.

Seks, dans en die huwelik

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Desember 2013

.

Ek weet nie wie almal Karin Eloff se artikel in Beeld, Die Burger en Volksblad se bylaag By, "Hou tog net op trou!" so 'n paar weke terug gelees het nie?

Wel vir die van julle wat dit dalk gemis het, sy skrywe in haar artikel dat sy voel die huwelik as instelling se tyd is verby.

"Die huwelik is klaar, poegaai, verby, uitgedien. Ons weet dit," verklaar sy. En dan gaan sy voort om haar redes te gee, redes soos dat vroue nie meer ter wille van sekuriteit hoef te trou nie of dat om net ter wille van kinders te trou nie geldig is of ooit was nie.

Dan skrywe sy dat een van die hoof redes vir huwelike wat nie meer werk nie, is seks. "Dis ook onnatuurlik om met net een mens vir die res van jou lewe seks te hê. Onnatuurlik, onrealisties en plein boring. Een van die grootste redes waarom mense skei, afgesien van geldprobleme, is 'n derde party. Wat het ons dan verwag? Om met een mens vir die res van jou lewe te slaap, is so sieldodend soos kykNET se alewige reruns. Wie wil nou dieselfde ervaring oor en oor en oor hê?"

Ek moet sê ek het die artikel nogals geniet. Karin Eloff skryf met eerlikheid en heelwat humor oor 'n saak wat eintlik baie ernstig is. En moet haar artikel nie vlak kyk nie, sy het verseker 'n paar geldige punte beet.

Maar Karin maak ongelukkig dieselfde fout wat meeste mense maak wat emosioneel en eenogig na 'n saak kyk. En dit is dat sy die baba met die badwater uitgooi. Kom ek probeer verduidelik wat ek bedoel.

Net soos Karin stem ek ook glad nie meer saam met die tradisionele Christelike verstaan van die huwelik nie. Dit is die huwelik model waarteen Karin se artikel dit het.

Want vir my is die hele idee rondom twee mense wat voor 'n God moet belowe hulle gaan vir ewig "een wees" ook totaal absurd. Niemand kan dit belowe nie. Daarom die hartseer geskiedenis van stukkende verhoudings en skuldgevoelens, wat daagliks op die egskeiding rotse loop. Soos Karin dit ook raak omskryf.

Maar beteken dit regtig dat die huwelik as instelling nooit kan werk nie, of kom dit eerder neer op 'n verkeerde verwagting en verstaan wat mense van die huwelik het?

Want as die huwelik beteken dat twee mense hulle identiteit in mekaar moet verloor (of tradisioneel, die vrou moet haar identiteit opgee, soos die simbool om die man se van aan te neem), stem ek ook saam dit kan nie werk nie. Want dit is 'n ongesonde, onveilige en destruktiewe situasie en was nog altyd. Kyk maar net na die vele egskeidings, gesinsgeweld en ongelukkige huwelike.

Ek dink daar kan op 'n ander manier na die huwelik gekyk word. Nie as 'n Godgegewe instelling nie, maar eerder as 'n menslike instelling of keuse om binne 'n veilige ruimte 'n reisgenoot te vind, om dan mee saam te reis. Let wel as ek praat van reis, praat ek nie van die tradisionele verstaan van 'een' reis nie. Dit word nooit een reis nie, op die meeste word dit twee mense wat kies om saam in dieselfde rigting te stap.

Want essensieel is ons elkeen alleen. Elkeen van ons het alleen in die lewe gearriveer en elkeen sal alleen vertrek hiervandaan. Nee ek praat veel eerder van wat Saint-Exupéry dit noem: "Love is not to look at each other but to look in the same direction..."

En presies dit is my verstaan van die huwelik, dit is 'n reis. Twee mense (let wel vir my beteken dit man en vrou, man en man of vrou en vrou) wat aan mekaar beloof om saam in dieselfde rigting te reis. Dit is nie 'n belofte aan 'n bonatuurlike God iewers bo die wolke nie, nee, dit is 'n belofte tussen twee mense.

En wat belowe hulle aan mekaar? Om ewig onderdanig aan mekaar te wees, nooit! Hulle belowe om eerlik en lojaal saam op 'n avontuur te gaan. En soos enige avontuur gaan dit eerder oor die reis as die bestemming.

En natuurlik op hierdie avontuur moet jy jou reisgenoot kan vertrou. Want die pad is lank en vol gevare en indien jy jou reisgenoot wel kan vertrou, word dit een van die grootste geskenke wat 'n mens kan hê.

Maar hierdie geskenk is soos enigiets in die lewe wat die moeite werd is; dit vra toewyding, opoffering en tyd om te ontwikkel. Vra maar vir enigiemand wat al die hoogste sport in iets bereik het, dit vra tyd, opoffering en deursettingsvermoë.

Natuurlik is dit teen die gees van ons tyd, waarin alles vinniger, meer en makliker moet wees. Maar daardeur offer 'n mens uiteindelik diepte en sinvolheid op. Nee, net soos met ware vriendskap, opregte omgee en begrip het 'n mens tyd nodig. En juis hierin lê die waarde van 'n instelling soos die huwelik. Dit skep 'n ruimte waar twee mense mekaar tyd kan gee om verby die krom en skeef en oppervlakkig te beweeg.

