.

Stories kry sterte

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Junie 2017

.

Vandag wil ek hê ons moet na die verhaal oor die begrafnis van Jesus kyk. Dis 'n interessante verhaal wat met een sin begin en met 'n hele episode eindig. Op 'n tydlyn van die geskrifte van die Nuwe Testament weet u nou al dat Paulus se briewe die oudste is, dan volg Markus, dan Matteus, dan Lukas en Johannes. Van Paulus se briewe is Korintiërs een van die oudstes.

1 Korintiërs 15 is een van die heel eerste sinne wat oor Jesus se dood geskryf is. Daar staan dat Jesus dood is en dat hy begrawe is. Daar staan nie hoe hy dood is nie en oor sy begrafnis word daar geen detail gegee nie. Paulus sê nie 'n woord oor Pilatus of Barabbas, die kruisiging self, hoe hy begrawe is, of enigiets rondom die opstanding en wat daar gebeur het nie. Paulus skryf net hierdie een sin naamlik dat hy dood is en begrawe is en opgestaan het.

Vyftien jaar na Paulus en omtrent dertig jaar na Jesus se dood, vertel Markus die verhaal. Hy vertel dat dit laat die Vrydagmiddag was toe Josef van Arimatea, wat 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad was, na Pilatus toe gegaan het en gevra het of hy maar die liggaam kan kry. Hy het toe linne gekoop, hom toegedraai en in 'n graf neergelê wat uit rots gekap was. Die twee Marias het gestaan en kyk waar hy neergelê word.

Omtrent tien jaar later, vertel Matteus die verhaal oor. Toe is Josef nie meer lid van die Joodse Raad nie, maar 'n dissipel van Jesus en hy lê Jesus neer in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Die twee Marias het voor die graf gesit en kyk en Pilatus het 'n wag gegee om die graf te bewaak. En hierdie rondte word die klip voor die graf verseël.

Omtrent sestig jaar na die dood van Jesus vertel Lukas die verhaal. Josef het weer vir Jesus gaan begrawe, maar nou was hy iemand wat uitgesien het na die koms van die koninkryk. Vroue, wie se name nie genoem word nie, het saamgestap en die liggaam is in 'n graf neergelê. Maar ons weet nie wie se graf nie. Daar word ten minste net gesê dat die graf nie vantevore gebruik is nie.

En dan kom Johannes so tagtig jaar na Jesus se dood en hy bied sy weergawe aan. Weer is dit die dissipel, Josef, wat die liggaam vra en hierdie keer is daar geen vroue nie. Hulle maak plek vir Nikodemus wat die liggaam met lekkerruikolie in linne toedraai. Naby die plek waar Jesus gekruisig is, is daar nou skielik 'n tuin. En in die tuin is daar 'n nuwe graf. Jesus word daarin begrawe. Niks van 'n rots en 'n klip voor die graf nie. Net die tuin en die lekkerruikdoeke.

Uit die subteks van die verhaal, is daar twee belangrike dinge wat ons nie moet mislees nie. Die eerste ding wat ons moet raaksien, is dat hoe langer die tradisie geloop het, hoe positiewer het die begrafnis geword.

Eers was Josef 'n lid van die Joodse Raad. En die Joodse Raad was tog die vyande van Jesus. Maar soos die tyd verloop het, het Josef 'n dissipel geword. Die graf self het ook al sagter geword. Waar dit in Markus 'n rotsgraf was, word dit in Matteus, Josef se eie graf, Matteus, Lukas en Johannes, maak van dit 'n nuwe graf, en Johannes vat die graf weg van die rotse af en plaas dit in 'n tuin.

So, met elke oorvertel, word daar nuwe elemente by die verhaal gevoeg om Jesus en sy dood te dekriminaliseer en om dit meer positief te maak. Want onthou die kruisiging was 'n ellendige manier om te sterf. Mense wat gekruisig is, is gewoonlik aan die kruis gelos om te vrot. Jakkalse en aasvoëls het die lyke kom eet. Dit moes as 'n ernstige waarskuwing en afskrikmiddel vir die lewendes dien. By die Jode was daar van tyd tot tyd uitsonderings, dat iemand van die kruis afgehaal en begrawe is. Ons lees daarvan in Deuteronomium 21:23.

Dis heel waarskynlik fiksie dat Jesus in Josef se graf begrawe is. Die gekruisigdes is gewoonlik sommer almal saam in 'n massagraf begrawe. Maar ter wille van die verhaal en om dit effe waardig te maak, is die Josef episode ingebring. Dis maar hoe mitologie werk. Jy las aan tot die storie goed klink.

As Jesus wel begrawe is, sou die vroeë Christene tog onthou het waar, en hulle sou iets van sy graf gemaak het. 'n Graf van 'n geliefde was 'n belangrike ding. As Jesus god was, sou die vroeë kerk tog die graf gemerk het, hulle sou ten minste daarvan geweet het, maar niemand het ooit geweet waar die graf is nie. Nadat die Christendom staatsgodsdiens in Keiser Konstantyn se tyd geword het, en simbole belangrik geword het, vier eeue later, het iemand die plek gaan uitwys, en skielik weet almal weer waar die graf was.

Die tweede ding in die subteks wat belangrik is om raak te lees, is die hele ding van die politiek. Daar was destyds geen onderskeid tussen kerk en staat nie en elke godsdienstige leier was ook 'n politieke leier. So, toe Jesus sy beweging 'n beweging noem wat 'n bepaalde koninkryk ten doel het, het die owerheid dit gesien as 'n direkte opstand teen Rome. En daarom het Rome hom gekruisig, want hy is kwansuis die koning van die Jode. En Rome kon dit tog nie duld nie. Maar gou het die Christendom 'n beweging geword wat meer aanhangers uit die Grieke en Romeine gehad het as uit die Jodendom en daarom moes die verhaal anders oorvertel word. Die blaam moes verskuif word van Rome af wat Jesus sou doodmaak, na die Jode toe.

Dis hoekom Markus toe die episode inbring waar Pilatus, die Romein sê dat hy geen skuld in Jesus vind nie en sy hande was. En dat die Joodse skare toe self vir Barabbas kies en skreeu dat Jesus gekruisig moet word. Dis fiksie wat die verhaal ingebring is om Rome te verontskuldig en die Jode te blameer vir Jesus se dood omdat die nuwe beweging veld in die Weste gewen het en nie onder die Jode nie. So, die verhaal verduidelik as't ware ook die breuk en skeuring tussen die sinagoge en die kerk. Tussen Jode en die wat later Christene sou word.

So min van die elemente in die begrafnisverhaal is feite. Die meeste is fiksie, want dit moes dien as die etiologie vir die breuk tussen kerk en sinagoge en om te regverdig waarom die beweging nie in die Jodendom posgevat het nie, maar eerder onder die Grieke en Romeine gegroei het. So, die verhaal gaan in werklikheid nie oor die begrafnis nie, dit verduidelik eintlik die sosiaal-politiese agtergrond van die nuwe beweging. Dit help met die beweging van die kerk weg van die sinagoge af en met die Christendom weg van Judaïsme af, na 'n meer Grieks-Romeinse manier van godsdiens en spiritualiteit.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.