Reduksionisme, Holisme, God en Liefde

Deur Douwe van der Zee op 1 Junie 2012

"The experience of union, with man, or religiously speaking, with God, is by no means irrational. On the contrary, it is as Albert Schweitzer has pointed out, the consequence of rationalism, its most daring and radical consequence. It is based on our knowledge of the fundamental, and not accidental, limitations of our knowledge. It is the knowledge that we shall never 'grasp' the secret of man and of the universe, but that we can know, nevertheless, in the act of love. Psychology as a science has its limitations, and, as the logical consequence of theology is mysticism, so the ultimate consequence of psychology is love."
– Erich Fromm, The Art of loving

"There is a tendency to fragment, and then to be concerned about the truth of just a little part of the whole. And this is but a way of avoiding, or looking away from the whole, to what you think you might be better able to understand." – A Course in Miracles

In 1926 het Jan Smuts se boek Holism and Evolution verskyn. Kort daarna het Smuts met Einstein bevriend geraak en begin korrespondeer. Einstein het op 'n stadium gesê dat Smuts een van net 'n handjievol mense was wat regtig sy relatiwiteitsteorie verstaan het. Hy het ook voorspel (in 1936) dat twee fundamentele konsepte die menslike denke in die volgende millennium sou oorheers: sy eie relatiwiteitsteorie en Smuts se holisme-teorie.

Einstein was verkeerd. Of was hy? Die millennium het nog 'n entjie om te gaan. Sy relatiwiteitsteorie het 'n groot invloed op die kwantumfisika gehad, maar holisme het dit – tot dusver in elk geval – nie gemaak nie. Hoekom nie?

Dit hou vir my verband met wat in die biologiese wetenskappe (life sciences) gebeur het. Hulle het aangegaan asof die kwantumfisika nooit bestaan het nie. Vir sover dit baie wetenskaplikes en veral wetenskapiste (mense wat glo die wetenskap is die enigste manier om by waarheid uit te kom) aangegaan het, was die fenomenale implikasies van die kwantumfisika van geen praktiese belang vir die biologiese wetenskappe nie.

Dieselfde soeke na die 'uiteindelike deeltjie' wat in die fisika plaasgevind het, het na die kwantumomwenteling ook in die biologie plaasgevind. Dit het begin met Gregor Mendel se studies oor genetika en die mikroskopiese waarneming van chromosome, en het seker sy klimaks bereik met Watson en Crick se ontdekking van die struktuur van die DNS-molekule in die vyftigerjare (Engels DNA – deoxyribose nucleic acid). Vandaar het genetiese determinisme (die geloof dat gene aan alle vorms en funksies in lewende organismes oorsprong gee), veral in kombinasie met Darwin se evolusieteorie, hoogty gevier.

Een van die basiese sillogismes (argumente) in die logika waarmee ons van kleins af al bekend is, is dat
As A = B
En as B = C
Dan is A = C.

A = B is 'n aanname. Dis was die 'as' beteken. In die logika word dit 'n proposisie genoem.
B = C is ook 'n aanname.
Slegs as altwee aannames geldig is, is die finale gevolgtrekking (A = C) ook waar.
As een of altwee van die aannames nie waar is nie, is die gevolgtrekking ook nie waar nie.

So eenvoudig en tog so universeel geïgnoreer. Hierdie eenvoudige sillogisme bevat die essensie van die logika as geheel: Enige logika is slegs so geldig as die onderliggende aannames. Maak nie saak hoe ingewikkeld en akkuraat die logika is nie, as die onderliggende aanname(s) verkeerd of onvolledig is, is alle gevolgtrekkings wat op daardie logika gebaseer is, ook verkeerd of onvolledig.

Die reduksionistiese wetenskap, en dit sluit feitlik alle moderne wetenskap en spesifiek die biologiese wetenskappe in, is op onder meer drie aannames gebaseer. Die 'wetenskaplike metode' kan slegs op hierdie aannames funksioneer:

  1. Alles in die natuur kan verstaan word deur materie en lewensprosesse tot hul eenvoudigste komponente te reduseer en dan te bestudeer. (Vandaar die naam reduksionisme.)
  2. Die som van al hierdie gespesialiseerde 'kennis' is kennis van die geheel.
  3. Slegs wat direk met die sintuie of indirek met behulp van wetenskaplike instrumente waargeneem en gemeet kan word, bestaan.

