.

Spiritualiteit: Abel en my se oor-en-weer gedagtes

Deur Trichardt Malan op 1 September 2013

.

Vraag aan Abel

In kort: Ek is 67 jaar oud, het grootgeword in die Gereformeerde Kerk, was van jongs af soort van 'n geloofsrebel en was later in en uit kerke en het geswerf tussen verskeie geloofsgenootskappe – op soek ...... My eerste vertwyfeling oor geloof het as kind gekom oor die waarde van gebed, met latere kennisname van opvallende teenstrydighede en dubbelsinnighede in die Bybel, die rol van evolusie teenoor skepping en nog later ernstige vrae oor die egtheid van die totale Bybel en die sinvolheid van geïnstitusionaliseerde godsdiens en geloof. My geloofsbelewenis, -ervaring en -skeibreek is nie uniek nie en is dieselfde pad wat derduisende ander al voor my gestap het en andere nog sal stap.

Lank reeds vra ek myself: As ek opreg daarna streef om 'n 'goeie lewe' te leef, maar sterf sonder 'n geloof in en aan die Christelike God, is daar tog miskien 'n kans dat ek vanweë my 'goeie lewe' wel by 'n agterdeur in die hemel kan inglip? Is ek slegs en alleenlik vanweë my Christelike ongeloof (ten spyte van my 'goeie lewe') bestem om vir 'n ewigheid in 'n verderflike hel verdoem te word? Of, is daar na hierdie lewe doodgewoon niks nie, soos ook in Prediker 3:19-20 verwoord word? In die onlangse SES artikel van Jean Oosthuizen stel hy: "Dis 'n vraag wat 'n mens jou hele lewe lank kan besig hou: wat gebeur ná die dood?" Maar, ek wil nie eers 'n antwoord kry as ek reeds dood is nie, ek wil nou weet en dit moet vir my sin maak!

Afgesien van slegs toevallige leeswerk oor hierdie sake in die verlede, het ek eers redelik onlangs begin om werklik ernstig, doelgerig, planmatig en ekstensief te lees (hoofsaaklik internet) om antwoorde te probeer kry. Hoe meer ek lees, hoe meer wil ek weet en hoe verder en verder neem die inligting my terug in die geskiedenis na die oorsprong en wortels van die begin van geloof in die verre verlede. Breedweg: Al die groot gelowe van vandag is klaarblyklik (minstens ten dele) op antieke 'heidense' sienings en praktyke gemoduleer. Jean Oosthuizen verwys na jouself wat ook sê dat die tradisionele Christelike begrip van hemel en hel met 'n antieke wêreldbeeld verweef is. Verder lees ek van antieke 'heidense' mites en rituele wat sommige godsdiensgebruike ten grondslag lê; die magiese bestaan van talryke gode en hul wonderwerke wat verbasende ooreenkomste toon met episodes in die Jesusverhaal; eksemplare van maagdelike geboortes en opstanding van gode drie dae na dood (selfs 'n kruisdood); verhale in die Ou Testament wat op oorgelewerde antieke mites en fabels gebaseer is en gevind word by verskillende kulture oor die antieke wêreld heen; Christelike feesdae wat oorsprong het in antieke aanbidding van seisoenale verskynsels; die onwaarskynlikheid van die bestaan van 'n historiese Jesus en manipulering en vervalsing van geskrifte deur geestelikes en andere vir politieke gewin, sodanig dat een skrywer selfs opmerk (kan nie nou die bron kry nie): "Historians are more powerful than God. God cannot change the past, but historians can."

Hoe kan enige denkende mens dan op die 'onfeilbare woord' van God vertrou?

Dit bring my by die posisie van agnostici wat my vraag aan die einde ten grondslag lê: Volgens The New Oxford American Dictionary (Kindle Location 14827-14843) verwys 'agnostic' na "...a person who believes that nothing is known or can be known of the existence or nature of God or of anything beyond material phenomena; a person who claims neither faith nor disbelief in God." Michael Krasny sê, "Agnosticism is a position that denies the existence of absolutes and hidden spiritual forces behind the natural or material world until they can be empirically proven ... It does not say there is no God. It also does not say there is one. God's existence, in whatever form, cannot be proven, but neither can God's nonexistence ... Though most agnostics eschew organized religion, many, even in their cloud of uncertainty, often take comfort in religious ritual, practice, ceremony, and community ... Agnosticism does not preclude spiritual hunger. Agnostics possessed of spiritual hunger can and do envy those with spiritual sustenance."

