Gedagtes oor ‘n sekulêre spiritualiteit

Deur Prof. Hansie Wolmarans op 1 November 2010

Godsdiens kan jou siek maak

'n Mediese student het pas sy opleiding voltooi. Hy doen sy internskap saam met 'n ervare dokter een gaan saam op huisbesoek. Dis nou nog in die goeie ou dae toe dokters nog by hulle pasiënte tuis rondgegaan het. By die eerste huis vind hulle 'n vrou siek in die bed. Die ervare dokter ondersoek haar en sê "Mevrou, jou probleem is alkohol. Jy moet drank geheel en al laat staan, dan sal jy gesond word." Buite vra die jong een hom hoe hy agtergekom het sy het 'n drankprobleem. "Maklik" sê die ouer man. "Jy het seker gesien ek het my stetoskoop laat val. Toe ek buk om dit op te tel, het ek onder die bed gekyk, en 'n klomp drankbottels daar sien staan. Dis hoe ek geweet het.

'n Siek man was by die volgende adres. Die dokter doen sy diagnose en sê, "Meneer, jou probleem is nikotien. Jy moet ophou rook en dit sal jou die wêreld se goed doen." Buite sê die jong doktertjie, "Ek het goed opgelet, en ek veronderstel daar was asbakkies met sigarette onder die bed." "Jy leer vinnig" sê sy leermeester "doen jy die volgende pasiënt."

Dit was 'n vrou. Die leerling ondersoek haar en sê vol selfvertroue, "Mevrou, jou probleem is godsdiens. Jy neem dit heeltemal te ernstig op. Los dit en jou gesondheid sal sommer gou verbeter." Buite is die ou dokter baie ontsteld. "Hoe kan jy vir haar sê sy moet ophou met godsdiens?" Uit die veld geslaan antwoord die jonge man, "Maar dokter, ek het presies gedoen wat u gesê het ek moet doen. Ek het my stetoskoop laat val, onder die bed gekyk, en toe sien ek die dominee onder die bed lê."

Baie mense ervaar dat tradisionele godsdiens nie meer met hulle akkordeer nie. Vanmiddag wil ek 'n paar gedagtes lug oor die moontlike oorsake van hierdie gevoel van vervreemding. Ek gaan ook 'n paar buitelyne trek oor 'n sekulêre spiritualiteit. As ek oor spiritualiteit praat, gaan dit oor die waardes waarvolgens ons leef en sin gee aan ons bestaan. Dit sluit ook die rituele in wat op mense se lewensreis voorkom.

Eers gaan ek gesels oor mythos en logos, en aantoon hoedat die opkomende logos diskoers ons bring om nuut te dink oor tradisionele godsdiensopvattings, en die sin van die lewe. Daarna gaan ek 'n paar voorbeelde gee van 'n sekulêre spiritualiteit, hoe mense nuut oor God dink, gebed, lyding, geboorte en dood, en die Bybel nuut lees. Dit alles bring ons tot nuwe, kreatiewe en opwindende maniere van menswees.

Mythos en Logos

My oorl'e ouma het toe ek klein was tot haar dood by ons in die huis gebly. Eendag in hierdie tipiese hoëveldse donderstorms vra ek haar watse geluide die donderweer is. Sonder om 'n oomblik te huiwer, want sy het haar hele lewe lank net die Bybel gelees, in Hollands, het sy geantwoord, "Dit is God se stem. Psalms 18 en 29." My volgende vraag was natuurlik, "en wat sê God?" Sonder om te huiwer antwoord sy, "dat hierdie sondige en misdadige mensdom hulle van hulle sondes moet bekeer."

Op skool later het ek natuurlik geleer dat donderweer die gevolg is van lugdruk versteurings wanneer die weerlig slaan en die lug warm word. Vir my was die storie van God se stem interessanter. My ouma het stories vertel van hoe sy as jong dogter van omtrent veertien jaar oud in die Boere-oorlog in 'n konsentrasiekamp was. Om dit sagkens te stel, sy het nie eintlik van die Engelse gehou nie. Die weerlig en donderweer het haar getroos dat God nie slaap nie, en dat God uiteindelik reg en geregtigheid sal laat geskied. Interessant genoeg, het sy 'n paar Engelse woorde in die kamp geleer – almal vloekwoorde. Sy sou sinne sê soos, "Ek het die hele blessitse nag nie 'n blimmin oog toegemaak nie, want die bleddie hond het die hele nag geblaf." Teen haar muur was Bybelversies in Hollands, "Komt tot mij allen die vermoeijd en belast zijn en Ik zal jullie rust geven." Haar Christelike geloof het haar lewensverhaal begrond en haar taal het die strata van haar persoonlike bio omraam: sy het Afrikaans gepraat, in Hollands gebid, en in Engels gevloek.

