Quo vadis: ‘n Ope brief aan die gereformeerde
kerke in Suid-Afrika

Deur Dr. Jurie van den Heever op 1 September 2011

Die internasionaal-bekende Nuwe-Testamentikus, Bart Ehrman, noem in sy boek Jesus Interrupted (2009) dat die Bybel nie net die topverkoper en die mees gelese boek in die geskiedenis van die Westerse beskawing is nie, maar dat dit ook dié boek is wat, veral deur die gewone leser, ten diepste misverstaan word.

Ehrman skryf boeiend oor Jesus en alhoewel sy styl populêr is, is die verhaal gegrond op die navorsingsbevindings van Bybelwetenskaplikes. Hy noem spesifiek hoe dat argeologiese ontdekkings, die studie van Grieks en Hebreeus waarin die Bybel geskryf is en historiese en tekstuele analises oor die afgelope tweehonderd jaar, Bybelnavorsers in staat gestel het om met toenemende noukeurigheid die ryk ontstaansgeskiedenis en die werklike betekenis van die Bybel te ontrafel.

Volgens Ehrman is daar, in die Verenigde State alleen, duisende navorsers wat hieraan meedoen. Hulle navorsingsresultate vorm deel van die onderrigmateriaal van studente en voornemende predikante. Tog is die grootste gedeelte van die Amerikaanse bevolking salig onbewus van, of onkundig oor, hierdie navorsing. Hy vermoed dit is omdat professionele Bybelwetenskaplikes nie die nuwe bevindings op 'n verantwoordelike manier aan die publiek deurgee nie, en ook omdat predikante, wat wel oor die inligting beskik, om een of ander rede, dit nie met hulle gemeentes deel nie.

As 'n mens luister en lees hoe Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes soos Sakkie Spangenberg, wat wel hierdie bevindings oor die Bybel bekendstel, deur onkundiges verguis word en hoe die Bybel deur geleentheidsprekers soos Angus Buchan en die plastiekpredikante van die radiogolwe misbruik word, lyk dit of dieselfde toestand in Suid-Afrika heers.

Dat die Bybel nie 'n wetenskaplike handboek is nie en dat dit deur mense geskryf is, word vandag allerweë erken. Kerke is egter tradisioneel uitgesproke oor die onfeilbaarheid van die Bybel, wat hulle die Woord van God noem. Die Bybel word gevolglik steeds deur sommige predikante en baie gelowiges voorgehou as 'n goddelik geïnspireerde teks vol waarhede oor die Skepper en die doen en late van Jesus. Dat dit beslis nie die geval is nie, word gewoonlik verswyg.

Ehrman maak die belangrike punt dat die evangelies dikwels chronologies gelees word. Vandaar die idee dat dit een naatlose geheel vorm. As die evangelies egter parallel gelees word en die verskillende skrywers se weergawes van spesifieke gebeure, veral met betrekking tot die Jesus-verhaal, vergelyk word, staan die teensprake en foute duidelik uit.

Sakkie Spangenberg toon in sy jongste boek, Jesus van Nasaret (2010), hoekom hy een van die voorste Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika is. In soepel Afrikaans word meer as vier eeue se navorsing oor die Ou en Nuwe Testament onder die vergrootglas geplaas en saam met sy eie insigte, elegant saamgevoeg tot 'n rasionele en ewewigtige basisdokument vir 'n nuwe hervorming. Op grond van al hierdie inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte met ons moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is. Die tyd is ook verby dat kritici gemuilband kan word deur te beweer dat hulle die Bybel nie verstaan nie, of dit nie reg lees nie, of dat hulle nie gelowig is nie.

Sommiges neem selfs die posisie à la Adrio König in (Ek Glo die Bybel – Ondanks al die Vrae, 2003) deur te verklaar dat hy die Bybel in elk geval glo, ten spyte van al die ongerymdhede. Om so kop in die sand te steek, los niks op nie.

Baruch Spinoza (1632-1677) was die eerste geleerde van naam wat die Bybel bestudeer het as 'n historiese geskrif waarvan die identiteit van die outeurs onseker was en waarvan die teks die intellektuele beperkings van die tyd weerspieël het.

David Friedrich Strauss (1808-1874), 'n Duitse teoloog veroorsaak in die eerste helfte van die negentiende eeu 'n opskudding met sy boek Das Leben Jesu, kritisch bearbeitet (= Die lewe van Jesus krities beskou). Aan die hand van die Bybel, die enigste bron oor die doen en late van Jesus, toon hy o.a. aan dat Jesus 'n gewone mens was. Die boek was 'n sensasie maar het Strauss se loopbaan vernietig. Volgens een resensent was dit "die Iskariotisme van ons tyd" terwyl 'n ander dit verdoem het as "...die mees verpestelike boek wat die kake van die hel nog ooit gebraak het."