Dit waarborg egter nie dat daar wel dieper beweeg sal word nie. Op enige reis is daar afdraai paadjies, selfs 'n vurk of twee in die pad. En dan moet daar besluit word in watter rigting verder gereis word. Hierdie reis is 'n saamreis. My gunsteling Franse filosoof, Albert Camus (1913-1960) verwoord vir my hierdie saamreis wonderlik met sy: "Don't walk behind me; I may not lead. Don't walk in front of me; I may not follow. Just walk beside me and be my friend."

Elke keer wat daar by 'n 'keuse moment' eerlik saam besluit word, kan die gevolge wees, groei en respek vir mekaar. Indien nie, stop die reis. En elkeen gaan in sy eie rigting verder.

En anders as wat Karin insinueer is enige verhouding wat opbreek traumaties en gevul met komplikasies. Soms is 'n goed opgestelde huwelikskontrak van baie meer waarde vir twee mense, as wat dit is vir twee mense wat saam gewoon het en dan besluit hulle wil uitmekaar gaan.

Maar vir die wat wel by die 'keuse moment' besluit om saam verder te reis, is daar ongelooflike voordele in opgesluit. Voordele soos iemand wat jou ritme leer ken en in tye wanneer jy dit die nodigste het sonder woorde daar kan wees. Voordele soos 'n veilige plek vir kinders om te leer van die reis wat vir hulle ook voorlê.

Ek onthou toe ek en my vrou Zelda vir danslesse gegaan het en die instrukteur vir ons gesê het dat jy die ander een se ritme moet aanvoel en respekteer. Is hierdie saamreis nie maar net soos 'n dans nie?

Die omstandighede is die dansvloer en die lewe is die musiek. Die vraag is, indien die musiek eendag stop, en die musiek gaan verseker vir ons almal eendag stop, het jy die dans geniet?

Dit gaan verseker nie saak maak waar jy jou op die dansvloer bevind nie. Dit gaan wel saak maak of jy jou self verloor het in die musiek van die lewe, of nie. Want ware liefde vir my, 'n veilige ruimte waarin jy meer jouself word, nie minder nie. En die huwelik kan hierdie rol vervul en doen ook vir baie.

Dit is egter nie die enigste model tot sinvolle verhoudings nie. Verseker nie. Maar vir die samelewing se funksionering werk die huwelik wel op baie vlakke beter as meeste ander alternatiewe.

En ja, dit mag dalk so wees soos Karin dit noem, dat seks met net een mens vir die res van jou lewe, "...onnatuurlik, onrealisties en plein boring is..." Maar die ander kant is ook waar, ek self het beleef hoe oppervlakkig, tydelik en onbevredigend seks sonder 'n dieper verbintenis kan wees.

In so 'n mate dat dit baie keer oppervlakkig en selfs destruktief vir 'n mens se innerlike vrede en lewensvreugde kan wees. Daarom seker dat die "Free love" beweging van die 60's en 70's ook nie gehou het nie.

Dalk het dit meer te maak met my spesifieke persoonlikheidstipe of selfs my verstaan van seksualiteit, as wat dit te maak het met seks self. Maar wat ek wel gevind het, is dat binne die ruimte van 'twee reisgenote wat besluit om saam te reis' seks wel vervullend en opwindend kan wees.

Ek wonder soms hoe anders verhoudings tussen man en vrou, man en man of vrou en vrou sou wees, as die idee van respek belangriker was as die idee van "ek besit jou".

Want in essensie smag ons almal maar na 'n plek om te behoort, 'n plek waar ons aanvaarding vind, 'n plek waar ons geken en gerespekteer word.

In die boek Die Klein Prinsie, van Antoine de Saint-Exupéry, sê die jakkals vir die prinsie op 'n keer dat hy ongelukkig nie met hom kan speel nie, en sy rede is dat hy nie mak gemaak is nie. Wanneer die prinsie hom dan uit vra wat hy daarmee bedoel, verduidelik die jakkals dit as volg: "Liewe Prinsie dit beteken om 'n verhouding te hê. Jy is op die oomblik vir my niks meer nie as 'n klein seuntjie, nes honderd duisend ander klein seuntjies. Ek het jou nie nodig nie, en jy het my ook nie nodig nie. Ek is vir jou niks meer nie as 'n jakkals soos honderd duisend ander jakkalse. Maar as jy my mak gemaak het, sal ons mekaar nodig hê. Jy sal my ken en ek sal jou ken, ons sal mekaar goed ken."

Is dit nie maar wat die huwelik is nie? 'n Plek waar ons mekaar kan leer ken, goed ken.

Ek wil afsluit met die Libanese digter en filosoof Kahlil Gibran se gedig, Marriage. Hierin verwoord hy vir my die beste definisie van hierdie dans of reis wat ons die huwelik noem. Sien hoe hy klem lê op die reis wat nooit een word nie en hoe hy ruimte vir mekaar bepleit, indien ons werklik mekaar wil goed leer ken:

"...let there be spaces in your togetherness.
And let the winds of the heavens dance between you.
Love one another, but make not a bond of love:
Let it rather be a moving sea between the shores of your souls.
Sing and dance together and be joyous, but let each one of you be alone,
Even as the strings of a lute are alone though they quiver with the same music.
And stand together yet not too near together:
For the pillars of the temple stand apart,
And the oak tree and the cypress grow not in each other's shadow."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.