Krasny, Michael. Spiritual Envy: An Agnostic's Quest. (Kindle Location 171-179). New World Library. Kindle Edition (2010). Skakel.

Breedweg, naas die agnostici groepering staan die ateïstiese groepering en daarnaas die groepering van teïste. Vervleg tussen hierdie drie ankerpunte van sienings, met agnostici wat so ongeveer die middelgrond inneem, is daar opsigtelik 'n menigtal van permutasies en hibriede van sienings, standpunte, oortuigings, dogma, benamings (soos humaniste, vrydenkers, naturaliste, skeptici), ens, ens, wat die lewens- en wêreldbeskoulike etos van individue, kultuurgroepe, gemeenskappe, taalgenootskappe, nasies, volke, regerings, ens, rig. En, elkeen glo dat hy/sy/hulle die enigste ware waarheid gevind het, dit leef en ander na daardie waarheid wil bekeer of oortuig. En is daar enigsins eenstemmigheid binne hierdie groeperings? – IN TEENDEEL!!!

In gesprekke met ander het ek al verwys na 'n hipotetiese situasie waar 'n ruimtewese hier op aarde te lande sou kom en om den dode gedwing word om 'n geloof en 'n -denominasie te kies. Ek is 100% oortuig dat so 'n ruimtewese sal probeer om die eerste moontlike ruimtetaxi te skaak net om van so 'n besluit te kan ontsnap!

Om verder by my vraag uit te kom:

1) Ek aanvaar die natuurwetenskaplike teorieë oor die ontstaan van die heelal, die rol van evolusie en die voortsetting daarvan, veral evolusie van die menslike brein. Soos wat ek gelees het, kom dit voor of die Bybelse teks grootliks 'n produk van kruisbestuiwing is, gebaseer op mitologieë van die kulturele en oorgelewerde historiese volksbesit van die vele en verskillende tipe bevolkings en kulture van die antieke wêreld wat die Bybelse tyd voorafgegaan het. Daar is ook kritiese vrae oor die Bybel se inhoud m.b.t. 'n veelheid van inkonsekwensies en teenstellings. Hierom kan ek nie uit en met oortuiging die bestaan van God in 'n Christelike konteks ondersteun en myself 'n Christen noem nie.

2) Ek kan 'n geloofsbeskouing ook nie geredelik vanuit die dampkring van die agnostici verdedig nie. Dit voel na 'n posisie waar geloofsversekering uitneem word net vir ingeval.

MAAR, wyse mense neem tog goedgekose versekering uit vir die fisiese werklikheid van die hier en nou – en vir hierna??

3) Wat oorbly is die ateïstiese groepering. Omdat ek die bestaan van God afwys, hoort my denke in hierdie kamp, maar dit is vir my ook 'n ongemaklike posisie. Die tradisionele dimensies van die mens as liggaam (vleeslik), siel (rede(verstand)/gewete) en gees (psigies), lê my nog altyd na aan die hart. Die mens se lewende liggaam wys na 'n herkenbare fisiese aanwesigheid in sy omgewing (net soos elke ander 'iets' in die kosmos – van klip tot kiem), maar, anders as alle ander fisiese klip tot kiem 'ietse', is dit slegs die mens wat met sy verstandelike vermoë sy leefwêreld deur ondersoek en vraagstelling (natuur- en geesteswetenskap) kenbaar kan maak en dit kan ontwikkel. En hier grens veral die fundamentalistiese sy van die ateïstiese posisie, so lyk dit altans vir my. Nie dat 'n psigiese dimensie van die mens ontken word nie, maar indien dit enigsins met 'n nie-naturalistiese eksistensie (spiritualiteit?) geassosieer word, word dit afgewys. En dis juis hier waar die ateïstiese kleed vir my te knap is. Ek wil die psigiese dimensie (spiritualiteit?) hier vir my lewensbeskouing toe-eien.

