.

Semiotika en Biosemiotika

Deur Johan Nel op 1 Julie 2014

.

Wat is semiotika?

Semiotika kan kortliks gedefinieer word as 'n studie van tekens. Tekens verwys hier na die wydste moontlike toespassing van die begrip teken. Sommige lesers sal dalk die term 'sein' bo die term 'teken' verkies. (Gaan die linguistiek van die Engelse 'sign', 'signal' en 'token' na. Linguistiek word ook beskou as 'n onderafdeling van semiotika).

Alle tekens het 'n boodskap. Dit maak nie saak of dit 'n visuele, klank, tas, reuk of emosionele teken is nie. As die teken herken en begryp word, het dit 'n boodskap. Alles wat ons sintuie waarneem is tekens.

Die studieveld van semiotika sluit alle aspekte van tekens in:

  1. Die skepper of oorsprong van die die teken
  2. Die boodskap van die teken
  3. Verskillende ontvangers se reaksie teenoor die teken
  4. Die invloed van tydsverloop op tekens
  5. Enigiets wat moontlik iets met tekens te doen mag hê.

Kom ons kyk na voorbeelde van semiotika in aksie.

Taal bestaan uit verskillende klanke of tekens. Die menslike larinks is in staat om 'n oorvloed klanke voort te bring. Elke afsonderlike klank is 'n teken. Die samevoeging van klanke verbeter hulle vermoë om as tekens te funksioneer. Dit is wat 'n taal is. Die samevoeging van klanke stel 'n taal in staat om voorwerpe te identifiseer, handelinge te beskryf en ook om emosies en ander abstrakte begrippe te omskryf.

Tekens wat spesifieke klanke aandui, is weer verantwoordelik vir die geskrewe taal. Die tekens wat u hier waarneem, "hoor u as klanke in u brein". Alle alfabette bestaan slegs uit tekens wat sekere klanke simboliseer.

Daar is baie ander tekens wat weer ander seine uitstuur. Inligting word in die vorm van tekens gestoor en tekens word ook gebruik om inligting te ontsluit.

Watter beelde ontsluit 'n swastika? Hitler, die Tweede Wêreldoorlog, Nazi wreedhede ens. Snaaks, in teenstelling hiermee, word die opkomende son, as simbool van Japan, vandag selde met die Tweede Wêreldoorlog of wreedhede tydens hierdie oorlog geassosieer. Het die vorm van die swastika dalk iets hiermee te doen?

Dink ook aan ons onlangse geskiedenis van die Springbok embleem wat amper vir rugby verlore was. Dit het verskillende reaksies by verskillende bevolkingsgroepe uitgelok. Hierdie reaksies het afgehang van die tipe inligting wat die embleem in hulle geheues ontsluit het.

Landsvlae, volksliedere, handelsname en ook die kentekens wat met handelsname geassosieer word, is verdere voorbeelde van die semiotiese invloede.

Semiotiese beginsels speel 'n belangrike rol in die moderne advertensiewese.

Is die begrippe soos etiek, moraliteit, dogmatiek, indoktrinasie ens. nie maar net toegepaste semiotika nie?

Ook die kultuurverskille tussen verskillende kulture berus op semiotika. Verskillende kulture gebruik verskillende simbole vir identiese begrippe. Die omgekeerde is ook waar, verskillende gemeenskappe kan identiese tekens verskillend vertolk.

Semiotika kan dus as volg opgesom word: 'n Teken word deur 'n sender gevorm en word op verskillende maniere versend en gestoor. Die geskrewe woord byvoorbeeld word net versend as iemand dit lees maar word in boeke gestoor. Die waarnemer van die teken, is die ontvanger. As die ontvanger op die teken reageer, het die teken 'n boodskap gehad. Die ontvanger kan of altyd op die teken reageer of 'n vrye keuse hê oor hoe daar gereageer gaan word. Die reaksie gaan afhang van hoe die ontvanger geprogrammeer is.

Wat is biosemiotika?

Tekens en hulle boodskappe het 'n rol in alle wetenskappe. Dit is ook die geval met biologiese wetenskappe. Psigiaters kry te doen met tekens wat die brein waarneem, wat nie deur die sintuie opgetel is nie. Hierdie verskynsel staan bekend as hallusinasies. Dit is dan ook 'n psigiater wat die term biosemiotika geskep het. Die term verwys na tekens wat lewe beheer en met lewe te doen het.

(Daar is ook 'n term "zoosemiotics" wat verwys na die studie van tekens in die diereryk. Biosemiotika is 'n wyer studieveld en sluit in alle tekens wat met lewe te doen het).

'n Baie belangrike bron van biologiese tekens is die DNA molekuul. Dit bevat die genetiese kode (genetiese alfabet).

