.

Hoe seker is jy, jy is reg?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Januarie 2017

.

Het jy al ooit by jouself gewonder hoe is dat jy so seker kan weet jy is reg? Almal van ons het een of ander siening wat ons glo is absoluut, een honderd persent waar. En waar kom hierdie sekerheid vandaan? Hopelik van 'n empiriese bewysbare plek. Soos, byvoorbeeld, die sekerheid dat die aarde rond is en dat dit om die son wentel.

Ja, daar is baie dinge waarvan ons heilig oortuig is, wat bloot so is omdat ons 'n seker-gevoel daaroor het. Omdat ons een of ander ervaring gehad het, wat ons sekerder as seker laat voel het.

Maar ons weet ook dat dit wat ons as die werklikheid ervaar, nie altyd so werklik is nie. Byvoorbeeld, dit wat ons as wit lig ervaar, is in werklikheid 'n spektrum liggolwe en die feit dat ons die aarde as plat ervaar, beteken nie dat ons die wetenskaplike feit dat die aarde rond is, nou verkeerd bewys het nie.

En ja, al is daar baie ander mense wat dalk ook soos ons voel, beteken dit nie dit is waar nie. Dink maar aan die miljarde mense se ervaring dat die son "sak", in teendeel is dit nie so nie, wat eintlik gebeur is die aarde draai om die son.

Persoonlike ervaring is dus nie noodwendig 'n goeie aanduiding van die objektiewe werklikheid nie.

Soms is bewyse wel so eenvoudig soos om iets vir jouself te kan sien, hoor, voel, ruik of proe. Maar dikwels is dit nie so eenvoudig nie en kan bewyse nie deur eie direkte waarneming verkry word nie, hoewel waarneming altyd daaragter lê.

Kom ek verduidelik wat ek bedoel. Dit werk baie keer soos 'n moord-ondersoek. Wanneer daar, byvoorbeeld, buiten die slagoffer en moordenaar, niemand anders was wat dit kon waarneem nie – is die ondersoek van die saak deur die polisie, beperk tot dit wat hulle op die moordtoneel vind.

Dit kan enigiets wees van vingerafdrukke op die moordwapen, DNS onder die slagoffer se naels, bloedspatsels op die verdagte se klere – of dalk getuies wat iets gehoor het. Dit bewys nie noodwendig dat die verdagte die moord gepleeg het nie, maar dit kan help om die gebeure binne perspektief te herkonstrueer. En soms kan 'n aantal waarnemings alles in plek laat val.

Wetenskaplikes (van verskillende vakgebiede) is net soos die polisie wat 'n moordsaak ondersoek. Hulle ondersoek, ontdek en bestudeer alles wat hulle kan om te verstaan hoe dinge in mekaar steek. Van die oerknal tot by 'n onsigbare virus, is baie keer hul "moordtoneel."

En net soos die polisie aanvanklik werk met verskillende variasies van wat moontlik kon gebeur het, net so werk wetenskaplikes met aanvanklike voorspellings en scenarios (hipoteses).

Hierdie hipoteses word natuurlik doelbewus bevraagteken, getoets en ondersoek. Soveel so dat dit vele kere aangepas, verander en selfs as vals afgemaak word. Hierdie proses hou aan, soms vir jare, totdat daar voldoende bewyse vir of teen is. Hierdie proses is 'n gebalanseerde en realistiese wyse om met ons werklikheid om te gaan.

Om dus tot sinvolle gevolgtrekkings oor ons wêreld en omgewing te kom, en goeie redes te vind waarom ons seker kan sê ons weet iets is so – of nié, vra veel meer as net 'n gevoel, oortuiging of eie waarneming.

Om dit te illustreer wil ek verwys na die neurowetenskaplike studie en navorsing, wat oor buiteliggaamlike ervarings, nabydood-ervarings en nielokale bewussyn gaan.

Die mees omvattende studie tot op hede hieroor, is die AWARE-studie. 'n Studie wat spesifiek kyk wat mense visueel kan waarneem tydens 'n periode van "geen breinfunksie." 'n Hartstilstand bied die ideale omgewing om hierdie navorsing te doen, aangesien dit binne sekondes tot 'n gebrek aan suurstof en gevolglike afsluiting van breinfunksies lei.

Die gangbare opvatting in hierdie navorsing is dat omdat daar geen bewussyn gedurende hartstilstand moontlik is nie, en 'n pasiënt oënskynlik "geen breinfunksie" het nie, 'n buiteliggaamlike ervaring genoegsame bewys sou wees dat die menslike bewussyn (die siel) onafhanklik van die brein en liggaam kan funksioneer en sodoende onafhanklik van die liggaam (of brein) kan bestaan.

En indien dit bewys sou kon word, sal daar min tot geen twyfel wees dat die tradisionele sieninge van die "siel" en lewe na die dood wel daardeur bevestig word. Iets wat meeste tradisionele godsdienste verkondig as 'n vaste waarheid.

Die Aware studie wat oor 'n tydperk van vier jaar in 15 hospitale in drie lande gedoen is en altesaam 2060 pasiënte insluit, het 'n eksperiment met versteekte simbole in kardiologie-eenhede gedoen. Hulle het die simbole op plekke geplaas wat buite sig van 'n pasiënte wat lê, sou wees.

Tussen 50 en 100 sulke simbole is geïnstalleer en vir vier jaar gemonitor. Die simbole is op rakke geplaas wat buite sig, maar sigbaar sou wees indien die pasiënt se bewussyn buite en bokant die liggaam sou beweeg.