Dit het vir haar gewerk. Só het sy welgetroos en salig gelewe en gesterwe. Later sou ek uitvind dat haar manier van dink en praat en kyk na die lewe baie oud is. Dit kom uit wat die Duitse filosoof, Karl Jaspers, die aksiale tydperk noem, daardie fantastiese fase in die mensdom se geskiedenis tussen 800-200 v.C. waaroor Karen Armstrong haar boek, The Great Transformation geskryf het. Vóór ongeveer 700 het mense op my Ouma se manier oor die lewe gepraat. Plato noem dit in sy dialoog, die Protagoras, mythos. Ons veranker ons lewensverhale in 'n bo-natuurlike werklikheid waar God se weerlig 'n baie sekere bewys is dat geregtigheid sal seëvier. Dit gee antwoorde op ons diepste lewensvrae, waar ons vandaan kom, wat ons hier maak, en waarheen ons gaan. Julle ken die tipiese Christelike meesternarratief van Adam en Eva, die sondeval, die verlossing in Jesus se kruis en opstanding, en die wederkoms. Sulke en soortgelyke stories het mense se lewens begrond.

Plato praat egter ook oor 'n ander soort diskoers. Hy noem dit logos, 'n praat oor die werklikheid in terme van die werklikheid self – weerlig as lugdrukverstorings. Van die Griekse filosoof, Anaximander (8e eeu v.C.) het ons net twee fragmente oor. In die een sê hy mense het uit visse uit ontwikkel, en in die tweede een sê hy, as ons doodgaan ontbind ons liggame in die elemente waaruit hulle saamgestel is. Die logos diskoers gee vir ons 'n ander meesterverhaal oor waar ons vandaan kom. Lewe het biljoene jare gelede uit eensellige entiteite ontwikkel. Mense is die eindresultaat van prosesse wat geheel en al deur toevallige mutasies ontwikkel het. Daar bestaan nie iets soos 'n intelligente ontwerp agter die kosmos nie. Daar is geen transendente rede waarom ons hier moet wees of nie. Nihilisme is die natuurlike menslike situasie. Ons lewe is eintlik niks anders as 'n contemplatio mortis nie, om vrede te maak met ons dood, ons verganklikheid, en iets te kry wat dit sin gee. Dis irrasioneel om mense te dwing om mythos as logos te aanvaar. Om dinge te glo sonder bewyse daarvoor, is gevaarlik – soos blyk uit die onlangse hofsaak waar Marietjie Prinsloo vir omtrent 30 jaar tronk toe gestuur is. Sy het veral Afrikaanse mense uit hulle geld bedrieg met 'n piramideskema. Haar briefhoofde het gelui, soli deo gloria, "aan God alleen die eer", asof God wonderwerke met mense se geld sou doen.

Veral die verband tussen geweld, en dogmas dat geweld verlossend is (Jesus se bloed herstel jou verhouding met God), kom deesdae kwaai onder skoot – ek noem dit die leerstuk van Goddelike kindermishandeling.

Die Kerk sê Mythos is eintlik Logos

Die dominee onder die bed wat van godsdiens mense laat siek word is omdat die Christelike teologie mythos uitgee as logos. Dit split die werklikheid in twee wat op die ou end mense se persoonlikhede in 'n destruktiewe skisofrenie aan flarde skeur.

Ons moet van al hierdie dualismes ontslae raak om heel en gesond te word. Dink 'n oomblik ná oor die dogmas waarmee ons geïndoktrineer is en wat hierdie twee-wêrelde sienings by ons ingeprent het:

'n Sekulêre spiritualiteit

'n Immanente voorstelling van God
Simone Weil is een van die bekendste Franse filosowe van die eerste helfte van die twintigste eeu. Tenger gebou, het sy haar hele lewe gesukkel met erge hoofpyne, sinusitus en fisiese koördinasie. Sielkundig was sy uiters eksentriek en 'n vreeslike introvert. Sy het baie sterk met die armes en vertraptes identifiseer en, in solidariteit met diesulkes, 'n asketiese lewe gely. Om mense se lyding te verlig, het sy haar hele salaris afgestaan. In die laaste fase van die Tweede Wêreldoorlog, in 1943, het sy op die ouderdom van 34 gesterf.

Sy vertel 'n gelykenis. 'n Gevangene is in eensame opsluiting. 'n Klipmuur skei hom van die sel langsaan. Met verloop van tyd begin hy 'n sisteem van kloppe en skrape ontwerp om met wie ook al langsaan te kommunikeer. Hy kan die ander een nie sien nie; hy kan nie die ander een se stem hoor nie; hy kan gevolglik glad nie met die ander persoon verbaal ooreenkom wat 'n lang skraap of twee kloppe kort na mekaar beteken nie. Die muur is egter die enigste manier waarop hy met die een langsaan in aanraking kan kom. Besluit self hoe suksesvol hierdie klop-en-skraap sisteem was – selfs as ons aanvaar dat hy 'n leeftyd jare daaraan gewerk het. Die gelykenis eindig met die woorde: "Dit is net só met ons en God. Elke skeiding is 'n skakel."

