Sokratiese Dialoog – ‘n Model vir die Soeke na Sin

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Februarie 2010

"Die nie-ondersoekte lewe is nie die moeite werd om te lewe nie."

Só het Sokrates, 'n klassieke Griekse filosoof (469-399 vC) eeue gelede gesê. 'n Mens moet by jouself begin om wysheid te bekom, was sy raad.

Hoewel Sokrates geen geskrewe werke nagelaat het nie, word hy as een van die vaders van Westerse filosofie beskou. Die geskrifte van Plato en van sy ander studente bied 'n rykdom van Sokrates se uitsprake en wysheid.

"Net een ding weet ek, en dit is dat ek niks weet nie."

Dit klink vir my na 'n goeie vertrekpunt vir enige gesprek.

Wat Sokrates so 'n besonderse leermeester gemaak het, was dat hy sy studente geleer het 'n mens moet nooit ophou vrae vra nie. Hy het onbevange elke gesprek betree, met die grootste ontsag en respek vir sy "opponent". Met sy ingesteldheid dat hy eintlik niks weet nie, kon hy oop en eerlik na die ander een luister.

Plato vergelyk Sokrates in sy bekende werk, Apologia, met 'n steekvlieg. Hy noem Sokrates die steekvlieg van Athene, omdat hy met sy kritiek op die regering hulle aan die beweeg gekry het, net soos 'n steekvlieg 'n perd laat beweeg as dit gesteek word.

Sokrates het oral met die staatsmanne, filosowe, digters en akademici in debat gegaan oor etiese, politieke en godsdienstige sienings. Hy kom tot die gevolgtrekking dat hoewel hierdie "wyses" dink hulle het al die antwoorde, weet hulle ook maar net soos hy, eintlik niks. Dit het hom natuurlik nie baie gewild by die heersers van die tyd gemaak nie.

Ironies genoeg is hy later aangekla omdat hy die jeug van die dag se denke met sy uitsprake "besoedel" het. Tydens sy verhoor het hy aan sy aanklaers gesê hy dink die staat behoort hom eerder te beloon vir sy rol as kritikus omdat hy die staat op hierdie manier help om hul foute en swakhede raak te sien.

Nodeloos om te sê, hy is skuldig bevind. Hy het vrywillig gif gedrink en sy dood met groot vrede tegemoet gegaan.

Sokrates se groot bydrae

Die Sokratiese metode word steeds vandag as een van die belangrikste bydraes tot die Westerse denke beskou. Dit word ook die dialektiese metode genoem wat verband hou met die woord "dialoog" maar in hierdie geval meer na 'n spesifieke vorm van "redeneerkunde" verwys. Die doel van die Sokratiese metode is om deur 'n rasionele bespreking 'n meningsverskil te probeer oplos in die soeke na waarheid.

Enige probleem word in 'n reeks vrae opgebreek. Deur stelselmatig die een vraag na die ander te beantwoord, word geleidelik na oplossings beweeg. Volgens Sokrates kan daar altyd meer as een oplossing vir enige probleem wees. Hierdie metode word veral vandag in die wetenskap gebruik – die hipotese dien as die eerste stap tot 'n ondersoek.

Wetenskaplike metode

Die wetenskaplike metode verwys na 'n versameling van tegnieke wat gebruik word in die ondersoek, regstel of integrering van nuwe kennis. Om 'n metode wetenskaplik te noem, moet dit gebaseer wees op waarneembare, meetbare en empiriese bewyse, wat die beginsels van logiese redenering onderskrywe. Die doel van hierdie metode is om by die waarheid uit te kom.

Ibn al-Haytham (Alhazen, 965-1039), 'n sleutelpersoon in die ontwikkeling van die wetenskaplike metode, sê: "Waarheid word gesoek om die waarheid se eie onthalwe. En diegene wat betrokke is by die soeke na enigiets om daardie ding se eie onthalwe is nie geïnteresseerd in ander dinge nie. Om die waarheid te vind is moeilik, en die pad daarheen is grof."

Nadat 'n hipotese voorgestel is, moet dit getoets word: eksperimente word gebruik om data te toets en te ondersoek. Hierdie proses word herhaal. Dan moet die bevindings bekend gemaak word sodat ander navorsers en wetenskaplikes dit kan ondersoek en met hul bevindings vergelyk. Eers dan kan iets as wetenskaplik "waar" beskou word.

