.

Reïnkarnasie

Deur Johannes Bertus de Villiers op 1 Februarie 2020

.

Die idee van reïnkarnasie, dat mens ná jou dood weer in 'n ander liggaam gebore kan word om nog 'n keer te lewe, maak nie veel logiese sin nie. En tog het ek in my kinderjare enkele ervarings gehad wat my soms weer daaroor laat dink.

Toe ek so vier of vyf was, lank voordat ek nog van joga of Indië gehoor het, het ek spontaan begin om elke middag ure lank op ons grasperk twee ingewikkelde jogaposisies, bakasana en titibasana, te doen. Dít sonder dat ek die minste daarmee gesukkel of enigiemand my daarin touwys gemaak het. Soms het ek selfs ure lank in titibasana ('n eienaardige kontrepsie waar mens jou bene oor jou boarms laai en op jou hande gaan staan) op die TV-kamer se vloer gesit en Pinocchio gekyk. Ek kan dit tot vandag nog redelik maklik doen, al sukkel die meeste mense aanvanklik daarmee.

Toe ek so ses was, het ek saam met my ma in die familiemotor gery toe ons 'n vragmotor verbysteek met 'n magdom kratte vol hoenders agterop. "Mamma, waarheen gaan die hoendertjies?" het ek gevra. "Hulle gaan geslag word sodat jy hulle kan eet," het my ma geantwoord. En op daardie oomblik, ondanks die feit dat ek op 'n plaas as deel van 'n boerefamilie grootgeword het, is ek deur 'n geweldige Weltschmerz-oorval en het ek voor my siel geweet iets is geweldig verkeerd met die wêreld en moet reggestel word, asof ek dit altyd geweet het.

Ek was omtrent agt toe ek een middag ons gesin se Kennis-ensiklopedie van die rak afgehaal en die inskrywing oor Boeddha nageslaan het. Ek kan nie dink wat ek op daardie stadium, as Kinderkranskind in die Paarl, al oor Boeddha sou gehoor het nie, maar dit sou beslis niks positiefs gewees het nie. Langs die inskrywing was 'n illustrasie van 'n maer man wat kruisbeen in die stof sit. Ek onthou nog spesifiek dat ek die deel oor die Boeddha se Vier Edele Insigte gelees en by myself gedink het: "Ja, ek stem volkome hiermee saam." En toe maak ek Kennis weer toe en gaan speel buite.

Daar bestaan geen rede dat mens enigiets in insidente soos dié hoef in te lees nie, maar as ek die soort ou was wat aan reïnkarnasie geglo het, sou ek uit die bostaande begin vermoed het dat ek dalk voor my mees onlangse dood – waarskynlik in Indië of Nepal – onderneem het om in my huidige lewe een of ander Oosterse wysheid met die Boerevolk te kom deel. Wat daardie wysheid is, is ek nog nie heeltemal seker nie.

Van al die mensdom se bespiegelings oor die hiernamaals, insluitende die hemel, die hel, wegsinking in die groot gemenebes van siele en totale uitwissing, is reïnkarnasie maklik die mees onlogiese. Dit veronderstel dat daar iets van jou is wat oorbly nadat jou liggaam vergaan het en dat daardie iets op een of ander manier tot in 'n nuwe embrio gaan reis – albei groot geloofspronge.

Die Boeddha selfs het, ondanks die meeste van sy volgelinge se vaste geloof in hergeboorte, geleer dat die mens geen permanente siel het nie. So wat sou dan weer gebore kon word?

Die nuwe insigte van die filosofie, neurologie en bewussynsielkunde, soos vervat in die werke van skrywers soos Susan Blackmore, John Searle, Bruce Hood en David Chalmers, dui ook daarop dat die mens geen vaste self het wat oor die jare heen voortbestaan nie. Omtrent geen wetenskaplike of filosoof gaan vandag meer toegee dat jy 'n siel het wat los van jou liggaam kan funksioneer nie.

Dink net daaraan: elke agt jaar of so vervang jou liggaam al sy selle. Al jou opvattings en voorkeure kan ook oor die jare vervang word. Daar is niks aan jou persoon wat selfs in één lewe permanent is nie; hoe moet dit nog oor meer as een lewe lank voortbestaan?

