.

Stasies

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Mei 2016

.

By 'n stasie stop die trein. Die deure gaan oop. Mense klim uit. Ander klim in. Die trein vertrek. Die reis word voortgesit. By die volgende stasie stop die trein. Die deure gaan oop. Mense klim uit. Mense klim in. Die trein vertrek. Die reis hervat.

Verlede Sondag het ek 'n ultra marathon gehardloop. Ons het by Irene-proefplaas daar aan die agterkant van Silverlakes weggespring en tot by Fonteine en terug gehardloop. En soos wat drawwers maar maak, begin hulle op pad te kuier met die persoon wat langs hulle is. Die dame wat langs my beland, vertel my toe dat sy in 'n verhouding is en dit gaan goed, maar dalk verwag sy te veel van haar ou. Hy is maar effe bot en reik nie veel uit nie.

Sy verwag dat hy op 'n bepaalde manier sal reageer en dan doen hy nie. Sy hoop dat hy opgewonde sal wees oor iets, dan gebeur daar net niks. Sy wens dat hy haar in 'n bepaalde aspek sou ondersteun, maar helaas. So, sy sit die hele tyd met ongerealiseerde verwagtinge. Met teleurstellings. Verwag sy te veel? Het sy dalk gehoop dat hy die lankverwagte prins sou wees? Is dit regverdig om teleurgesteld te wees as iemand nie reageer soos wat jy verwag en gehoop het dat die persoon sou reageer nie? En in haar worsteling het sy begin antwoorde soek.

Sy kom toe glo op 'n artikel af wat verduidelik dat jý die verwagting het. Jy wens iets heimliks. Die ander persoon weet nie altyd wat jou verwagting is nie. En al weet hy, kan hy steeds besluit hoe hy wil reageer en of hy volgens jou verwagting wil reageer. Dit bly jóú verwagting!

En dan stel die artikel glo voor dat jy nie moet teleurgesteld wees as daar nie aan jou verwagtinge voldoen word nie, maar dat jy moet afskaal in jou verwagting. Jy moet aanvaar dat die ander persoon 'n individu in eie reg is en dat hy vanuit homself mag reageer en nie volgens jou verwagting hoef op te tree nie. So, nou sal sy maar probeer afskaal in haar verwagtinge en met minder tevrede wees.

Toe ek klaar na haar verhaal geluister het, het ek gewens dat ek vir haar kon sê om die ou op sy sitvlak te skop. Daar is baie visse in die see. En dat sy iemand verdien wat haar soos 'n prinses sal behandel en wat ook sal raaksien as sy behoeftes het en dan daarop sal reageer. Maar ek het toe met moeite my mond gehou, want dis nie my plek om vrykwistig raad uit te deel nie.

Ek het ten minste net probeer luister na die saak wat swaar op haar lê en haar vir nog so paar kilometer daaraan help dra, totdat ons mekaar gegroet het en elkeen weer sy eie pad gegaan het.

Maar die gesprek en iets van haar seer het die hele week in my agterkop vasgesteek. En ek het hierdie kant toe en na die anderkant toe daaroor getob.

Treine stop op stasies. Mense klim in. Mense klim uit. Die reis gaan aan.

Ons Christelik Calvinistiese erfenis het ons geleer dat 'n mens altyd die minste moet wees; dat jy moet terugstaan; dat jy ander se belange voorop moet stel. En hierdie deug of dalk dogma is teologies begrond in die simbool van die kruis.

Die mitologiese verhaal agter die simbool verduidelik dit in terme van die liefde en van dit wat liefde beteken. Die verhaal sê dat 'n Vader bereid was om sy seun te laat sterf ter wille van die liefde. Die verhaal verduidelik dat daardie selfde seun uit sy eie bereid was om sy lewe af te lê, ook ter wille van die liefde. Die punt van ooreenstemming tussen die twee partye se idee van liefde was die bereidheid van beide om te offer, prys te gee, van hulleself te gee, selfopofferend te wees.

Omdat dit die lering is wat ons saam met ons moedersmelk ingekry het, is meeste mense in ons kultuur, wat die Westers Christelike onderbou het, bereid om op een of ander manier van tyd tot tyd, die minste te wees, terug te staan, af te skaal, op te offer. En dan te glo dat dit liefde is.

