Só lyk die landskap van die hiernamaals

Deur Cas van Rensburg (in Beeld, By) op 19 Februarie 2011

Pres. Jacob Zuma kan mense wat vir die ANC stem dalk 'n kaartjie na die hemel belowe, maar hoe sou dié hiernamaals lýk? Cas van Rensburg het 'n nuwe atlas van die hiernamaals beskou en gevind die hoe, wat en waar van die landskap ná die dood is self 'n tameletjie.

In 'n voorbladartikel in die tydskrif Time van 24 Maart 1997 word gevra of die hemel wel bestaan, en die artikel se skrywers kom tot die slotsom dat geestelikes dié vraag liefs vermy – enersyds omdat hulle nie 'n antwoord het nie, en andersyds omdat hulle bang is hulle kom teen 'n muur van skeptisisme te staan.

"Ek is nie bereid om oor die argitektuur of die geografie van die hemel te bespiegel nie. Ek dink nie aan die hemel as 'n spesifieke plek in die heelal nie," haal Time eerw. J. Philip Wogaman van die Metodiste Kerk in Washington aan.

Tot onlangs het vele Christelike, Joodse en Islamitiese gelowiges geglo die hemel is daarbo en die hel daaronder – dít ondanks die feit dat dit reeds sedert Galileo en Copernicus se tyd bekend is daar is nie 'n bo of 'n onder in die heelal nie. Die Anglikaanse biskop John Shelby Spong wys in sy boek Why Christianity Must Change or Die daarop dat as 'n Chinese en 'n Amerikaanse burger gelyktydig boontoe wys, hul vingers in teenoorgestelde rigtings wys.

Hy gaan so ver as om te sê die Geloofsbelydenis is verkeerd wanneer dit praat van Jesus wat na die hel "neergedaal" het en na die hemel "opgevaar" het vanwaar Hy weer sal kom. Die letterlike hemelvaart word ewe sterk betwyfel as die verhaal van die maagdelike geboorte, skryf hy.

Maar dit is nie net die bestaan van die hemel wat bevraagteken word nie – ook hoe dit daar uitsien. In 1950 kon die jong Billy Graham nog by 'n saamtrek in Boston beweer die hemel is so werklik soos Los Angeles of Londen, en dit is 1600 myl lank, wyd en hoog. Mense sit daar om kaggelvure met engele wat hulle bedien en hulle ry met 'n geel Cadillac op goue strate, het hy gesê.

Maar Biskop Spong sê: "Nee!" Die taal oor die hemel en die hel wat so deel van ons eeue oue geloofstelsel was, het sy betekenis verloor.

Die ou sieninge van die hiernamaals kom egter van die vroegste tye af. Reeds in die Steentydperk is mense met hul sierade en werktuie begrawe met die oog op 'n lewe anderkant die dood.

'n Besonder insiggewende boek wat die mens se geloof in die hiernamaals naspeur, het pas in Nederland met die effens ironiese titel Geïllustreerde Atlas van het Hiernamaals by die Uitgeverij Nieuw Amsterdam verskyn. Die boek, wat geskryf is deur Guido Derksen, Martin van Mousch en Jop Mijwaard, bied selfs kaarte ter verduideliking van die hoe en waar van die hemel en die hel se onderafdelings. Wat mense dikwels vergeet, is dat daar soms van tot sewe hemels gepraat word (Paulus praat in Korintiërs van die derde hemel), terwyl die hel ook verskeie afdelings gehad het wat van erg tot erger gelei het en met die allerverskriklikste strawwe gepaard sou gaan.

Wat veral in die boek opval, is dat byna elke volk of kultuur die hiernamaals as 'n werklikheid voorgehou het.

Die Egiptenare se idee hiervan is seker die bekendste: In die meer as 3000 jaar van die Egiptiese ryk, was daar verskillende teorieë oor die doderyk, soos dat die songod Ra (en later Osiris) elke dag deur die hemelruim reis en snags deur die doderyk, net om elke oggend weer gebore te word.

Die onsigbare land van die dooies is Duaat genoem en was aanvanklik in die hemel bo die aarde. Later – teen sowat 2000 v.C. – is geglo Duaat is ondergronds geleë. Die dood was vir die Egiptenare slegs 'n oorgang na 'n nuwe lewe. Die onderwêreld was net 'n spieëlbeeld van die vorige lewe.

