwoordelik vir aardbewings (en o ja, die skepper van perde).

Nou as daar byvoorbeeld in die antieke tye oor 'n aardbewing verslag gelewer moes word, sou die vertellers van die storie sommer maklik Poseidon ingebring het as die oorsaak van die aardbewing. Dus: met mites word gebeure, geheue en verbeelding vrylik saamgevleg om 'n storie te vertel.

Mites is wel stories met betekenisvolle boodskappe, maar is en was nooit bedoel om letterlike verklarings vir die werklikheid aan te bied nie. Net so onlogies sou dit wees om die Superman storie as werklikheid te verstaan. Net so is 'n mite se bonatuurlike verklarings nooit bedoel as werklikheid nie.

Nee, veel eerder gaan dit oor die verteller(s) se verwondering oor die skoonheid, heiligheid en misterie van 'n wêreld wat buite hulle bereik lê. Mitologie is dus 'n manier om oor gewone gebeure op 'n simboliese, metaforiese en poëtiese wyse te praat.

Vat nou maar net die Superman-storie. Tydens die Groot Depressie in Amerika was daar naarstigtelik gesoek na hoop. Die skeppers van Superman skep dan juis 'n karakter wat die rol van 'n sosiale aktivis en vegter vir die regte van die gewone mense word. Hy beveg korrupte ekonomiese en politieke sisteme, in die vorm van korrupte sakemanne en politici. Sy groot aartsvyand is die verpersoonliking daarvan, naamlik Lex Luthor.

So kom Sigmund Freud en sê 'n mite is 'n verhaal wat die waarheid in simboliese vorm vertel. Of soos Joseph Campbell in sy boek The Power of Myth, dit stel: "Mythology is not a lie, mythology is poetry, it is metaphorical. It has been well said that mythology is the penultimate truth – penultimate because the ultimate cannot be put into words. It is beyond words..."

Mites is dus wonderlike rigtingwysers op die pad van selfontdekking en die spirituele reis waarop ons elkeen ons bevind. En net soos ons nooit stilstaan nie so is mites ook nie staties nie, maar word dit oorvertel van geslag tot geslag en selfs van een volk na 'n ander. En soos mites oorgedra word, verander dit gedurig en pas by nuwe omstandighede aan.

Hiervan is Superman 'n wonderlike voorbeeld. Dit is 'n ou storie van hoop, 'n storie van elke mens se reis na self ontdekking en oorwinning. Presies soos die Boeddha, Jesus, Dionisus en Hercules se stories. Superman is nou net in 'n moderne vorm herkenbaar. Hy loop ook op water, kan bonatuurlike dinge doen en is natuurlik die redder van die mensdom.

Joseph Campbell sê juis dat mites wonderlike stories van innerlike ontdekkings kan wees, selfs rigtingwysers vir elkeen van ons op ons lewensreis. Maar dat ons moet oppas om dit te wil vertaal in feitelike gebeure. "Every religion is true one way or another. It is true when understood metaphorically. But when it gets stuck in its own metaphors, interpreting them as facts, then you are in trouble."

Dit is tog duidelik dat wanneer ons oor iets abstrak soos God wil praat, ons dit slegs kan doen aan die hand van dinge wat wel aan ons bekend is. Daarom die vergelykings van God met iets soos 'n Vader of 'n goeie Herder.

Natuurlik bly dit beperkte begrippe wat God nooit in essensie kan vasvat nie. Dit bly maar net simboliese en metaforiese maniere om oor God te praat. Ons kan sê dit is die mens se selfgeskepte prentjies van God.

Meestal het mense glad nie 'n probleem hiermee nie. As ek sien hoe Superman bonatuurlike kragte het, hoe hy kan vlieg en selfs onsterflik is, pla dit nie, want ek weet dit is slegs 'n storie wat geklee is in mitiese taal. Dit wys na wonderlike temas wat ek binne myself ook kan vind. Temas waarvan Joseph Campbell in sy boek, The Hero with a Thousand Faces (1949) praat.

