Sinrykheid in die lig van die uiteindelike bestemming van die mens

Deur Jaco Steyn op 1 Maart 2011

Hoe lewe mense sinvol?

Mense wat probleme ondervind met depressietoestande voel dikwels dat hulle niks het om voor te lewe nie en dat hulle gevolglik niks het om na uit te sien nie. Hulle voel dikwels asof hulle tydelik vergeet het om hul verbeeldings en skeppingsvermoë te gebruik om ideale te skep wat hulle kan help om lewensvreugde te ervaar. Depressie hou dikwels verband met chemiese stowwe in die brein, maar dit kan ook veroorsaak word deur mense se lewensomstandighede. Iemand wat sy ledemate verloor het as gevolg van 'n motorongeluk, kan byvoorbeeld maklik 'n depressietoestand beleef.

Mense verskaf betekenis aan hul eie lewens deur ideale te skep en die besluit te neem om daardie ideale na te volg en te verwesenlik. Iemand wat glo dat daar geen lewe na die dood is nie, kan byvoorbeeld besluit om eerstens te sorg dat die verbetering van sy/haar eie lewenskwaliteit die hoogste ideaal is om na te streef en tweedens te streef na die verbetering van sy/haar naasbestaandes se lewenskwaliteit. Indien hierdie mense ook nasionalisties of baie rasbewus is, strewe hulle daarna om die lewenskwaliteit van die nasie of ras waaraan hulle behoort, te verbeter. Hierdie manier van lewe kan betekenis verskaf aan mense vir wie dit bevredigend genoeg is om slegs vir tydelike en verganklike aardse dinge te lewe. Dit gebeur egter dikwels dat welgestelde mense uiteindelik 'n gevoel van sinneloosheid ervaar en dat hulle gevolglik begin twyfel oor die wenslikheid daarvan om selfsugtig te lewe. Baie beroemde rock-sterre word sodoende dikwels slagoffers van drank- en dwelmmisbruik.

Indien mense baie godsdienstig is, strewe hulle dikwels na die verkondiging van die Evangelie en/of deelname aan een of ander heilige oorlog teen die ongelowiges. Die lewe hier en nou op die planeet aarde (die hierNOUmaals), is vir hulle van sekondêre belang in vergelyking met die hierNAmaals. Hulle glo dat daar 'n blink toekoms is wat wag op die gelowiges in die Hemel eendag. God sal sorg dat die Goeie uiteindelik seëvier, en die ongelowiges sal (heel waarskynlik saam met die Duiwel) vir ewig verwyder word vanaf God en Sy harpspelende, gehoorsame gelowiges. Volgens hierdie toekomsverwagting kan slegs sekere van God se skepsels 'n rooskleurige toekoms te wagte wees, terwyl die res van die skepsels heel waarskynlik tot in alle ewigheid pyn en lyding sal verduur, omdat hulle saam met die Duiwel verwyder sal word vanaf hulle Skepper.

Die lotsbestemming van die mensdom

Kan mense se bespiegelings oor die lotsbestemming van die mens 'n bepalende invloed hê op hulle lewensomstandighede? Watse verband het hierdie idees met mense se verskillende godsbeskouinge? Daar is hoofsaaklik drie teorieë oor die uiteindelike lotsbestemming van alle mense:

Die geldigheid van geeneen van hierdie drie teorieë kan tans voldoende bewys word deur gebruikmaking van huidige empiriese wetenskaplike metodes nie. Kan daar egter met reg beweer word dat hierdie drie teorieë van mekaar verskil wat betref die voor- en nadele wat dit vir hul aanhangers kan inhou? Is 'n geloof noodwendig nadelig vir mense omdat die geldigheid daarvan nie voldoende bewys kan word nie, of kan mense méér sinvol lewe indien hulle sou besluit om een van hierdie drie lewensbeskouinge te verkies bo 'n ander een?

Hoe gemaak indien dit op die oog af voorkom asof daar niks is om voor te lewe nie?

Heelwat mense ondervind hul lewens as sinneloos omdat hulle vasgevang is in eentonige beroepe waarin hulle weinig belangstelling het, en waarvoor hul eertydse ywer en motivering nie meer daar is nie. Wanneer mense te veel tyd spandeer aan alledaagse dinge wat hulle as sinneloos en teenproduktief ervaar, word hul eie lewens vir hulle ook op die ou end nogal sinneloos. 'n Gepaardgaande gebrek aan lewensideale en stokperdjies, wat gewoonlik "kleur" verskaf aan baie mense se andersins "kleurlose" lewens, lei ook dikwels tot depressietoestande en dit waarna filosowe gewoonlik verwys as "nihilisme."