Die mens se psigiese dimensie kan sekerlik strek vanaf 'n gevoel van liefde vir, respek en verdraagsaamheid teenoor die medemens, diereryk, natuur, die feit van lewe, dankbaarheid vir gesondheid, 'n gewete, ens, ens, tot daardie innerlike oer-instink of -behoefte om met iets buite homself te konnekteer (spiritualiteit?): al is dit dan net om daardie vinnige skietgebedjie van innerlike dankbaarheid aan 'n nie-spesifieke anonieme iets die eter in te stuur omdat ek pas van 'n ernstige motorongeluk uitgespaar is, of dat ek asseblief hierdie belangrike eksamen moet slaag, of dat ek eendag tog die lotto moet wen. Dit sluit gewis ook in diepe emosionele gevoelens soos van psigiese rustigheid, vrede, geluk, geborgenheid en bly-wees-om-te-ervaar as ek na 'n mooi musiekuitvoering luister en die strelende melodieë van gospel- en ander geestelike musiek met emosie beleef, asook wanneer ek die mikroskopiese kleine en majestueuse grootheid van die fisiese dinge in my leefwêreld en in die heelal in verwondering kan beleef. Om hierbenewens ook die ongeregtigheid, wreedheid, sinnelose geweld en vernietiging van die natuur te kan betreur, te beveg en daarteen op te staan – MAAR, sonder om dit alles deur die bril te wil of te moet sien van 'n skeppende, regulerende, heersende, alomteenwoordige, belonende of straffende en onsigbare opperwesehand wat daaragter skuil.

En nou my direkte, eerlike en opregte vraag wat asseblief nie as smaadlik gesien moet word nie:

Is die voorhou/navolging/prediking van (eietydse) spiritualiteit nie dalk net 'n dekmantel vir iemand wat die wese van die geloofsproblematiek intens begryp en met sy rede daarmee handel deur stilweg die agnostiese denkweg te omarm, maar wat nog nie gereed is om 'uit die kas te kom' nie?

14 Augustus 2013

Abel antwoord:

(En onthou: If you quote me, date me!)

In Ateïsme is daar 'n ontkenning of verwerping van die bestaan van 'n (Teïstiese) God of gode. Hulle werk dus met 'n sekerheid, waarmee ek nie kan saamgaan nie! Jy's wel reg dat ek 'n ateïs genoem sou kon word indien daar spesifiek gepraat word oor die teïstiese definisie van God – dis wel nie meer vir my 'n geldige interpretasie nie. Maar as 'n agnostiese denker werk ek nie met so 'n sekerheid as dit kom by die bestaan van God in ander vorme of definisies nie.

Byvoorbeeld vind ek myself as postmoderne mens heel tuis binne die panenteïsme. Maar dit eers daar gelaat. Ek kan ook heel gemaklik beweeg tussen die mistieke tradisies (o.a. die Christelik Gnostiese, die Soefi's van Islam), Boeddhisme en Oosterse denke, sowel as om van die wetenskap (in geheel), filosofie, sosiologie, kunste en sielkunde, gebruik te maak om oor ander moontlike definisies van die goddelike te dink. (Ek dink ook dat beide wetenskaplike denke en poëtiese / metaforiese denke in hulle eie genres verstaan moet word.)

Dit is vir my so jammer dat ons hier in Suid-Afrika oor baie geslagte heen net blootgestel was aan die teïstiese godskonsepte. En dat daar 'n valse sekerheid in ons koppe en harte kom lê het, wat dit byna onmoontlik gemaak het om in enige ander kategorieë oor God te dink en te praat. En die wat dit sou waag, was en is vinnig as ateïste gebrandmerk, so asof daar net hierdie twee uiterstes bestaan, christen of ateïs. Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724-1804), ook 'n agnostikus, het aangevoer dat die sekerhede waarmee gelowiges sowel as ateïste werk, nie eerlik is nie. Want wanneer daar oor God/Transendente gedink word, bestaan daar tog geen werklike sekerhede nie: "We could neither prove nor disprove God's existence, because we had no reliable means of verification."

Ek dink enige "sekere" uitsprake as dit kom by die transendente is letterlik om onkant te speel (as ek 'n sport metafoor kan gebruik!)

Ateïste speel onkant sowel as gelowiges. Die agnostiese denke waarbinne ek my wel tuis voel het veel meer te doen met kennis oor God as oor spiritualiteit.

Daarom kan ek sonder huiwering sê dat ek eerder vanuit my liefde vir spiritualiteit as 'n haat vir godsdiens werk. Dit gesê, nooit mag ons ons koppe afskakel om vir ons harte plek te maak nie, want dan maak ons geloof dom, en dom geloof is bygeloof. Ons moet alles bly ondersoek wat aan ons voorgehou word as sogenaamde waarheid. En altyd 'n 'onsekerheid' ingesteldheid saamdra. Let wel, met die term 'onsekerheid' verwys ek nie na 'n passiewe, oningeligte of besluitlose toestand nie. Ek verwys spesifiek na 'n ingesteldheid van nuuskierigheid (die behoefte om meer uit te vind), sowel as 'n kritiese ingesteldheid om my eie sekerheids-konstruksies heeltyd te bevraagteken. (Dalk dit waarna Bertrand Russell verwys met: "What is wanted is not the will to believe but the wish to find out.")

