Superman en die CEO van Apple; mites kan ons help

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Julie 2011

Ek's van kleinsaf aangegryp deur superhelde. Ek praat hier spesifiek van superhelde soos Superman, Batman, Thor, The Hulk, Ironman, Green Lantern en Wolverine. Hierdie superhelde en hulle avonture fassineer my. Ek onthou nog goed hoe my ma vir my 'n rooi mantel met 'n "S" op gemaak het. Hoe ver het ek nie met daai mantel gevlieg en hoeveel monsters het ek nie verslaan nie.

Wel vandag is ek verseker nie meer 'n kind nie, ek's 'n volwasse man. Maar sou jy na my "screen saver" op my rekenaar kyk sou jy niemand anders as The Green Lantern daar sien nie. En langs my bed staan daar 'n Incredible Hulk aksie-figuur. Natuurlik tot die afgryse en skaamte van my vrou en my dogter.

Dit is egter nie net ek wat hierdie fassinering met superhelde het nie. Kyk maar net na die welslae van die afgelope paar jaar se rolprente soos Batman Begins, Spider-man, Superman: The Movie, The Hulk, The Fantastic Four, Ironman, Daredevil, Thor, Green Lantern en Marvel se X-Men reeks, met o.a. Wolverine, Storm, Professor X en Magneto. Ons praat hier van biljoene rande se inkomste by rolprent-teaters en van die grootste lokettreffers van alle tye.

Hierdie wêreldwye fassinering met superhelde is egter meer kompleks as net 'n behoefte aan ontvlugting. Dit gaan oor die moderne mens se groeiende behoefte aan 'n eietydse verstaan van sy ewigdurende veranderende wêreld.

Die wetenskap en ekonomie is eenvoudig net nie gerat om die menslike psige 'n sin van betekenis te gee nie. En tradisionele godsdienste, aan die ander kant, het weer vasgeval in outydse mites en sodoende irrelevant geword vir vandag se moderne mens.

Dit beteken egter nie dat moderne mense nie 'n behoefte het aan 'n eietydse, kreatiewe, dinamiese en inspirerende mitologie nie. En interessant genoeg lyk dit asof films die rol van die godsdiens in die skepping van mites oorgeneem het. Hiervan getuig die sukses van die grootste lokettreffer van alle tye: Avatar.

In Avatar skep James Cameron, die draaiboekskrywer en regisseur, die asemrowende wêreld van Pandora. Die verhaal speel af in die jaar 2154, en die verwondering wat die kyker ervaar help om 'n nuwe mite te skep. Dit is dan ook die eerste funksie van 'n mite, om verwondering binne jou wakker te maak.

Avatar se mitologie put sy inspirasie uit die Gaia (Grieks vir "grond" of "aarde") of moeder Aarde mitologie. Gaia was in die Griekse mitologie die dogter van die heel eerste god, Chaos (dit waaruit geglo is die heelal ontstaan het). In Avatar noem hulle dit Moedergodin Eywa. Die inwoners van Pandora (die Na'vi) staan in 'n intieme verhouding met die netwerk van lewe.

In teologiese taal sou dit beskrywe word as panenteïsme – God in alles, alles in God, maar God ook meer as alles. En so skep of herskep Avatar 'n mite. 'n Baie nodige nuwe uitkyk. Veral omdat die hartseer realiteit is dat die tradisionele godsdienste nie gehelp het om die mensdom sensitief te maak vir hulle enigste woning, planeet Aarde nie. Inteendeel, die mites wat godsdiens die mensdom gegee het, het hulle arrogant en selfsugtig gemaak. Hierdie "Kroon van die skepping"- mitologie het meegebring dat moeder Aarde geplunder, misbruik en verkrag is.

Kan jy jou indink hoe anders ons realiteit sou wees indien mense hulle self werklik gesien het as deel van alles, deel van mekaar – alle lewe as Een. Joseph Campbell, een van die grootste kenners van mites, skryf presies oor hierdie noodsaaklikheid van so 'n eenheids-mite vir ons tyd: "The only mythology that is valid today is the mythology of the planet – and we don't have such a mythology."

