‘n Sin vir heiligheid in die daaglikse lewe

Deur Dr. Piet Muller op 1 Januarie 2011

Die Thomas-evangelie in aksie

Dit is amper ironies dat die Westerse wêreld reeds grootliks gesekulariseer is, maar dat die lewensverwagting tot so 'n mate gestyg het, dat daar naarstig gesoek word na 'n spiritualiteit wat sin aan ons daaglikse bestaan kan gee. 'n Aansienlike persentasie van die 'Baby Boomers' wat tans op aftrede staan, kan verwag om ouer as 100 te word. 'n Mens se aftreejare kan selfs langer wees as jou werksjare.

Waar die sielkundige, Carl Jung, 35 as die begin van die middeljare beskou het, beskou gemiddelde mense in die Eerste Wêreld hulself 'middeljarig' tot diep in hul sewentigs. Terselfdertyd begin 'n mens bewus raak van 'n groter wordende verskil in die spirituele behoeftes van jonger en ouer mense.

Volgens Carl Jung beland meer en meer mense volkome onvoorbereid in die tweede deel van hul lewe. "Ons betree die tweede helfte van ons lewe (dikwels) met die valse aanname dat ons waardes en ideale ons net soos voorheen sal bly dien. Maar 'n mens kan nie die middag van jou lewe deurbring volgens die program van die lewe se oggend nie – want wat groot was in die oggend sal klein wees in die middag en wat in die oggend waar was sal in die middag 'n leuen wees".

Daar is 'n groot verskil tussen 'oggend-spiritualiteit' en 'middag-spiritualiteit'. Middag-spiritualiteit is meer introspektief en kontemplatief en herinner sterk aan die inwydingsweg wat aan die begin van ons jaartelling by alle godsdienste, selfs die vroeë Christendom, die normale manier van doen was. Dit is 'n spiritualiteit waarvan die Westerse Christendom grootliks vergeet het. Die Westerse mens kry hierdie soort spiritualiteit vandag feitlik net in die dieptesielkunde van Jung of in die Boeddhisme.

Wanneer ek van 'spiritualiteit' praat bedoel ek daarmee 'n poging om 'n sin vir 'heiligheid' of 'numinositeit' in ons daaglikse lewe te ervaar. 'n Mens kan selfs ook van 'n sekulêre spiritualiteit praat, omdat 'n mens nie in die normale sin van die word 'godsdienstig' hoef te wees om spiritueel te wees nie – so het Socrates en Marcus Aurelius al bewys.

Om hierdie soort spiritualiteit te vind moet 'n mens vandag 2000 jaar terug reik, na 'n tyd toe mistagoë en inwydingsmeesters nog postulante veilig deur 'n reeks inwydings kon lei, waartydens hulle kon kennis maak met hul 'ware Self' en tot innerlike heelheid kon groei. Die simbool van hierdie pad was die labirint.

Die Westerse kerk het uiteindelik gekies vir 'n ander pad, wat na vroomheid lei en grootliks vergeet van die innerlike reis. Daarom dat die ontdekking van die Nag Hammadi-biblioteek in 1945 so 'n opskudding veroorsaak het. Dit het ' n skat aan inligting bevat oor die 'innerlike reis' en 'n middag-spiritualiteit wat uit Jerusalem se oer-christendom spruit en tog ideaal geskik is vir ons tyd. Die kernwaarheid hiervan is dat niemand God kan ken tensy hy homself leer ken nie.

Die Evangelie van Thomas, sekerlik die belangrikste werk in daardie versameling, stel dit duidelik: "As julle julself ken sal julle geken word en julle sal weet dat julle die kinders van die lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie, sal julle in (geestelike) armoede lewe en julle self sal die armoede wees." (Vers 30.)

