.

Spiritualiteit is outobiografies

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Mei 2018

.

Heel waarskynlik kom elkeen van ons na die Sondag byeenkomste om 'n ander rede. Een persoon het dit moeilik gevind om te glo dat 'n slang met Eva kon praat. 'n Ander het nie die storie van die ark geglo nie. Een het vir jare lank gebid en daar het niks van gekom nie. 'n Ander was 'n vroom gelowige totdat hy hom op die kerkraad begewe het en is toe ontnugter oor die kerk se politiek, en mag oor mense, en geldhonger. Een is jare gelede onder sensuur geplaas en het toe in plaas van liefde, seergekry in die kerk. Iemand anders het omdat haar geloof vir haar 'n erns was, begin lees en dieper studeer, en toe ontdek dat alles nie is soos wat sy altyd geglo en gedink het dit is nie. Nog iemand het net nooit die sogenaamde gawe van geloof ontvang het, maar het tog 'n behoefte aan een of ander vorm van spiritualiteit. Een kom omdat sy wil dink, haar grense wil verskuif en uitgedaag wil word. Die ander kom om te rus, te ontspan, na die musiek en kabbelende water te luister.

Ons is elkeen op ons eie missie en stap op ons eie pad. In daardie opsig is dit eintlik jammer dat ons byeenkoms 'n voorprater het. Een wat hier voor mag staan en sy idees en sy waarheid kan verkondig. Dit sou dalk baie beter gewees het as hierdie byeenkoms 'n dialoog was. Want elkeen se insigte lyk anders en elkeen se waarheid klink anders. Elkeen het 'n ander pad geloop en elkeen het op 'n ander manier na die lig gekyk. Ons almal sit met skakerings van spiritualiteit in ons lewe. Nie een het al die antwoorde en die hele waarheid nie.

En daarom moet ons eintlik maar alles wat ons hoor, wat ons lees, waaraan ons blootgestel word met 'n knippie sout vat, want alles is subjektief en omdat dit op daardie spesifieke oomblik in die spreker of skrywer se lewe sin maak en 'n skrefie lig laat val, word dit as die waarheid of as 'n insig aangebied. Maar dit is net dalk vir daardie oomblik en in daardie omstandighede en op daardie plek iets wat as waar beleef word, maar in ander omstandighede en op 'n ander plek, in 'n ander tyd, sou dit dalk nie kon deurgaan as waar of verrykend of liggewend nie.

Jare gelede was die persoon wat toegang tot inligting gehad het, die persoon wat die mag besit het. Vandag is die persoon met die mag, die een wat weet watter inligting om te ignoreer, want ons word daagliks gebombardeer met sogenaamde inligting, maar nie alles is waar of bruikbaar nie.

Ons spirituele reis is 'n alleenreis. Elkeen se innerlike landskap lyk anders. Selfs al deel ons dieselfde huis, eet ons van dieselfde brood en drink ons van dieselfde wyn, is ons soms spiritueel kontinente van mekaar verwyder. Want elkeen is op soek na lig vir sy eie binneste. Die vrae en donker lê anders in elkeen van ons.

Die seer en letsels van die verlede en rowe oor gister se wonde lyk anders. Een wil room aansmeer, 'n ander salf. Een wil 'n pleister plak en 'n ander wil dit oophou en laat droog word. Op die ou einde wil almal genees, maar elkeen glo aan 'n ander manier om met die wond te werk.

Vir jare en jare moes die orakel van Pastoriestraat, op huisbesoek so tussen die tee in die royal albert koppie en die suster in wyk ses melktert deur hap na 'n antwoord: Is dans sonde en mag mens nou regtig nie brei of broodbak op 'n Sondag nie? Is lootjies trek by die kerkbasaar sonde en wat presies mag 'n mens nie begeer nie, dominee? Waarom laat die Here toe dat mense siek word en dat ma's van klein kindertjies aan kanker sterf? Is my man 'n alkoholis omdat die Here my geloof daardeur wil toets? Het ek my werk verloor omdat swaarkry, volharding kweek en volharding egtheid van geloof meebring? Hoekom word my gebede nie verhoor nie, dominee? Bid ek verkeerd, moet ek nog langer volhard, beproef die Here my?

En omdat die dominee ook maar nie weet hoe werk die Here se kop nie, loop hy toe maar met die orrelis weg, want sy kan met druk van 'n enkele register 'n sestienvoetfluitpyp se kleppe ooptrek terwyl sy 'n baspedaal trap om 'n Bach kantate soos 'n Queen Rapsody te laat klink. En nou vra niemand hom meer enige vrae nie. Hy het vrede. Hy verkoop nou tweedehandse karre op Bronkhorstspruit en sy het 'n naskoolsentrum in 'n buitekamer begin.

Hier en daar nog, op 'n randjie regs van Woodhill en op 'n paar ander heilige berge stoei mense nog om die dogma te ontsyfer en sin uit die weë van die Here te maak. Maar elders begin al meer en meer mense aanvaar dat die waarheid bestaan uit vyftig skakerings van grys met geen wit of swart deel daarvan nie. Want elke mens moet self soek, en al soek almal na dieselfde ding, is dit anders as met skattejag want daar is nie net een paaseier in die tuin weggesteek nie. Elkeen gaan ook vind. Sy eie skat op sy eie tyd.

Dansend na die lig vind elkeen uiteindelik 'n waarheid waarmee jyself kan saamleef, want net jyself hoef daarmee saam te leef. Dis immers jou waarheid. Wat jy vind. Op jou spirituele reis. Dit hoef net vir jouself sin te maak. Want die reis is persoonlik. Jou spiritualiteit is outobiografies. En jou waarheid, individualisties.

En toe sê hy "amen" en die water kabbel steeds buite. Die kersvlam op die tweede trap flikker bewoë. En die musikante speel 'n Barokwerk terwyl die kollekte opgeneem word. En elkeen is met sy eie gedagtes besig. En elkeen gaan met sy eie gedagtes huis toe. En besluit: Gaan ek weer kom? Het ek iets hier gekry? Of soek ek sommer self verder tuis?

En toe kyk sy op en sy sien hoe die lig val deur die loodglasvenster. En skielik maak alles sin. Want dis hoe lig werk.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.