.

Reïnkarnasie?

Deur Dr. Piet Muller op 1 April 2013

.

Daar is mense wat meen dat evolusie en spiritualiteit nie hand aan hand kan loop nie. Tog is een van die aangrypendste aspekte van evolusie vir my die feit dat aapagtige wesens, wat vir duisende jare die gunsteling prooi van die sabeltandtier was, op 'n tydstip selfbewussyn gekry het.

Hulle kon hulself begin afvra: "Waar kom ek vandaan? Waar gaan ek heen? Wat gebeur met my as ek sterf? En waarvan moet ek verlos word?" Hulle het begin om hul dooies te begrawe; hul lyke met rooi okerstrepe te versier en het selfs gebruiksartikels saam in die grafte geplaas.

Ons vra vandag nog dieselfde vrae: "Waarom leef ek? Wat word van my as ek sterf? Wat is die doel van my lewe?" Daar was tye toe ons klinkklare antwoorde op hierdie vrae gehad het: Ons leef tot eer van God; weliswaar verstaan ons nie hoekom dinge met ons gebeur nie en waarom die lewe soveel lyding moet hê nie, maar uiteindelik sal ons die saligheid van die hemel binnegaan en alles sal die moeite werd wees.

Of as alternatief: "Wat vandag met ons gebeur is die gevolg van wat ons in 'n vorige lewe gedoen het. So word goedheid beloon en boosheid gestraf. Intussen word ons siele gelouter, totdat dit uiteindelik nie meer nodig is vir ons om gebore te word nie."

Die wetenskap het ons moeilike en ongemaklike vrae leer vra en ons skepties gemaak. Tog is dit vandag klaarblyklik steeds die een vraag waarop mense dringend 'n antwoord soek: "Wat word van my as ek sterf?"

Ek onthou nog goed die aand, elf jaar gelede, toe ons die boek Die Nuwe Hervorming bekendgestel het. Ons het gedink dit sal die ideale geleentheid word vir 'n indringende teologiese gesprek, maar die publiek wou net een ding weet: "As julle sê daar is nie 'n hemel en 'n hel nie, wat word van ons as ons sterf?"

Een van die jonger, akademiese teoloë, wat nooit in 'n gemeente gestaan het nie, het blatant geantwoord: "As die sentrale senustelsel afskakel is daar niks oor nie." Dit het so 'n beroering veroorsaak dat ek gedog het: "Watter interessante tema om oor navorsing te doen!" En terstond het ek besluit om te gaan kyk watter navorsing die afgelope dertig jaar gedoen is.

Uiteindelik het ek gesit met soveel inligting dat ek nie anders kon as om 'n boek daaroor te skryf nie. Daar was inligting oor byna-dood ervarings, oor buiteliggaamlike ervarings, oor reïnkarnasie-navorsing wat aan van die grootste universiteite in die wêreld gedoen word; oor mense wat onder hipnose vorige lewens kan onthou en die feit dat die biologiese wetenskappe van bo tot onder in twee geskeur is oor die vraag wat bewussyn is, en of bewussyn onafhanklik bestaan en die brein net die ontvangstoestel daarvan is en of die brein inderwaarheid bewussyn veroorsaak.

Op die oomblik word daar in Brittanje en Nederland 'n eksperiment gedoen wat oor agt jaar sal strek. Dit word geborg deur die mediese tydskrif The Lancet en staan onder leiding van die Nederlandse kardioloog Dr. Pim van Lommel. Die doel hiervan is om vas te stel of mense werklik tydens operasies uit hul liggame kan gaan en dinge objektief kan waarneem. Vir hierdie rede is spesiale rakke teen die dakke van operasiekamers geplaas met voorwerpe in, om te sien of mense wat beweer hulle het buiteliggaamlike ervaringe, hierdie kontroleerbare dinge sal raaksien.

Nie dat al hierdie inligting my nader aan 'n klinkklare antwoord gebring het nie. Want die werklikheid is dat ons nooit met sekerheid sal weet nie en dat iemand wat sy of haar spiritualiteit bou op 'n bepaalde verwagting van die lewe na die dood, besig is om die wese van spiritualiteit mis te kyk.

So was dit ook aan die begin van ons jaartelling toe die Christendom gebore is uit botsende opvattings en oortuigings.

Vir die Grieke wat hulle tot die Christendom bekeer het was dit natuurlik om te aanvaar dat elke mens 'n siel het wat voor sy geboorte al bestaan het, want dit is wat alle geleerde mense geglo het sedert die wiskundige Pythagoras Egipte en Indië se sieninge met mekaar versoen het.