Die Evangelie van Thomas is in verskeie opsigte 'n unieke fonds. Prof. Gilles Quispel, die Nederlandse geleerde wat hierdie teks geïdentifiseer en aan die wêreld bekend gestel het – en die grootste deel van sy lewe aan die studie daarvan gewy het – reken dat die oudste laag van hierdie evangelie ongeveer die jaar 40 sy ontstaan onder die Jerusalemse gemeente gehad het (Het Evangelie van Thomas, A'dam, 2005). Nadat die gemeente ongeveer die jaar 63, kort na die martelaarsdood van die apostel Jakobus, na Pella, in Trans-Jordanië en daarna na Edessa (vandag Urfa) gevlug het, is 'n tweede laag bygevoeg. 'n Derde laag is ongeveer teen die eeuwending in Alexandrië bygevoeg, waarin hoofsaaklik spreuke wat uit die Palestynse platteland spruit heromskryf is om aan te pas by die behoeftes van die grootstad.

Nie alleen bevat dit 'n groot aantal onbekende spreuke van Jesus nie, maar die spreuke wat wel ooreenkom met spreuke wat in die vier bybelse evangelies voorkom, is in die meeste gevalle aantoonbaar ouer as die Quelle-versameling, waarop die sinoptiese evangelies berus. Boonop bied dit 'n unieke blik op wat en hoe die Judese christene geglo het, voordat die christendom gehelleniseer is. Die vier bybelse evangelies is bv. almal 'heiden-christelik' (Quispel, op.cit) en kom uit die sendinggebied van Paulus.

Dit moet 'n besonder gewilde evangelie gewees het, want verwysings daarna is volop in ander literatuur. Hoewel dit in die tyd van Augustinus al 'n "ketterse" evangelie was, haal hierdie groot kerkvader nog dikwels daaruit aan wanneer hy uit die vuis uit preek en sy preke deur iemand anders neergeskryf word (Quispel, op.cit). Toe die Portugese ontdekkingsreisigers in die vyftiende eeu in Kerala, in Indië aankom, was dit nog steeds 'n geliefde evangelie onder die Indiese ('Thomas'-) christene. Dit is ook eeue lank na die Sinode van Nicea nog gebruik in die Oos-Siriese en Armeense kerke.

Die Jesus van die Thomas-evangelie klink baie meer soos die Jesus van die historiese Jesus-ondersoek, as die Jesus van die bybelse evangelies: hy is duidelik die leier van 'n beweging van armes en grondloses en beloof geen hemelse belonging in die hiernamaals nie, maar wil die Koninkryk van die Vader hier op aarde tot stand bring. 'n Koninkryk waarin die daaglikse lewe moreel anders sal wees as in die ekonomies-uitbuitende Romeinse Ryk: "As julle onderwysers vir julle vertel die Koninkryk is in die hemel, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê: 'Dit is in die see', dan sal die visse voor julle daar wees. Maar die koninkryk is in julle en rondom julle..." (Vers 3, eerste gedeelte.)

Elders sê hy: "Die koms van die Koninkryk is nie vir eendag nie. Julle sal nie sê: 'Kyk, hier is dit', of 'Kyk, daar is dit' nie. Nee die Koninkryk lê al uitgesprei oor die aarde, maar julle sien dit nie." (Vers 113.)

Dit is 'n koninkryk wat 'n mens dadelik kan binnegaan as jy deernisvol en met liefde omgaan met jou naaste. Maar dan is die teenoorgestelde ook waar: As jy jou naaste haat en sleg behandel is jy reeds in die 'hel'. Om hierdie insig te kan verstaan moet 'n mens egter jouself ken en reeds 'n 'eenling' wees, iemand wat die twee een (ge-)maak (het) en "die binnekant soos die buitekant en die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant en die onderkant soos die bokant; ... as julle die liggaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand; en as jy van jou loopbaan 'n lewensweg maak en jou uiterlike voorkoms vervang met die beeld van God in jou siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan." (Vers 22.)