A.H. Almaas, een van my gunsteling spirituele skrywers verwoord hierdie verstaan as volg: "The world is perceived, in some sense, as alive and living, as one infinite and boundless organism of consciousness. It is not merely the presence of Being or consciousness; this dimension of Being is experienced as a living organism, boundless and infinite."

Mense soek na nuwe rigtingwysers en spirituele beginsels wat hulle lewens kan verryk en genees. Maar hulle soek ook na beginsels wat hulle kritiese en ondersoekende denke kan bevredig. Daarom dat moderne mense reg oor die wêreld behoefte aan nuwe mites het wat hulle nie meer verlore en geïsoleerd laat voel nie.

Seker daarom dat die Amerikaanse filosoof en antropoloog, Roger Walsh, die volgende skryf: "Indeed, this lack of meaningful myth may underlie much of the fragmentation and alienation that haunts our lives and our future may well depend on our ability to create a new, life affirming myth that gives coherence and common meaning to our modern world."

Sy verwysing na ons wêreld se huidige "fragmentation" en "alienation" is baie akkuraat. Dit is tipies wat gebeur as daar nie meer 'n narratief of mite is wat mense sinvol aan mekaar bind nie. Daarom is 'n eietydse mitologie so nodig.

Ek verstaan egter die huiwering by baie mense om oop te wees vir hierdie idée van 'n eietydse mite. Baie mense voel hulle is mislei deur hulle godsdiens en wil daarom niks meer te doen hê met mites nie. Hulle is baie skepties oor die rol van mites in 'n wêreld waar die wetenskap veel meer waarheid verkondig as wat 'n storie kan. En daarom verkies hulle die empiriese en feitelike verklarings vanuit die wetenskaplike wêreldbeeld.

Ongelukkig is meeste van die kritiek geldig. Want verseker is die grootste gevaar van mites se metafore, simbole en stories, die potensiaal wat dit het om verkeerdelik as direkte geskiedenis of wetenskap beskou te word. Want simbole is nie feite nie en metafore is nie dogma nie. En vanuit hierdie verkeerde verstaan van mites is godsdienste gebore. Dit is mense wat nie verstaan het dat poësie, dramas en verbeeldingryke stories, eintlik net kreatiewe menslike vertellings was/is nie.

Dit het meegebring dat mense onder mekaar begin baklei het, juis omdat hulle verkeerdelik hulle eie simboliese tekens as feitelike waarheid verstaan het. En natuurlik is ander mense se godsdienstige stories dadelik as mites en dus as leuens afgemaak. Vandag nog doen christene dit, hulle maak ander gelowe se sienings af as mites maar hulle eie mites word as feitelike waarheid gesien. Dink ook aan die stryd tussen gelowe onder mekaar en wetenskap teenoor bygeloof. Meestal omdat mense nooit geleer het wat 'n mite is nie.

Hoekom is mites enigsins nodig? Basies omdat die mens nie net bestaan uit rede nie, ons is meer as net ons koppe. Ons het ook lywe, gevoelens en emosies. Daarom dat mense altyd mites sal nodig hê. Mense het nodig om uitdrukking te gee aan hulle diepste ervarings, mense smag na kreatiwiteit en mense word bekoor deur die onbekende en die transendente.

Wiskundige en feitelike taal het verseker sy plek maar min dinge kan 'n mens inspireer soos musiek, kuns of 'n goeie storie. Ons vertel graag vir mekaar stories van hoop. Stories wat troos, insig en motivering kan bring waar daar voorheen slegs hartseer en moedeloosheid was.

Dit is in essensie al wat 'n mite eintlik is. Net 'n storie wat deur mense binne 'n spesifieke tyd en omstandighede vertel is, om daarmee woorde te gee aan hoe dinge wat gebeur het, deur hulle ervaar is. Dit gaan primêr daaroor om sin te maak uit hulle ervarings-wêreld. Dit moet dus nooit verwar word met feite of geskiedkundige gebeure nie.

