Die regverdiging van geloof

Deur Johan Steyn, geskrywe op 17 April 2008 twee dae voor sy dood

Voorwoord

'n Eerliker mens as my groot vriend, Johan Steyn (geboortedatum 24 Desember 1941 – sterfdatum 19 April 2008) – Nuwe Testamentikus aan Unisa van professie maar digter van roeping – sal niemand ooit kan ontmoet nie. Ook nie 'n gevoeliger mens, of een met 'n dieper sin van regverdigheid nie. Hy het gely aan die Christendom en die kerk, maar sy sin van lotsverbondenheid daaraan tog nooit verloor nie. Hierdie artikel – net soos sy gedigte – spreek in 'n soort taal waarin hy – Afrikaanse Schopenhauer, Nietzsche, Overbeck – die meester was: van verlore onskuld en die soeke na 'n nuwe mistieke tuiste waarin daar geen dwang en geen gehuigelde onderdanigheid meer sal wees nie, maar vry denke, oop na alle kante, deernis, en geloof in God bokant alle konvensies, geykte formules en kerk-politieke krete. Hy het die prys daarvoor betaal. Dit is goed en gepas dat SES die laaste woorde wat Johan geskryf het (twee dae voor sy dood) plaas. Hy verdien dit om vandag, in 'n nuwe lentetyd, gehoor te word!
– Kobus Krüger

Die regverdiging van geloof

Johan Steyn

In 'n onlangse praatjie voor die Filosofiekafee het ek die argument gevoer dat die lewensskip ligter is sonder geloof. 'n Vriend het my herinner aan 'n boek van Kuitert jare gelede met die titel Zonder geloof vaart niemand wel. Bewustelik het die titel egter aangesluit by 'n vertaling van Boeddhistiese gedigte deur JS Krüger: Skep die skip leeg. Vanuit daardie impuls het ek vertel hoe daar ligtheid kom met elke stuk dogma wat oorboord gegooi word. Uiteindelik het ek gesê dat ek gemeet aan die Twaalf Artikels nie meer as 'n Christen kwalifiseer nie.

Hierdie punt wil ek graag beklemtoon. Ek doen dit met Feuerbach in gedagte. Hy kon nooit genoeg daarvan kry om die liberale Christendom van sy tyd te kasty nie. Die liberale Christendom het hy teenoor die klassieke Christendom gestel wat hy as Bybels-Reformatories gedefinieer het. Met 'n wye en diep kennis van die tradisie wat vanaf die kerkvaders strek het hy geredeneer dat die Christendom van sy tyd alleen maar die objek van spot en satire kan wees. Hierin is ek dit met hom roerend eens.

Kyk ek nou direk na vandag dan kan ek my veragting nie verberg vir Christene wat een na die ander van die Twaalf Artikels weggooi, maar as dit puntjie by paaltjie kom nog die troos van geloof wil behou nie. Hierdie verskynsel het veral by die Nuwe Hervormers na vore gekom. Ek wil my hier direk daarteenoor stel. 'n Mens sonder 'n tradisie, het Van Ruler gesê, is 'n barbaar. Ek staan die tradisie en daarmee saam die troos wat dit bied af. Daarom noem ek myself ook nie meer 'n Christen in die klassieke sin van die woord nie. Ek het die aartsbuitestaander geword. Ek bevind my in die geselskap van Franz Overbeck, vriend van Nietzsche, met 'n slegte gewete agter die kerklike kateder.

Die afskaffing van die Twaalf Artikels onder moderne Christene het nie met luide geskal plaasgevind nie, maar as 'n gefluister in die skemer. Ek kan die presiese volgorde van afskaffing nie onthou nie, maar ek dink die eerste artikel wat geval het was die hemelvaart van Christus. Die afskaffing van Hemelvaart as vakansiedag het sonder enige protes plaasgevind. Daarop het die wederopsanding van die vlees gevolg. Ek het onlangs met 'n gelowige wetenskaplike gesels wat vir my verduidelik het waarom hierdie artikel sinloos is. Daarmee saam verval natuurlik ook die artikel van die ewig lewe. Ek sou bladsye kon skryf oor die konsekwensies van die afskaffing van die Geloofsbelydenis.