Hierin bespreek Campbell sy teorie van die mens se reis en hoe hierdie reis in vele van die wêreld mitologieë gevind kan word. Ook in die Superman verhaal. "A hero ventures forth from the world of common day into a region of supernatural wonder: fabulous forces are there encountered and a decisive victory is won: the hero comes back from this mysterious adventure with the power to bestow on his fellow man."

'n Patroon wat Campbell sê deel is van ons elkeen se storie. Ons word gebore en soos ons opgroei word ons bewus van 'n dieper roeping. En dié van ons wat ja sê vir hierdie roeping, gaan dan op 'n avontuur.

Campbell praat dan van stadiums of patrone wat herhaal en in alle verhale voorkom. Hy verwys na die patron wat oor en oor herhaal soos ook by Osiris, Prometheus, Gautama Boeddha, Moses en Jesus, en Homeros se Odusseia. En natuurlik ook in nuwe vorme, dink maar net aan Star Wars en die held daarin, Luke Skywalker se avonture van self ontdekking.

En natuurlik Superman. Maar ook in verhale soos The Matrix, met Neo wat duidelik 'n held is wat op sy eie reis, soos ook Jesus, ontdek hy is die redder van die mensdom.

Selfde met Harry Potter and the Philosopher's Stone, The Lord of the Rings se Frodo en die parapleeg soldaat Jake Sully in Avatar.

Hierdie patrone of stadiums kan in hooftrekke opgesom word as: Roeping (soms genoem die vertrek of skeiding), Bekendstelling of Inisiasie, en Terugkoms.

Die Roeping handel oor die held se oproep tot die avontuur. Die Inisiasie handel weer oor die held se vele avonture op die reis, en die Terugkoms gaan oor die held se terugkeer huis toe met kennis en magte wat hy/sy verkry het op die reis – nou 'n meester van twee wêrelde (binne wêreld en buite wêreld).

Want dit is nogal interessant om te sien dat in mitologie as daar gepraat word van "ander wêrelde" of bonatuurlike domeine, dit eintlik verwys na die mens se binne-wêreld. Die Heldereis is dus ook die verwysing na die innerlike reis. Campbell verduidelik dit so: "...where we had thought to travel outward, we shall come to the center of our own existence; where we had thought to be alone, we shall be with all the world."

Daarom is dit so nodig om mites nie weg te gooi nie. Dit is wonderlike rigtingwysers vir elkeen wat op sy eie spirituele avontuur is. Deur mites letterlik te probeer maak, verloor jy die boodskap en die wysheid van die storie. Maar wanneer ons mites lees vir wat dit is, word dit wonderlike tekste vol wysheid. En dan kan ons die dieper boodskap daarin vind. Daarom dat Campbell ons die heeltyd waarsku: "Wherever the poetry of myth is interpreted as biography, history, or science, it is killed."

Saam met Campbell wil ek elkeen aanmoedig om mites te bestudeer, of dit in die vorm van ou heilige geskrifte is of in moderne vorm soos die van Man of Steel. Laat jou betower deur die mitologiese wêreld. Laat die simbole en metafore jou ook weer wakker maak vir jou eie reis. Want wat jy sal ontdek is dat jy ook 'n Superman/-vrou is.

Jy het nodig om betekenis in jou lewe te vind. Campbell verduidelik dit so: "Life has no meaning. Each of us has meaning and we bring it to life. It is a waste to be asking the question when you are the answer."

Ek wil afsluit met die vraag van Clark Kent/Superman/Kal-El se biologiese pa, Jor-El (van die planeet Krypton). "What if a child dreamed of becoming something other than what society had intended? What if a child aspired to something greater?"

Waarop Joseph Campbell sou antwoord: "If you do follow your bliss you put yourself on a kind of track that has been there all the while, waiting for you, and the life that you ought to be living is the one you are living. Follow your bliss and don't be afraid, and doors will open where you didn't know they were going to be."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.