Hierdie ingesteldheid tot kritiese selfdenke impliseer vir my 'n gereelde beweeg buite die vaste en gegewe sekerhede wat veral godsdiens tradisies probeer gee. Ek glo onwrikbaar in die eerstehandse self soek en self ontdek. Want solank ons met 'onsekerheid' werk bly ons soek. Die sekeres (ongeag watter kant) hou op soek, hulle begin verdedig, baklei en oortuig. Ek vind myself glad nie daarin tuis nie. Die soeke na sin, is dan ook my definisie van spiritualiteit. (Sien hier onder wat ek hiermee bedoel ... ek't vir jou een van my vorige rubrieke ingesit.)

Trichardt, ek gaan eers hier stop ... hopelik kan ons mekaar dalk eendag oor 'n koppie koffie ontmoet en lekker saam gesels.

Dankie vir jou eerlike, oop en voortdurende soeke ... op die ou einde is dit die enigste weg.

Vrede!

Abel

Kop & Hart: Spiritueel of godsdienstig?

Dr. Abel Pienaar, Rapport 2013-02-28

Deesdae as jy iemand vra in wat hulle glo, is dit nie meer snaaks as hulle sou antwoord: "Ek is spiritueel, nie godsdienstig nie."

En hoewel almal maklik die term spiritualiteit gebruik is dit eintlik baie moeilik om een definisie daarvan te gee. Want sien, dit is 'n oop-konsep of dalk meer akkuraat gestel, 'n mandjie-konsep.

Hiermee bedoel ek dat dit 'n klomp idees, voorveronderstellings, persepsies, oortuigings, gelowe, bygelowe, simbole en filosofieë alles ingegooi in een idee konsep is. En die persoon wat die idee-konsep gebruik vul natuurlik sy "mandjie" met sy inhoud.

Die rede hiervoor is omdat die woord spiritualiteit – in 'n baie wye sin gebruik – verwys na verskillende maniere waarop mense in verhouding tree met die "Misterie van die Lewe". Natuurlik klee die een wat dit gebruik dit dan vanuit sy of haar eie vertrekpunte en verstaan van daardie misterie.

Só sal 'n Boeddhis of Hindoe met spiritualiteit heeltemal iets anders bedoel as wat 'n Christen of Moslem daarmee bedoel. En dan is daar ook die nie-godsdienstiges se verstaan van spiritualiteit. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Franse filosoof, André Comte-Sponville. Hy is die skrywer van talle boeke, onder meer The Little Book of Atheist Spirituality.

Hy is 'n erkende Franse ateïs en humanistiese filosoof en iemand wat baie uitgesproke is oor die feit dat hy 'n spiritualiteit het. Hy beskryf in sy bogenoemde boek hoe hy eendag toe hy gaan stap het, 'n diep spirituele belewenis ondergaan het, en daarna nog nooit weer dieselfde was nie.

Verseker bedoel hy nie met sy verstaan van spiritualiteit dieselfde as iemand wat, byvoorbeeld, glo in 'n teïstiese God nie. Nee, sy verstaan van spiritualiteit is in der waarheid "God-loos".

Dit is dus baie interessant dat spiritualiteit nie noodwendig gekoppel word aan 'n bonatuurlike wese nie. Spiritualiteit word eintlik al meer 'n beskrywing van mense se verstaan, dat sin en waarde in die alledaagse gevind kan word.

Dit beteken natuurlik dat daar vanuit die veronderstelling gewerk word dat alle mense diep binne-in 'n spirituele bewussyn het. Dat ons essensie of kern goed is. En dat wanneer iemand vanuit sy/haar kern begin leef, hulle in der waarheid 'n direkte, spontane en kontak-maak belewenis het met die 'Misterie van die lewe.'

Ken Wilber se beskrywing van spiritualiteit omskryf dit dalk die beste: "Spirituality, according to the testimony of the world's great yogis, saints, and sages has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice open one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit."

Met ander woorde om in kontak te wees met "a living Reality" is om die goddelike te beleef. En hierdie kontak of belewenis is waarvan Wilber praat as 'n "direct experience of Spirit."