Filosowe het geleer dat hierdie siel iets substansieels is en eintlik 'n gevangene is van die liggaam en dat net die dood verlossing bring. Ongelukkig moet die siel weer en weer in ander liggame gebore word, totdat dit volkome van die kwaad gelouter is.

Kerkvaders soos die briljante teoloog Origenes, Clement van Alexandrië en Tertullianus het ook die opvatting gehuldig dat die siel bestaan voordat die mens se liggaam gebore word, maar hulle het nie almal aan metempsigose geglo nie, oftewel die leer dat die siel van een liggaam na die ander verhuis. Tog is Origenes drie eeue na sy dood terugwerkend tot ketter verklaar deur die Konsilie van Konstantinopel, omdat hy die leer van die voorafbestaan van die siel aanvaar het.

Die Jode het weer 'n total ander opvatting gehad. Daar is besonder min in die Ou Testament wat dui op 'n geloof in 'n lewe in 'n hiernamaals. God het die regverdige geseën met voorspoed en baie kinders en dan het hy of sy gesterf. As die Ou Testament van die siel praat, bedoel hy die asem van die mens, want God het die mens soos 'n kleipot uit klei gemaak en toe sy asem van lewe in hom geblaas. As 'n mens sterf keer hierdie asem terug tot God.

Dit was eers tydens die lang vryheidstryd teen die Grieke, toe duisende jongmense in die fleur van hul lewens gesterf het in 'n poging om te keer dat die Grieke die tempel van Jerusalem ontheilig deur beelde van hul gode daarin te plaas, dat die Ou Testamentiese siening bevraagteken is. So het die idee van 'n opstanding aan die einde van die geskiedenis, ontstaan, op die patroon van Esegiël se gesig van die doodsbeendere wat weer lewe kry.

Die Fariseërs was aan die voorpunt van hierdie beweging, terwyl die Sadduseërs nie aan 'n opstanding geglo het nie. Teen omstreeks die agtste eeu was die idee van 'n opstanding ook die heersende standpunt binne die Christendom, hoewel die idee dat die siel wat vir ewig bestaan nooit van die hand gewys is nie. In die dertiende eeu het groot groepe Christene nog aan die sielsverhuising geglo en in die sestiende eeu het die Rooms Katolieke Kerk op die Konsilie van Trent 'amptelik' aanvaar dat die siel vir ewig bestaan. Binne die Protestantisme is daar geen soortgelyke leer nie.

Hoewel nie een van die kerk se groot belydenisse melding maak van die ewige lewe van die siel nie, maar slegs van die opstanding van die liggaam, glo die meeste Christene waarskynlik dat die siel onsterflik is en na die dood iewers heen gaan. 'n Geloof wat ook ondersteun word deur eeue se "naïewe volkservaring".

Tussen sielsverhuising of metempsigose en reïnkarnasie is daar klein maar belangrike verskille. Volgens die Hindoeïsme se reïnkarnasieleer is jou atman jou eintlike self. Dit is nie 'n gevangene in die liggaam nie, maar beheer en bestuur die liggaam. Tog is die meeste mense total onkundig oor hul atman of self, daarom dat hulle van die een inkarnasie na die ander gebore word, want hulle weet nie hoe om hul atman te ontwikkel nie – iets waarvoor 'n mens 'n kundige ghoeroe nodig het.

Hierteen het die Boeddha 600 voor Christus al radikaal stelling ingeneem. Met die uitsondering van die Tibettaanse Boeddhisme, gebruik Boeddhiste nie graag die woord reïnkarnasie nie, maar verkies hulle die word "hergeboorte". Die Boeddha het naamlik wat hy as die twee uiterste standpunte beskou het, van die hand gewys.

Die een standpunt noem hy nihilisme, oftewel die opvatting dat daar geen voortbestaan na die dood is nie; terwyl hy die geloof in die atman as die ander uiterste beskou. Hy noem sy eie standpunt dan ook anatman of nie-atman.

Hy het ons inderdaad 'n nuwe en meer gesofistikeerde metafisika gegee waarin ons verskynsels soos lewe en dood kan plaas, want lewe en dood is dikwels maar net verskillende perspektiewe op dieselfde ding. Neem as voorbeeld 'n boom. Sekere boomsoorte, soos Knysna se geelhout en Amerika se Yellowwood, kan honderde jare lank lewe as hul toegelaat word. Hulle is inderdaad van die grootste lewende wesens op aarde. En tog is meer as negentig persent van 'n boom in werklikheid reeds dood. As dit nie daarvoor was nie sou 'n boom se stam nie sterk genoeg gewees het om sy struktuur te dra nie. Tog is dit eintlik net die dun lagie lewende kambium op die stam wat die boom se blare voed.

