.

Spirituele groei, sonde en die duiwel

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Februarie 2013

.

Die ou dominees het 'n mens gewoonlik bang gepreek met een van twee temas: of die duiwel, of die wederkoms! Hulle het mens bang gepreek met die wederkoms, want dis die dag waarop die boeke oopgemaak word – al jou sondes sal dan opgenoem word, en van jou sal rekenskap geëis word. Erger nog: (En dis die gedeelte wat my van kleintyd af so vrek bang gemaak het) Alles wat jy in die donker en in die geheim gedoen het, sal dan van die dakke af uitbasuin word – en dit sal aan die lig kom.

Daardie dag sal die kaf en die koring, die skape en die bokke, van mekaar geskei word. En dan wag die vuur! Die ewige hel waar die wurms krioel en die vlamme nooit uitgeblus word nie. Volgens Openbaring en elke goeie Jehovasgetuie is daar net 144000 wat nie gaan brand nie.

(Baie mense het tot bekering gekom, bloot uit pure vrees vir hierdie verskriklike dag van afrekening!)

Saam met die oordeelsdag, die hemel, die sonde en die hel, loop die duiwel, die Bose, die Satan van ouds – en hand aan hand met hierdie duister magte loop baie dominees, pastore, evangeliste en bekeringspredikers. Hulle almal ken ook die duiwel persoonlik, want hy en sy demone werk kliphard in hulle gemeentes. Hy manifesteer hom op 'n manier in elke tweede lidmaat en baie godsmanne verdien hulle brood hoofsaaklik as gevolg van die duiwel.

Hulle dryf hom uit, besweer hom en sy demone. Hulle sien hom in kinderverhale en in fantasieë, in simbole en musiek, in soekendes en in sterwendes. Hulle onderneem studies en spirituele reise om elke demoon se naam te leer ken sodat hulle dit kan identifiseer die oomblik wanneer dit manifesteer.

Baie mense se hele geestelike lewe word rondom die duiwel gebou, want hy loop rond soos 'n brullende leeu op soek na iemand om te verslind. Hulle totale vroomheid lê daarin om hom te weerstaan as hy op hulle skouers sit en allerhande verleidelike plesierighede in hulle ore fluister. Godsdiensbeoefening vir baie is net om te keer om nie mislei te word nie!!

Maar so 'n beheptheid met die bose, met sonde, en met 'n geloof wat rondom vrees gebou word, skreeu vir my persoonlik teen alles wat 'n spirituele lewe en selfs die Christelike geloof verteenwoordig.

Die vraag wat m.a.w. beantwoord moet word, is: Bestaan daar hoegenaamd iets soos 'n duiwel, 'n hemel en 'n hel? Die antwoord is maklik. Dis nee! Dis alles konsepte wat deel uitmaak van 'n mitologiese wêreldbeeld. Net soos wat daar nie 'n teïstiese god bestaan wat as 'n koning êrens op 'n hemelse troon sit met 'n swart boek wat alle kwaad neerskryf en toutjies op die aarde trek na aanleiding van mense se gebede nie, net so bestaan daar ook nie 'n duiwel wat op mense se skouers sit en hulle probeer verlei nie. Beide die teïstiese god en die duiwel is die gevolg van 'n bepaalde paradigma waarin mense funksioneer en dis deel van 'n lewens- en wêreldbeskouing wat ons lankal nie meer handhaaf nie.

Ek glo dat ek maar verantwoordelikheid vir my keuses, doen en late moet aanvaar. Daarom hoef ek nie die duiwel daarvoor te verwyt nie. Ek gebruik die woord "sonde" vir die afgelope omtrent 10 jaar al nie meer nie, want die woord is so gelade dat dit nie meer in ons wêreld pas nie. Vir my is dit bloot verkeerde keuses wat ek gemaak het of maniere waarop ek my medemens of geliefdes benadeel het. Ek het nie bloed, of die dood van 'n verlosser nodig om daarvan ontslae te raak nie. Ek moet verantwoordelikheid neem en die saak gaan regmaak met die persoon wat ek benadeel of seergemaak het. Ek het die pyn veroorsaak. Ek moet dit ook dan weer gaan uitsorteer.

Vir my is die duiwel 'n karakter op papier. Die hemel en die hel is mitologiese verhaalruimtes en sonde, wat jy aan die duiwel se verleiding toeskryf, is 'n manier waarop jy die blaam op iemand anders plaas omdat jy nie verantwoordelikheid vir jou eie keuses, optrede en besluite wil aanvaar nie.

En mense wat in 'n stryd met die Satan is en wat beweer dat hulle deur die bose getreiter word, is dalk net besig om met 'n metafoor te verduidelik dat hulle 'n innerlike stryd voer en dat hulle in 'n proses is waar hulle hulle eie skadukant uitsorteer om dit te probeer lig maak.

So, ek glo nie aan 'n duiwel of aan 'n bose nie. Lig en donker, goed en kwaad, liefde en haat, seerkry en genesing – alles is onlosmaaklik deel van die lewe en van ons wêreld. Die kuns van die lewe lê daarin dat jy jou keuses so moet maak, dat jy altyd weer balans sal vind.

Ek glo in die Lig wat elke mens innerlik verlig. Ek glo in Liefde, in goed doen aan jou naaste, in uitreik, en in deel met almal rondom jou. Daar is soveel positiewe dinge wat 'n mens se spirituele lewe kan vul, dat ek regtig nie 'n oomblik wil mors deur op 'n jag- en op 'n soektog te gaan na 'n negatiewe mitologiese papierkarakter nie.

Die Johannesredaksie sê in een van hulle briewe: Dis nie moeilik om die sondige wêreld te oorwin nie. Al wat ons moet doen, sê hulle, is om lief te hê. Liefde bestaan daaruit dat ons positiewe dinge, gevul met die Goddelike, sal doen want God is, volgens die Johannes evangelie: Liefde. Dit moet ons fokuspunt wees!

Daarom vul ek eerder my spirituele lewe met iets positiefs. Ek glo aan die Goddelike in elke mens, en ek probeer my lewe vul met liefde en met 'n soeke na die Lig.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.