Sedertdien het talle teoloë wat eerliker met die teks wou omgaan, hulle telkemale in die onversetlike houding van kerke vasgeloop. Enkele bekende gevalle sluit in Albert Schweitzer (Duitsland), Ds. Geelkerken (Holland), Biskop Colenso (Suid-Afrika), J.A.T. Robinson (Engeland), Johannes du Plessis (Suid-Afrika), Ferdinand Deist (Suid-Afrika), Willem Moore (Namibië) en Sakkie Spangenberg (Suid-Afrika).

Met Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret en Willie Esterhuyse se onlangse publikasies, God en die Gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010) word die Bybel, en in die geval van Spangenberg, veral die persoon Jesus, histories binne konteks geplaas. Ons kerke kan en mag hierdie inligting nie langer ignoreer of verdoem nie. Dit verteenwoordig 'n waterskeiding in godsdienstige literatuur in Afrikaans en behoort verpligte leesstof te wees vir alle katkisante en elkeen wat hom of haarself 'n Christen wil noem.

Ten spyte van waarskuwings deur teoloë soos Frits Gaum (Woordfees, Stellenbosch, 2011) dat lidmate net nie meer tevrede is met die tradisionele dogma, wat Bybelstories, wat deur mense geskryf is, steeds opdis as goddelike uitsprake wat onaantasbaar en vir ewig waar is. Hulle begin twyfel aan die eerlikheid en openheid van kerke en hoe die ampsdraers met die bediening omgaan. Afgesien van die feit dat die Bybel geen sinvolle verklaring vir die problem van lyding bied nie, begin sommige lidmate besef dat daar al lankal toenemend ernstige vrae rondom die persoon van Jesus gevra word.

Enkeles hiervan is hoe hy van Dawid kan afstam as hy nie 'n biologiese pa gehad het nie. Hy is glo uit 'n maagd gebore maar beide sy geslagsregisters (wat van mekaar verskil) sluit Josef as sy biologiese pa in. Sy voorspellings (Matteus 16:27-28, 23:36, 24:34 en 26:64, Markus 9:1, 13:30 en 14:62, Lukas 9:27) was verkeerd en boonop het hy nooit slawerny verdoem nie. Spangenberg wys tereg daarop dat hy ten beste 'n Joodse wysheidsleraar was. Die Jode en die Moslems weet dit al lankal. Aan ons word hy egter steeds voorgehou as 'n God, of God se Seun, die Tweede persoon van die Drie-eenheid.

Pieter Botha (Die Nuwe Hervorming, 2002) wys daarop dat Jesus nie 'n Christen was nie, maar 'n Jood en nie Grieks, maar Aramees, gepraat het. Hy is vernoem na Josua en sy volgelinge het hom rabbi Jeshua genoem. Dit plaas die gesprek tussen Jesus en Nikodemus oor die wedergeboorte (Joh. 3), onder verdenking. Volgens Ehrman werk die gedagte van 'n wedergeboorte net in Grieks, waar die woord meer as een betekenis het. Jesus en Nikodemus het Aramees gepraat, 'n taal waar die woord slegs die een voor die hand liggende betekenis het.

Dit gaan 'n toenemend ongemaklike situasie tydens eredienste skep wanneer predikante die geloofsbelydenis resiteer en ingeligte lidmate reeds weet dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit 'n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar het na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie.

Christo Lombard verwys in die boek van Willie Jonker, Die Relevansie van die Kerk (2008), na Jaap Durand wat voel dat ons in die post-Verligtingstyd die knie gebuig het voor die eendimensionele rede van die logika en daarom die dieper dimensies van ons bestaan verwaarloos. Logika was egter nog nooit eendimensioneel nie en indien die dieper dimensies van ons bestaan bloot na die tradisionele benadering tot godsdiens verwys, is dit miskien tyd om logika 'n kans te gun.

Volgens Lombard het daar sedert die Verligting 'n soort Ortodokse speelruimte ontstaan waarbinne sinvol oor God gepraat kan word. Indien ons daardie speelruimte verlaat, om "'n suiwer redelike sfeer vir die gesprek oor God te skep..." loop ons, volgens hom, die gevaar: "om die betekenis van ons hele bekende wêreld te verloor."