En tog is dit nie net dom mense wat in reïnkarnasie glo nie. Hindoes, Boeddhiste en Djainiste oor die wêreld heen, sowel as baie Christene en New Agers, glo aan reïnkarnasie; en hulle is sekerlik nie almal idiote nie. Plato was oortuig ons leef elkeen meer as een keer. Skrywers soos die Amerikaanse transendentaliste (weliswaar meer poëties ingestel as serebraal) het al by die idee aanklank gevind.

In Suid-Afrika was daar al 'n paar interessante gevalle, hoewel dit meer onder eksentriekes as onder die intellektuele elite voorgekom het. In die 1970's het 'n jong Afrikaanse meisie, Joey Verwey, byvoorbeeld opslae gemaak toe Die Huisgenoot berig het sy kan verskeie vorige lewens onthou. Joey was byvoorbeeld nog klein toe haar ouers haar op besoek na die Kruger-huis in Pretoria geneem en sy daar "onthou" het hoe sy op die oudpresident se skoot gesit het terwyl hy vir haar stories vertel het. Sy het, so beweer Die Huisgenoot, allerlei besonderhede uit die ou Boererepublieke onthou wat mense verstom het. Sy het mense ook vertel van vorige lewens tydens die Groot Trek, in Birma en as 'n slavin in antieke Egipte. Uiteindelik het sy onder meer die aandag getrek van 'n sielkundige van die Universiteit van Virginia, Ian Stevenson, wat na Suid-Afrika gereis het om haar te kom ondervra.

Joey het by geleentheid op besoek aan 'n paleontologiese museum histeries geraak toe sy 'n terugflits beleef het na 'n keer toe sy in 'n vorige lewe deur 'n vleisvretende dinosourus gejaag is. "Hy was geweldig groot en het op sy agterpote geloop," het sy vertel. (Baie mense sien laasgenoemde as 'n bewys dat sy 'n twakprater was. Mense het immers nooit die aarde met dinosourusse gedeel nie. Wat hulle egter nie in ag neem nie, is die moontlikheid dat sy in dié vorige lewe dalk self 'n dinosourus was.)

Dan was daar ook die Pretoriase huisvrou Marie van der Post wat in dieselfde jare 'n boek, My Vervloekte Gawe, geskryf het waarin sy vertel het dat sy psigies is, al deur ruimtewesens besoek is, en soms astraal kan reis. Van der Post het vertel dat sy kon onthou hoe sy in Jan van Riebeeck se jare in die Kaap gelewe het.

Nou ja, baie van dié mense se stories laat reïnkarnasie effens verspot klink en mens moet toegee daar is weinig feitelike begronding daarvoor. Maar tog, soms dink ek nog aan die eksentrieke klein seuntjie wat ek eens was, in 'n eienaardige knoop op die grasperk van ons middelklas Afrikaanse woonhuis, sy hart vol simpatie vir plaasdiere en sy gedagtes heel gunstig teenoor die Boeddha, en dan wonder ek of mens nie tog maar 'n klein stukkie ruimte vir reïnkarnasie in jou agterkop moet ooplos nie.

As reïnkarnasie waar sou wees, wil ek die volgende denkeksperiment voorstel: Gestel ons word ná ons dood weer hergebore, maar dat dié proses nie net linieêr in tyd plaasvind nie. Met ander woorde, gestel jou volgende geboorte hoef nie ná jou volgende dood plaas te vind nie. Dalk is tyd irrelevant op die vlak van jou reis tussen liggame. Dit sou kon beteken dat jy na jou volgende dood in tyd terug kon reis en weer in antieke Peru gebore kon word. En dan ná daai dood weer vorentoe na die jaar 2986. En dan weer agteruit na die Steentydperk. En soms kan jy dalk horisontaal in tyd spring, sodat jy hier sterf, en dan in dieselfde era in Rusland weer gebore word. As laasgenoemde waar is, kan jou siel dalk gelyktydig in twee liggame bestaan. Soms loop jy dalk op straat in 'n ander liggaam by jouself verby.

