Quo vadis?

Deur Louis Bischoff op 1 Mei 2011

Mense wat vertroud is met Karin Armstrong se fenomenale en hoogs insiggewende werk, The History of God, kom tot die gevolgtrekking dat die begrip God, 'n mensgemaakte gestalte is met 'n groot verskeidenheid vorms en doel-eindes: 'A God of all seasons.' Prof. O. Wilson, 'n bioloog van Harvard, verduidelik dit gepas: Die mens skep God om in te glo, eerder as om te wil weet. "Die doelgerigtheid wat spruit uit sy gelowigheid, oorheers die leemte wat sy gebrek aan kennis daar stel."

Die baie gestaltes van God is oor baie eeue heen geskep. As een model nie werk nie en minder suksesvol begin raak, is 'n ander ontwerp om die oue te vervang. Karin voeg 'n kosmologiese dimensie by die vroeë mens se denke. Die gedagte om 'n God te skep en te vereer. Op geen stadium diskrediteer sy ou idees nie. Sy hou alle opsies oop en kyk indringend na al die paaie wat geloop is en gelei het tot die ontstaan van die Talmoed, die Bybel, en die Koran. In haar werk haal sy honderde teoloë, filosowe en akademici aan, wat oor baie eeue heen nie net hul menings oor God verkondig het nie, maar onder wie se invloed Teologiese Skole met wyd uiteenlopende opinies ontstaan het. Die idee dat die vrou die sondes van die mens van geslag tot geslag oordra soos 'n besmetting omdat sy biologies geboorte gee aan nog 'n geslag sondaars, is eeue gelede al bevraagteken, so ook die vals idee dat sy ondergeskik is. "Sy word deur alle mans begeer, deur haar susters ook beny. Haar waarde word slegs bepaal in watter mate sy 'n man prikkel. Sy hoef niks by te dra behalwe haar lyf nie. Sy's die prys van die veroweraar, sê Germaine Greer, skrywer van The Female Eunuch. Dis duidelik hoekom vroueregte-aktiviste soos Greer die status quo hardnekkig beveg om vir vroue en hulle passiewe susters 'n plek buite die tradisionele rol van vroue in die Kerk te wil beding.

'Die invloedryke Sephardiese mistikus, Isaac Luria, het eeue gelede 'n skeppings-verhaal merkwaardig, soortgelyk aan die oerknal, voorgestel om te verduidelik hoe God uit niks, materie en lewe kon skep. Anders as die rustige Bybelse voorstelling, het Luria s'n ontstaan uit kosmiese geweld wat chaos veroorsaak het. Hy is sterk beïnvloed deur die onseker, gewelddadige en bloedige toestande wat om hom geheers het in die tyd van die Spaanse Inkwisisie waar hy as ketter en Jood met die brandstapel bedreig is. Hy het na Palestina gevlug en sy leerstellinge suksesvol daar voortgesit.

Dit is dus duidelik dat teoloë deurentyd deeglik bewus daarvan was dat die begrip 'God' soos die Juda-Chrislamietiese gelowiges baie variante van die begrip in hulle geskrifte voorhou, deurentyd beïnvloed is met kontemporêre Aardse politieke roeringe. Hoe anders dan?

In die vroeë 1990s het 'n groep teoloë van uiteenlopende denominasies in die VSA, Die Jesus Seminaar op die been gebring. Hulle beywer hulle om die historiese Christus te ontdek en so voor te stel. In die proses word 'n radikaal anderse Christus geformuleer. Die basiese fundamentalisme wat dogma en kredo betref, wat geheers het voor Copernicus, Galileo en Darwin, kan onmoontlik nie dieselfde impak op moderne, ingeligte mense hê nie. Praat nie eens van verstokte Ou Testamentiese lewensbeskouinge nie. Hierdie liberale aanslag stel hom ten doel om die Christen geloof te suiwer van alle Bybelse onwaarskynlikhede. 'n Proses waar paneellede historiese feite sowel as literêre skryfstyle analiseer en tot stemming bring. Relevante gebeure word in drie kategorieë verdeel: verseker so, nie seker nie en hoogs onwaarskynlik. So bv. kon Judas se verraad nie bekragtig word, volgens die seminariste nie. Ou geskiedkundige epogte is meestal in 'n wolk van misterie gehul. Die profetiese skryfstyl van die Bybel werp bitter min lig op die misterieuse newel. Dit is ook van kardinale belang om die kulturele agtergrond van geskiedkundige rolspelers in ag te neem voordat vergelykings getref word tussen die verre verlede en hede. Die Evangelies is volgens die seminariste 'n teologiese konstruksie van skrywers, wie se geloof hul geheue en herinneringe oorheers en totaal verwar het en soms is 'n stywe dosis euhemerisme ook bygevoeg (oordrewe na-doodse verheerliking) wat teenswoordig nog gereeld in die media weerklank vind.

