Rapport: Hanlie gesels met ds. Anton Pienaar

Deur Rothea Kleynhans op 1 Desember 2010

Hanlie Retief se onderhoud met ds. Anton Pienaar in 14 November se Weekliks het my verras.

Anton het pas as redakteur van die Kerkbode bedank.
Hy het net 'n jaar in hierdie warm stoel gesit.

Anton praat kaalkop, met 'n rou eerlikheid. "Ek is ontnugter. Ontnugter oor die kerkleiers se dislojaliteit en naywer; die kritiese, agteraf aanmerkings teenoor mekaar." Hy vertel dat die kerk inligting weerhou. Hulle is dus blatant oneerlik met hul eie lidmate en die media.

Is dit nie presies hoe baie voel wat net nie meer kans sien om Sondag vir Sondag op die koue kerkbanke te sit nie? Ontnugter.

Ons leef nie meer in 'n era waar die kanselkleed met die woorde: "So spreek die Here", gesluk word nie. Die dominee is nie meer die onaantasbare nie. Mense is keelvol vir soet woorde wat nie in die praktyk vergestalting vind nie. Afrikaners soek 'n eietydse spiritualiteit wat tot op die been sny.

Ek mag verkeerd wees, maar nadat ek die berig vir die hoeveelste maal gelees het, kon ek nie anders as om te vra: "Is hierdie man nie presies met dieselfde kwelvrae besig as talle ander wat die kerk vaarwel geroep het nie? Soek hy nie maar ook net 'n spiritualiteit wat 'werk' nie?"

– Rothea Kleynhans

Hanlie gesels met ds. Anton Pienaar

Artikel in Rapport, 13 November 2010

Oor 'n koppie rooibostee op 'n potblou dag in Wellington groet 'n predikant 'n droom. Tussen ons, oopgevou op 'n tafel in 'n Victoriaanse huis, lê dié droom. Kerkbode.

Ds. Anton Pienaar druk sy handpalm soos in 'n seëning neer op dié 151 jaar oue lyfblad van die NG Kerk.

Ja, knik hy.

"Maar ek wonder of dit nie 'n droom is wat saam met die kerk begrawe word nie..."

Hy het bedank ná net 'n jaar in die redakteurstoel. Soos die vorige redakteur ook. Uit 'n warm stoel waar enige sweempie van redaksionele vryheid met 'n voorhamer deur die kerkleiers beteuel word.

"Van al die ampsdraers in die kerk moet die redakteur van Kerkbode sy rug die meeste toehou. Dit was vir my 'n slegte ervaring. Ek is ontnugter. Ontnúgter oor die kerkleiers se dislojaliteit en naywer; die kritiese, agteraf aanmerkings teenoor mekaar."

Skaars in die redakteurstoel is Anton ernstig betig oor die versigtige, neutrale hoofberig oor die sinodebesluit om weer "ernstig te praat" oor die saamwoon-kwessie.

"Toe raas die kerkleiers met my, sê ek het die kerk skáde aangedoen. En as ek weer oor sulke omstrede goed skryf, wil hulle dit eers lees."

Hy lag, kopskuddend, maar katrol hom in, versigtig om nie dislojaal te klink nie.

Toe daar in Augustus onderhandel moes word oor sy voortgesette betrokkenheid het Bybelmedia "en wie ook al my baas was" so gesloer dat Anton uiteindelik uit radeloosheid bedank het.

"Hulle het my in 'n verskriklike verleentheid geplaas. As hulle betyds 'n behoorlike aanbod gemaak het, sou ek waarskynlik aangegaan het as redakteur."

Sy bedanking is waarskynlik presies wat hulle wou hê, word bespiegel.

Sedert Anton in die 1980's twee jaar by Beeld as verslaggewer gewerk het, het die joernalis-snuffelhond in dié dominee nog nie gaan lê nie. Hy weet hoe belangrik deursigtigheid, kommunikasie is.

"Die kerk skiet homself in die voet, want hy verstaan en ondersteun nie sy eie kommunikasie nie. Nou is die debatte eerder in die sekulêre pers.

"Met Kerkbode wou ek al die strominge in die kerk weerspieël. Al word ons kwaad vir mekaar, hóór ons mekaar.