Dit is egter so dat die betekenis van ons bekende wêreld en hoe moreel ons daarin optree, nie noodwendig van godsdiens of die Bybel afhanklik is nie. Daarvoor is die tronke te vol Christene. Sam Harris wys in The Moral Landscape (2010) juis daarop dat lande soos Denemarke, Swede, Noorweë en Nederland, wat die mees ateïstiese samelewings in die wêreld verteenwoordig, moreel en eties by verre beter vaar as sogenaamde godsdienstige nasies.

Ingeligte lidmate beskik tans oor 'n enorme hoeveelheid inligting oor die Bybel en die destydse sosio-politieke klimaat van die Ou Nabye Ooste en kan nie meer, soos voorheen, met ex cathedra uitsprake gestuit word nie. In die lig van die ernstige daling in die bywoning van eredienste sal dit interessant wees om te weet hoeveel mense vanweë kulturele oorwegings steeds lidmate van byvoorbeeld die NG Kerk is, maar nie meer eredienste bywoon nie, omdat hulle spiritueel reeds ligjare verder as die kerkers van die "ortodokse speelruimte" dink. Gesien die feit dat geloof in een of ander vorm steeds die middelpunt van baie mense se bestaan vorm, wonder 'n mens onwillekeurig of die tradisionele Kerk hoegenaamd nog vertrou kan word binne die geestelike speelruimte. Julian Müller (Om te Mag Twyfel, 2011) stel dit treffend as hy sê dat die kerke hulself in die oë van die moderne mens as gespreksgenoot gediskwalifiseer het.

Tipies is die reaksie van Amie van Wyk (Die Kerkblad, 2010) wat nie ooghare vir die Jesus van die Nuwe Hervorming het nie. Hy is beswaard dat deurwinterde teoloë Jesus in perspektief plaas en beweer, onder andere, dat die Teologie van die Nuwe Hervorming geen hoop vir die toekoms bied nie. Gesien in die lig van die onjuisthede oor Jesus en die Bybel wat deur die eeue en nog steeds aan ons as die waarheid voorgehou word, is dit 'n vreemde stelling. Net so is die geestelike bevryding en werklike hoop wat die Nuwe Hervorming adem, vir hom klaarblyklik 'n geslote boek.

In sy nuwe boek Fluit Fluit die Kerk is Uit? (2011) reken Frits Gaum dat dit vir die NG Kerk teoreties maklik behoort te wees om jammer te sê vir die foute van die verlede. "Wanneer dit om berou gaan, moet die kerk waaragtig berouvol wees, anders beteken die lippetaal niks nie." Hy steek egter vas by onderwerpe soos apartheid, die rol van die vrou en homoseksualiteit.

Of die Christelike kerke in die breë en in die besonder, die gereformeerde kerk, ooit berou gaan toon oor die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word, is 'n ope vraag. Deur eerlik te erken dat Jesus 'n mens was, sal nie die einde van die Christelike geloof beteken nie. Die Jode weet dit al duisende jare en dit doen nie afbreek aan hulle ryk kulturele erfenis nie. Trouens, dit sal waarskynlik die deur open vir die groter medemenslikheid en liefde hier op aarde waarvoor Gaum in sy boek pleit.

Johan Janse van Rensburg (Rapport 20/3/2011) probeer wal gooi deur te vra: "Waarom in die openbaar kritiek op die kerk uitspreek?" Godsdiens is juis 'n kultuuraktiwiteit wat elke Sondag en by vele ander geleenthede in die openbare oog afspeel. Dit maak aanspraak op ewige waarhede en skryf aan mense voor hoe hulle in die openbaar behoort op te tree en op watter maniere hulle by openbare kwessies betrokke behoort te wees. Die stelsel word begrond in 'n denkraamwerk wat o.a. Jesus as God definieer. Amie van Wyk (In die Skriflig, 2003) erken byvoorbeeld openlik dat standpunte soortgelyk aan dié van die Nuwe Hervorming al sedert die vroeë Christendom in omloop is. As dit waar is en die kerke swyg steeds daaroor, is dit des te meer rede vir 'n openbare debat.

Janse van Rensburg beweer ook dat die fundamentalisme in die NG Kerk nou besweer is. In plek daarvan identifiseer hy vrysinnigheid as die huidige gevaar en vra ewe besorg: "Wie wil nou deel van 'n kerk wees wat van niks meer seker is nie?"

Dit is bloot 'n retoriese foefie. Gesien teen die agtergrond van 'n kwynende kerk, is die korrekte vraag: Wie wil nou deel wees van 'n kerk wat nie die waarheid praat nie?

Dr. Jurie van den Heever is 'n paleontoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en mede aanbieder van die program Hoe verklaar u dit? wat Sondae oggende op RSG uitgesaai word. Soos verskyn op Kletskerk in Augustus 2011.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za