Soos in die geval van die wetenskap, is ook godsdiens op aannames gebaseer. In die geval van die Christelike godsdiens is die vernaamste daarvan seker dat die Bybel die 'Woord van God' is.

Ons godsdiens is natuurlik niks minder reduksionisties as die wetenskap nie. Die reduksionistiese wetenskap het uit die reduksionistiese godsdiens ontstaan. Mense soos Newton en Descartes was baie godsdienstig, en op tipies reduksionistiese wyse wou Descartes juis die bestaan van God probeer 'bewys'. Vandag dring baie wetenskapiste aan op 'bewyse' van die bestaan van God, maar is daardie 'bewyse' nie eintlik maar net pogings om God vir die menslike verstand verstaanbaar maak, en daarmee effektief die menslike verstand bo God self te verhef nie? En dan praat ek nog nie eers van die verskynsel dat ons geneig is om slegs die 'bewyse' wat in ons wêreldsiening inpas te aanvaar nie...

Die probleem is nie God nie, maar die konsep van God. Ons het met God presies gedoen wat die Egiptenare, die Grieke, die Romeine en talle ander met hul gode gedoen het: ons het die Oneindige, die Ondefineerbare, die Onbegryplike, die Volmaakte gereduseer tot denkbeeldige wesens wat presies soos mense optree – soms liefdevol, soms wraaksugtig, woedend, jaloers of sommer net beneuk.

Aannames is nie altyd eksplisiet nie. Inteendeel; van die meeste aannames is ons onbewus. In 'n artikel genaamd Knowledge and Insight skryf die beroemde kwantumfisikus David Bohm destyds: "Another part of knowledge is belief. Beliefs motivate us and are based on presuppositions. Our whole approach to life is full of presuppositions. They affect everything, our actions, our thoughts, our feelings, our urges, desires, and motivations. Presuppositions have an unconscious yet pervasive effect on our whole being."

Dis nie sonder rede dat sowel in die wetenskap as in die godsdiens aannames onbewus gelaat word nie. Dit was vir die kerk deur die eeue heen krities om daarop aan te dring dat die Bybel die Woord van God is, maar net so krities dat lidmate nie besef dat dit slegs 'n aanname is nie. Om 'n (hele) paar duisend mense daarvoor te moes martel of verbrand was 'n minimale prys om daarvoor te betaal. Want solank die Bybel die Woord van God was, kon enigiets daaruit geregverdig word. Jy moes net die regte Bybelversie kry. Met dié dat kerk en staatsbeheer deur die eeue onlosmaaklik aan mekaar verbind was, was die aanname dat die Bybel die Woord van God was die basiese fondament vir staatsbeheer. In Suid-Afrika beleef ons nou nog die laaste stuiptrekkings daarvan.

Vir die wetenskap, of eintlik meer spesifiek vir die wetenskapisme, is dit net so belangrik om die aannames onbewus te hou, want tot die mate waarin ons van die aannames bewus is en besef dat dit aannames is, is ons 'kennis' nie 'kennis' nie, maar blote idees oor die werklikheid. Veral in die konteks van Francis Bacon se woorde "kennis is mag", en die feit dat die wetenskap vandag grotendeels amper net so direk met korporatiewe beheer verbind is as wat kerk en staat voorheen was, kan 'n mens verstaan dat baie wetenskapiste so fanaties die bestaan van enigiets buite die sien- en meetbare ontken.

Net soos miljoene mense deur die eeue absoluut seker was dat die Bybel die Woord van God was, bestaan daar by seker die meeste wetenskaplikes, en beslis by wetenskapiste, nie die geringste twyfel dat die aannames van die reduksionisme waar is nie. Dieselfde geld vir Neo-Darwinisme, wat al so algemeen in die biologiese wetenskappe aanvaar word dat daar nie meer besef word dat dit eintlik net 'n teorie is waarvan daar aangeneem word dat dit die waarheid is nie. 'n Mens kan dus verstaan dat wetenskapiste nie daarvan hou dat aan hul aannames getorring word nie.