Maar daar is 'n ander kant en 'n baie belangrike kant van die saak. In sy boek The God Delusion betoog Richard Dawkins dat die Christendom in 1800 jaar nie vorentoe beweeg het nie, maar gestagneer het. Hoe bring 'n mens nou die kloutjie by die oortjie? Dit was my probleem vir veertig jaar. Omdat ek nie hou van herhaling nie, gaan ek die storie nie weer vertel nie. Genoeg om te bevestig dat in my skip nie meer Die Heidelbergse Kategismus, Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Die Leerreëls van Dordt, die drie geloofsbelydenisse en die formuliere van die kerk gevind word nie. Maar beteken dit nou dat ek nie meer in God glo nie? Nee, want ek glo nie; soos Jung gesê het, ek weet. Daar is vir my niks sekerder nie as dat daar hoër en dieper as enige formule 'n draende en verheffende Grond van die bestaan is. Hy is Meister Eckhart en Paul Tillich se GOD above God, bo die geformuleerde, gedefinieerde God. Ek is onherroeplik in my hele menswees aan Hom verbind. Hy is in elke versugting van blydskap of leed, die krag van my rus en my opstand.

Maar: ek verwag nie om met hierdie geloof erkenning in die kerk te kry nie. My gemeenskap van gelowiges is die mistici van alle eeue en tradisies. Dit is 'n interessante verskynsel: hoe hoër of dieper gevors word, hoe meer vind die verskillende tradisies van die verskillende religieë vrede met mekaar. En waaraan het ons vandag meer behoefte as aan vrede, veral die vrede wat alle verstand te bowe gaan? Dit is waarom ek so 'n geswore vyand van alle fundamentalismes is, van watter vertakking van godsdiens ookal. Mense skort hulle denke op in die hoop om daardeur gered te word, maar is dan kwaad vir almal wat hierdie weg nie wil bewandel nie. Fanatisme is geweld en aan niks het ons minder behoefte as nog geweld nie. Ek droom van 'n wêreld waarin verkeerde opskorting 'n einde kry, waarin denke as die juweel van die diepste vertroue verwelkom sal word.

Maar dobber 'n skip sonder vrag nie rond in elke bries wat daarteen aanstoot nie? Die lading van my skip is die gewiglose lading van deernis. En vreemd genoeg, hier sluit ek weer aan by 'n tema in die klassieke Christelike geloof. Die teks vir my proefpreek was: Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. Die ongedogmatiseerde Christus. Maar ek sluit terselfdertyd aan by die universele denker Schopenhauer. In 'n essay oor die grondslag van die etiek oorweeg hy verskillende opsies en kom dan tot die gevolgtrekking dat deernis of medelye die egte sin van die Bybelse begrip van agape is. Want die diepste van die lewe is lyding. Die hele skepping sug en is in barensnood tot nou toe. Die diepste en spontaanste van die siel is inderdaad verdriet. Geen ander emosie word so spontaan opgeroep nie. Laat ons dan in Godsnaam goed wees vir mekaar. Met die ontwaking van deernis verdwyn die afguns wat so maklik kop uitsteek. Met deernis word die ander in sy ondeurgrondelik eie leed as mede-mens omhels.

Nou sal daar mense wees wat sê dit is 'n gebrek aan takt dat ek hierdie dinge so opsigtelik en so hard op die tafel neersit. Moet 'n mens nie liewer jou mond hou en formuliere toelaat om 'n stil dood te sterf nie? Ek verset my daarteen in die naam van integriteit. Ek hou nie van 'n stilte wat die stilte van die dood is nie. Ek wil hê dat niks aan die debat onttrek word nie. Daar is juis al te veel double speak in die politiek van die dag. Ek hou daarvan dat die son die oes toets, of dit 'n goeie of 'n misoes is. Ek dink dat die publieke oorweging van dade en gedagtes die enigste voordeel van demokrasie is.

Die voorhangsel het geskeur. Dit kan nie weer toegewerk word nie. Daar is niks meer heiliger as iets anders nie en daar is niks wat nie ook heilig is nie. Ek dank hierdie gedagte aan my vriend, Erasmus van Niekerk. Wat ek graag wil sien is die heilige deug van waaragtigheid in die alledaagse oop gesprek. Waarna ek verlang is dat anatema deur sjaloom vervang word. Dit is die eerste en laaste regverdiging van geloof in ons tyd. Mag die Onsienlike ons daartoe sterk en steun!

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za