Die simbole kon slegs vanaf 'n verhewe posisie waargeneem word en die aanname was dat dit die nodige bewyse vir betroubare buiteliggaamlike waarnemings sou verskaf. Tot en met vandag, is daar egter nog nie een pasiënt wat 'n simbool positief kon identifiseer nie.

Dus, is die konklusie tot op hede, dat ten spyte van die duisende getuies van mense dat hulle hul liggame verlaat het en kon sien hoe die dokters aan hulle werk, daar geen empiries bewyse daarvoor is nie. Dit beteken egter nie dat vir die een wat dit beleef het, dit nie 'n werklikheid was/is nie.

Maar dalk is daar ander verklarings vir hoekom iemand iets kon onthou na die tyd. Uit die transkripsie van die studie se onderhoude is dit duidelik dat die "waarnemings" korreleer met die omgewing waarbinne die pasiënt bygebring is. Asook met inligting wat vooraf of daarna gehoor is (selfs onder verdowing is daar 'n tyd van bewustheid) en op spontane manier ingeweef is in die pasiënt se belewenis.

Dan is daar natuurlik nog ook die hele debat rondom die aanname dat selfs tydens hartstilstand die brein nie dood is nie, maar nog aktief is. Hoewel kortikale funksies opgeskort is en daar geen EEG-lesing sal wees nie, beteken dit nie dat alle breinstamfunksies tot 'n einde gekom het nie. Maar dit vir eers hier gelaat.

Dus, selfs 'n helder prentjie wat as 'n herinnering in jou geheue ingebrand is, kan weens jou verbeelding of kreatiewe denke wees. Dink maar net aan trauma lyers en hoeveel keer hulle eie herinneringe hulle heeltemal in die steek laat.

Daarom is dit so belangrik om altyd jou eie oortuigings en sekerhede te toets. Want enige oortuiging, ongeag hoe seker jy daaroor voel, is ondersoekbaar. Mits jy natuurlik werklik verstaan dat alles ondersoekbaar is.

Dit wat die Taoïs, Chuang Tzu op 'n keer gesê het: "We cling to our own point of view, as though everything depended on it. Yet our opinions have no permanence; like autumn and winter, they gradually pass away."

Dink so daaraan, sê nou ek sê vir jou jy het 'n ongeneeslike siekte. Natuurlik sal jy baie ontsteld wees, en waarskynlik vir my vra: "Hoe weet jy dit? Het jy met my dokter gepraat?" En sê nou my antwoord is: "Ek het geen bewyse nodig nie. Ek het net hierdie gevoel diep binne my dat jy siek is."

Ek vermoed jy sal kwaad vir my wees omdat ek jou onnodig laat skrik het. Want kom ons wees nou eerlik met mekaar, 'n "gevoel" in my binneste alleen is nie genoeg rede om te glo dat iemand 'n ongeneeslike siekte het nie.

Daar is empiriese bewyse nodig. Ons het almal van tyd tot tyd gevoelens in ons binneste, en soms is ons reg en soms is ons verkeerd. Die enigste manier om seker te wees dat iemand aan 'n ongeneeslike siekte ly, is om mediese toetse te ondergaan, om deur 'n professionele mediese persoon ondersoek te word, en dan werklike bewyse te sien.

Die punt is: Enige gevoel in jou binneste moet ondersteun word deur bewyse aan die buitekant, anders kan jy dit eenvoudig nie vertrou nie. Natuurlik is gevoelens in jou binneste waardevol, in die wetenskap ook, maar enige idees moet altyd getoets word en bewyse moet daarvoor gesoek word.

Wetenskaplikes kan gevoelens gebruik om idees te ontwikkel. Maar die idees is niks werd totdat hulle nie die bewyse het om hul gevoel te ondersteun nie.

Soos ek al voorheen genoem het, glo ek daar is 'n plek en rol te speel deur almal, of dit godsdienstige wysheid, filosofie of wetenskap is.

Islam se toegewydheid, die Christendom se barmhartigheid en die Boeddhisme se deernis kan mekaar en die wêreld soveel meer verryk as verarm. Sit hiermee saam die wetenskap se eerlikheid en filosofie se kritiese ingesteldheid en ons wêreld kan net 'n beter plek word.

Maar dit vra van elkeen van ons om eerstens vrydenkers en eerlike soekers te wees. Mense wat vry is van enige tradisies. So vry dat ons selfs vry is van ons eie vooropgestelde idees en sekerhede.

Dat ons vry is om selfs ons sekerste sekerhede te kan bevraagteken. Presies dit waarna Richard Feynman verwys met: "I would rather have questions that can't be answered than answers that can't be questioned."

Dat ons daardeur oop kan wees om te leer, nuut te ontdek en ja, om selfs tot ander insigte te kom. Presies dit wat die huidige Dalai Lama bedoel met: "When you talk, you are only repeating what you think, you already know. But if you listen, you may learn something new."

Dit is wat wysheid is, om oop te leef en nie heeltyd die nou te verruil vir een of ander toekomstige "sekerhede" nie. Dit waarna die Tao Te Ching verwys in vers 59:

Die teken van 'n Ware Wyse
is die vermoë om los te staan van haar eie idees.

Oop soos die hemele,
deurdringend soos die son,
ferm soos 'n berg,
buigsaam soos 'n boom in die wind.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.