.

Selfvergifnis

Deur Dr. Piet Muller op 1 Januarie 2018

.

Daar was 'n tyd toe die aarde plat was en stewig op pilare gestaan het. Toe het die son en die sterrestelsels nog om die aarde gedraai en Vader God het bo die wolke in die hemel gewoon en alles op aarde sorgvuldig beplan – selfs vir 'n manier waarop elkeen van ons eendag saam met hom in die hemel kan woon.

Toe kom Copernicus en vertel ons dat die aarde rond is en saam met die ander planete om die son wentel; dit het beteken dat die aarde nie die middelpunt van die skepping is nie, en by implikasie ook dat die mens nie 'n besondere skepsel is nie.

Skielik het die bestaan van God ook nie meer so oortuigend gelyk nie.

Dit het lank geneem om hieraan gewoond te raak, en toe kom Einstein en vertel ons dat ons sterrestelsel teen 'n rasende vaart deur die ruimte trek, in 'n uitdyende heelal. Ons is deel van 'n nietige sonnestelsel wat deel vorm van die reusagtige Melkweg – wat op sigself 'n heel gemiddelde sterrestelsel uit derduisende ander sterrestelsels is; in 'n kosmos wat biljoene ligjare groot is. In werklikheid is die aarde waarop ons woon, in vergelyking skaars so nietig soos 'n speldeprik.

Saam met hierdie veranderinge het ons eie lewens ook ingrypend verander. Daar was 'n tyd toe ons die Engelse spreekwoord geglo het: "A rolling stone gathers no moss" ... Toe het 'n mens nog lewenslank by een werkgewer gewerk, en afgetree met 'n gewaarborgde pensioen, in ruil vir lojaliteit en goeie werk. Maar vandag kyk 'n menslike hulpbronbestuurder jou skuins aan as jy te lank by een plek gewerk het en wonder of jy dalk 'n gebrek aan ambisie het nie.

Lojaliteit tussen werkgewers en werknemers is bykans iets van die verlede en saam daarmee gewaarborgde werk en 'n lewenslange, gewaarborgde pensioen.

Ons hele leefwêreld is besig om al vinniger en vinniger te verander. Ons het skaars 'n rekenaar-program baasgeraak of dit word "ge-update"; en jy is skaars vertroud met jou slimfoon, of die nuutste model laat jou foon dom lyk.

Daar word bereken dat ons in hierdie eeu meer verandering sal ervaar as in die voorafgaande twintigduisend jaar. Tussen 2013 en 2014, so sê 'n Noorse navorsingsgroep, is meer kennis ontwikkel as in al die jare sedert die mens leer praat het.

Vroeër het ons skool en universiteit toe gegaan in die verwagting dat ons lewenslank van 'n werk verseker sal wees. Maar nou raak beroepe byna oornag weg en verskyn nuwe beroepe waarvan niemand voorheen gehoor het nie.

Selfs die rekenmeester, wat voorheen die hart van enige besigheid was, is nou vervang deur 'n "spread sheet" ... en dokters word soos Uber-taxis na die naaste pasiënt gestuur en ding met rekenaars mee wat vinniger en foutloser as mense diagnoses kan maak.

'n Mens kan die lewe omtrent net beskryf met 'n woord wat die Ierse skrywer, James Joyce al in 1939 in sy Finnigan's Wake gebruik het: dat die lewe 'n chaosmos geword het, 'n kruis tussen chaos en kosmos. Dit voel baie dae of ons in 'n doolhof ronddwaal, op soek na 'n uitgang wat na vrede en rus sal lei.

Sommige sosioloë sê dat ons lewens vinniger verander as wat ons lewensgewoontes en roetines kan vorm. Dit lei natuurlik weer tot onsekerheid en skuldgevoelens en die gevoel dat 'n mens nêrens meer veilig en tuis is nie. Ons voel misplaas en al eensamer.

Wilhelm Jordaan skryf in sy rubriek in Beeld: "Emosionele isolasie is dikwels die hart van eensaamheid: juis omdat jy nie tuis voel met jouself nie. Jy het vir jouself 'n onbekende geword. Jy weet nie meer wie jy werklik is nie. En wat jy wel van jouself weet is tegelyk gevaarlik min, en gevaarlik om met ander te deel.

"(Eensaamheid) gaan nie soseer oor 'n gemis aan ander mense nie, maar oor 'n gemis aan jouself; om te weet wie die mens is waarvan jy die naam dra en wat vir die hoeveelste keer in die spieël na jou staar."