Om 'n 'eenling' te word is ons lewenshuiswerk en sonder grondige selfkennis sal 'n mens nie daarby uitkom nie: "Laat hy wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie, en as hy gevind het sal hy geskok word en as hy geskok is, sal hy hom verwonder en as koning oor die Al heers en rus vind." (Vers 2.)

Hoekom die soeker geskok sal word, vind 'n mens uit in Vers 4: "Die bejaarde sal nie skroom om 'n kind van sewe dae oud te vra waar die plek van die lewe is nie, en hy sal lewe..."

In die Judese konteks beteken 'n kind van sewe dae oud 'n kind wat nog nie besny is nie en dus nog nie belas is met die kulturele inhoud wat saam met so ritueel gaan nie. Met sy besnydenis word 'n kind deel van die Joodse kultuur, met al sy moets en moenies. Hy erf as't ware 'n hele kultuur, vyande en al. Om soos 'n kind die koninkryk binne te gaan beteken dan ook om eers afstand te doen van al jou geestelike 'bagasie' en jou aangeleerde 'beginsels' en met nuwe oë na Jesus en sy leer te kyk. 'n Mens kan nie 'n 'eenling' word as jy nog nie jou eie morele kompas gevind het nie. Daarvoor moet 'n mens jou eie kultuur se waardes deeglik ondersoek en jou eie standpunt daaroor inneem. Oorgelewerde sienings en aangeleerde vroomheid sal jou min baat op jou innerlike reis – soos wat talle Afrikaners ook oor apartheid agtergekom het!

Dit is juis hierdie reis waarvan die Weste feitlik vergeet het. Die laaste groot werk oor hierdie reis, was Dante se Divina Comedia, 'n reis wat begin toe die skrywer in die "middel van sy lewe" in 'n digte bos (die simbool van die onbewuste) verdwaal. Dit is iets wat selfs in ons eeu sielkundig nog daagliks gebeur – maar vir leiding soek niemand meer die kerk op nie, maar eerder 'n sielkundige. Tog is die 'middeljarekrisis' ten diepste 'n spirituele krisis.

In die Outyd was daar dikwels twee spirale op die mure of drempelsteen van tempels. Die een spiraal het van binne af buite toe oopgemaak en verteenwoordig 'n mens se lewensloop van jou geboorte af tot jou volwassenheid. Die tweede spiraal maak van buite af na binne toe en simboliseer die innerlike reis wat 'n mens in die tweede helfte van jou lewe moet aflê. Hierdie reis van selfontdekking is die belangrikste taak in 'n mens se volwasse jare.

Dat hierdie reis vir die hedendaagse mens steeds van groot belang is, word ge-illustreer deur hierdie tekening van 'n droom wat 'n plattelandse dominee gehad het. Dit toon dieselfde twee spirale wat sedert die vroegste tye aan die mens bekend is – maar nou is daar ook 'n derde spiraal aan die ontwikkel; 'n spiraal wat sê hoe lank ons moderne lewensverwagting ook al is, ons is verplig om geestelik aan te hou ontwikkel tot ons die dag sterf, en dat dit "iets met God te doen het."

In die Oudheid is hierdie reis dikwels in mites en legendes uitgebeeld, soos in die mite van Theseus en die Minotaurus:

Twee broers het meegeding om die troon van hul pa, die koning van Kreta. Die seegod, Poseidon, het die een broer, Minos, se kant gekies en hy het gewen. Om die besondere verhouding tussen hulle te verseël het Poseidon aan Minos 'n manjifieke wit bul gegee om tot sy eer te offer. Maar toe Minos die dier sien, het hy gedoen wat enige vooruitstrewende boer sal doen: besluit om so 'n manjifieke dier eerder op stoet te sit, en gevolglik 'n ander in sy plek te offer. Hiervoor het Poseidon vir Minos gestraf deur die koningin by haar venster te laat uitkyk en hopeloos versot te raak op die wit bul. Uit hierdie verhouding is die Minotaurus gebore, half mens, half bees; wat onophoudelik gebulk en 'n drang na mensvleis gehad het. Om hom weg te steek is 'n labirint gebou waaruit dit onmoontlik was om te ontsnap.