Liberale teoloë is egter nog sku om die totale omvang van hul heelwat skraler, liberale Bybel duidelik uit te stip. In 'n baie insiggewende en interessante brief, Rapport 22 Mei 2005, skryf Elritia le Roux dat die liberales dit nie ten doel stel om die Kerk en Christen geloof te vernietig nie. Dit is egter 'n baie naïewe opmerking – die kerk is vasgeanker aan fundamentalisme.

Die Geloofsbelydenis, die Maagdelike Geboorte, die Opstanding, en die Hemelvaart is tans nog essensiële begrippe in Christen religie. Die hoekstene is nie in die Liberale teologiese fraterniteit van waarde nie. Hulle sal egter moet begin preek en nie net daaroor praat en skryf in akademiese kringe nie. Daar's 'n geweldige aptyt vir verandering by die man op straat. Hulle sal 'n platform daar moet stel wat hul liberale teologie sal kan uitdra. Daar sal ook sterk gelet moet word dat die beweging nie verval in vlak pop-gospel teologie nie, wat byvoorbeeld meevoering- en beswymingstegnieke gebruik om 'n atmosfeer te skep. Sommige tentpredikers en liriekskrywers uit die geledere van pop-karismatiese bewegings laat emosies opvlam en voeg dimensies wat openlik verdag is, in hul preke by. Uitsprake wat verwarring skep word meermale hoekstene van splinter gelowe. Iets wat liberale teoloë deeglik kennis van moet neem in hul verkondigings is om reguit uit te spel wat hulle in glo, sonder doekies omdraai en oëverblindery.

Armstrong vra: "Wie sal die Christen religie die toekoms indra?" Niemand, beweer sy, is beter as die Kerk ingerig om die taak te implementeer nie. Die vraag is weereens: Gaan 'n liberale reformasie of 'n konserwatiewe fundamentalistiese teenreformasie, die toekoms Kerk gestalte gee? Daar heers ernstige kommer in die tradisionele teologiese bestel omdat die liberale teologie, volgens hulle, die kern van hul geloof binnegedring het en soos 'n kanker hul hele wese bedreig. Die ou tradisionele waardestruktuur word ondermyn. Die enigste genesing is om terug te val op fundamentalisme, reken sommige tradisionele kerkvaders. 'n Meer resente groep aanvaar moderne wetenskaplike teorie en bevindinge, soos bv. evolusie en die oerknal maar God se leidende Hand (die Intelligente Ontwerper) moet erken word. "Niks kan natuurlik ontstaan sonder die I.O. nie." Dawin se seleksieteorie wat daarop neerkom dat aankomelinge van die aanpasbaarste ouers die volgende geslag voortbring, 'n natuurlike proses is, word deur die I.O. teorie in vlamme afgeskiet. Hulle noem hulself Analitiese Godsdiens Filosowe. Dis 'n groot 'mindshift' en meer aanvaarbaar, maar eweneens 'n skynheilige saamryery, meen sommige wetenskaplikes wat nie 'n middeweg tussen religie en wetenskaplike kennis aanvaar nie. Elke nuwe wetenskaplike deurbraak skaaf 'n bietjie van die geloofsrots weg, wat nooit weer regtig gerestoureer kan word nie en bowendien, hoekom sou God so doelloos gedwaal het om sy meester-ontwerp die mens te skep? Die intelligente Wese wat alles in pag hou, sou mos nie so gesloer en geëksperimenteer het met lae lewensvorme om uiteindelik te sê "Hola kyk na my werk, die mens na my eie beeld, die akme van die uitspansel."