Ons het tuistelose pelgrims geword, wat oral misplaas is.

Dit is miskien daarom dat soveel mense van oor die wêreld letterlik op pelgrimstogte gaan, selfs al is hulle nie godsdienstig of spiritueel nie. Dink maar aan hoeveel mense jy ken of van gehoor het wat onlangs die Camino in Spanje gaan stap het. Want op 'n pelgrimstog kan jy jou persona by die huis los en dit maak nie saak of jy 'n miljardêr of 'n straatveër is nie. Op so 'n tog is almal eenders en al wat van jou verwag word is om aanhoudend die een voet voor die ander te sit.

So 'n tog bied die ideale omstandigheid om jou ware self te ontdek en daarmee vrede te maak – en wanneer jy vrede met jouself gemaak het, is jou eensaamheid ook besweer.

Soos Augustinus, die kerkvader uit die vierde eeu, eenmaal gesê het: "Rusteloos bly ons hart totdat dit sy rus gevind het."

Maar om rus te vind, het ons meer as net selfkennis nodig. Ons het ook selfvergifnis nodig; en dit is gewoonlik die heel laaste wat ons bereid is om vir onsself te skenk. Daarom wil ek u uitnooi om aan die begin van hierdie nuwe jaar, saam met my 'n visualisering vir selfvergifnis te doen.

Al wat jy hoef te doen is om stil te sit, jou oë toe te maak en te luister ... en 'n paar keer diep asem te haal.

Die agt bokse – 'n visualisering

Sien in jou verbeelding jou gunsteling vertrek. Bekyk dit goed. Watter kleur is die mure? Watter prente hang teen die mure?

Hierdie keer is daar ook iets anders in in die vertrek: 'n tafel met daarop sewe bokse in verskillende kleure, en op die grond 'n groot swart boks wat as snippermandjie kan dien.

Die eerste boks is rooi. Dit verteenwoordig angs en vrees. Maak dit oop en haal die brief uit wat onder in die boks lê. Dit lees:
"Die lewe het jou nodig. Jy het die volste reg om hier te wees, en jy weet dat jy die moed en die innerlike sterkte het om jouself te verbeter."

Gooi nou die boks en die brief in die swart snippermandjie.

Die tweede boks is oranje en dis is vol skuldgevoelens. Maak dit oop en lees jou brief:
"Jy het die reg om die lewe te geniet en die vermoë om groot vreugde te ervaar."

Die volgende boks is geel en propvol skaamte. Die brief daarin lees:
"Jy is nie langer die slagoffer van die lewe of van jouself nie. Jy kan enigiets regkry waarop jy jou hart sit. Jou innerlike vreugde vloei deur alles wat jy doen. Jy verdien ten volle om die lewe te geniet en jy beskik oor die vermoë om vreugde te ervaar."

Die volgende boks is groen en verteenwoordig jou hartseer en verdriet. Tel dit op, haal die brief uit en gooi die boks weg. In jou brief staan:
"Ek beskik nou oor die krag om my menings en projeksies oor ander mense te verander. Ek het die sterkte om liefdevol teenoor ander mense te wees en ek self verdien liefde."

Die volgende boks is ligblou en verteenwoordig al die leuens wat jy in selfbeskerming aan jouself vertel het. Gooi dit weg en lees jou brief:
"Ek is nie langer bang dat slegte dinge met my sal gebeur nie. Ek weet dat ek net so goed soos enigiemand anders is. Kreatiwiteit vloei deur my; ek is 'n goeie luisteraar en ek druk myself goed uit."

Die volgende boks is hemelsblou (indigo) en verteenwoordig jou illusies. Lees jou brief:
"Ek het die moed om my valse selfbeeld te vernietig. Ek het die moed om myself oop te stel vir my eie innerlike wysheid."

Die laaste boks is violet en verteenwoordig alles waaraan jy vasklou. Gooi dit vir altyd weg en lees jou brief:
"Ek laat vaar alle gevoelens van wraak en vergelding waaraan ek vasklou. Dit smelt soos sneeu in die son. Ek het die moed om myself oop te stel vir die goddelike in my."

Oordink hierdie visualisering vir 'n paar oomblikke en besluit vir jouself watter een van die briewe jou die diepste getref het.

Keer nou rustig terug na die werklikheid.

Mag liefde en vrede vir die jaar wat voorlê met ons almal wees.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.