Omdat Athena onderhorig was aan Kreta, moes hulle jaarliks 'n aantal seuns en dogters stuur om aan die Minotaurus geoffer te word ... totdat daar later geen kinders meer oor was nie, behalwe die koning se dogter, Ariadne. Net toe sy aan boord van die treurskip moes gaan, het die held, Theseus, in Athene aangekom. Na al sy heldedade op pad, het hy nie 'n oomblik gehuiwer om aan te bied om self in die plek van Ariadne te vertrek nie.

Sy het hom egter gewaarsku dat as hy eers eenmaal in die labirint is, hy nie weer sonder hulp daar sal uitkom nie. Sy het hom drie simboliese geskenke gegee: 'n bal wol, wat hy buite moes vasbind en afrol soos wat hy die labirint binnestap. Net so het ons almal 'n "riglyn" nodig om veilig deur die winding van ons eie siel te reis.

Ariadne se tweede geskenk aan Theseus was 'n swaard, die simbool van manlike logika; daarby het sy haar eie kroon gevoeg, wat glim in die donker en die simbool is van vroulike intuïsie. Hierdie geskenke illustreer dat die mense van die Outyd iets geweet het wat die mens van die 21ste eeu grootliks vergeet het: Dat om 'heel' te wees moet 'n mens jou teenoorgesteldes met mekaar versoen – logika en intuïsie; ons manlike kante en ons vroulike kante. Dit is hoe 'n mens 'n 'eenling' te word, soos die Thomas-evangelie dit stel.

Daar is 'n drieduisend jaar oue rotstekening in die Camonica-vallei in Italië wat vertel presies wat 'n mens sien as jy in die labirint van aangesig tot aangesig teenoor die Minotaurus te staan kom – jy sien jou self; jou eie donker kante wat jy nie alleen vir ander probeer wegsteek nie, maar ook vir jouself. In Vers 7 van die Thomas-evangelie sê Jesus: "Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word; vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word."

Hierdie vers was duidelik bedoel om soos 'n Zen-koan lank in die kop rondgerol te word, totdat die onbewuste uiteindelik sy eie antwoord gee. Dan word dit uiteindelik duidelik dat die 'leeu' niks anders is as die skadukante van die ego nie. Wanneer die ego ondergeskik gestel word aan die Self word dit "'n mens", maar as die ego jou oorwin word dit 'n heeltemal ego-gedrewe mens.

Paulus het in Romeine 7:14-24 self ook oor hierdie tema geskryf. "Wat hy sy vlees noem, of die wet van die sonde wat in hom is, sal ons vandag ego noem. Dit definieer die probleem eerder as selfsugtigheid en nie begeertes nie. Eeue lank het goed-bedoelende askete hul begeertes probeer kruisig, omdat hulle gedink het hulle begeertes is die vlees wat hulle verlei." (Alfred Nolam, Jesus Today, l, p. 107.)

'n Mens se middeljare is by uitstek die tyd wanneer die stryd teen die ego aangeknoop word. Dikwels word dit aan die gang gesit deur 'n krisis van die een of ander aard: 'n krisis in jou werk, jou geldsake, jou verhouding of jou gesondheid. Dit is 'n krisis wat jou konfronteer met jou eie sterflikheid, jou seksualiteit, die verborge skaduwees van jou siel en selfs met die sin van jou lewe. Dit is dan dat 'n mens agterkom dat die waardes waarmee jy tot nou toe gelewe het, jou nie langer ondersteun en voed nie – dan is jy midde in 'n spirituele krisis.