Die Grieks-Romeinse beskrywings van die hiernamaals kom van skrywers soos Homerus en Vergilius wat breedvoerig oor die reise van Odusseus en Aeneas in die hiernamaals geskryf het. Hades en die Elisiese velde (ook die Eilande van die Geseëndes genoem) was gedeeltes van die doderyk.

Hades was die ewige "hel" en was aanvanklik op die westelike rand van die wêreld geleë (die Duaat van die Egiptenare was weer in die westelike woestyn geleë).

Mense het later geglo Hades was ondergronds en kon deur grotte na benede of deur die Rivier van Smarte en die Rivier van Jammerklagte bereik word. Dan was daar ook die nege kronkels van die Rivier van Haat, die Styx. In Hades was daar 'n folterkamer (Tartarus), wat die voorloper van die Rooms-Katolieke vagevuur was.

Volgens Homerus was daar hier sprake van nadoodse geregtigheid waar daar in die doderyk verantwoording gedoen moes word vir aardse optrede. Die Romeinse dooies is nie vir ewig gestraf nie en kon ná 1000 jaar na Elisium terugkeer waar hulle gereïnkarneer kon word. Sommige Griekse skeptici het nie in gode of die hiernamaals geglo nie. Die mens skep die helse onderwêreld self, het hulle geglo.

Lucretius (100-55 v.C.) het gesê dood is dood, en die hel is net daar om mense mee bang te maak – iets waarin baie mense vandag ook glo. Lewensangs, het hy gesê, is die hel: angs oor pyn, verdriet, siekte en die dood – 'n soort eksistensiële angs wat herinner aan Sartre, dus.

Die Christelike geloof in 'n hemel en 'n hel kom van die Jodedom. Laasgenoemde se beskouinge van die doderyk is weer deur die Mesopotamiërs en die Perse beïnvloed. Die idee van 'n hemel, 'n aarde en 'n benedewêreld kom juis van die Mesopotamiërs – ook onder meer die verhaal van Noag, die sondvloed en die ark kom van hulle.

Die idee van 'n apokaliptiese einde en 'n wederopstanding kom weer van die Perse. Die Persiese profeet Zarathoestra (Zoroaster) het beweer die siele van gestorwenes sou eers individueel beoordeel word waarna hulle of hemel of hel toe gestuur sou word. Uiteindelik is daar 'n apokaliptiese gebeurtenis waartydens die aarde skoongemaak word en die dooie siele weer opstaan.

Die eerste Hebreër wat oor die wederopstanding gepraat het, was die profeet Esegiël. Volgens die Jode is die doderyk die sjeool. Die dooies gaan egter nie direk ná hul afsterwe daarheen nie, maar bestaan eers as skimme in 'n soort skimmeryk. Die sjeool bestaan uit Gehenna en die Hof van Eden. Ná foltering en straf in Gehenna, kon hulle na die Hof van Eden gaan.

Van hierdie idees het in latere jare verander. Daar was byvoorbeeld 'n sterk Hellenistiese invloed op die denke van die latere Jode. Plato het die idee van 'n skimmeryk (Homerus) afgewys, maar gemeen die onsterflike siel, die draer van die persoonlikheid van die mens, word deur die liggaam vasgehou. Ná die dood vergaan die liggaam en die siel styg op na die hemel.

In die tyd voor Jesus se geboorte was daar verskillende groepe Jode met uiteenlopende sieninge van die hiernamaals. Die Sadduseërs, wat meestal uit die Joodse aristokrasie en geestelike leiers bestaan het, het in geen hiernamaals geglo nie. Die Fariseërs, die Joodse middelklas, het in die wederopstanding ná 'n oordeelsdag geglo. Die Essene het volgens die Dooie See-rolle in die Hellenistiese idee van 'n onsterflike siel geglo wat ná 'n apokalips weer sou opstaan.

Die Islam is sterk deur die opvattings van die Christen- en Jodedom beïnvloed en so word 'n ewigdurende verblyf in 'n vlammehel, 'n paradys en 'n laaste oordeel ná 'n allesvernietigende apokalips ook deur Moslems aanvaar.