Die betekenis is duidelik. Ons is aan die een kant van die muur in ons eensaamheid en nood. Ons kan net met kloppe en skrape uitdrukking geen aan ons pyn, ons vreugde, ons woede, ons ideale, ons twyfel en wanhoop, ons hoop. God se teenwoordigheid, God se bestaan, aan die ander kant van die muur word op een of ander manier met ons kloppe en skrape, ons simbole en metafore bemiddel. "Niemand het God nog ooit gesien nie" kla 1 Johannes 4:12.

Ons vorm dus godsbeelde in die kloppe en skrape op die muur van ons ellende, die muur van kanker gediagnoseer, die muur van die onverwagse dood van 'n geliefde, die muur van sielkundige eienaardighede, die muur van verlorenheid.

Is daar iemand aan die ander kan van die muur? Is die kloppe en skrape wat ons hoor nie maar die geluide wat soms in die nag na ons kom as ons wakker lê en bewus word van krake en kreune rondom ons nie? As jy lank genoeg in eensame opsluiting is, is dit later nie meer duidelik of die geluide wat jy waarneem nie dalk in jou eie onderbewussyn plaasvind nie. Jy klop en skraap, en jy hoor kloppe en skrape terug wat dalk net die eggo's van jou eie is.

Dit was die opvatting van die Griekse filosoof, Xenophanes in die sesde eeu v.C. Vir hom is daar definitief geen skraap- en klopgeluide aan die ander kant van die muur nie. Ons voorstellings van die gode is niks anders as 'n selfprojeksie nie:

Maar sterflinge meen dat gode gebore word
en, soos mense, klere dra
en ook die stem en gestalte van mense het. (fr. 5)

...maar as beeste of leeus hande sou hê
om met hulle hande te skilder
en kunswerke sou voortbring soos mense doen,
sou hulle die gode se gestaltes skilder
en hulle liggame maak
net soos wat elkeen self 'n liggaamlike vorm het. (fr. 6)

Die Ethiopiërs stel hulle gode voor as swart en met plat neuse,
en die Thrakiërs met ligblou oë en rooi hare.

Dit lyk my dat Nietzsche gelyk het wanneer hy verklaar dat hierdie persoonlike, ingrypende God, dood is. In tradisionele kerktaal, dit is 'n afgod. Logos eksperimente, byvoorbeeld die Templeton Gebedseksperiment, en Jacques Pauw se boek, Dances with Devils wys dat 'n God wat teen natuurwette ingryp nie bestaan nie.

Paul Tillich sê dis beter om van God te praat as die grond van die synde, the ground of being, 'n immanente, naby, met-ons Godheid wat ons ervaar as ons drukkies gee en bome plant of sommer net nadink oor alles.

Gebed
My oupa het vertel in die Boere-oorlog hoedat 'n kryger boeke moes vat die aand voor een of ander geveg. Hy het gebid, "Here, dit moet seker moeilik vir u wees om te besluit aan wie se kant u more moet baklei. Ons is Christene, en die Engelse ook. My voorstel is dat u uit die geveg uit bly, dat ons maar self die sake tussen ons uitspook."

R.S. Thomas het 'n gedig geskryf dat hy nie meer tradisioneel kan bid nie. Hy noem dit, Emerging:

Not as in the old days I pray,
God. My life is not what it was ...
Once I would have asked for healing
I go now to be doctored;
I would have knelt long, wrestling with you
Wearing you down. Hear my prayer, Lord hear
my prayer. As though you were deaf, myriads
of mortals have kept up their shrill
cry, explaining your stillness by
their unfitness.

It begins to appear that this is not what prayer is about,
It is in the annihilation of differences,
the consciousness of myself in you,
of you in me; the emerging
from the adolescence of nature
into the adult geometry
of the mind ...
Circular as our way
is, it leads not back to that snake haunted
garden, but onward to the tall city
of glass that is the laboratory of the spirit.

Vir baie mense is gebed dus nie meer tot 'n teïstiese God om in te gryp nie, maar gee uitdrukking aan ons nood, of is 'n gebed tot onsself, of wys dat mense se lewe en gesondheid vir ons belangrik is.

