Quo vadis, in 2012?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Januarie 2012

Ons het by Oom Dries op sy plaas gaan kuier. Ek was in my laaste jaar van laerskool. Oom Dries het vir my nes Eugene Terreblanche gelyk. Ek onthou ook dat hy na tabak en Old Spice geruik het.

Dit was na ete toe die grootmense in die sitkamer gaan sit het. Met sy hand op my pa se skouer het oom Dries gesê-vra: "Kom ek gooi vir ons 'n drienk!" Die grootmense het met fluisterstemme gepraat oor die politiek van die dag. Dit was natuurlik in die tyd toe onderlinge wantroue tussen Suid-Afrika se rasse erg hoog was.

My belangstelling was geprikkel toe ek oom Dries hoor vertel van die vreesaanjaende swart hordes wat met die nag van die lang messe gaan opruk met pangas en AK-47's en al die wit mense in hul beddens gaan vermoor. Hy't gesê dit sal gebeur sodra hulle die politieke mag kry. (Met die 1994 verkiesings het dit toe nie gebeur nie en nou is die voorspelling aangepas na die dag wanneer Mandela sterf.)

Dit was die eerste keer wat ek gehoor het van Niklaas van Rensburg, wat bekend gestaan het as "Siener". Oom Dries het paar keer na hom verwys. Hy het gesê dat hy die nag van die lang messe voorspel het. "En sy heldersiendgeit het vir De La Rey en De Wet-hulle al daai tyd gehelp..."

En so het ek met toekomsvoorspellings in aanraking gekom. Sedertdien het ek al meer bewus geword van die mens se smagting om te weet wat in sy of haar toekoms lê. Kyk maar net na tydskrifte se sterrevoorspel, radio en TV met vele psigiese mediums wat met tegnieke soos astrologie en "channelling" miljoene aanhangers het.

Alles bewyse van mense se behoefte om 'n kykie te kry in die dag van more. Want as jy sou kon sien wat more gebeur, het jy 'n voorsprong. Jy sou beter keuses kon maak in verband met jou geldsake, verhoudings en besigheidsbesluite. Wie sou nie wou sien wat more se lottonommers is of hoe die ekonomiese markte sou draai nie? Daarom is enige iemand of iets, wat die belofte van toekoms-visie inhou, so gewild.

En daar is baie beloftes daar buite: Aeromansie (toekomsvoorspelling na aanleiding van die vorm van wolke), Kapnomansie (toekomsvoorspelling na aanleiding van die patroon van rook wat uit 'n vuur styg), Grafologie (handskrifontleding), teeblare lees, numerologie, palmlees, Tarot-kaarte, kristalle en baie vreemde idees oor Tibettaanse lamas en Indiese gurus...

En moenie die fout maak om te dink dis net "New Age" hippies wat in karavane op besige straathoeke sit, wat sulke beloftes maak nie. Sondae word daar van baie kansels af voorspellings gemaak van eindtye en vele ander profetiese uitsprake oor die toekoms. Verskeie godsdienstige tradisies het heilige geskrifte en profete wat die toekoms voorspel. Dit is deel van die sukses van sulke organisasies. Hulle voorspellings van voorspoedige en lang lewens, hier en nou, maar selfs ook na die dood, troos en inspireer hulle volgelinge.

Hierdie vorm van toekomsvoorspelling werk egter met die aanname dat die toekoms 'n geslote werklikheid is. Met ander woorde, dat die toekoms reeds bestaan en 'n vaste, onveranderbare bestemming is. Daarom as jy vanuit die hede 'n manier kan kry om te loer deur die sleutelgat van tyd, kan jy sien wat more gaan gebeur. Hierdie verstaan van 'n vaste, klaar uitgewerkte toekoms word goed verwoord deur Christene se uitsprake oor byvoorbeeld die dood. So asof dit vooraf vas bepaal is; "As jou strepie getrek is, is hy getrek!" of "As dit jou tyd is, is dit jou tyd!" Kyk ook maar weer na wat geleer word oor predestinasie en uitverkiesing.