Wanneer die Messias na die aarde terugkeer, sal die wêreld vergaan. Die verskyning van al-Dajjal, die "valse" Messias, sal die eerste aankondiging van die einde van die wêreld wees, sê die nuwe Nederlandse atlas van die hiernamaals. Dajjal is niemand anders as Satan nie. Hy sal veertig jaar regeer waarna daar 'n groot eindstryd sal wees. Die goeie sal oorwin, en geloof, geregtigheid en vrede sal herstel word.

Volgens die Koran is daar sewe hemels en sewe afdelings in die hel. Die hoogste hemel is die Paradys en die hoogste afdeling in die hel is Djahannam. Djahannam is dieselfde as die Jode se Gehenna.

Volgens tradisionele interpretasies van die Koran is daar in die sewende hemel slegs mans. Die goeie vroue is elders. Christene moet egter nie hul oë hieroor rek nie – daar was in die Christendom ook lank twyfel of vroue hemel toe sou gaan. By die eerste ekumeniese vergadering van die kerk in Nicea (325 n.C.) is daar lank gestry oor of die vrou 'n siel het. Selfs vandag mag vroue in sekere kerke nie predikante wees nie.

Die storie dat martelare in die Paradys elkeen 72 maagde of sogenaamde hoeri's sal kry, is welbekend. Laasgenoemde is pragtige, rondborstige maagde, so mooi soos korale en "heerlijk als robijnen", berig die Geïllustreerde Atlas van het Hiernamaals. Die Atlas wys egter daarop dat baie Aramese woorde in die Koran gebruik is, en volgens die jongste navorsing het die woord "maagde" in Aramees niks met vroue te doen nie. Die woord wat in die Koran vir maagd gebruik word, beteken in Aramees "wit" en dui op wit druiwe. 'n Teleurstelling kan dus dalk op hedendaagse sogenaamde martelare wag...

Die ander manne sonder vroue in die Paradys kan darem vertroosting vind in die arms van "schone jongelinge", terwyl daar te midde van blomme, voëlgesang en vrugtebome ook riviere van wyn en heuning vloei. "Wat de moslim in het aardse leven niet is toegestaan, mag in de hemel wel," volstaan die Atlas.

In die Christendom was daar deur die eeue verskillende sieninge van die hiernamaals. So byvoorbeeld kom die "mite" van Jesus se neerdaling na die hel uit die Apokriewe evangelie van Nikodemus. Dít het veral sterk neerslag gevind in die Oosters-Ortodokse kerke, en sedert die elfde eeu ook in die Weste en veral in Suid-Europa.

In die Westerse protestantse lande speel Luther en Calvyn se insigte oor die aard van God, die hiernamaals en die lewe ná die dood vandag nog 'n rol.

Die hiernamaals van Luther en Calvyn is 'n sobere plek, en in die geval van Calvyn was die hemel net vir uitverkorenes beskore.

Erasmus het nie heeltemal hiermee saamgestem nie. Volgens hom was die lewe en 'n plek in die hiernamaals 'n kwessie van kies tussen goed en kwaad – hy was ook van mening dat die mens geneig is om eerder die goeie as die kwade te kies.

Die hemel van Luther en Calvyn stem grotendeels ooreen met dié van Rooms-Katolieke skolastici. So het Luther bevind die siel gaan sonder die sterflike liggaam hemel toe omdat urine en ontlasting nie daar voorkom nie. Tog glo die Hervormers aan 'n weersiens van geliefdes en bekendes in die hemel. Gesinsverband of huwelike sou egter nie herstel word nie, omdat dít die aandag van God sou aftrek.

Nóg Luther nóg Calvyn en hul volgelinge het kennis geneem van hul tydgenoot Copernicus se teorieë. Hulle het steeds geglo die aarde is die middelpunt van die heelal met 'n hemelsfeer daarbo. Ná die oordeelsdag sou die aarde deur vuur gesuiwer word, en die hel sou onder in die binneste van die aarde wees. Volgens Luther sou mense die nuwe aarde kon besoek. Die Elberivier sou uit 'n stroom van pêrels en edelgesteentes bestaan en reënbuie van munte sou uit die hemel val. Bome sou silwer blare hê en goue vrugte dra.

Calvyn het ook 'n nuwe aarde voorsien, maar die uitverkorenes sou hulle nie daar tuismaak nie. Hulle sou die nuwe aarde net vanuit die hemel daarbo kon betrag.