'n Mens kan die Boeddha se opvatting die wêreld se eerste ekologiese standpunt noem. Niks het 'n permanente self of individuele bestaan nie, maar alles bestaan uit elemente van alle ander dinge. Alles is in der waarheid "leeg".

Neem maar 'n blom, as 'n mens dit deeglik bekyk merk jy dat dit volledig uit nie-blom elemente bestaan. Neem die son en sy warmte weg; of die see, die wolke en die reën, en daar kan geen blom wees nie. Net so is 'n blom onmoontlik sonder die aarde se minerale of die kompos van verlede jaar se dooie blomme. As omstandighede gunstig is manifesteer 'n blom; as die omstandighede ongunstig is verdwyn die blom.

Ook die mens het nie 'n permanente self, 'n siel of 'n atman nie. Die mens word veroorsaak deur die samekoms van vyf elemente: die liggaam wat in staat is tot persepsies, wat lei tot gevoelens, wat lei tot emosies; en dit alles lei tot herinneringe en bewussyn.

Tegnies behoort 'n mens ook nie te praat van geboorte nie, want geen mens ontstaan uit niks nie. Elke mens is 'n manifestasie wat moontlik gemaak word deur die samekoms van bestaande elemente wanneer die omstandighede daarvoor reg is.

Net so is dood ook nie die einde nie maar die voorspel tot 'n hermanifestasie wanneer omstandighede gunstig is. Die fisiese elemente waaruit 'n mens se liggaam bestaan is deur al die miljoene jare van die kosmos se bestaan waarskynlik al in elke denkbare lewensvorm gemanifesteer en sal na 'n mens se dood weer in ander lewensvorme gebruik word. Soos die Indiese heilige, Shantideva, eenmaal gesê het: "Net soos my twee hande en my ander liggaamsdele deel van een liggaam is, so is alle lewensvorme deel van een lewensstroom."

Ook die dinge wat 'n mens anders as 'n dier maak – ons kennis, opvattings, oortuigings en godsdiens, bestaan volledig uit "nie-ek elemente". Dink maar na oor waar jy jou politieke oortuigings gekry het, of jou godsdienstige opvattings, jou kennis of jou herinneringe en jy sal besef dat jy dit nie self geskep het nie. Baie het jy van jou ouers, jou gemeenskap en jou kerk gekry; selfs van jou maats op skool of van van die bure langsaan.

Net so het jy in jou omgang met ander mense dele van "jouself" aan ander mense oorgedra. Soos Boeddha dit self gestel het: "Daar is hergeboorte maar nie 'n self nie."

Ons ontstaan deur die gemeenskap waarbinne ons grootword, die taal wat ons praat, die boeke wat ons lees en die mense wat ons ontmoet – en ons leef voort in wat ons aan ons kinders oorgedra het, of mense met wie ons omgegaan het, of woorde of frases wat ons gebruik het.

In die groot ekologie van die kosmos word niks ooit gebore en sterf niks nie.

Dink gerus aan die lewe in sy totaliteit as die see en aan elke individuele "lewe" as golwe op die oppervlakte van die see. Net soos 'n mens se lewe ontstaan wanneer omstandighede gunstig is, ontstaan golwe op die see wanneer omstandighede dit toelaat. Hierdie golwe begin klein, word groter, bereik hul toppunt en sak dan terug en verdwyn – terug in die water waaruit dit in die eerste plek ontstaan het en waaruit, wanneer omstandighede gunstig is, dit weer te voorskyn sal kom. Niks gaan ooit verlore nie.

Lewe en dood is eintlik twee perspektiewe op dieselfde saak

Ons in die Weste is eintlik die slagoffers van die Griekse filosoof Aristoteles se logika, wat sê dat iets net waar of vals kan wees; wit of swart, nie iets tussen-in nie. Hierdie opvatting het ons wonderlike wetenskaplike prestasies gegee. Maar dit kan lankal nie meer alle verskynsels verklaar nie.

Volgens Aristoteles se logika kan lig net 'n partikel of 'n golf wees, nie albei nie – maar die kwantumfisika vertel ons dat dit in der waarheid enige van die twee kan wees, afhangende van watter omstandighede gunstig is.

Ons weet volgens logiese reëls dat 'n klip dood is en nie lewe nie. Maar breek 'n klip op in sy kleinste onderdele en 'n merkwaardige kwantumwêreld kom te voorskyn waarin elke elektron omring is deur bewegende partikels wat klaarblyklik vol inligting en bewussyn is en selfs hul gedrag kan verander as hulle agterkom hulle word waargeneem.