Dit is egter nie my verstaan van tyd nie. Ek vermoed dat tyd maar net 'n menslike konstruksie is om te verwys na die ewigdurende, onomkeerbare voort beweging van alles in die kosmos. Kortliks beteken dit vir my: tyd vloei onveranderlik in een rigting, naamlik van die verlede na die toekoms. Dit beteken dat soos met evolusie daar 'n ontwikkeling is, 'n uitrol, voort beweeg en 'n voortvloei van nuwe dinge, wat nog nooit voorheen bestaan het nie, maar nou in bestaan kom.

Daarom beskou ek die toekoms as oop en nog-in-wording. Dit impliseer dat ek die toekoms kan beïnvloed. Daarom is ek oortuig daarvan dat die besluite wat mense vandag maak, of dit individueel of gesamentlik is, 'n vormende krag op die ontvouing van more het. Niks is in sement gegiet of vooraf beskik nie, daar is geen bloudruk nie. Daar kan dus geen toekomsvoorspelling gemaak word nie, want more is nog nie gebore nie. Daar is dus nog niks om te sien nie, al het jy 'n derde oog.

Hierdie verstaan van tyd word gesteun deur o.a. biologiese prosesse (die mens word ouer met verloop van tyd – nooit jonger nie), Argeologie of oudheidkunde (die studie van menslike kulture, argitektuur, oorblyfsels van lewende organismes insluitend menslike oorblyfsels en die studie van die landskap waarin die mense gewoon het), die tweede wet van termodinamika (entropie beweeg altyd in een rigting), golfbeweging (radiogolwe word nooit ontvang voordat dit nie eers gestuur is nie), die geskiedenis van die heelal, kosmologie en sterrekunde (o.a. melkwegstelsels-uitstraling wat dui op die idee dat tyd 'n begin, verloop, tydsduur en 'n rigting het) ens.

Daarom is toekoms-beplanning of eerder toekoms-voorbereiding vir my belangrik. Wat ek hiermee bedoel is, die ongeskrewe toekoms word deur my keuses, dade en aksies (of gebrek daaraan) geskryf. Vandag se aksies is more se realiteit. Die vraag wat dus by my opkom, is wat kan ek nou alles doen om 'n gunstiger toekoms te skep?

Hiermee saam moet ons egter onthou dat daar slegs oor die toekoms gedink kan word, indien 'n mens bewus is van die interverweefdheid van alles. Geen stelsel of eenheid kan afsonderlik bestudeer word as daar oor more gedink word nie. 'n Holistiese perspektief en 'n transdissiplinêre benadering is nodig vir effektiewe toekoms beïnvloeding.

Terwyl sommige besluite in jou lewe niksseggend kan wees en min invloed op die geheel het, is ander keuses belangrik en bepalend vir dit waarheen jou lewe gaan ontwikkel. Die probleem is net dat jy nie vooraf weet watter keuses van jou belangrik is en watter nie. En watter veranderlikes inspeel op jou keuses. Eers as jy terugkyk, kan jy die belangrikheid van 'n gegewe oomblik se besluit bepaal.

Ons as mens het egter nie die luuksheid om eers te wag vir more voordat ons kan optree nie. Ons moet in die oomblik optree met die inligting tot ons beskikking. En hierdie optrede bepaal dan die toekoms. Daarom is dit so belangrik dat ons wel aktief beplan aan ons doelwitte, intensies, hoop en drome. Solank ons egter heeltyd bewus is van die verskillende veranderlikes van die lewe.

Veranderlikes? Ja, veranderlikes. Onvoorspelbare verrassings wat deel is van elkeen op aarde se lewensreis. Daardie dinge wat niemand voor die tyd kon voorspel nie maar wat 'n groot impak het op hulle toekoms. Ek het onlangs 'n skrywer ontdek wat hierdie veranderlikes baie goed omskryf. Goeie vriende van my, het 'n boek in my hande gedruk en gesê: "Lees!" Die skrywer se naam is Nassim Nicholas Taleb en sy boek is The Black Swan: The impact of the highly improbable.