Volgens die Atlas is daar baie gestry oor wanneer die oorledenes se siele die hiernamaals sou binnegaan. Lutherane het nie soos die Rooms-Katolieke Kerk in die vagevuur – waar die dooies 'n suiweringsproses kon deurmaak – geglo nie.

Hulle glo eerder die dooies "oornag" in die graf totdat hulle gesuiwer is of tot ná die oordeelsdag. Lutherane sluit hier aan by die Moslems se siening dat gestorwenes in die graf deur twee engele, Munkar en Nakir, oor hul lewe op aarde ondervra word en daarna na die hemel of die hel gestuur word.

Volgelinge van Calvyn het geglo die siel rus 'n rukkie in die graf – ten volle bewus van die teenwoordigheid van God – waarna dit hemel of hel toe sou gaan.

Al dié sieninge het deur die jare baie veranderinge ondergaan. Vandag glo min mense nog dat die hemel of die hel 'n plek is.

Daar word eerder van energiestrominge gepraat. Die kwantum-fisika het tot 'n magdom nuwe idees gelei, en van die voorste fisici beweer daar is nie net een heelal nie, maar elf.

'n Mens kan volgens hulle gelyktydig in meer as een heelal leef sonder dat hy of sy dit weet...

Daar heers in moderne kerke groot verwarring en onsekerheid oor die hiernamaals en wat ná die dood gebeur.

Eintlik kan geestelike leiers en die kerk nie verkwalik word dat hulle nie meer 'n finale antwoord oor die lewe ná die dood het of wil gee nie. Ons kyk, soos Paulus gesê het, in 'n "dowwe spieël."

Volgens die skrywers van die Geïllustreerde Atlas van het Hiernamaals het die hemel en die hel in die 20ste eeu aansienlik vervaag en word die klem in hedendaagse teologiese en filosofiese gesprekke eerder geplaas op die vraag of die siel onsterflik is en of daar dus lewe ná die dood is. Met die tong baie diep in die kies, word die hedendaagse hiernamaals as 'n metrokaart uitgebeeld. Daar is die stasies na die Hemel en die Hel (pers), na Iets en Êrens (groen), na Niets en Hemelse Leegte (geel) en na In die Wolke en Doemdorp (rooi). Dan is daar 'n sweefspoor van Geesteshof na Lig (blou) met allerlei New Age-verskynsels as stasies soos Tantra Gardens, Chakra, Soefisme en selfs 'n Kübler-Ross Allee en Tarot Hill. Op pad na Hemelse Leegte verskyn die name van teoloë en filosowe soos Karl Rahner, Karl Barth, Paul Tillich en Immanuel Kant. Stasies na die Hel heet onder meer Folterplaats, Pijnwijk, Vuurhaarden en Satansheim. Op dieselfde spoor na die Hel kan 'n mens egter by die stasie Tranendal 'n trein haal na Vergiffenis met stasies soos Vagevuur en Voorgeborchte tussenin.

Die Nuwe Testament is maar vaag oor hoe die hemel lyk. Daarom het die beskrywing in Openbaring van die Nuwe Jerusalem, die stad van Christus, sterk aanklank gevind by die ou kerkvaders, en veral die Heilige Augustinus. Volgens Openbaring 21 is dié stad 'n vierkantige, ommuurde stad met twaalf fondamente en twaalf poorte. Op die poorte is die name van die twaalf stamme van Israel geskrywe. Die twaalf fondamente het die name van die apostels gekry. Later in die geskiedenis het mense meer verstedelik en is die nuwe Jerusalem in hul gedagtes ingerig soos hul eie stede met katedrale, gragte en parke. Kerke in elke tydvak, soos die Bisantynse tyd, die Middeleeue en Renaissance was in kleine 'n beeld van die hemelse stad. So is daar op hierdie kaart ook verskeie kerke, soos die Maria-tenhemelopnemingskerk, Die Kerk van die Heilige Kruis, die Spiritus Sanctus-kerk en die Agnus Dei-kerk. Hierdie simmetriese stad is op die kaart omring met 'n blommeveld, vrugteboorde, ensovoorts. Verskeie kerkvaders en heiliges word ook vereer, soos met die Augustinus-toring en die Hiëronymus-toring, en ook die strate is na kerkvaders en heiliges genoem, terwyl daar 'n Kardinaalspark is en 'n Mattheus-plein.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za