.

Straatspiritualiteit

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2016

.

So twee weke gelede kry ek 'n artikel van die Teologiese Tydskrif van die Universiteit van Pretoria af om te keur vir moontlike plasing. Nadat ek die eerste sin van die artikel gelees het, het ek sommer geweet dat dit iets is wat ek graag verder sou wou lees. Dis 'n artikel van 'n professor aan die universiteit in Harare wat skryf oor 'n nuwe musiek genre wat besig is om veld te wen in Zimbabwe.

Al meer en meer hoor hulle hierdie nuwe tipe musiek in danssale, by partytjies en tydens kulturele en gemeenskapsbyeenkomste. Die Zimbabwiërs verwys sommer glo daarna as dancehall music, maar hy verkies om daarvan te praat as wildernis musiek.

Want dit het ontstaan na aanleiding van hierdie gevoel dat mense verlore in 'n wildernis is. Die skrywer vertel dat Zimbabwiërs totaal verarm het sedert 2002 met die implementering van Mugabe se drastiese hervormingstappe. Daar was in 2008 'n nasionale verkiesing en Morgan Tsvangirai het die verkiesing eintlik gewen. Maar Robert Mugabe het geweier om die uitslag van die verkiesing te aanvaar en hy het eenvoudig net aan bewind gebly. Hy het sy grondhervormingsbeleid afforseer en baie boere is van hulle plase gedwing. Voedselproduksie het feitlik tot stilstand gekom. Talle mense het hulle werk verloor. Daar was en is steeds nie kos of geld of werksgeleenthede in Zimbabwe nie.

En soos wat dit maar altyd is, is die kuns een van die eerste kulturele uitdrukkingsvorme wat sosiale kommentaar lewer. En hierdie nuwe genre is die vorm waarin die kommentaar gelewer word. Die musiek na-aap glo die Jamaikaanse reggae tipe musiek en die doel daarvan is om mense te help om identiteit en hoop te vind.

Dit is gebore ook amper as 'n soort protes teenoor twee ander musiek genres in Zimbabwe naamlik gospel en wat hulle noem, Chimurenga. Gospel musiek verpak die sosiale en emosionele behoeftes van mense en dan word God gevra om te help en in te gryp sodat hulle omstandighede kan verander.

Maar daar is 'n groot groep mense wat gesien het dat dit niks help om gospel te sing nie, want niks verander nie en geen ingrype vind plaas nie. Die situasie vererger eintlik net by die dag, want mense verlaat die land op strepe om elders 'n lewe te gaan probeer soek.

Toe ontstaan Chimurenga. Dis meer 'n vorm van protesmusiek met lirieke wat die politieke leiers tot verantwoording roep. Dis geskoei op die Ou Testamentiese profete se morele oproepe tot die regering. En dit herinner die politici daaraan dat God die regter is en dat hy hulle sal oordeel en straf omdat hulle hulle mag misbruik en die mense so laat ly. Maar baie jare het sedertdien verloop en geen straf en oordeel het gevolg, na al die liedere, gebede en oproepe nie. Alles gaan net steeds slegter en slegter. So wat nou?

Die jonger geslag besef toe: Gospel werk nie want God verander niks aan ons omstandighede nie. Chimurenga help nie, want God veroordeel en straf nie die politieke leiers vir hulle wandade nie. Hulle floreer en ons kry swaar. So, ons is eintlik maar op ons eie aangewese.

Jy mag nie openlik protes aanteken nie, dan word jy gevange geneem of aangerand. So, jy kan nie na die owerheid kyk vir hulp of uitkoms nie. Dit lyk ook nie asof God ingryp of straf en oordeel, of hoegenaamd iets doen nie. So ons is eintlik maar aan ons eie lot oorgelaat. Ons het net onsself om op te vertrou.

En so ontstaan daar toe hierdie nuwe tipe musiek, 'n vorm van reggae, met lirieke soos: Dis rof en dis erg. Ons kry swaar en ons bloei, maar ons sal dit maak.

So dit lui 'n nuwe tipe spiritualiteit in waar mense besef dat jy nie op prinse of gode kan vertrou nie. Al die jare se gospel singery het niks gehelp nie. Niemand het hulle kom red nie. Niemand het kom ingryp nie. Niks het verander nie. Die wildernis het net wilder geword. En om die regering te veroordeel en bang te maak met God het ook nie gehelp nie. Die politieke leiers laat hulle nie tot verantwoording roep nie. Mag is 'n vreeslike ding en mense wat eers mag gesmaak het, raak selfsugtig en vertrap ander net om mag te behou. Selfs profetiese woorde laat hulle nie terugdeins nie.

So, waar laat dit die gewone man op straat? Alleen. Net met hom- en haarself. Niemand anders om op te steun nie. Niemand van wie iets verwag kan word nie. Dis net ek en hierdie harde realiteit. Maar ons moet hierdeur.

Die artikelskrywer noem dit konstruktiewe postmodernisme want nuwe identiteit moet gevind word. Nuwe bronne van hoop moet gevind word. Innerlike krag moet ontdek word. Want al wat oorbly, is ek en my omstandighede. En om te sing van die wildernis waarin ek my bevind, lig die gemoed en gee hoop. Ek sal dit maak. Ons is al deur so baie, ons sal hierdeur ook kom.

Waarom ek gedink het die artikel is relevant vir ons, is omdat baie van ons ook al ontnugter is. Die politici, owerhede en strukture voel 'n veer. En jy kan gospel sing totdat jy blou word. Dit val dalk sag op die oor en dit troos die naïewes, maar dit verander niks. Jy kan profeties jou stem verhef en opklink teen onreg en geweld. Maghebbers buig nie af nie. Hulle wil steeds hoër rank.

In hierdie wildernis staan jy alleen. En jy het net jou geheue as bron van hoop en krag. Want jy onthou: ek is al deur moeilike tye. En ek het dit gemaak. Ek sal hierdeur ook kom. Weg van gospel en profeet, sing ek my eie lied met 'n nuwe klank. Gebore uit die oorlewingsdrang en droom in my eie hart. Ek sal dit maak. Ek sal hierdeur ook kom. Ek het al swaar gekry. Ek het dit tóé gemaak. Ek sal dit nou weer maak.

En so staan elke mens alleen. Hier in Suid-Afrika, in Zimbabwe, en in Sirië. Na wie kyk ons op en waar vlug ons heen? In hierdie wildernis staan mens alleen. Dancehall music leer ons: Dit was al donker en moeilik, en ons het dit gemaak. Ons sal hierdeur ook kom. En so resoneer die spiritualiteit van talle jong ontwortelde Zimbabwiërs ook met die postmoderne spiritualiteit van eerste wêreld mense. Ons wildernisse lyk dalk verskillend. Maar op die ou einde is ons almal een. Ons sal dit maak.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.