"Maar ... die ouens hou nie daarvan nie." Lag hy. Gelate.

Vra rond oor Anton Pienaar en jy hoor: Soos Pretorianers oor die Blou Bulle voel, voel Anton oor die NG Kerk.

"Die NG Kerk is my ma," sê hy onomwonde.

"Vir die kerk is ek onvoorwaardelik lief. So, maak nie saak wie my kwaad maak nie, ek sal altyd lojaal bly."

Dis seker maar in sy gene, glimlag hy. Hy onthou die geborgenheid wat hy as laerskoolseuntjie langs sy pa in Ventersdorp se kerkgebou ervaar het.

"Ek het altyd geweet die kerk laat my veilig voel, maak my hart bly. Naderhand, as Pa-hulle nie kon gaan nie, dan is ek sommer alleen kerk toe."

Sy pa was 'n pad-inspekteur en die Pienaars het rondgetrek tussen padkampe in die ou Transvaal. "In matriek gaan sit ons – daai mooi familietradisie – om die tafel om my toekoms te bespreek. Medies, dag ek nog. En toe, uit die bloute, sê my stem: 'Ek wil dominee word, Pa.' Dit het nooit weer verander nie."

Jy kyk hom so oor die tafel – mentgroen hemp, pen in die bo-sak, goedigheid om die mond, dominee in sy wééfsel – en jy wonder: Hoe het dit gekom dat so 'n man koppe stamp met sy eie kerk?

"In kerkpolitiek, die oomblik dat jy êrens kom, val die byl. Dis aaklig. In die proses om hulself te laat geld, trap die kerkleiers op mekaar. Ja, sommer in die kérk, ja."

En te midde van alles, sê hy, is daar foutlyne in die kerk, geweldige skuiwe aan die gebeur.

"Lidmate se lojaliteit lê deesdae by hul gemeentes. Hulle voel vere vir sinodebesluite. Die kerkleiers voel dus al hoe meer op die kantlyn."

Groot pole is besig om te ontwikkel.

"Daar's die fundamentaliste wat die Bybel letterlik verstaan, wat in 'n bondeltjie saamtrek en sê óns het 'n greep op die Waarheid. Dis die Moreletaparke, die Angus Buchan-mense, die pentecostal-beweging binne die NG Kerk.

"Die ander groep, die kritiese of sogenaamd liberale teoloë, sê hoe langer ons lees en afstand kry, hoe meer besef ons dis 'n ou boek daai en ons moet die waarhede goed uitsif. Ons mag mense nie meer daarmee manipuleer nie.

"Die fundamentaliste sê: As jy siek is, moet jy net genoeg geloof hê. Die liberale teoloë sê: Siekte en dood is deel van die sirkel van die lewe; kom ons waardeer hierdie lewe wat ons gegun is.

"Hulle sê vir die fundamentaliste: Julle jok 'n bietjie vir mense.

"Die fundamentaliste sê: Julle vat ons waarheid weg."

Hulle vind mekaar nié, en soos 'n vink aan 'n tak hang die NG Kerk. Tussen die kerk van sekerhede en die kerk van onsekerhede.

Boonop, hoe angstiger Afrikaanse mense in Suid-Afrika raak, hoe meer gryp hulle fundamentalisme aan.

"Dis so jammer. Die NG Kerk verloor sy uniekheid deur na daai kant toe te beweeg. Dié kerk wat nog altyd daarop gestaan het dat hy denkend met die Bybel omgaan."

As student al was Anton Pienaar oop vir wyer invloede.

Op Universiteitsoord se kerkbanke het ds. Willem Nicol se preke oor geregtigheid dié naïewe jong plattelander laat nadink. Toe gaan lees hy André P. Brink, raak begeester deur Van Zyl Slabbert.

Hy en dr. André Bartlett, tans predikant by die Aasvoëlkop-gemeente in Johannesburg, was koshuismaats. Hulle het eksamens deur saam brug gespeel, aan die tjommel oor wie die volgende landspresident sou wees. Bartlett, toe nog aartskonserwatief, het gereken dis AP Treurnicht. Anton, Van Zyl Slabbert.

"André het later sy politiek verander en my om verskoning gevra. Ek het dit waardeer."