Ons doen dit in ons verhoudings met die mense naby aan ons. Mens wil nie altyd van alles 'n storie en 'n geveg maak nie, daarom is ons bereid om maar die minste te wees. Mens doen dit ook in verhoudings met kollegas by die werk. Bly maar net stil en draai die ander wang.

Dit gebeur ook in vriendskapsverhoudings. Mens raak vriende met mense in wie jy potensiaal vir vriendskap sien en later word dit 'n las. 'n Vrag om saam te dra. Dan offer jy die lekker van vriendskap op om te trek en te sleep aan ander net om hulle vorentoe te help beweeg.

Mens doen dit selfs ook soms in situasies waar jy iets baie graag wil hê, maar iemand anders ook. En dan staan ons maar terug sodat die ander persoon dit kan kry. Na die tyd rasionaliseer ons daaroor en dan sê ons dat dit maar ons goeie daad was.

Met die ondertoon dat ons ter wille van die liefdesgebod maar opgeoffer het.

My vraag is: Wanneer mens vanuit 'n spirituele hoek daaroor redeneer: Is dit nodig? Moet mens altyd terugstaan? Moet mens jou geluk opoffer, afskaal met jou verwagtinge, altyd die minste wees, net om iemand anders te akkommodeer?

Moet jy altyd die afgewaterde kry omdat jy jouself wysgemaak het dat die liefde dit van jou verwag?

Spirituele groei is tog groei na heelwording, na jouself vind, na 'n volronde mens in al jou fasette word, ... dis 'n reis na innerlike vrede. Hoe kan jy heel word as jy konstant met die seer van teleurgestelde verwagtinge sit. Hoe kan jy jouself vind as jy moet afskaal op dit wat jy uit 'n verhouding en uit die lewe wil hê? Hoe kan jy volrond in jou karakter wees as jou lewensmaat of potensiële ander helfte jou aftrek en jou leeg laat voel? Hoe kan jy innerlike vrede vind as verhoudings jou uitput?

Die trein stop by die stasie. Mense klim in en uit en dit vertrek weer.

Aangesien die lewe 'n reis is en aangesien daar ook ander definisies vir liefde is, aangesien die idee van die minste te alle koste wees en terugstaan en voortdurend bly self-opofferende martelaar speel, jou van heelheid en innerlike vrede ontneem, dink ek nie dis die enigste opsie nie. Binne sekere godsdienstige kringe mag dit dalk dogma wees, maar in spirituele kringe, is dit struikelblokke op jou reis na jouself.

In die proses het jy ook 'n keuse. Jy is outeur van jou eie lewensverhaal en medeskepper aan jou eie sin en lewensgeluk. As jy dus afgerem wil word en 'n leeftyd lank met teleurgestelde verwagtings wil saamleef, is dit 'n doelbewuste keuse wat jy maak. Want daar is ook ander opsies. Soos om mense wat jou pad kruis onder andere ook te sien as stasies waarby jy moes aandoen op jou lewensreis en leerskool. Geniet die kontak, leer van mekaar, gee, ontvang, maar dalk kom daar tog ook weer 'n tyd van aanbeweeg en vertrek. Niks is permanent nie. Alles vloei. Die rivier spoed voort.

Treine stop by stasies. Die deure gaan oop. Mense klim uit. Mense klim in. Die reis gaan voort. Die hele lewe is 'n onderweg wees. Van aandoen by stasies. Van inneem en uitgee. Van waardering hê, van keuses maak en aanbeweeg. Alles vloei. Beweeg, reis voort. Om op te hou aanbeweeg en selfs om gevangene te word van teleurstellings, is 'n keuse.

Stasies is plekke van aankoms, maar ook van vertrek. Hoe lank jy wil oorbly, is 'n keuse. Wat jy wil leer en saamneem vorentoe, is 'n besluit. Wat jy wil offer en waarsonder jy kans sien om te leef, is 'n rasionele daad. Maar daar sal altyd weer 'n trein stop en deure gaan oopmaak. Maar hulle maak ook weer toe. En die reis duur voort.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.