.

Spiritualiteit is ‘n leerervaring uit die alledaagse

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2014

.

Seker so vyf of wat jare gelede het ek en my twee oudste kinders besluit dat ons elkeen ons eie Bybel gaan skryf. Wat ons daarmee bedoel het, was dat ons elke gedagte wat ons êrens raaklees en wat vir ons betekenis het, gaan neerskryf. Ons het toe vir ons elkeen 'n boek gaan koop en begin. Elke keer as ek iets lees en daar is 'n sin of 'n frase wat my aanspreek, het ek dit in my bybel gaan aanteken.

As jy iets gelees het wat werklik aangrypend was en beïndruk het, was ons ooreenkoms, dat jy dit ten minste ook met die ander twee per epos sou deel, sodat hulle dit ook kan opteken indien dit hulle ook sou aanspreek. So het ons bundels stelselmatig gegroei.

Van tyd tot tyd blaai ek deur die boek en lees aanhalings wat ek neergeskryf het, dan wonder ek partykeer waarom het ek die spesifieke een neergeskryf en wat het dit op daardie stadium vir my beteken.

Partykeer lees ek 'n aanhaling en dan besef ek hoe het dit my geraak en hoe het ek dit deel van my lewe gemaak. Daar is werklik frases in my boek wat my lewe verander het en bygedra het tot my groei en tot metamorfoses op sekere terreine van my lewe.

Op die oomblik groei my bybel maar stadig want vir omtrent die laaste jaar lees ek al geen teologie of geestelike of spiritueel inspirerende boeke of artikels nie. Ek fokus bietjie weer op die akademie en ek kry skaars tyd om alles te lees wat ek vir my navorsing veronderstel is om te lees.

Maar tog het ek besluit dat al lees ek nie, gaan ek ten minste beter probeer luister, want ek glo vas dat 'n mens by elke ander mens iets kan leer. En dan gaan ek dit wat ek by ander leer of hoor, wat my aanspreek, in my boek skryf.

Heel dikwels leer mens by ander mense hoe jy nie wil wees nie, hoe jy nie wil klink nie en hoe jy nie wil doen en optree en glo en funksioneer nie. Maar tog is daar ook positiewe interaksies en oomblikke wat goud werd is. Oomblikke wat jou paradigma skuif, jou visie verstel en jou lewe onherroeplik verander, verbreed en verdiep.

En dit het toe my fokus geword.

Verlede Vrydagaand woon ons gesin die vertoning "The boys are back" in 'n teater in Randburg by. En die klomp jong Afrikaanse mans wat daar optree was ouens soos Elvis Blue, Joshua na die reën, Joe Foster, Monark, en nog so paar ander ... Neil Somers en Hannes van der Walt.

Soos wat hulle die een na die ander op die verhoog kom en hulleself bekendstel en iets oor hulleself vertel, besef ek toe net weer dat die wêreld vol guru's is. Ons moet net bereid wees om te luister, dan kan mens werklik by elke ander mens iets leer. Spiritualiteit is inderdaad heel dikwels 'n leerervaring sommer so uit die alledaagse!

Om die punt te illustreer wil ek net twee van die mooi stories van die aand met u deel. Joshua na die reën se regte naam is Jacques de Villiers. Hy vertel toe waarom hy op hierdie naam vir homself en die groep besluit het.

Joshua in die Ou Testamentiese volkslegende was die een wat om en om Jerigo getrek het tot op die dag waarop die mure geval het. Jacques se lewensfilosofie is om te probeer om met sy musiek die mure tussen mense af te breek. Maar nie net tussen mense nie, ook tussen verskillende maniere van dink. En toe sê hy ... en na die reën groei dinge weer. Sy wens is dus dat mure tussen mense en die manier waarop hulle dink, afgebreek sal word, want dit is wat mense weg van mekaar af hou en dat mense dan, wanneer die mure val, die geleentheid sal aangryp om te groei, soos wat alles na die reën spontaan begin groei.

Wat 'n wonderlike oomblik van verligting en verheldering was dit nie vir my nie. 'n Spirituele leerervaring uit die alledaagse. Wat lê toe nie opgesluit in 'n sanggroep se naam nie!

Om mure af te breek kan 'n groeigeleentheid skep en bied.

Toe sing daar nog twee of drie ouens en toe kom Monark op die verhoog. 'n Monarg is die soewereine hoof van 'n staat. Dit is 'n absolute posisie van gesag wat 'n mens kan beklee. En toe verduidelik hulle: in 'n sekere sin is elkeen van ons, ons eie monarg. Ons het gesag. Ons het die mag om te regeer. 'n Mag in ons eie lewe wat ons kan kies hoe ons dit wil aanwend. Monarg van jou eie klein koninkryk. Hulle het gekies om die mag waaroor hulle in hulle lewens beskik ten goede aan te wend. As monarg in jou eie ryksgebied het jy ook die gesag om te besluit hoe jy jou mag gaan aanwend. Tot voordeel of tot nadeel van ander?

Sjoe! Nog 'n brokkie pitkos sommer so as leerervaring uit die alledaagse. Uit die naam en visie van 'n "rock band"!

Na my Vrydagaand-ervaring het ek besluit dat ek dit vanoggend met u wil deel: Ons hoef nie in Tibet of in Nigerië na 'n guru te gaan soek nie. Meeste van ons diepste spirituele leerervarings vind ons sommer in die alledaagse. Mens moet net luister, in die oomblik wees en waarneem. Die lewe self het so baie lesse om ons te leer, ons moet maar net gewillige student wees.

By elke ander mens en uit elke situasie!

So my bybel het die laaste week weer met ten minste twee paragrawe gegroei.

My wens is dat elkeen van ons al meer sensitief en oop sal wees om sommer so in die alledaagse die spirituele leerervarings raak te sien en te benut. En mag die reis en die groeiproses vir elkeen van u 'n ongelooflike avontuur bly!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.