.

Selfdood: Die reg om met waardigheid te kan sterf

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Junie 2018

.

Ek moes al menigmale mense se lyding aanskou en saam beleef, a.g.v. een of ander terminale siekte. Eens trotse, selfstandige en waardige mense wat later nie eens meer self kan eet of drink nie. Wat nog te sê van badkamer toe gaan. Mense wat in ongelooflike pyn vasgevang sit en wag op die dood se verlossing.

Dit het nog nooit vir my sin gemaak nie. Hoekom kan terminaal siek mense nie die reg hê om hul eie lewe te neem of om op ’n waardige manier te sterf nie?

Natuurlik is daar ’n verskil tussen iemand wat terminaal siek is en iemand wat gesond is en dalk sy eie lewe wil neem omdat hy geld gesteel en uitgevang is en nie verantwoordelikheid vir sy of haar dade wil aanvaar nie.

Sekerlik is daar net soos in enigiets anders, die moontlikheid tot misbruik. Maar dit kan oorbrug word deur goeie regulasies en wetgewing. Daar is tog duidelik sekere situasies waar dit ons morele plig is om sulke (terminaal en in pyn) mense te help.

Ek meen dit maak net vir my logiese sin dat in ‘n demokratiese samelewing die morele reg van ’n individu op geassisteerde dood (in die terminaalsiek fase van sy/haar lewe), asook die morele verpligting van versorgers, familie en die staat gerespekteer moet word.

Maar ek loop myself nou vooruit. Kom ek begin by die begin. Genadedood of die nuutste term, bystanddood of geassisteerde dood, is ’n sambreelterm wat in sy enger betekenis geassisteerde selfmoord en vrywillige genadedood insluit.

Eties, en wat die wet betref, het dit te doen met vrywillige keuses deur kompetente persone om hul lewe te kan beëindig. Niemand word hiertoe gedwing nie. Maar soos on weet is beide vorme van geassisteerde dood tans nog onwettig in Suid-Afrika.

Die onlangse besluit deur regter Hans Fabricius ten gunste van geassisteerde selfmoord, spesifiek vir die terminaalsiek Robin Stransham-Ford, het egter weereens ons voorstanders van geassisteerde dood hoop gegee. Dit gaan waarskynlik nog ’n lang stryd wees, maar hopelik is die eerste tree na wettiging gegee.

Die hoof argumente teen genadedood is maar flou volgens my mening. Hier is ‘n paar:

Die eerste argument daarteen het te doen met die feit dat ons “God probeer speel.” Voorstanders hiervan redeneer dat net God oor die tyd en wyse van ons dood kan besluit. Daarom sou dit verkeerd wees om lewe te verkort, al is die lyding hoe ondraaglik. Daar is sin in lyding omdat God dit só wil.

Regtig?! Maar as daar ingegryp word om iemand se lewe te red deur medikasie en tegnologie, soos in die geval van ‘n hartaanval of ernstige ongeluk, speel ons nie dan ook God nie? Ek meen as jou strepie getrek is is dit mos getrek. As jy nie ‘n lewe kan verkort nie kan jy sekerlik ook nie een verleng nie ... dis mos God se domein, nie waar nie?

Net soos met die keuse om te mag kies teen sekere behandeling, behoort die individu nie ook die vryheid van keuse gegun te word vir genadedood nie? Dit verhinder natuurlik niemand met geloofsbesware om wel teen geassisteerde dood te kies en om te sê dat hulle natuurlik – en tot die uiterste – sou wou sterf nie.
Natuurlik huldig mense verskillende beskouings oor God. ’n Mens moet dus eerder vra: Kan geloofsbesware teen geassisteerde dood normgewend wees in ’n sekulêre samelewing?

Die tweede argument handel oor sogenaamde professionele verantwoordelikhede en morele verpligtinge van dokters. Hiervolgens behoort medici mense nie te kan help sterf nie. Hulle moet versorg, omgee, genees, lewe gee en pyn verlig. Geassisteerde dood sou hierdie verantwoordelikhede en verpligtinge ondermyn.