Mense wat hierdie belewenis het, hetsy binne godsdiens of daarbuite, verwys dikwels van buitengewone belewenisse; verwondering, blydskap, liefde en 'n mistieke ervaring van eenword met alles in die kosmos. En hierdie belewenisse bring 'n nuwe uitkyk op die lewe en die self.

Die Rooms Katolieke teoloog, Gerhard Zuidberg omskryf hierdie nuwe uitkyk soos volg: "...spirituality is an orientation to life or the meaning of life. Thus spirituality gives a sense of direction in life. It is a compass on one's journey. Finally, spirituality is a zest for life, the inspiration or drive which electrifies life. Spirituality can be felt as a dynamic force." Iemand wat hierdie ervaring gehad het, hetsy vanuit een of ander krisis, godsdienstige beoefening, belewenis van intense skoonheid, lewensbedreigende oomblik of dalk deur na 'n mooi stuk musiek te luister of 'n gewone oomblik van helderheid te beleef, beskryf dit gewoonlik as 'n mistieke ervaring van die onbeskryfbare Groot Misterie.

Daarom is spiritualiteit 'n intens persoonlike reis na binne. Niemand kan dit namens jou aanpak nie. En niemand kan jou voorsê hoe en waar dit moet gebeur nie. Dit is iets wat gebeur as jy eerlik, soekend en outentiek leef.

Ek wil weer die Franse filosoof en ateïs André Comte-Sponville se beskrywing van sy spirituele belewenis gee as voorbeeld, hy beskryf dit so: "The ego had vanished: no more separation or representation, only the silent presentation of everything. No more value judgments: only reality. No more time; only the present. No more nothingness; only being. No more frustration, hatred, fear, anger or anxiety; only joy and peace. No more make believe, illusions, lies, only the truth, which I did not contain but which contained me."

Hierdie spirituele belewenis is natuurlik nie noodwendig godsdienstig gekoppel nie. In teendeel, hierdie belewenis kom binne en buite godsdiens voor. Maar soos ek reeds gesê het, "vertaal" mense hierdie belewenis in hulle verstaan van spiritualiteit en geloof in. 'n Godsdienstige sal dit interpreteer vanuit sy/haar godsdienstige oortuigings. Wat een as "een word met Alles" beleef sal 'n ander beskrywe as 'n "aanraking van God".

Hierdie mistieke belewenisse is nie beperk tot sekere godsdienste nie. Om die waarheid te sê lyk vir my of spiritualiteit behoort tot geen spesifieke geloof of filosofiese oortuiging nie.

Dit laat my altyd dink, aan een van die mooiste beskrywings van iemand se intense spirituele belewenis wat ek tot nog toe gelees het. En dit is nie van een of ander ghoeroe, teoloog of digter nie, nee, dit is van 'n wetenskaplike. Sy naam is Fritjof Capra en hy is 'n fisikus. In sy boek The Tao of Physics, skryf hy oor sy spirituele belewenis:

"I was sitting by the ocean one late summer afternoon, watching the waves rolling in and feeling the rhythm of my breathing, when suddenly became aware of my whole environment as being engaged in a giant cosmic dance. Being a physicist, I knew that the sand, rocks, water and air around me were made of vibrating molecules and atoms, and that these consisted of particles which interacted with one another by creating and destroying other particles. I knew also that the Earth's atmosphere was continually bombarded by showers of 'cosmic rays', particles of high energy undergoing multiple collisions as they penetrated the air. All this was familiar to me from my research ... but until that moment I had only experienced it through graphs, diagrams and mathematical theories. As I sat on that beach my former experiences come to life: I 'saw' cascades of energy coming down from outer space, in which particles were created and destroyed in rhythmic pulses; I 'saw' the atoms of the elements and those of my body participating in this cosmic dance of energy; I felt its rhythm and I 'heard' its sound, and at that moment I knew that this was the Dance of Shiva, the Lord of Dancers worshipped by the Hindus."

Sjoe, dit is mooi nè! En dit som die hele konsep van spiritualiteit vir my op. En dit is, dat Alles, die hele kosmos, hier en nou – in ons hart as die "Misterie van die lewe" – teenwoordig is. Ons het net vergeet dit is. Ons het blind geword vir die heiligheid van die oomblik. En om te "onthou" is om weer tuis te kom in ons ware identiteit.

Trichardt Malan kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.