Lyding
Christopher Hitchins het in 2007 opspraak gemaak het met sy boek, God is not Great. Hy beskryf homself as 'n "anti-teïs" en sê 'n teïstiese of persoonlike godheid vernietig individuele vryheid. Oop gesprek en wetenskaplike ondersoek is beter om moraliteit oor te dra en beskawing te definieer. In 2010 is hy met keelkanker gediagnoseer. In 'n televisie onderhoud het hy gesê, Christene vra "hoekom ek?" as dit met hulle gebeur; hy vra, "hoekom nie ek nie?" Die lewe is onvoorspelbaar en mens moet die hand wat jy gedeel word aanvaar.

Doop
Die ritueel van die Doop het in my leeftyd ook radikale veranderings ondergaan. Toe ek afstudeer het, is ons geleer dat net gelowige mense se kinders gedoop mag word. Die formulier wat gelees is, het gelui dat hierdie kinders in sonde ontvang en gebore is. Die waterdoop dui aan dat hulle net deur 'n wedergeboorte in die hemel kan kom. Verder is die doop die Godgegewe kanaal vir God se genadegawes van beskerming en versorging.

Nie meer só nie. Die laaste drie vier jaar vra al hoe meer jong mense my om die doopseremonie as 'n naamgewing te interpreteer. Dit word 'n fees waar 'n nuwe lewe aan mense, aan vriende en familie voorgestel word; waar 'n pa en 'n ma beloof om die kind se uniekheid te respekteer, en die gemeenskap beloof om 'n ruimte te skep waar kinders kan grootword om die beste te kan wees wat hulle kan.

Begrafnisse
Begrafnisse is ook besig om te verander in 'n fees van die lewe eerder as 'n rou oor die dood. Die tradisionele troos van die hiernamaals en die ewige lewe ontbreek. Onlangs het ek 'n begrafnis gehou waar die oorledene opdrag gegee het dat die volgende by die gedenkdiens gelees word:

Moenie by my graf staan en huil nie;
Wees bly dat ek wat uit die stof gekom het,
terug is waar ek vandaan kom.
As jy wil huil, huil oor jou broer of suster
wat saam met jou in die straat loop.
Koester die kindjie wat jou hand vashou.
As jy my mis, praat met iemand anders, of luister as hulle praat.
Gee ander mense drukkies, en deel met hulle wat jy met my wou deel.
Wees tevrede met jou lot,
Benut elke geleentheid.
Droom jou eie drome.
Maak jou eie foute.
En moenie spyt wees nie.
Moenie by my graf staan en huil nie.
Gaan voort met jou lewe.

Dinge verander

Phyllis Tickle het onlangs 'n boek geskryf, The Great Emergence. Sy sê in tye van radikale godsdienstige verandering, verskuif ons grense veral langs drie lyne:

Hierin sien ek hoedat 'n gevaarlike dualistiese wêreldbeeld besig is om te verdwyn. Mens kan die Bybel ook só lees. In Markus 5:21-34 word die storie vertel dat Jesus die twaalfjarige dogtertjie van Jaïrus opgewek het. Dit word voorafgegaan met 'n storie van 'n vrou wat vir twaalf jaar aan 'n bloedvloeiing gely het. Sy word genees as sy aan Jesus se kleed raak. Haar vrugbaarheid word herstel. Die dogtertjie is in haar twaalfde jaar, die tradisionele ouderdom vir die menarche, die aanvang van haar maandstonde. Die tradisionele interpretasie is dat die storie Jesus se Goddelike status openbaar. Dit kan ook anders gelees word.

Sy het gedink sy gaan dood. Jesus help haar deur 'n oorgangsritueel sodat sy met blydskap en verwagting van een lewensfase na 'n ander voortskrei.

Slot

Dit was 'n paar gedagtes oor 'n sekulêre spiritualiteit, 'n verankering van ons lewens in die hier en die nou; in 'n heilige respek vir elke oomblik; in 'n verwondering oor die misterie van die lewe.

In 1996 te midde van Jode en Palestyne wat albei propageer dat hulle "reg" is, het Yehuda bin Amichai die volgende gedig geskryf, From the Place Where We Are Right:

From the place where we are right
flowers will never grow
in the Spring

The place where we are right
is hard and trampled
like a yard.

But doubts and loves
dig up the world
like a mole, a plough.
And a whisper will be heard in the place
where the ruined house
once stood.

Ek hoop ek het iets oorgedra van hoe relatief spirituele waarhede is; dat ons self nuwe betekenis aan ons lewens kan gee wat die tradisionele Christendom op opwindende wyses herinterpreteer; dat daar niks fout is om na te dink oor dit wat ketters is, en voorheen miskien skokkend en ondenkbaar onsêbaar was; dat ons dit wat aan ons voorgehou was as onweerlegbare waarhede, krities moet deurdink omdat dit nie langer rasionele sin maak nie; en dat op hierdie manier genesing en nuwe lewe kan kom in die ruïnes van 'n uitgediende tradisie.

Prof. Hansie Wolmarans

1 November 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za