'n Grens word aan ons kennis gestel deur die geheim van bewussyn; en hierdie geheim word net groter. Dink maar aan die resultaat van 'n reeks eksperimente wat William MacDougal, een van die vaders van die Behaviorisme, oftewel natuurwetenskaplike sielkunde, in die 1920's met rotte gedoen het.

MacDougal wou vasstel of aangeleerde gedrag oorerflik is. Hy het rotte in spesiale watertenks geplaas waaruit hulle net kan ontsnap as hulle na 'n donker uitgang kan swem. As die rot na 'n verligte ingang probeer swem kry hy 'n ligte skok. Rotte se leervermoë is getoets deur die foute te tel wat hulle maak voordat hulle leer om na die donker uitgang te swem. Tot almal se verbasing het elke generasie vinniger geleer as die vorige generasie. Hierdie eksperiment is vyftien jaar lank gedoen en het uiteindelik 32 generasies betrek. Van die eerste tot die laaste generasie was daar 'n tienvoudige toename in spoed waarmee die regte gedrag aangeleer is. Dit was asof kennis deur middel van 'n kollektiewe bewussyn oorgedra word.

Hierdie resultaat het lynreg ingedruis teen die bestaande wetenskaplike opvatting dat aangeleerde gedrag nie oorgeërf kan word nie. Toe hierdie eksperimente in Skotland en Australië herhaal is om MacDougal se bevindinge te toets, was die resultaat nog merkwaardiger. Die eerste generasie Australiese en Skotse rotte (wat nie geneties verwant was aan die Amerikaanse rotte nie) het hul taak byna net so vinnig aangeleer as MacDougal se 32ste geslag rotte. Verskeie rotte het in albei nuwe eksperimente hul taak met die heel eerste probeerslag reggekry. Daardie rotte moes by wyse van spreke die regte manier van optrede iewers geleer het, sonder dat hulle voorheen aan die eksperiment blootgestel was.

Die bioloog Richard Sheldrake (internasionaal bekend maar ook hoogs omstrede) het hierdie opvatting 'n stap verder geneem deur te postuleer dat daar 'n "morfologiese veld" is waar 'n spesie se kennis "bewaar" word. 'n Paar dekades voor hom het die sielkundige Carl Jung al van 'n kollektiewe onbewuste gepraat, waarin die opgegaarde herinneringe van die menslike ras "bewaar" word. Jung wy 'n hele hoofstuk van sy outobiografie aan die dood en kom tot die gevolgtrekking dat die gestorwenes in die kollektiewe onbewuste voortbestaan.

Maar wat dit alles beteken weet ons steeds nie. Die eenvoudige waarheid is dat ons bitter min weet. Heeltemal te min om enige standpunt met sekerheid in te neem. Danksy die wetenskap het ons enorm baie oor materiële dinge uitgevind, maar ons staan maar aan die begin van die ondersoek na die bewussyn.

In 1981, net nadat hy die Nobelprys ontvang het vir sy werk oor die mens se regter en linker breinlobbe, het Dr. Roger Sperry 'n knuppel in die wetenskaplike duiwehok gegooi deur in die Annual Review of Neuroscience te skryf: "Die huidige opvatting oor die mind-brain verteenwoordig 'n direkte breuk met die lankgekoesterde materialistiese en behavioristiese dogmas wat die neorowetenskappe vir dekades oorheers het. Pleks van bewussyn te verwerp of te ignoreer, wil die nuwe benadering juis erkenning verleen aan die innerlike bewussyn as primêre oorsaak van die werklikheid."

Maar wat beteken dit in die praktyk? Sonder meer kennis is ons nie in staat om gegronde stellings te maak oor sake soos byna-dood ervarings, buiteliggaamlike reise, die onthou van vorige lewens onder hipnose of sterfbed-ervarings nie.

Ons kan op grond van die heersende wetenskaplike paradigma sê sulke dinge bestaan nie en kan nooit bestaan nie; of ons kan nederiger wees en erken dat ons te min weet om iets sinvols oor die misterie van die dood te sê.

Wat ons wel met sekerheid kan sê is dat geen geloof in reïnkarnasie of ander vorm van voortbestaan na die dood nodig is vir 'n gesonde spiritualiteit nie. Wie na 'n spiritualiteit soek om sy vrees vir die dood of sy behoefte aan 'n lewe in 'n hiernamaals te regverdig, soek op die verkeerde plek en om die verkeerde rede.

Soos die bekende vroulike Sufi heilige, Rabia van Basra eenmaal uitgeroep het: "O God! As ek u dien uit 'n vrees vir die hel, brand my in die hel. As ek u dien in die hoop om in die Paradys te kom, ontsê my dan die Paradys. Maar as ek u liefhet vir u self, misgun my nie u ewige skoonheid nie."

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.