.

Spiritualiteit as derde weg

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Februarie 2016

.

As die lewe 'n lied is, sê die musikant, wat maak jy dan met die onvolmaakte kadens? Die delwer beaam en sê: Ja, as die sin van die lewe vir jou soos 'n kosbare diamant is, kom help my soek tussen die spoelklippe in die rivierbedding. Die monnik prewel sag: Kontempleer oor die liefde as jy God wil vind, terwyl hy in die verslete kloosterplein na parende duiwe staar.

En so het ons mettertyd aanvaar dat die mens met 'n sinsoekende en religieuse bewussyn gebore word. En het ons aanvaar dat lewensin en God op 'n manier met mekaar verband hou. Dis dié dat daar seker oral op aarde religieë begin ontstaan het, wat verhale vertel van hoe God is en hoe die lewe werk.

Islam en die Christendom het hulle God in 'n boek gevind, terwyl die Boeddhiste en Hindoes hulle goddelike in die vele verskynsels vind wat die lewe vul. En so beleef elkeen 'n stukkie spiritualiteit in die toepassing van religie in die breedste sin.

Die wat kan dink, word bewus van die feit dat daar meer tussen hemel en aarde is as waarvan ons weet ... en die res stap gebreinspoel en verslaaf rustig gesus in Dogmastraat na veiligheid, na ankers om aan vas te hou, en na sekuriteit.

Maar is die lewe so simplisties en het Greta Wiid en Angus Buchan al die antwoorde nadat hulle oor die kerstyd derduisende rande se tantieme by CUM-boeke gekollekteer het?

Sien, daar bestaan 'n paar groot paradigmas in die wêreld en afhangende van waar jy gebore word, en van watter kultuur jy deel is, word bepaal hoe jy dink en leef en eet en aantrek en glo en werk en bid en bly en praat en sin en antwoorde soek en vind.

Daar is diegene wat vra: hoe het ons ouers dit gedoen, en hoe het hulle ouers dit gedoen. Soos wat die tradisie sê, is dit reg en goed genoeg vir ons. En dan volg hulle die voorgeslagte. Koop in by daardie denkstrukture en leef vir ewig gelukkig daarmee saam.

Dan is daar die wat vryheid binne grense kies. Die kultuur of die Bybel of die heersende waardestruktuur bied 'n raamwerk waarbinne mens toegelaat word om self te delf. Jy kan vrae vra en dinge betwyfel, solank as wat jy jou antwoorde vind binne die aanvaarbare paradigma.

Maar deesdae is daar 'n groeiende groep mense wat nie meer in een van hierdie twee paradigmas tuis voel nie. Die sogenaamde postmodernes. Die wat alle ou waarhede onder verdenking plaas en net dit aanvaar waarvan hulle oortuig kan word.

Ek lees onlangs dat daar in 'n meningspeiling in Nederland so rapsie oor die 4 miljoen mense was wat aangedui het dat hulle nie ateïste is nie, en ook aan geen godsdiens behoort nie, maar tog is hulle op 'n manier spiritueel. In Suid-Afrika is dit nie veel anders nie. Die sogenaamde drie susterskerke se lidmate is gedurende die laaste 10 jaar gehalveer. Minder as 45% Afrikaans sprekende mense woon nog gereeld kerkdienste by, tog dui feitlik almal nog op sensusvorms aan dat hulle op 'n manier spiritueel of godsdienstig is.

Al minder en minder mense koop nog by die groot geloofsverhaal van die heersende paradigma totaal en al in. Mense vra kritiese vrae en die tradisionele antwoorde oor God en geloof en die sin van die lewe bevredig nie meer nie. Daar is meer soekers as vinders.

Baie sogenaamde protestante ontdek in hulle soeke die mooi erfgoed van die Fransiscane en talle westerlinge kan nie meer sonder die esoteriese van iets soos die oosterse Boeddhisme leef nie. So, die global village het ons oogklappe afgeruk en ander moontlikhede vir ons oopgemaak. Dit het ons laat besef dat ons paradigma ook maar net een van vele ander is en dat niemand eintlik die volle waarheid beet het nie. Almal leef maar net binne die veiligheid van die grense wat hulle eie blokkiesraaisel om hulle trek. Dis tog makliker as daar op elke lyntjie net een antwoord inpas.

Maar in hierdie koekstruif van menings, opinies, botsende en komplimenterende idees, wat is die regte ding om te doen en hoe moet mens leef en glo? My eerlike antwoord sou tipies postmodern wees en ek sal sê: Ek weet nie.

En as ek dan 'n antwoord moet gee, sal ek sê: Leef volgens jou eie mite! In ons tyd bestaan daar nie 'n kompas of 'n vaste punt nie. Die wat voorgee dat hulle die antwoorde het en dat hulle 'n waarheid in pag gevind het, gee voor omdat hulle nie gaan weet wat om te maak met 'n gekraakte masker nie. Hulle voel veiliger selfs agter 'n vals fasade eerder as om ontbloot in die oopte te wees.

So, in ons tyd het die waarheid relasioneel geword en sekuriteit, sin en antwoorde vind jy in die berusting van jou eie binneste. Jou waarheid hoef nie meer algemeen aanvaar te word nie. Solank as wat dit vir jou sin maak en vir jou waar is, is dit reg. Jy is die outeur van jou eie lewensverhaal en jy trek die grense vir wat jy glo en dink, beleef en doen. En so leef jy outentiek jou eie mite.

Skryf jou eie lewensverhaal met die penstrepe van jou hart. Vind jou eie waarheid in die koelte van jou siel en trap jou eie spore op die lewenspad van die liefde.

En daarin lê vir my die mooi van ons tyd. Die feit dat mense nie hoef voor te gee nie, maar dat daar ruimte is vir elkeen om sy of haar eie waarheid uit te leef. Dis jou lewe. Dis jou verhaal. Wees eg aan jouself en almal sal jou as eg beleef. Gee voor en swem in die stroom en almal sal kan aanvoel dat die triomfboë in jou binneplaas aan die klooster behoort.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.