Richard Leaky meen dat, al sou alle faktore wat die fenomeen mens laat manifesteer het, deur ewolusie van vooraf begin, sal die Mens nooit weer verskyn nie. Dis maklik om vandag terug te kyk, sê hy en om dan 'n paadjie saam te flans van hoe 'n Hoër Hand dinge geskep het. "Dit is egter nie die werklikheid nie. Op grondvlak het dinge baie anders verloop en sommer baie anders volgens die fossiele rekords."

Rousseau se dictum, dat dit die samelewing is wat die mens verlei en nie die mens wat die gemeenskap korrupteer nie, plaas 'n sagte klapperhaarmatras tussen ons en die werklikheid.

Die Kerk van die toekoms sal ook die hele Gay-kwessie in 'n baie breër lig moet aanspreek. Gelukkig as gevolg van moderne humanisme is die Gay-gemeenskap bevry van die angs en vrees wat hulle in die verlede moes verduur en kan hulle nou self op eie houtjie hulle saak in die teologiese wêreld verteenwoordig.

Ingeligtheid bevry inderdaad die Mens van die vrees en tirannie wat die geloof soms in die bonatuurlike op hom afdwing. Die antropoloog en skrywer van African Genesis, Robert Ardrey se siening dat ons gebore is uit verhewe, veglustige Aapagtiges eerder as vervalle Engele, soos wat Rousseau beweer, hou volgens hom moed in vir die mensdom omdat ons deurentyd positiewe inbors ontwikkel. Eerder dit as die afgryse van 'n misstap in 'n korrektiewe dampkring wat na ewige verdoemenis lei. "Die wonder van die mens lê nie daarin hoe ver hy geval het nie, maar hoe wonderbaarlik hy verrys het. Ons sal in die heelal geken word deur ons poësie en nie deur ons begraafplase nie", aldus Ardrey.

Uit gedeeltes van Mahatma Gandhi se werke wat deur R.K. Prabhu saamgestel is, lees mens die volgende: "Al sou bewyse gekry word dat Jesus nooit bestaan het nie en dat die Evangelies fragmente is van die skrywers se verbeelding, bly die bergpredikasie 'n universele waarheid wat vir altyd en almal sal staan. Christus is vir my een van die mensdom se grootste Leermeesters. Sy volgelinge glo dat Hy die Eniggebore Seun van God is. Kan die feit dat ek hierin glo of nie, veroorsaak dat Sy leerstellinge my verbied word? Nee, ek glo nie so nie."

Dis op hierdie trant wat liberale teoloë die mensdom bystaan om sy enigste bestaan hier vrugbaar en ekologies vriendelik te ondervind, sonder vrees en wensdenkery.

Bibliografie

Allyn and Bacon. 1966. Myths and their Meaning. INC.
Ardrey, R. 12 November 2001. www.hollywood.com/celebs/details/celeb/186229
Armstrong, K. The History of God Vintage 1999. Vauxhall Bridge Rd London.
Elson, J. 1996. Eyewitnesses to Jesus. Time International. New York.
Gandhi, M.K. 1990. Truth is God. Navajivan Publishing House. Ahmedabad.
Leakey, R. 1992. Origins Reconsidered. Little, Brown and Co. Great Dover St London.
Van Biema, D. April 1996: The Gospel Truth. Time International. New York.
1975. World Mythology. BPC Publishing Ltd. Hong Kong

Louis Schabort Bischoff is 68 jaar oud, doen baie navorsing oor 'n wye reeks onderwerpe, waarvan Geskiedenis en Argeologie 'n groot deel uitmaak. Hy was 'n eerbare onderdaan van Koning Ferd III van Fook Eiland. Alhoewel hy nog nooit daar was nie, is hy een van die min mense wat weet waar dit naastenby is. Dis nogal moeilik om die eiland met hoogwater te vind. Hy besit nog die oorspronklike uitnodiging wat Walter Battiss self aan hom gerig het. Hy en Ferd III het uitstappies op sy plaas Wesselsvlei in die Drakensberge gaan doen om die San rotskuns op te soek, en heerlik gefilosofeer oor wat hierdie sonderlinge mensies oor 'n tydperk van 200 duisend jaar in geglo het. Hulle kuns illustreer 'n onlosmaaklike belydenis in God en wat hulle van hom verwag het.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za