Joseph Campbell gee sy definisie van mites as: "It is an organization of symbolic images and narratives, metaphorical of the possibilities of human experience and the fulfillment of a given culture at a given time." Dit beteken dat mense 'n kreatiewe storie vertel, vol simbole en metafore vanuit hulle ervarings-wêreld.

Anders gestel kan mites gesien word as 'n simboliese kaart vir die innerlike reis. En op hierdie kaart is sleutel verwysings aangebring wat kan help om dieper insig te beleef, en metafore om die ego en donkerkant te verduidelik. Die kaart is nie die terrein nie, slegs 'n simboliese vertolking daarvan.

Dink maar net, hoe 'n eks dwelmslaaf aan iemand sou verduidelik wat die verslawing aan sy lewe gedoen het. Hy sal dit vertel asof die dwelms 'n fisiese monster is. En dat hierdie monster hom wou vernietig en dat daar 'n stryd om lewe en dood tussen hulle was. Almal weet tog dat dwelms nie 'n fisiese monster is nie. Almal weet instinktief dat hierdie mitiese taal is en probeer beskrywe wat die persoon in sy innerlike stryd teen sy verslawing ervaar en beleef het.

Mens kan dus sê dat mites 'n storie struktuur van betekenis is. Dat mense mites skep om hulle te help om sin en betekenis te verwoord. Daarom dat mense altyd hulle mites inkleur vanuit hulle direkte omgewing. Byvoorbeeld, mense wat in 'n woestyn woon, se mitologieë lyk anders as mense wat by die see woon. Hulle verhoudings met hulle omgewing se uitdagings, gebeure en gode sal verskil.

Kyk maar net hoe mense deur die geskiedenis hulle werklikheid verwoord het en watter metafore oor die lewe, dood en die onsienlike hulle gebruik het. Sien ook raak dat dit meer van hulle kennis en interpretasie sê, as noodwendig oor die werklikheid.

Weens my belangstelling in mites en mitologie, kan ek dus nie 'n fliek met superhelde misloop nie. Ek geniet dit om te sien hoe belangrike lewenstemas na vore kom. Dink maar aan wat die moderne mites in die vorm van superhelde vir mense sê.

Hoe groter en belangriker die doel van die superheld is – gewoonlik om die vernietiging van die aarde te verhoed (en jy kry nie sommer 'n groter doel of taak as dit nie!) – hoe moeiliker word dit om die taak suksesvol te kan voltooi.

Ou mitologie het ook sy superhelde gehad. Herkules moes twaalf take uitvoer. Ulysses het jare lank rondgeswerf voordat hy weer kon huis toe gaan. David moet so veel opoffer en sy eie vrese konfronteer in sy geveg teen die reus Goliat. En Jesus is bespot, geslaan, gemartel en gekruisig, alles ter wille van sy taak om die mensdom te red.

Vergelyk dit met Spiderman en Batman wat deur ongelooflike diep innerlike wroegings moet gaan omdat hulle bang is vir die groot verantwoordelikheid van hulle taak. Spiderman se bekende mantra wys byvoorbeeld hierdie groot taak wat hy het: "With great power comes great responsibility." Of dink aan Superman wat as vreemdeling op aarde moet voortleef en heeltyd sy ware identiteit geheim hou. Dieselfde met Batman, Captain America, Ironman en The Green Lantern. Daarom die nodigheid van superhelde se kostuums, maskers en geheime identiteit.

In Thor, The Hulk en X-Men gaan dit weer om 'gnosis'; om innerlike kennis van hulle ware self te vind. En daarvoor moet hulle alles opoffer, selfs hulle lewens. So word die psigologiese (pedagogiese) funksie van 'n mite, om die individu deur die verskillende fases van die lewe te begelei. Joseph Campbell noem dit, "to help persons grasp the unfolding of life with integrity."