David Bohm skryf in die voorheen genoemde artikel: "The key point is that everyone must be able to question with great energy and passion whatever is not clear. It's necessary to sustain this questioning in spite of whatever difficulties may arise. This questioning is not an end in itself and its purpose is not mainly to give rise to answers. Rather, it's essential in the whole movement of life, which can only be harmonious when this ceaseless questioning frees the mind of the tendency to hold indefinitely to contradictory and confused knowledge. If you question in this way, there may be the energy of insight, which is crucial for opening up the mind to new directions." Meeste mense sal seker saamstem.

Hy voeg egter nog 'n sinnetjie by: "To do this is a tremendous challenge, not only because of our habit of wanting important ideas to be secure, but because of very deep and subtle questions involving how the mind operates."

Hy't nie oordryf nie. Ek wonder of selfs hy die belangrikheid van die woord 'secure' besef het? 'Kennis' gee ons dikwels 'n gevoel van sekerheid, en as daardie 'kennis' bevraagteken word, kan dit 'n ongelooflike diep gevoel van onsekerheid veroorsaak.

Kom ons kyk weer na die holisme. Smuts definieer holisme as "The tendency in nature to form wholes that are greater than the sum of the parts through creative evolution." "In all the previous cases of wholes," skryf Smuts, "we have nowhere been able to argue from the parts of the whole. Compared to its parts, the whole constituted by them is something quite different, something creatively new, as we have seen. Creative evolution synthesises from the parts a new entity not only different from them, but quite transcending them. That is the essence of a whole. It is always transcendent to its parts, and its character cannot be inferred from the characters of its parts."(My kursief.)

Per definisie kan volgens holisme die geheel dus nie verstaan word deur die gesamentlike kennis van al die komponente nie. Ten spyte van die magdom kennis oor die struktuur en chemiese prosesse van selle en lewende organismes, kan die wetenskap vandag nog steeds nie die verskynsel van bewussyn of lewe verklaar nie. Ten spyte van Einstein se entoesiasme gaan holisme inderwaarheid teen die grein van die moderne wetenskap in: dit impliseer dat die aannames van die reduksionisme nie waar is nie, of in elk geval onvolledig is. Geen wonder dus dat dit byna geen erkenning vanuit wetenskaplike kringe gekry het benewens dié van Einstein nie.

In die lig hiervan kan 'n mens die destydse redakteur van die vooraanstaande wetenskaplike tydskrif Nature, John Maddox, se reaksie op Rupert Sheldrake se hipotese van morfiese resonansie verstaan. In eenvoudige terme het Sheldrake voorgestel dat elke organisme, asook elke orgaan en selfs kleiner komponente van 'n organisme, deur 'n soort 'veld' omring word wat met die 'velde' van die kwantumfisika vergelyk kan word. Die doel van hierdie hipotese was om te probeer verklaar wat die genetika nie kon en nog steeds nie kan verklaar nie: hoe kan gene deur chemiese reaksies aan vorm en funksie oorsprong gee?

In 'n redaksionele artikel in Nature skryf Maddox in 1981: "This infuriating tract ... is the best candidate for burning there has been in years," en in 1994 sê hy in 'n onderhoud met die BBC: "Sheldrake is putting forward magic instead of science, and that can be condemned in exactly the language the Pope used to condemn Galileo, and for the same reason. It is heresy."

Die woorde van 'n 'objektiewe' wetenskaplike wat hom hier met die onderdrukkers van een van die pioniers van die wetenskap vereenselwig...?

Sheldrake se hipotese was effektief holisties van aard.