Goed, maar wat van wanneer ‘n lewe aan die gang gehou word en daar is geen meer aanduibare lewensfunksie en -gehalte oor nie? Waar daar nie meer sprake van persoonlike lewe is nie, net biologiese funksies?

Sou daar nie ’n sterk morele saak uitgemaak kon word waar in so geval, waar iemand erg ly en fisiek tot die dood afgetakel is, onder streng-gereguleerde medies-etiese omstandighede, met die sterwensproses gehelp kan word nie? Is dit nie meer professioneel en verantwoordelik nie?

Die derde argument teen genadedood is die “slippery slope”-argument. ’n Mens loop hiervolgens die gevaar dat geassisteerde dood tot misbruik kan lei deur byvoorbeeld pasiënte teen hul wil dood te maak.

Oukei, maar die feit dat iets misbruik kan word, maak dit tog nie noodwendig sleg nie, dit beteken maar net dat dit gereguleer moet word.

Volgens Prof. Willem Landman (uitvoerende komiteelid van Dignity SA) wys navorsing wat oor die laaste 17 jaar in die VSA hieroor gedoen is, dat mense se aanvanklike vrese oor veral misbruik van einde-van-die-lewe-besluite ongegrond was. Interessant: ’n beduidende persentasie persone in Oregon wat ten gunste van ’n dokter-geassisteerde selfdood gekies het, het op die ou end aan natuurlike oorsake gesterf. Tog het hulle die versekering gehad dat, sou hulle lyding onhoudbaar word, hulle met hul dood bygestaan sou word.

Wel, soos ek gesê het is die argumente teen genadedood vir my maar flou. So, nou is die vraag of die argumente vir genadedood enigsins beter is. Ek dink so!

Eerstens gaan dit oor die mens se morele reg om ’n eie keuse te mag maak, ook wat betref die einde van lewe. Dit gaan daarmee saam ook om dokters wat gewillig sou wees om geassisteerde dood te voorsien, toe te laat om dit te mag doen.

Die rol van medisyne, van genesing en verlenging van lewe, bly tog in stand wanneer iemand gehelp kan word om te sterf op ’n manier wat deernisvol, genadig en respekvol is?

Die tweede argument gaan oor die voorkoming van ondraaglike lyding. Op niemand behoort die verpligting geplaas te word om lyding enduit te deurstaan nie.
Geassisteerde dood, volgens my, gaan in essensie nie oor die beëindiging van lewe nie, maar die verkorting van lyding. Ons moet versigtig wees om nie vanuit ons gemaklik leunstoele te sit en teoretiese besluite te neem oor die angs, trauma en pyn wat mense binne daardie omstandighede beleef nie.

Is dit nie veel mensliker en genadiger wanneer elkeen sy of haar “oomblik” mag kies nie?

Die derde argument gaan oor konsekwentheid. Ek verwys na die feit dat passiewe genadedood reeds aanvaarbaar in ons samelewing is. Net weer ter verduideliking: Passiewe genadedood is wanneer mediese behandeling eenvoudig weerhou word en “natuur sy gang gaan.” Aktiewe genadedood is waar iemand gehelp word om te sterf. Volgens Prof. Landman is daar geen verskil tussen aktiewe en passiewe genadedood nie. Jy kan dit nie sien as twee klasse waar die een slegter is as die ander nie – dat passief reg is, maar aktief verkeerd nie. Moreel is daar geen verskil nie.

Ter afsluiting wil ek vra hoekom kan daar nie net soos met aborsie en die doodstraf ook voorsiening in die grondwet gemaak word vir die reg om met waardigheid te kan sterf nie? Kan ’n beskaafde samelewing werklik nog wette verdra wat sinlose pyn en gevolglike hartseer regtig hoër ag as ’n lewe van selfbeskikking en waardigheid?

Suid-Afrika het tog ’n progressiewe grondwet. En ja, indien geassisteerde dood ooit gewettig sou word, sou dit beteken dat daar streng medies-etiese voorwaardes wat aan internasionale wetgewing voldoen, nagekom moet word. Presies soos dit is in lande waar dit reeds wettig is. Lande soos Switserland, België, Luxemburg, Nederland en die state Oregon en Washington in die VSA.

Dis tyd.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.