Crick en Watson het hierdie alfabet "gedeeltelik" ontsyfer. Ons het die alfabet maar is ons die genetiese taal magtig? Daar is nog steeds aspekte wat nie heeltemal verklaar kan word volgens die manier waarop ons hierdie alfabet lees nie. Die volgende is sommige van hierdie aspekte:

  1. Differensiasie van stamselle in verskillende tipes weefsel
  2. Verskille tussen meiose en mitose
  3. Waarom sekere selle hulle vermoë om mitose te ondergaan verloor. Neutrofiele besit eienskappe wat sterk aan amoebas herinner maar het die vermoë om mitose te ondergaan verloor
  4. Die meganismes waarvolgens epigenetiese faktore lewe beïnvloed.

Richard Dawkins gebruik die voorbeeld van 'n koekresep, in een van sy boeke, om te probeer verduidelik hoe 'n bevrugte eiersel in 'n indiwidu ontwikkel. Die resep is die inligting wat in DNA gestoor is en dit bepaal die bestanddele en die stappe wat gevolg gaan word om die uiteindelike produk ('n meersellige indiwidu) te verkry. Die probleem wat hy egter nie op ingegaan het nie, is die feit dat die inligting en die bestanddele vermeng is. Die resep se tekens word nie deur 'n derde party gelees nie, maar beïnvloed die bestanddele direk. Elke krummeltjie van die koek bevat die volledige resep wat dit in staat stel om meer krummeltjies te vorm. Dit is die geval met veral die eerste krummeltjies wat vorm. Elkeen van hierdie eerste krummeltjies is in staat om te verdeel en meer krummeltjies te vorm. Dan gebeur daar egter iets. Krummeltjies aan die oppervlakte van die vormende koek verander skielik. Hulle verloor die vermoë om meer koekkrumeltjies te vorm maar vorm nou versiersuikerklontjies. Die versiersuikerklontjies kan nie verdeel nie en word net gevorm deur die veranderde koekkrummeltjies. Dit terwyl elke suikerklontjie dieselfde resep bevat wat in die oorspronklike koekkrummeltjie aanwesig was. Wat veroorsaak die verskille van hoe die resep in verskillende dele verskillend vertolk word?

Epigenetika verteenwoordig die eksterne faktore wat 'n invloed op die eindproduk gaan hê. In Dawkins se resep sou dit die volgende insluit: Die gehalte van die bestanddele, onvoorsiene gebeure soos 'n foutiewe oond, kragonderbrekings, bestanddele van 'n swak gehalte en 'n skaarste aan sekere bestanddele. Al hierdie faktore gaan die eindresultaat beïnvloed.

Bogenoemde relaas was 'n poging om sel-differensiasie en epigenetika op 'n eenvoudige wyse te verduidelik.

Nog 'n voorbeeld van epigenetika is identiese tweelinge. Veronderstel hulle word kort na geboorte geskei en in verskillende kulture opgevoed. Epigenetiese faktore sal hulle ten spyte van hulle identiese DNA, in verskillende persoonlikhede laat ontwikkel.

Biosemiotika ondersoek onder andere die tekens wat bepaal hoe biochemiese reaksies gaan plaasvind. Watter tekens laat eensellige bevrugte eierselle in meersellige organismes ontwikkel?

Watter tekens laat selle differensieer in verskillende tipes weefsels? Hoe differensieer die epidermale laag van 'n embrio in beide vel en senuwee selle? Watter tekens bepaal hoe die ontwikkelende indiwidu deur eksterne faktore beïnvloed gaan word? Is daar epigenetiese tekens wat biochemiese reaksies beïnvloed? Hoe verder die biologiese wetenskappe ontwikkel, hoe meer word na hierdie tekens op molekulêre en chemiese vlakke gesoek. Dit is ook belangrik om te onthou dat biochemie op ensieme berus. Elke biochemiese reaksie is net moontlik as 'n spesifieke ensiem aanwesig is om hierdie reaksie te kataliseer.

Een van die meer belangrike baanbrekers in biosemiotika is na my mening, Jesper Hoffmeyer. Hy is tans afgetree maar hy was professor in biochemie aan die Universiteit van Kopenhagen. Sy belangstelling in biosemiotika het ontstaan terwyl hy 'n navorser en dosent, verbonde aan bogenoemde instelling, was. As ek sy artikels lees, kry ek altyd die indruk dat epigenetika 'n rol gespeel het om sy belangstelling in semiotika te prikkel.

Uit 'n semiotiese oogpunt kommunikeer alles in die natuur en alles wat ons waarneem d.m.v. tekens. Hoe meer ons van hierdie tekens te wete kom, hoe beter sal ons die wêreld waarin ons leef verstaan.