Om dit eenvoudig te verduidelik: gestel jy sit binne 'n gebou sonder vensters. Iemand sê dit reën buite (hipotese), jy staan op en loop na buite om te gaan kyk of dit reën (ondersoek data). Sodra jy sien dit reën, roep jy iemand anders en vrae of die persoon ook die reën sien (stel teorie bekend), indien die persoon bevestigend antwoord, kan jy sê dit is 'n feit dat dit buite reën.

Die Sokrates-metode begin juis met die stel van 'n hipotese. Die hipotese word bevraagteken. Dan word daar met die data omgegaan met vrae wat bedoel is om onderliggende teenstellings uit te lig en om kennis te verbreed. Sokrates het geglo dat 'n mens slegs by waarheid uitkom as jy jou eie geloofsoortuigings kan ondersoek en eerlik bevraagteken.

"Ek weet julle sal my nie glo nie, maar die hoogste vorm van menslike uitnemendheid is om jouself en ander te bevraagteken."

Wetenskap en godsdiens

Sokrates sou vandag vir ons gesê het dat jy met jou oortuigings rondom God, godsdiens en spiritualiteit, eers by jouself moet begin. Deur vraag op vraag, kan jy al hoe dieper delf.

Volgens hom was daar geen ander manier om by waarheid uit te kom nie. Dink net as ons wetenskap en godsdiens met mekaar in gesprek kon tree en albei opponente het hulle eie "feite" ondersoek en bevraagteken? Dit sou meebring dat ons minder baklei en probeer oortuig. Ons sou oop wees vir die ander se siening en bereid wees om onbevange te luister. Dit sou vra dat ons met integriteit, respek en nederigheid in gesprek gaan met iemand wat anders as ons dink. Iemand vir wie ek ongelooflik respek het, juis omdat sy met hierdie aanslag die gesprek tussen wetenskap en godsdiens benader, is die Amerikaner, Karen Armstrong. Van haar bekende werke is The Case for God en The History of God. In 'n openbare brief skryf sy aan Sam Harris, uitgesproke ateïs en veral bekend vir sy boek The End of Faith (terloops, ek het die grootste agting vir hom):

"It is clear that we need a debate about the role of religion in public life and the relationship between science and religion. I just wish this debate could be conducted in a more Socratic manner. Socrates, founder of the Western rationalist tradition, always insisted that any dialogue must be conducted with gentleness and courtesy, and without malice. In our highly polarized world, we really do not need yet another deliberately contentious and divisive discourse.

When I was a student, I was taught to listen to all sides of a question, examine the evidence impartially, and be prepared to change my mind. For many years, I wanted nothing to do with religion and would have agreed wholeheartedly with Sam Harris; my early writing definitely tended to the Dawkinesque. But my study of the history of world religion during the past 20 years has compelled me to alter my views."

Mythos en logos

Wanneer mythos (godsdiens) en logos (wetenskap) eerlik met mekaar praat, is dit baie belangrik dat daar met respek en begrip na mekaar geluister word. Soos Sokrates soveel eeue terug gesê het, moet ons nooit ophou vrae vra nie en veral nie ophou om ons eie oortuigings te bevraagteken nie.

Natuurlik moet ons as gesprekgenote ooreenkom dat die gesprek-reëls die wetenskaplike metode onderskrywe. Ons moet mekaar help om respek te hê vir die verskillende genres binne ons benadering tot waarheid. Waar logos onder meer met empiriese bewyse werk, fokus mythos onder meer op poësie. Wanneer ons verstaan dat een denkrigting besig is met die uiterlike en sigbare dinge en die ander een weer op innerlike en onsigbare dinge reflekteer, kan ons waardering ontwikkel vir die waarde van albei om sodoende 'n beter geheelbeeld van ons wêreld te kry. Ons moet begin om na ons wêreld vanuit albei perspektiewe te kyk om só 'n eietydse sin te vind vir die lewe hier en nou.

Kom ons begin praat. Kom ons begin luister. Kom ons hou nooit op vra vrae nie! Dit is die enigste weg na sinvolle antwoorde...

Dankie Sokrates!

Dr Abel Pienaar

1 Februarie 2010 ("If you quote me – date me!")

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za