Om 'n geheel te verstaan vereis insig – die insig waarvan Bohm gepraat het. En insig vereis dat daar voortdurend vrae gevra word, nuwe perspektiewe verken word, nuwe idees geformuleer word en so meer. "Never lose a holy curiosity," het Einstein gesê. Helaas het mense soos Thomas Kuhn (The History of Scientific Revolutions) al duidelik uitgewys dat, eerder as om 'heilige nuuskierigheid' te verwelkom, die wetenskap as geheel (soos enige ander menslike aktiwiteit) nog altyd antagonisties teenoor enige idees gestaan het – en staan – wat die status quo in twyfel getrek het of trek. Die rede daarvoor behoort nou duideliker te wees: enigiets wat die status quo bedreig, en veral iets wat ons ongesproke aannames in twyfel trek, laat ons met 'n diep gevoel van onsekerheid!

Die gevolg hiervan is dat ons glad nie so rasioneel is as wat ons dink nie. Dikwels is wat ons 'rasioneel' noem bloot rasionalisering van ons onderliggende gevoel. En dit het fundamentele implikasies vir ons 'kennis':

Einstein se 'holy curiosity' is slegs moontlik in 'n geestestoestand van egtheid, verwondering en verwondbaarheid. So 'n geestestoestand gaan op sy beurt gepaard met vertroue, en dus 'n gevoel van innerlike sekerheid. Kinders word daarmee gebore.

Die vinnigste manier om ons 'heilige nuuskierigheid' finaal die nekslag toe te dien is oordeel – die grondslag van onverdraagsaamheid. Oordeel veroorsaak vrees en skuld, en vanuit 'n gevoel van vrees of skuld is onbevooroordeelde verkenning onmoontlik.

In teenstelling met hipoteses en teorieë, wat (teoreties) altyd die moontlikheid van verkeerd wees ooplaat, is seker die meeste van wat ons 'kennis' noem in der waarheid oordeel. Ons het besluit wat is 'reg', en enige idees, aksies of gevoelens wat teenstrydig is met wat ons as 'reg' beskou (oordeel), word in die kiem gesmoor. Hoe belangriker dit vir ons is om 'reg' te wees, hoe meer word enigiemand wat anders dink outomaties as 'n vyand beskou. Wat in die godsdiens en wetenskap gebeur verskil inherent nie regtig so veel van wat met die DA en Cosatu gebeur het nie!

Omdat kinders 'n geweldige behoefte aan erkenning en aanvaarding het, leer hulle in 'n klimaat van oordeel en onverdraagsaamheid baie gou om nie meer vrae te vra nie, en sorg hulle ook baie gou dat hulle nie meer 'foute' maak of 'misluk' nie. Daar's letterlik niks so sieldodend vir 'n kind as om heeltyd antwoorde te kry oor hoe dinge 'is' nie! Helaas was en is sulke onverdraagsaamheid lank min of meer die kern van wat ons 'onderwys' noem. En dan vra onderwysers hoekom kinders nie vrae vra nie?!

In die besigheidswêreld word die belangrikheid van kreatiwiteit al hoe meer besef. Google gerus vir Daniel Pink in daardie verband. Maar kreatiwiteit is 'n vorm van 'heilige nuuskierigheid'. Hoeveel mense durf werklik kreatief te wees? Om kreatief te wees vereis om openlik met jou idees en gevoelens voor die dag te kom, en om sonder vrees vir verwerping 'verkeerd' te kan wees. Wie is bereid om dit te doen in 'n atmosfeer van oordeel en onverdraagsaamheid? Wat vir kinders geld, geld net so veel vir ons as volwassenes, want ons kindertyd lê net onder die oppervlak...

Met die ontkenning en onderdrukking van kinders se 'heilige nuuskierigheid', wat in der waarheid neerkom op die onderdrukking van hul hele wese, kom woede.

En so is dit dat baie van ons Afrikaners (soos miljoene mense regoor die wêreld) as kinders geleer het dat die Bybel die Woord van God is wat nie bevraagteken mag word nie. En omdat ons ouers (en veral ons pa's) namens God gepraat het, mog hulle óók nie bevraagteken word nie. Dit het baie van ons met 'n diep ontkende of onderdrukte woede gelaat.