Dikwels is dit juis hierdie krisis wat aanleiding gee tot die innerlike reis van jou ryper jare. Sonder hierdie innerlike pelgrimstog kan daar geen spirituele groei wees nie, dan lewe 'n mens 'n 'onegte' lewe, nie in staat om antwoorde te vind op die pynlike lewensvrae waarmee jy worstel nie. Dan is jy 'die armoede' waarvan die Evangelie van Thomas praat.

Die soort spiritualiteit waarvan Thomas skryf kan vergelyk word met die alchemis se soeke na die 'steen van wysheid' of die 'filosowesteen'. 'n Mens plaas eers die donker dele van jou lewe, die massa confusa, in 'n retort en maak vuur daaronder. Hoe warmer dit word hoe onaangenamer lyk hierdie swart negredo wat te voorskyn kom. Dit is net nie moontlik om op 'n innerlike reis te gaan sonder om in aanraking te kom met onaangename aspekte van jouself waarvan jy liefs wil vergeet nie. Maar as 'n mens volhard kry die negredo uiteindelik 'n rooi kleur en word die rubedo. Gee nog meer hitte en die rubedo verander in 'n wit albedo, waaruit die steen van wysheid uiteindelik kristalliseer.

Om die steen van wysheid in ons self te laat kristalliseer is ons elkeen se magnum opus, ons eie groot lewenswerk. Die Thomas-evangelie maak dit baie duidelik dat skielike "bekerings" van min waarde is, in vergelyking met die geleidelike geestelike groei op "die pad van heiligmaking."

Die bybel is vol verhale van mense met groot donkerkante, maar wat uiteindelik tog daarin slaag om die onedele metaal van hul onbewuste te verander in spirituele goud. Jakob was byvoorbeeld 'n gebore konkelaar, totdat hy met die engel gestoei en 'n verkreupelende wond opgedoen het, Dit was die oomblik van sy metanoia, wat hom op die innerlike reis geplaas het. Selfs sy naam verander dan van "Hakskeengryper" na Israel.

Moses het 'n opvlieënde geaardheid gehad en in 'n oomblik van woede moord gepleeg en moes vir sy lewe vlug. Hy het jare in die woestyn deurgebring met skape oppas ('n ou metafoor vir die innerlike reis) totdat hy sy skadukant met sy volwasse persoonlikheid geïntegreer het. Sy slegste eienskap het uiteindelik die dryfkrag geword wat van hom 'n buitengewone leier gemaak het.

Nadat 'n mens jou skaduwee in die oë gekyk het, bly daar nog 'n taak oor voordat 'n mens spirituele heelheid kan bereik: om jou manlike en vroulike eienskappe met mekaar te harmonieer. Ondanks die sosiale rolle wat ons speel, is ons nie slegs 'manlik' of slegs 'vroulik' nie. Psigies is ons androgeen en vorm die Anima (vroulike kant) en die Animus (manlike kant) 'n zyzygy, soos die vroeë christene dit gedoem het – 'n kreatiewe konflik – en moet die twee aspekte by mekaar uitgebring word om spirituele heelheid te bereik.

Die meeste sprokies eindig met 'n huwelik tussen die prins en die prinses, "en hulle het vir altyd gelukkig saam gewoon." Die huwelik waarvan hier sprake is, is die hieros gamos, die heilige huwelik tussen 'n mens se eie manlike en vroulike aspekte.

In die Evangelie van Thomas sien Jesus babatjies wat gevoed word en hy sê: "Hierdie babatjies is soos hulle wat die Koninkryk binnegaan."

Hulle vra toe: "Moet ons dan die Koninkryk soos babatjies binnegaan?"

Jesus sê vir hulle: "As julle die twee een maak ... as julle die manlike en die vroulike een maak, sodat die manlike nie meer manlike en die vroulike nie meer vroulik is nie ... dan sal julle die Koninkryk ingaan." (Vers 22.)

