.

Skep en onthou ervarings

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2016

.

Baie van die groot godsdienste van die wêreld werk met 'n boek.

En hierdie boek vertel dan die verhaal van daardie godsdiens se godheid. Dit vertel van die interaksie van daardie godheid met die mens. Daar is karakters in verhale wat leef met die veronderstelling dat hulle lewe gerig word deur die ingrype van hulle goddelike, dat hulle lot bestem word en hulle handel en wandel bepaal word deur hulle goddelike. Hulle boek gee ook reëls van hoe mens moet leef om in verhouding met daardie godheid te leef, sodat jy ook iets daarvan kan ervaar. Dit vertel hoe jy die godheid se guns kan wen, om dan miskien post mortem beloon te word vir jou getrouheid.

Die verhale in hierdie boeke speel af in 'n wêreld wat ons nie ken nie en wat altyd onbereikbaar sal bly. Ons ken nie die taal, kultuur, gebruike en die wêreld agter die teks nie. Ons kan dit nie raakvat nie en nie 'n greep op die tekswêreld kry nie. Die mense wat in boekgode glo, probeer die hele tyd om die wêreld agter die teks te rekonstrueer, want die boek dra gesag, is die waarheid, goddelik geïnspireer en ewig geldend. Dit bied 'n poort na die boekgod. Jy moet net moeite doen om die teks te probeer verstaan!

Maar die verlede maak nie altyd oop nie, daar is vele donker, onverstaanbare en onkenbare dinge in die geskiedenis, daar is geen direkte toegang tot die wêreld van die boek nie. Al wat oorgebly het, is spoortjies in die sand. Tekens wat daarop dui dat mense lank gelede besonderse ervarings moes gehad het, en dat hulle dit geïnterpreteer het asof dit dan bonatuurlik of goddelik was. En nou probeer die geestelike leiers van hierdie boekgodsdienste om die verhale so oor te vertel dat hulle postmoderne gehoor ingesleep moet word in die verhaal om dieselfde ervaring te probeer beleef as wat die karakter in die verhaal gehad het, om sodoende in die huidige konteks die goddelike te kan herken en iets daarvan te beleef.

Maar die ding van 'n boek, is dat mens nooit presies 'n greep daarop kan kry nie. Die afstand tussen leser en skrywer lê wyd. Soveel te meer met 'n ou boek! Die afstand tussen nou en toe is net te groot. En verhaal en werklikheid soms net te onversoenbaar ver van mekaar verwyderd.

'n Bekende Afrikaanse skrywer, Karel Schoeman, het in sy werk Verliesfontein hierdie vlugtigheid en onvatbaarheid van die geskiedenis mooi verwoord. Hy begin met die opmerking dat die verlede soos 'n ander land is en vra dan: "Waar is die pad wat soontoe loop?" Schoeman neem dan die leser op 'n moeisame soeke na Verliesfontein. Dit was 'n dorp, 'n gehuggie tydens die Anglo-Boere-oorlog, maar niks daarvan het oorgebly nie en tog het Schoeman daarna bly soek. Hy het min of meer geweet waar dit vroeër was, maar hy kon dit nie kry nie; hy kon dit nie vind nie; dit was daar, maar tog ook nie daar nie.

En dan skielik verstaan 'n mens gister en eergister se andersheid. Dit is 'n ongekarteerde land. Niemand bereik dit ooit ten volle nie. Verliesfontein se verlede is onherroeplik verby; dit is heeltemal onmoontlik om die geskiedenis vas te vat, dit om en om te draai, dit oor en oor te bekyk. Dit is weg. Vir altyd weg. Al wat van die verlede oorbly, is vae en soms onleesbare merke, spore. Dis Verliesfontein.

Mense wat in boekgode glo en in die wêreld van die boekgod hulle antwoorde vir vandag probeer vind, tas na 'n ruimte wat sig tussen werklikheid en mite inwig en nog deel van een van die twee is. Die mite speel as't ware af binne 'n stuk realiteitsdekor, maar dit is nie realiteit nie. Dis mite. Net die dekor is regtig. Die dekor kan jy herken!

Daarom dat verskillende mense dieselfde boek kan lees en verskillende, soms teenstrydige antwoorde en leiding en rigting daaruit kan kry. Die storie trek hulle so in dat hulle dekor en verhaal een maak, dat mite en werklikheid 'n onskeibare simbiose vorm waar hulle nie die een kan los sien of dink van die ander nie. Op 'n snikhete dag sien hulle die veraf lugspieëling as 'n groot dam water aan.

Omdat mense so inkoop in hulle soeke na Verliesfontein en self deur dorre wêrelde daarheen stap, hoor hulle die stemme van medereisigers en soekers, praat hulle hulleself moed in en glo dan agterna dat hulle die stem van hulle boekgod gehoor het ... want in daardie swewende ruimte tussen mite en werklikheid is elke grashelm 'n anker en elke warrelwind 'n openbaring.

Daarom dat mense stry en debatteer en nie gehoor kry wat die boekgode oor dieselfde geslag verhoudings, oor die huwelik, oor leef en laat leef sê nie, want die ruimte tussen mite en werklikheid raak nog kant nog wal. Die teks op daardie punt in die verhaal is 'n ellips. Want dis 'n verhaal. 'n Verhaal oor die soeke na Verliesfontein.

Maar ons leef op moeder aarde hier en nou. In ons eie verhaal. 'n Verhaal wat ligjare verwyder is van die verhaal van die boekgod en sy dinge. Ons het ons eie ervarings, leef ons eie drome en bou aan ons eie verhoudings en lewe. Die stemme van ou gode is fassinerend, maar nie méér as donker sjokolade met 'n gesmelte fudge kern en goeie rooiwyn terwyl jy met vriende oor die lewe filosofeer nie.

Rekonstruksie van 'n verlore wêreld en om in en agter die karakters van lewensveranderende verhale in te klim, is magies heerlik en dit kan jou laat metamorfoseer. Ek vrek oor letterkunde en goeie stories, maar as jy klaar is met jou leesoefening, moet jy weer terugklim in jou eie wêreld, kinders kosgee, met die hond gaan stap en in jou tuin spit. Die verhaalwêreld mag nie tot so 'n mate met jou eie lewenswerklikheid oorvleuel dat jy as postmoderne mens jouself as vrywillige gevangene laat opsluit in die mitologiese ruimte van Verliesfontein nie.

Uit die verhaal kan ons aflees hoe karakters vertel van hulle belewenisse, van hoe hulle glo, van ervarings met wie hulle reken die goddelike vir hulle was. Ons kan luister na hoe hulle binne die verhaalruimte die stem gehoor het van wie hulle gedink het God in die verhaal was, maar daardie stem kan ons tog nie klakkeloos uit die verhaal laat spring om in ons wêreld te kom ageer en voorskryf nie. Dit gebeur in flieke soos Toy Story en A night at the museum, maar ons almal weet dis net 'n fliek.

Ons moet dus ons eie ervarings hê. Ons moet ons wêreld met die lig tot ons beskikking op ons eie manier verstaan en interpreteer en inrig. Ons moet ons eie waarhede vind. Leef en liefhê soos wat ons hart ons lei. Ons kan ons nie deur boekgode uit papirusrolle laat voorskryf nie. Sinodegangers is soos marionettemeesters wat boekgode laat buikspraak doen.

God se wil lê in elk geval êrens tussen die graspolle op die kliprantjie in die omgewing van Verliesfontein. Onrekonstrueerbaar. Al wat ons het, is die nou!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.