Sekere mense is só sieklik of gebreklik dat hulle nie meer in staat is om hul aardse lewens te geniet nie. Godsdienstige of spirituele idees oor die hiernamaals kan sulke persone help om hul laaste paar maande of dae op aarde sinvol te beleef – selfs al is daar géén empiriese wetenskaplike getuienis vir sodanige bespiegelings oor geestelike dinge nie! Godsdienstige idees kan egter skadelik wees indien dit byvoorbeeld impliseer dat ongelowiges die Ewige Verdoemenis tegemoet sal gaan, of dat gay mense geforseer behoort te word om te verander. Vir sommige mense is hulle negatiewe toestande egter so oorweldigend dat hulle hulle nie meer wil steur aan enige positiewe spirituele idees nie. Is dit moontlik om 'n gebalanseerde siening oor die hierNOUmaals én die hierNAmaals te hê?

Ortodokse godsdienste se beklemtoning van (1) 'n Persoonlike God wat gelowiges verlos, en (2) idees oor die hemel en die hel, veroorsaak indirek dat die verbetering van wêreldse omstandighede nie voorrang geniet by hierdie godsdienste nie. Waarom sal gelowiges uit hul pad gaan om te strewe na ideale toestande in die wêreld, indien hulle glo dat hulle eendag die Ewige Lewe sal beërwe na die onafwendbare beëindiging van die sondige wêreldorde deur God se ingryping? Waarom sou hulle hulself onnodig bekommer oor die bewaring van en omgee vir sekere plant- en dierespesies, indien hulle glo dat diere nie onsterflike siele het soos mense nie?

Die geloof dat daar geen lewe na die dood is nie, veroorsaak ongelukkig dikwels dat mense 'n lewe verkies wat ingestel is op tydelike materiële plesier en die najaag van mag en rykdomme. Hierdie manier van lewe maak vir hulle méér sin as 'n lewe wat ingestel is op die welvaart van vreemdes en bekommernisse oor die ekologie. Sodoende het die materialistiese superryk families geweldige skade aan die aarde aangerig deur hul jarelange obsessie met onbeperkte rykdomme en mag. Selfs sekulêre humaniste wat omgee vir die omgewing en die vooruitgang van die mensdom, moet erken dat al hul strewes en ideale uiteindelik 'n gejaag na wind is, omdat selfs die ganse heelal verganklik is.

Die lewensbeskouing waarvolgens alles in die Kosmos waardevol is omdat die Goddelike inherent deel is van alles, impliseer dat mense daarna behoort te streef om die welvaart van andere in ag te neem. Indien iemand byvoorbeeld glo dat selfs 'n spinnekop inherent Goddelik is, sal hulle twee keer dink voordat hulle onnodige geweld gebruik teenoor enige vreemde lewende wese. Die welvaart van ander plante en diere moet dus ook in ag geneem word, met die gevolg dat die strewe na 'n beter wêreld vir almal, onafskeidbaar deel is van hierdie lewensbeskouing. Indien iemand die Goddelike in alles raaksien, sal sodanige persoon noodwendig strewe na 'n beter wêreld en lewenskwaliteit vir al die inwoners van die aarde.

Wat is die hoogste ideaal denkbaar waarna mense kan strewe?

Iemand wat ontken dat daar 'n gedeelde, inherente Goddelike "iets" is wat in alles teenwoordig kan wees, moet noodwendig ook ontken dat uiteindelike eenwording met die Goddelike moontlik is. Sodanige persone glo dikwels dat die lewe basies 'n sinnelose stryd is omdat die sterker of "slimmer" mens/dier/spesie gewoonlik seëvier. Daar sal gevolglik nooit voldoende versoening wees tussen lewende wesens nie en daar sal altyd 'n vyand wees wat gehaat behoort te word en teen wie geveg moet word. Volgens hierdie big fish eat little fish lewensfilosofie sal daar altyd 'n groter iets wees wat 'n kleiner iets opvreet en die twee lewende wesens kan ook maar daarvan vergeet om d.m.v. toekomstige lewens met mekaar versoen te word.

Uiteindelike eenwording met die Goddelike kan as die hoogste ideaal denkbaar beskou word. Wanneer hierdie ideaal vergelyk word met beide die "Hemel en Hel" van godsdienstiges en die "uiteindelike terugkeer tot niks" van die materialiste, is dit duidelik dat hierdie "mistieke eenwording"-ideaal die potensiaal het om die mééste sin te verskaf aan mense. Die strewe na 'n beter wêreld en lewenskwaliteit vir alle lewende wesens, is onafskeidbaar deel van hierdie lewensbeskouing.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za