Hierdie boek wat reeds in 2007 gepubliseer is en vir meer as 17 weke op die New York Times se topverkoper lys was. Het my oë laat oop gaan vir die willekeurigheid van die lewe. Die skrywer, Taleb, is 'n professor in die 'wetenskap van onsekerheid' by die Universiteit van Massachusetts in die VSA. Hy skrywe vanuit die hoek van die ekonomie, wetenskap, sielkunde en filosofie.

Taleb gebruik die metafoor van 'n swart swaan om aan te dui dat die moderne wêreld oorheers word deur "random" (toevallige of willekeurige) gebeure. Dit is gebeure wat ons onkant vang, dinge waarvoor ons nie kan beplan nie. Dinge met hoë impak op die rigting waarheen ons lewens ontvou. Dink maar net aan hoe traumaties 'n motor-ongeluk of onverwagse siekte 'n mens se lewe kan impakteer. Dit is 'n swart swaan. Hy wys dat die mens se denke nie bedraad is vir hierdie swart swane nie en dat dit juis dit is wat ons weerloos en slagoffers maak van die lewe.

Hy gebruik die swart swaan-metafoor omdat dit so mooi die onvoorspelbaarheid van die lewe illustreer. Daar is voorheen geglo, op grond van waarnemings, dat daar slegs wit swane bestaan. Met die ontdekking van Australië, is daar egter ook die bestaan van swart swane ontdek. "A black swan is a highly improbable event with three principal characteristics: It is unpredictable; it carries a massive impact; and, after the fact, we concoct an explanation that makes it appear less random, and more predictable, than it was. The astonishing success of Google was a black swan; so was 9/11. For me, black swans underlie almost everything about our world, from the rise of religions to events in our own personal lives."

Sommige swart swane is positief, soos 'n toevallige weghardloop sukses van 'n boek (soos "Harry Potter" of "Twilight") of die geluk van 'n belegger wat groot voordele van 'n onverwagte aandelemark omswaai kry. Negatiewe swart swane is weer iets soos die onlangse verwoestende aardbewings in Japan of die Euro-krisis.

Hy gaan verder en verduidelik dat meeste mense blind is vir swart swane omdat hulle onder die illusie is van: dinge-is-onder-beheer. Regerings, sosiale wetenskappe en baie sogenaamde "kenners" oorskat volgens hom wat hulle weet. Hulle skep die illusie van kennis en die vertroue van hulle stelsels en strukture.

Taleb sê die kern van ons probleme lê in hoe ons dink. Deur godsdiens, politiek en media skep ons 'n meesternarratief wat gebeure kunsmatig aanmekaar las, so asof alles gebeur soos dit moet en sou gebeur. Hierdie "narratiewe dwaling" soos hy dit noem, laat die wêreld minder "random" of toevallig voorkom. Maar die realiteit van die saak is dat niemand regtig weet nie en dat niemand in beheer is nie. Enige iets kan enige tyd willekeurig gebeur, soos dit dan ook gereeld gebeur.

Dit is egter vir die mens, wie se brein bedraad is vir beheer en sinmaak; onaanvaarbaar. Die gevoel van buite-beheer-wees skep soveel vrees in die mens se psige, dat die brein dadelik op "default" gaan en die onsekerheid weg "rasionaliseer". En so skep ons deur geskiedskrywing die indruk dat alles nog altyd binne 'n sekere raamwerk funksioneer. Ons skep vir ons denkraamwerk of teorieë om die werklikheid "mak te maak." Alles te laat inpas binne 'n voorspelbaarheid en vaste patroon.

En soos ons weet, as die mense eers 'n teorie aanvaar het waarmee hy of sy na hulle werklikheid kyk, is dit byna onmoontlik om dit te verander, selfs al is daar bewyse. Mense sal vashou aan hulle verstaan/wêreldbeeld, ten koste van algemene kennis of elkedag belewenisse. Die mens is baie goed om selektief, self-geproklameerde kundiges te kies, om te kan bevestig wat hulle graag wil glo.