Bartlett vertel: "Anton het my uitgedaag, gedwing om uit my geloofsoortuigings op 'n nuwe manier oor die politiek te dink. Maar altyd met respek.

"Anton kon dié rol ook by Kerkbode verder speel: om die kerk op 'n respekvolle manier uit te daag. Hy gaan 'n leemte laat."

Rapport se berig laas week dat die NG Kerk die afgelope jaar meer as 10500 lidmate verloor het, was konserwatief, sê Anton.

Dis nóg slegter.

Tussen die Kerkspieël-sensus van 2006 en die 2010-jaarboek het hulle 83000 lidmate verloor. En dis nié weens emigrasie of mense wat na ander kerkverbande oorloop nie: Daardie getalle is lankal verreken.

"Die harde waarheid is: Ons trek nie jong mense nie. Die nuwe geslag laat hulle nie meer aan 'n institusie bind nie.

"Soos die dominee wat vir die katkisant vra: Het Christus twee nature in een persoon gehad, of twee persone in een natuur? Toe kyk sy die dominee so en sê: 'Ag, dominee, whatever.'

"Dit sê eintlik álles.

"Kyk wyer: Casper de Vries se opmerkings, die lirieke van Die Antwoord (Yo-Landi is 'n predikantsdogter) en Fokofpolisiekar (Francois van Coke 'n predikantseun). Hulle sê: Júlle het nie antwoorde gehad nie, nou soek ons ons eie."

Uit-ge-spel in vloekwoorde. "Toe Casper op die lughawe so woes aan die vloek gaan, het hy eintlik net gesê wat ons almal wil."

Hy skud sy kop. "En dié fundamentalistiese Christen-groepie wat nou so met Casper raas, hulle vloek óók maar."

Net in 'n ander taal?

"Presiés. Hulle probeer sê ons is op die heilige pad, word jy ook heilig, Casper! Maar Casper sê: Wat's hier aan die gang?

"En êrens moet die kerk nou sy oë oopmaak en vra: Wát is hier aan die gang? Watter rol het ons nog te speel in hierdie mense se lewe? Ons het 'n dinamiese draai nodig.

"Ons moet ons bediening aan mense drasties verander, eerder as hierdie tradisionele, geykte antwoorde van glo net, en moenie vloek nie, dan sal die Here julle seën."

Hoekom leef die kerk nie in vandag se konteks nie? vra Anton.

"Hoekom het die NG Kerk nie tydens die xenofobie kampe vir vlugtelinge begin nie? Waar is die huise vir vigsmense? Uit Pretoria en Kaapstad gaan honderde lidmate vir sendingwerk Mosambiek toe – seker oor die strande so mooi is daar – en dan ry hulle verby die groot plakkerskamp by Witbank..."

Oor die hernude druk van Braam Hanekom-hulle in die Wes-Kaap om die NG Kerk en die VGK te herenig, sê hy dis nou te laat om nog die doel te dien wat dit oorspronklik moes.

"'n Peiling wys meer as 80% van lidmate wil nié herenig nie. Die kerkleiding het besluit om die uitslag nie bekend te maak nie. Hulle's oneerlik met hul eie lidmate en die media.

"Die VGK staan so vas op Belhar, maar hulle het nog nooit Belhar gebruik om die húidige ongeregtighede in die land aan te pak nie. Dit lyk of hulle dit net gebruik om die NG Kerk tot kerkeenheid te dwing."

Die oomblik dat die kerkleiding deure toetrek oor hul besluite gáán lidmate hulle begin wantrou, sê Anton.

"Ek ook. Daar is altyd iewers klandestiene praatjies. Hoekom nie in die ope nie? Dis tog 'n kerk, jy weet..."

Kerstyd, wanneer die ink van sy laaste Kerkbode droog is, sal Anton Pienaar Sondagoggende weer heeltyds op die kansel wees, daar in Waterkloof se Stellastraat onder die pers vlerke van die jakarandas.

Sy kerk. Sy liefde.

En sou die NG Kerk op die ou end sluit, gee hy 'n klein laggie, sal hŷ die een wees wat die hekke met deernis toemaak.

Die laaste Gatjieponner.

– Rapport

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za