Natuurlik weet ons dat daar nie regtig 'n Gotham City of Metropolis bestaan nie. En verseker bestaan daar geen ring wat jou super kragte kan gee soos vir The Green Lantern nie. En (hopelik) dink niemand as 'n spinnekop jou byt gaan jy "spider senses" ontwikkel nie. Dit is slegs metafore, simbole, verbeeldingryke stories waarmee iets gesê word van ons elkeen se stryd met ons ego, donkerkant, vrese, drome, verantwoordelikhede, beperkings en sterflikheid.

Hierdie superhelde help ons om ons eie innerlike held te vind. Danny Fingeroth skryf in sy boek Superman on the Couch: "A hero can be said to be someone who rises above his or her own fears and limitations to achieve something extraordinary. The hero embodies what we believe is best in ourselves."

Dink maar net aan die onlangse lokettreffer Thor. Hier word die ewige stryd tussen goed en kwaad briljant uitgebeeld. Dit is belangrik om te weet dat hierdie mite lewe gekry het tydens die eeu van die Vikings, toe die Christendom besig was om Skandinawië te verower. Dit het hulle hoop gegee teen die oormag van die Christene.

Die held is Thor en sy hamer, Mjöllnir – die Noorse god van donder, weerlig en storms – maar ook van fertiliteit en genesing. Interessant is dat Donderdag (Torsdag) na hom vernoem is. Thor is die seun van Odin, koning van Asgard, die woning van al die gode. Ook die plek waar Loki, Thor se halfbroer, die bedrieër woon.

In die mite ontdek Thor eers sy ware self nadat hy sterf aan sy ego. En wanneer hy selfs bereid is om te sterf vir mense hier op aarde, dan eers word hy "waardig" om sy goddelike hamer, Mjöllnr te vind. En dan word hy sy pa, Odin se troon opvolger. Hy vind daardeur sy ware lewensdoel. Herinner dit nie sterk aan Jesus se woorde: "Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind." (Matteus 10:39, Die Bybel: nuwe vertaling 1983.)

Christopher Vogler verduidelik hierdie heldereis van Thor as: "Ultimately, a Hero is one who is able to transcend the bounds and illusions of the ego, but at first, Heroes are all ego; the I, the one, that personal identity who thinks it is separate from the rest of the group. The Hero archetype represents the ego's search for identity and wholeness."

Die funksies van mites is daarom baie belangrik vir elkeen van ons om sinvol hier en nou te kan leef. Wat is hierdie funksies? Eerstens om nuwe verwondering vir die lewe in jou wakker te maak; tweedens om 'n nuwe kosmologie daar te stel (een wat in lyn is met die wetenskaplike verstaan van ons tyd); derdens om nuwe simbole en rites te skep wat mense in 'n gemeenskap saambind en met respek en oopheid laat saamleef. En laastens om die ware self te ontdek, die ego te laat sterf en wakker te word vir jou goddelikheid.

'n Nuwe mite kan ons met ons innerlike stryd met ons ego's help. Superhelde as mite, is 'n riglyn om jou vrees (ego) te transendeer. Meer nog ons het nodig om die "malligheid" van die ego-gedrewe lewe, soos Eckhart Tolle dit noem, te verander. Dit kan alleen verander indien ons ontwaak tot die ware self. Hiervoor het ons 'n nuwe mitologie nodig!

Al wat ons het vir die skep van so 'n nuwe mitologie is om die beste uit die verlede te neem en die beste van die hede te neem. 'n Nuwe kosmologie, sosiologie en psigologie kan so ontwikkel word. 'n Mitologie wat dit regkry om die inkarnasie van God in alle mense (mistieke), in alle lewe, ernstig op te neem.

Ek wil afsluit met die woorde van Steven Jobs, een van die stigters en huidige CEO van Apple. Ek dink sy woorde eggo vele van my superhelde se woorde en ek hoor ook die fluistering van iemand wat met 'n nuwe mite werk:

"Your time is limited, so don't waste it living someone else's life. Don't be trapped by dogma – which is living with the results of other people's thinking. Don't let the noise of other's opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition. They somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za