.

Skep vir jou ‘n wêreld

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Februarie 2017

.

Bram Moerland, die bekende gnostikus uit Nederland vertel die volgende verhaaltjie: Hy sê daar was eenkeer 'n man wat baie bang was vir honde. En hy was oortuig daarvan dat alle honde kwaai is en dat alle honde altyd daarop uit is om 'n mens aan die kuite te wil byt. Op 'n dag het sy manie so erg geword dat hy dit nie eers meer buitenshuis wou waag nie.

Die man was, ten spyte van sy vrees, intelligent genoeg om aan 'n plan te probeer dink vir sy dilemma. Hy bestel toe per pos van die beste hondebeskuitjies wat daar is. Toe dit afgelewer word, stop hy sy baadjiesakke vol daarvan en skraap weer moed bymekaar om die strate aan te durf. Hy reken toe dat as hy stap en 'n hond storm op hom af, gooi hy van die hondebeskuitjies op die straat. Dan sal dit die hond se aandag aftrek en die hond sal die beskuitjie gaan eet en sy kuite uitlos.

So stap hy toe elke dag werk toe, gepantser en bewapen met 'n voorraad hondebeskuitjies in sy baadjiesak.

Op 'n dag trek daar oorkant die straat nuwe mense in. En hulle het 'n hond. Net soos hierdie man met sy oortuiging dat alle honde byt, het hierdie nuwe intrekkers se hond ook 'n vaste oortuiging. Die hond is vas oortuig en seker daarvan dat alle mense liefdevol teenoor diere is en dat alle mense van honde hou.

Die hond het baie goeie rede waarom hy so glo. Hy kry elke dag gratis kos en skoon water. Hy word vertroetel en versorg. Daar word met hom gespeel en hy het 'n lui-lekker lewe. Omdat die hond se eienaar vroegoggend gewoonlik bietjie skarrel om aan die gang te kom en als gedoen te kry, laat hy die hond vroeg uit die huis gaan om sy draaie te gaan loop, terwyl die eienaar gereed maak vir die dag.

En toe gebeur dit. Die man stap een oggend uit sy huis omtrent op dieselfde oomblik dat die nuwe buurman sy hond laat uitgaan. Die man skrik toe hy die hond sien en dink: Daar is nou weer 'n gemene brak wat my seker wil kom byt. En die hond dink: Ag mooi, daar loop 'n liewe mens, kom ek gaan groet; en die hond storm op die man af.

Die man snork: Nes ek gedink het. Hy wil my kuite gryp. En toe die hond naby hom is, gooi hy een van die hondebeskuitjies uit sy sak op die grond. En sy plan werk perfek. "Ag is dit nie gaaf nie, dink die hond, ook in hierdie nuwe dorp is die mense vriendelik en lief vir honde. Hier kry ek sommer die heerlikste beskuitjie."

Die volgende oggend gebeur presies dieselfde. Die man sien die gemene hond wat hom wil byt en gooi 'n beskuitjie en die hond sien 'n liefdevolle mens wat vir hom 'n beskuitjie gee. En so hou dit aan.

Nou is die vraag: Wat is die les wat ons uit die verhaal leer? Die les is dat die man en die hond met presies dieselfde feitestel sit, naamlik dat die hond na die man toe hardloop. Die man gooi die beskuitjie. Die hond eet dit. En dit is die feite. So vir die man en die hond is die feite dieselfde en hierdie feite bevestig die oortuiging van beide die man en die hond.

Hierdie feite bevestig vir die hond dat alle mense liefdevol teenoor honde is en dit bevestig vir die man dat alle honde storm en jou kuite wil byt. So, al deel die man en die hond dieselfde stel feite, leef hulle in twee verskillende wêrelde.

Die man woon in 'n wêreld van angs en vrees en dit word elke dag bevestig, en die hond leef in 'n wêreld van liefde en omgee en ook dit word elke dag bevestig. Deur presies dieselfde stel feite.

So skep elke mens vir hom of haarself 'n eie wêreld. Elkeen neem die feite en omstandighede, interpreteer dit en skep dan daarmee 'n wêreld. En dan leef jy binne hierdie selfgeskape werklikheid.

Ons het nogal baie daarvan beleef die laaste tyd in ons land. Die stel feite oor leierskap, korrupsie, ekonomiese groei, werksgeleenthede lê daar. Howe maak uitsprake en kommissies van ondersoek stel verslae vry. Maar elkeen vorm met die feite 'n eie narratief, en daardie narratief word 'n paradigma en dit skep 'n wêreldbeeld. En so leef ons almal saam, maar in verskillende wêrelde.

Dit werk nie net polities so nie, ook emosioneel, spiritueel ... op alle vlakke van die lewe. Daarom verstaan mense mekaar dikwels nie en praat en redeneer hulle by mekaar verby. Want ons kyk verskillend na die feite.

So, die groot vraag wat elke mens eerlik moet antwoord is: Hoe lyk jou wêreld? En indien jy spiritueel wil groei, sal jy ook eerlik moet gaan kyk na die interpretasies, vooroordele en oortuigings wat jou wêreldbeeld vorm en wat van jou wêreld die plek maak waarin jy bly. Want baie van die dinge wat jou wêreld die plek maak wat dit is, gebeur in die spasie tussen jou ore. Jyself is die skepper en net jy kan ook die herskepper wees.

So aan die begin van 'n nuwe jaar is dit dalk nodig om jouself met so 'n vraag te konfronteer. Jy kan 'n doelbewuste besluit neem om vanjaar vir jou 'n plek te skep waar jy gelukkig sal kan wees en waar jy in vrede met die mense rondom jou sal kan leef. Net jy ken jouself regtig. Jy is uniek met 'n eie manier van dink, met unieke talente en vaardighede, met 'n unieke uitkyk op die lewe. Dit is dan ook die gereedskap in jou kassie waarmee jy jou wêreld kan inkleur en kan skep. Jy is anders as alle ander mense daarom leef jy ook in 'n wêreld wat anders lyk as ander mense s'n.

So, skep 'n wêreld en sit jou unieke stempel daarop. En leef daarin en wees gelukkig en wees 'n seën vir die mense naby aan jou. Want so is elke ander mens ook uniek. En ook besig om 'n eie wêreld te vorm met vaste oortuigings en soms vreemde idees. Hê ruimte daarvoor. Elkeen leef letterlik in sy of haar eie wêreld.

En daar waar ons wêrelde aan mekaar raak en waar daar soms oomblikke van oorvleueling is, kom ons geniet die interaksie. Bring jou uniekheid saam, maar ook jou liefde en begrip en kom ons verryk mekaar se lewens in hierdie jaar. Kom ons verbreed horisonne en kom ons dra by tot die ontplooiing van mekaar en die vind van rykdom in mekaar sodat ons saam ook kan werk aan 'n wêreld van respek en ruimte. 'n Wêreld van insig en uitsig. 'n Wêreld van hoop en van deel.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.