Die ironie is dat ons as kinders nie net geleer het dat die Bybel die Woord van God is (en ons pa's God se verteenwoordigers) nie, maar ook dat 'n mens ten alle koste 'reg' móét wees. Want kinders tel ongesproke onderliggende aannames en boodskappe net so doeltreffend op as verbale kommunikasie. Toe die teoloë se uitleg van hoe die Bybel sy ontstaan gehad het uiteindelik by ons gewone mense begin uitkom (wat waarskynlik baie te doen het met die losmaking van staat en kerk), het baie van ons bedrieg en onseker gevoel.

Wat in ons vroeë kindertyd gebeur vorm die grondslag vir die res van ons lewens. In haar boeke het Alice Miller herhaaldelik daarop gewys dat, tensy ons met die gevoel daarvan in aanraking kom en dit verwerk, ons as volwassenes geneig is om presies so op te tree as wat ons ouers in ons kindertyd teenoor ons opgetree het. My vermoede is dus dat die volgende gebeur het:

Die bevraagtekening van die fundamentele aanname van die godsdiens dat die Bybel die 'Woord van God' is lei tot 'n diep onsekerheid. Die reaksie daarop is skynbaar uiteenlopend, maar ook nie eintlik nie. Vanuit ons onsekerheid is die reaksie gewoonlik een van twee: óf ons weier om die argumente te hoor wat ons aannames bevraagteken en klou al hoe meer vas aan die gevoel van sekerheid wat godsdiens ons bied (godsdienstige fundamentalisme), óf ons verwerp dit heeltemal. Die onsekerheid, en dikwels bitterheid, wat met hierdie verwerping gepaard gaan noop ons nou om ons toevlug tot iets anders te neem wat ons voel ons wél daardie sekerheid kan bied. Nie dat ons noodwendig daarvan bewus is nie. Sommige wend hulle tot ander godsdienste. Vir baie mense het die wetenskap skynbaar so 'n funksie begin vervul. Ek skryf die gewildheid van Richard Dawkins se boek The God Delusion direk toe aan hierdie verskynsel.

Die ironie is egter dat, vanweë wat ons as kinders ervaar het, ons nou geneig is om met presies dieselfde oortuiging van ons eie 'reg' wees aan die wetenskap as 'waarheid' vasklou en net so min bereid is om argumente wat die wetenskapisme bevraagteken aan te hoor as wat die godsdienstiges bereid is om argumente wat die godsdiens bevraagteken aan te hoor. Met dié dat die aannames in die wetenskap net so onbewustelik en onuitgesproke is as in die godsdiens, en mense soos Richard Dawkins met netsoveel charisma (en aggressie) vir sy saak agiteer as baie predikante, het baie mense eenvoudig een geloof vir 'n ander verruil.

Godsdienstige en wetenskaplike fundamentalisme het dus presies dieselfde oorsprong – ons inherente onsekerheid.

Dis interessant dat baie van die ateïste (soos die Calviniste!) aandring op logika en rede. Die ironie is egter dat hulle gedrag en argumentering, soos in die geval van die godsdienstiges (en dikwels my eie!), alles behalwe rede en logika openbaar. As jy dit durf waag om onderliggende aannames uit te wys, word jy onmiddellik vir 'n 'kreasionis' of 'ateïs' uitgekryt (afhangende van watter kant se aannames jy uitwys).

Kenmerkend van die 'debat' tussen ateïste en godsdienstiges en tussen 'evolusioniste' en 'kreasioniste' is, soos die konfrontasie tussen die DA en Cosatu, nie net die voortdurende afskiet van mekaar se argumente nie, maar ook aanhoudende persoonlike aanvalle. Die emosionele bakstene wat gegooi word doen dalk nie soveel fisiese skade nie, maar die skade wat aan insig gedoen word, is dalk baie erger.

Daar is geen insig in hierdie soort 'debatte' nie.Die feit dat albei kante dalk goeie argumente het wat in 'n proses van werklike dialoog tot dieper en meer funksionele insigte kan lei word volkome oor die hoof gesien. Insig kan net bereik word deur geleidelike verkenning van talle verskillende en dikwels konflikterende idees, en dit vereis verdraagsaamheid. Om verdraagsaam te wees is om oordeel te laat vaar. Om oordeel te laat vaar is om te vergewe.

