.

‘n Soeker se brief

Deur Frik Mare op 1 November 2012

.

Daar is beslis vandag net soveel yster- as vleistronke. Die ystertronke is daar af in Roelandstraat nadat die Magistraat nie jou storie wou geglo het nie ... en die vleistronk is in onse kop. Altwee is baie sleg en om van ontsnapping te praat, nou ja, kom ons kyk of mensekind hieruit wil kom.

Ek het dit vandag met jou oor die koptronke.

In ons kosmos van bestaan is alles in ons baie intiem verstrengel en vasgeheg met die goddelikheid en die ewige hunkering daarna. Carl Jung noem dit "oorgeërfde argitiepes in jou onderbewussyn wat roep en vra na 'n geloof. Hierdie roepe vind sy uitdrukking in jou betrokke raak by een of ander godsdiens." Abel Pienaar sê so mooi: "Elke mens het 'n diep, binne-in spirituele- of goddelikheisbewussyn. Dit behoort tot elkeen se kern." Hoe ons ook al daarna kyk, bly godsdiens 'n bloot menslike aktiwiteit wat met die bestaan of die wese van God, totaal niks te make het nie. Godsdiens bewys dus nooit die bestaan van God nie – maar sê liewer baie oor hoe ons dink en voel en ons ding wil doen.

Die karaktertrekke van hierdie goddelikheid speel 'n ongelooflik belangrike rol in jou diepste menswees. Is hierdie god 'n wrede god, gaan jy jou godsdiens beleef as altyd ondersoekend, vol angs dat jy uitgevang gaan word en gestraf gaan word (vir ewig brand in vuur). Jy gaan by uitnemendheid glo in jou god maar jou glo gaan gedryf word deur vrees en skuldgevoelens.

Hierdie goddelike karaktertrekke in die naam van teologie, dogmas en spiritualiteit kan 'n persoon op gruwelike maniere geestelik molesteer en aftakel. Spirituele molestering is erger as dié wat ons van hoor in die hof. Hierdie kerkmolestering klou soos teer in jou binneste vas. Dit brand en verwoes en gooi 'n konsentrasiekamp skaduwee oor jou lewe. Niks is meer cool nie, want jy gaan dit nie maak nie. Vanaf die wit troon gaan jou naam met minagting genoem word ... hy was nie getrou nie, laat hom brand.

Jy was so seker jy is uitverkies nog voor die skepping – maar die god wat daar op die wit stoel sit sê anders. Jy is geweeg en jy was te lig. Jy het net eenvoudig net te min gedoen vir jou god. Veels te min sendingwerk en so veel keer verneuk met jou tiende.

Jy kyk so oor die hel van ellende en jy sien hoe die ander nog steeds kerke bou ... nog mense moet getronk word deur hierdie mensding. Toegepleister sit jy in jou sel, jou vreugde is weg, jy weet nie meer wat ware geluk is en wat dit is om vry te wees nie. Al wat jy sien is dat jy dit toe nie kon maak nie. Godsdiens het al die boumateriaal vir die bou van jou tronksel voorsien, en die bouers het 'n baie goeie werk gedoen – jy is nou bewaarder en gevangene, sommer alles in een.

Iewers buite hoor jy 'n amper-kaalgat koerantverkoper skreeu: "Daars hoep! Daars hoep!" Maar jy bly bang om te koop en sélf te lees, sélf te sien, sélf te beleef. (Sal liewers Sondag weer in my rytjie gaan sit en luister.)

Hoekom is ons so ongelooflik bang om vrae te vra oor ons diepste binne-wees en oor godheid? Ja, ek weet ons is so geleer en grootgemaak ... om maar net te aanvaar en nie lastige vrae te vra nie. Maar ek wil jou in die gesig kyk en my sê sê:

Ek praat van 'n spiritualiteit wat baie introspektief en kontemplatief is – nie 'n egosentriese benoudheid om betyds my hemelkaartjie op die regte perron te kry nie, of 'n opgewarmde emosie sessie met trane en sang.

Dit is iets soos bid ... sonder om ooit 'n woord te sê ... die groot stilte in die skeur ... dit is net om te luister ... en weer te luister ... dit is om dan te hoor.

Dankie vir Dr. Piet Muller se vertaling van Die Evangelie van Thomas: "As julle jul self ken sal julle geken word en julle sal weet dat julle die kinders van die lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie sal julle in armoede lewe en julle self sal die armoede wees" (vers 30).

Ek vra jou om op te kyk en weg te kyk, ja te vergeet van Martin Luther se twak: "Reason is the greatest enemy that faith has ... she is the devil's greatest whore ... a whore eaten by scab and leprosy, who ought to be trodden down underfoot and destroyed, she and her wisdom ... throw dung in her face ... drown her in baptism."

Net mooi niks wat lelik en hel-agtig is, sal met jou gebeur as jy vir jouself begin dink en God in jou en om jou ontdek en beleef nie – behalwe om God te begin bewonder in absolute sagte ekstase en teerheid.

Gooi die bangheid weg. Begin met die innerlike pelgrimsreis ondanks die swaar sandpad wat jy moet stap ... want maklik kom jy nie uit jou tronk nie, maar jy moet. Demmit man!!

Frik Mare is 'n apteker in Botswana

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.