Vat nou dié gedagte verder: As daar 'n oneindige hoeveelheid tyd is (want tyd maak nie saak as jy nie linieêr hoef te beweeg nie), beteken dit jy kan aanhoudend vorentoe, agtertoe, horisontaal, tussen lewens rondspring totdat jy, uiteindelik, elke lewe in die hede, verlede en toekoms gelewe het. Dit sou beteken elke mens (en waarskynlik dier) by wie jy verbyloop, is jy self wat besig is om 'n vorige of volgende lewe te lei.

Dit sou beteken almal is jy. En almal is ek. Jy wat hier lees, is ek wat hier skryf. En jy is ook Mandela. En Mao Zedong. En Moeder Teresa. En die Modimolle-monster. En die batteryhoenders in 'n fabrieksplaas. En die meeue in die lug.

Dit sou in elk geval verklaar hoekom so baie mense beweer hulle was in 'n vorige lewe Cleopatra of Napoleon. Ons álmál was Cleopatra! Én Napoleon!

'n Paar jaar gelede het ek 'n boek deur 'n kwantumfisikus gelees (en ek gee toe dat ek, as iemand wat matriek-skeinat deurgeskraap het, dit waarskynlik verkeerd verstaan het) waarin hy gesê het elke atoom flikker op elke oomblik iets soos 'n triljoen-triljoen-sentiljoen keer heen en weer tussen bestaan en niebestaan. Dit flits in die werklikheid in en weer daaruit. Sê nou net, het hy bespiegel, daai atoom wat uit die bestaan verdwyn het, verskyn op daai mini-mini-mini-oomblik elders, en dat elke atoom eintlik 'n ander atoom is wat op 'n ander plek uit die bestaan uit geflikker het? Dalk, het hy bespiegel, bestaan die hele kosmos uit net een atoom, wat so vinnig van die een plek na die ander spring dat dit lyk asof dit tegelyk oral is.

Indien ons siele het, wil ek voorstel dat iets soortgelyk met hulle gebeur. Dalk is daar een siel wat net oral heen en weer spring en weer gebore word, sodat dit lyk asof ons baie is, maar eintlik is ons een.

As dié gedagte waar is – en ek kan dit nie bewys nie, al hou ek vreeslik baie daarvan – het dit etiese implikasies. Dit beteken elke keer as ek iemand seermaak, selfs toe ek Hitler was en hulle Jode, of toe ek 'n trofeejagter was en hulle 'n bok, veroorsaak ek pyn wat ek self gaan moet beleef wanneer ek as die slagoffer weer gebore word. En elke keer as ek vir 'n honger mens kos gee of vir 'n ou mens glimlag, dan los ek 'n stukkie genade langs die pad vir myself om op te tel as ek weer hierlangs kom.

Dit sou rym met die idee van karma, dat ons die gevolge van al ons dade eendag weer gaan proe. En dalk sal dit mense aanspoor om hul optrede teenoor ander (wat dan eintlik glad nie ander is nie) bietjie meer versigtig te oorweeg.

Ag wat, dis seker alles onsin. Ek kan nie een enkele ding wat ek hier bo bespiegel het, logies begrond nie.

Maar hier is een ding wat ek wel kan sê, voordat ek afsluit. Ek was 'n klein seuntjie toe ek die eerste keer gehoor het hoenders word geslag. Die volgende keer dat ons op die plaas gekom het, het ek 'n skaap gaan soek en diep in sy oë gekyk. En ek het besef daai dier kyk na my terug, net soos ek na hom kyk. Dat hy my vra om hom genadig te wees, net soos wat ek genade vra van dié wat sterker as ek is. Dat ons eintlik glad nie veel verskil nie. Daar is iets geweldig subtiel, maar ook so tasbaar soos 'n rots, wat ons almal op die diepste vlak aan mekaar bind. Ons is veel nader aan mekaar as wat ons ooit sou kon bewys.

Johannes Bertus de Villiers
Meer by https://www.instagram.com/johannesbertus/

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.