Ons kan ook anders reageer. Dis baie moeilik om te ontken dat daar tog waarheid in die wetenskap moet wees. Om evolusie heeltemal te ontken is in die lig van die talle fossiele en ander aanduidings nie eintlik rasioneel nie, en sulke ontkenning is in der waarheid rasionalisasie. Maar netso besef baie mense dat daar dieper waarhede in die Bybel is. Hulle sien die ooreenkoms tussen godsdienste en skrywes soos A Course in Miracles en so meer raak en vra vrae daaroor.

Wat laat sekere mense hierdie benadering volg en ander totale verwerping of ontkenning?

Dis op die ou end 'n besluit, en daardie besluit kom basies neer op: reageer ek op my onsekerheid of op my dieper wete/vertroue dat daar 'n ander oplossing moet wees?

Met ander woorde, leef ek saam met my onsekerheid of laat ek my deur my onsekerheid beheers? Alan Watts het eenkeer 'n boek geskryf met die titel The Wisdom of Insecurity.

Die verskil lê daarin of ons ons onderliggende gevoel erken of ontken. Baie van ons besef nie eers dat ons onseker voel nie. Ek vermoed dat ons kindertyd baie daarmee te doen het.

In my geval, byvoorbeeld, het ek in 'n Nederlandse huis grootgeword het waarin daar nogal 'n ongesproke antagonisme teenoor Afrikaners was (my ouers is 'n bietjie bedonner deur die Broederbond). Terselfdertyd was ek op 'n Afrikaanse skool waar ek gehoor het dat Afrikaners min of meer die uitverkore volk van God was. Voorts het my pa as 'n ingenieur daarop aangedring dat ons dinge rasioneel benader – behalwe wanneer dit by geloof kom. Al hierdie faktore saam het die effek gehad dat ek 'n perspektief oor die relatiwiteit van kultuur ontwikkel het. Dit was maar 'n traumatiese ondervinding, maar nou is ek dankbaar daaroor.

Die onderliggende probleem met die voortdurende 'debat' tussen die godsdienstiges en die anti-godsdienstiges het in werklikheid niks met rede te doen nie, maar alles met gevoel. In haar boek The Continuum Concept skryf Jean Liedloff destyds: "What he [the infant] feels before he can think is a powerful determinant of what kind of things he thinks when thought becomes possible."

Die wetenskapisme wat sê "Ons weet hoe die heelal werk en dat God nie bestaan nie" is 'n oordelende wetenskap (en daardeur streng gesproke nie wetenskaplik nie!). Die wetenskap wat sê "Hierdie is ons huidige model. Kom ons behou ons heilige nuuskierigheid en hou aan soek en eksperimenteer en dink – en speel; dalk kom ons nog op iets nuuts – en iets beters, en iets groters – af?" is nie net nie-oordelend nie, maar is eintlik wat die wetenskap in werklikheid veronderstel is om te wees.

Net so is 'n godsdiens wat sê: "Ons weet dat die Bybel die Woord van God is en dat Jesus vir ons sondes gesterf het" 'n oordelende godsdiens. "Soek en jy sal vind," daarenteen, is iets heel anders. Daar het Jesus en Einstein eintlik presies dieselfde gesê.

Paulus sê: "Nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Liefde is om oordeel te laat vaar en te vergewe.

Miskien was Einstein tóg reg oor die holisme? Met dié dat mense soos Bruce Lipton duidelik die beperkings van die reduksionisme begin uitwys en teoloë lankal reeds die beperkings van die godsdiens uitwys kan ons nou dalk begin konsentreer op insig?

Dit hang alles af van die Liefde.

God is Liefde...?!

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en werkswinkels oor outentieke speel, doen wildernis staptoere in wildtuine en is 'n student en onderwyser van A Course In Miracles.
Meer inligting is op sy webwerf www.douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za