Hoewel die christelike ortodoksie hom geleidelik gedistansieer het van mistiek, "esoterika" of enigiets wat na 'gnosis' ruik, is die innerlike weg nog tot diep in die Middeleeue onthou. Die dertiende eeuse katedraal van Chartres het 'n manjifieke labirint op sy vloer, wat gebruik is vir simboliese pelgrimstogte na die 'Nuwe Jerusalem', in die middel van die labirint – waar die simbool van die roos die ontluikte menslike psige simboliseer.

Al die groot godsdienste van die wêreld ken nog die innerlike reis en die spirituele soektog, en het steeds strukture waarmee diegene 'op reis' ondersteun kan word. Ongelukkig het die Westerse Christendom grootliks hiervan vergeet en sy verantwoordelikheid afgestaan aan die Sielkunde. Pleks van inisiasie, selfkennis, innerlike groei en die heelheid wat daarmee saamgaan, bied die kerk belydenis en absolusie – of anders 'n belofte van "redding deur genade", maar sonder enige innerlike 'lewenshuiswerk'.

'n Mens kan die innerlike reis probeer vermy en die woelinge in jou gees probeer besweer met uiterlike vroomheid en 'geloof', maar die prys wat 'n mens daarvoor betaal is 'n verlies aan sielsgroei, wat uiteindelik ook in jou uiterlike lewe sigbaar sal word.

Die innerlike reis vereis 'n kinosis, 'n ontlediging, van wat die groot twintigste eeuse monnik, Thomas Merton, op 'n keer die "valse self" genoem het; die ego-persoonlikheid wat van jou geboorte af vorm deur die terugvoer wat jy van jou omgewing af kry. Hierdie kinosis is wat Jesus bedoel wanneer hy sê dat 'n mens soos 'n kind die Koninkryk moet binne gaan. In Vers 4 verduidelik hy "Die bejaarde sal is nie huiwer om die kind van sewe dae oud te vra na die plek van die lewe nie en hy sal lewe. Want baie eerstes sal die laaste wees en baie laastes eerste. En hulle sal eenlinge word."

Soos reeds genoem – 'n Joodse seuntjie moes op die agste dag besny word. Met sy besnydenis word 'n kind deel van die Joodse kultuur, met al sy moets en moenies. Hy erf as't ware 'n hele kultuur, vyande en al. Om soos 'n kind die koninkryk binne te gaan beteken dan ook om eers afstand te doen van al jou geestelike 'bagasie' en jou aangeleerde 'beginsels' en met nuwe oë na Jesus en sy leer te kyk. Boonop sal jou aangeleerde vroomheid jou min baat op hierdie reis.

Op die innerlike reis gebeur hierdie ontleding van die 'valse self' sonder dat 'n mens daarvan bewus is, of vir jou geestelike mylpale kan stel wat jy moet bereik. In Thomas vertel Jesus 'n pragtige gelykenis hieroor:

"Die Koninkryk van die Vader is soos 'n vrou wat 'n kruik vol meel op haar skouer getel het. En op die lang pad wat sy moes loop het die handvatsel afgebreek [vergelyk die 'wond' wat Jakob tydens sy stoeiery opgedoen het] en die meel het begin uitstroom. Omdat sy nie daarvan geweet het nie, het dit haar ook nie ontstel nie. Toe sy by die huis kom, het sy die kruik op die grond neergesit en agtergekom dit is leeg." (Vers 97.)

As 'n mens die innerlike pelgrimsreis voltooi, ondanks die ongemak en die talle hindernisse op pad, dan word jou lewe gevul met 'n numineuse kwaliteit. Dan vind 'n mens 'n sin vir heiligheid in die klein alledaagse dingetjies: In die was van jou skottelgoed, die voer van die kat, of die regpak van 'n kas. Selfs deur in 'n hospis te sit en die hand van 'n sterwende geliefde vas te hou.

Soos Jesus dit in die Thomas-evangelie stel (Vers 77): "Kap hout, ek is daar; tel 'n klip op en jy sal my vind."

Dr. Piet Muller, e-pos

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za