Volgens biosemiotika is daar 'n konstante intrasellulêre, intersellulêre (in meersellige organismes) en eksterne (met die omgewing) kommunikasie in alle lewende organismes. Hierdie kommunikasies geskied d.m.v. tekens. DNA is een van die bronne van hierdie tekens.

Hoffmeyer het al in 1991 bespiegel oor die moontlikheid van ander tekens wat DNA en die manier waarop die genetiese taal tot uiting kom, mag beïnvloed. Twee artikels waarvan hy mede-outeur was, het in 1991 verskyn.

Hy argumenteer ten gunste van die toepassing van semiotiese beginsels op biologiese stelsels. Hy beskou dit as iets soortgelyk aan 'n taal.

Albei bg. artikels is beskikbaar op die Internet –
www.nbi.dk/~emmeche/cePubl/91a.frolan.html en
www.nbi.dk/~emmeche/coPubl/91.JHCE/codedual.html

Iemand wat 'n beter begrip van biosemiotika wil hê, word sterk aangeraai om bg. artikels te lees.

Onlangse navorsing begin aantoon dat DNA waarskynlik self 'n dubbele funksie het.

Die volgende artikels is ongelukkig deur kopiereg beskerm en net opsommings (abstracts) van die artikels is op die Internet beskikbaar:

Philos Trans A Math Phys Eng Sci. 2012 Jun 28;370(1969):2960-86. doi: 10.1098/rsta.2011.0231.
DNA information: from digital code to analogue structure.
Travers A, Muskhelishvili G, Thompson JM.
www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/22615471

Cellular and Molecular Life Sciences
December 2013, Volume 70, Issue 23, pp 4555-4567
Integration of syntactic and semantic properties of the DNA code reveals chromosomes as thermodynamic machines converting energy into information.
Georgi Muskhelishvili, Andrew Travers
http://link.springer.com/article/10.1007/s00018-013-1394-1

Die moontlikheid dat DNA nie net 'n digitale maar ook analoë deel het, skep dus 'n meganisme waardeur epigenetiese tekens DNA se boodskap kan wysig sonder om die kode te verander. Dit is soos om die volgorde van skyfies in 'n skyfie projeksie te verander, of om die volgorde van die bladsye in 'n politikus se voorbereide toespraak te verander. Al die inligting is nog daar, dit word net anders weergegee. Die analoë deel van die DNA bepaal watter gene toegelaat gaan word om geaktiveer te word, vir hoe lank hulle geaktiveer gaan word en in watter volgorde. Hierdie besluite kan beïnvloed word deur tekens soos die ophoping van skadelike stowwe ens. wat dan die aktivering van ander dele van DNA program noodsaak.

Waarom my belangstelling in semiotika?

  1. Dit help om my self, ander en die omgewing beter te verstaan en te waardeer. Op watter tekens reageer ek en hoekom? Ek het 'n vrye keuse hoe ek teen sekere tekens gaan reageer. Waarom reageer ander persone anders as wat ek verwag?
  2. Dit maak my ook bewus van die misterie of raaisels wat die heelal inhou en van hoe min ons weet. Ons ken sommige van die tekens en noem dit natuurwette.
  3. Die skep van tekens vereis 'n energiebron.
  4. Is energie 'n samestelling van tekens? As energie van een vorm na 'n ander verander kan energie arbeid verrig. Dit het dan 'n teken uitgestuur wat iets in die ontvanger laat gebeur. Hierdie reaksie in die ontvanger staan in fisika bekend as arbeid. As 'n sisteem nie meer in staat om energietekens uit te stuur nie, is entropie in die sisteem aanwesig.

Is energie deel van 'n goeie kommunikasiesisteem?
Die volgende is 'n voorbeeld van 'n goeie kommunikasie sisteem:

Sender > teken > ontvanger > boodskap > sender > teken > ontvanger > boodskap ...

In bg. voorbeeld gaan daar egter uiteindelik entropie intree en die kommunikasie gaan stop. Die sisteem is net volhoubaar as die oorspronklike sender of skepper van die oorspronklike boodskap, nuwe tekens kan skep. Dit is net moontlik solank die sisteem energie van vorm na ander vorm kan verander.

Wie is die of wie was eerste sender van 'n teken in bg. sisteem? Is Heisenberg reg as hy die volgende bewering maak:

"Der erste Schluck aus dem Becher der Wissenschaft führt zum Atheismus, aber auf dem Grund des Bechers wartet Gott." ??????

Ek probeer niemand oortuig nie maar hoop om tekens te verskaf wat denkprosesse sal stimuleer.

(Vir die moontlike taalpuriste, ek verkies die afkorting DNA i.p.v. DNS weens die algemene internasionale gebruik van eersgenoemde afkorting.)

Johan Nel,

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.