Volgens Taleb, is die werklike kenners dié mense wat altyd ondersoekend en oop is. Die mense wat die onbekende en onvoorspelbare realiteit altyd in die oog hou. Soekers wat altyd bly soek en oop is vir nuwe feite, soos skaakmeesters en fisici. Diegene wat nie werklike kenners is nie, is die wat met geslote horisonne werk soos o.a. aandelemakelaars, regters, godsdienstige leiers, politieke wetenskaplikes en ekonomiese voorspellers.

Hy sê oor hierdie ingesteldheid: "...we always run the risk of experiencing the improbable, rare, and novel. We can be shocked by this knowledge and experience or we can be open to it. As with the dictum of Socrates, 'the only thing I know is that I do not know', is as true as ever."

Hy gaan dan verder en sê dat om sinvol te leef en te beplan vir die toekoms, is om op te hou om ander mense na te praat of heeltyd volgens ou formules en uitgewerkte reëls te dink. "We concentrate on things we already know and time and time again fail to take into consideration what we don't know. We are, therefore, unable to truly estimate opportunities, too vulnerable to the impulse to simplify, narrate, and categorize, and not open enough to rewarding those who can imagine the 'impossible.'"

Toe ek hierdie gedeelte lees het ek onmiddellik aan so 'n "...those who can imagine the impossible" denker gedink, sy naam is J. Krishnamurti. En in aansluiting by hierdie oop en eie denke waarvan Taleb praat, skryf Krishnamurti: "I maintain that Truth is a pathless land, and you cannot approach it by any path whatsoever, by any religion, by any sect. Truth, being limitless, unconditioned, unapproachable by any path whatsoever, cannot be organized; nor should any organization be formed to lead or to coerce people along any particular path."

Dit wat Krishnamurti en Taleb dus sê, is dat elkeen moet hierdie lewensreis self aanpak. Niemand kan dit namens jou doen nie. En wees veral versigtig vir daardie mense wat vir jou wil wys op resepmatige, altyd geldende en uitgewerkte oplossings, daar is nie so iets nie.

Dink vir jouself. Leef jou eie lewe. Onthou dat daar geen toekoms is om te voorspel nie. Die toekoms word nog geskep, deur jou en my keuses en aksies in hierdie oomblik. En daarmee saam onthou die onverklaarbare, onbepaalbare, willekeurige swart swane, wat enige tyd dinge radikaal kan beïnvloed.

Leef dus met hierdie verwagting van: niks is vas en vooruit bepaal nie. Al wat vas bepaal is, is hoe ons die storie van gister gaan vertel. Dis egter nie die realiteit nie, die realiteit is nou, hierdie oomblik van onbegrensde potensiaal. So ook is 2012 onbepaald en onbegrensde potensiaal.

Ek wil afsluit met Taleb se tien lewenswyshede. Dit is nie wette nie. Dit is riglyne wat bedoel is om jou wakker te maak vir die oomblik. Om jou anders te laat kyk na die lewe en om jou te laat uitkyk vir die swart swane in 2012. Hoekom? Sodat jy die geleentheid kan benut wanneer dit hom aan jou voordoen. En sodat jy verstaan enige oomblik kan jou lewe hierdie nuwe jaar radikaal verander, die illusie is dat niks verander nie. Die werklikheid is dat niks dieselfde bly nie!

Hier is 'n paar rigtingwysers vir 2012:

  1. "Scepticism is effortful and costly. It is better to be sceptical about matters of large consequences, and be imperfect, foolish and human in the small and the aesthetic.
  2. Go to parties. You can't even start to know what you may find on the envelope of serendipity. If you suffer from agoraphobia, send colleagues.
  3. It's not a good idea to take a forecast from someone wearing a tie. If possible, tease people who take themselves and their knowledge too seriously.
  4. Wear your best for your execution and stand dignified. Your last recourse against randomness is how you act – if you can't control outcomes, you can control the elegance of your behaviour. You will always have the last word.
  5. Don't disturb complicated systems that have been around for a very long time. We don't understand their logic. Don't pollute the planet. Leave it the way we found it, regardless of scientific 'evidence'.
  6. Learn to fail with pride – and do so fast and cleanly. Maximise trial and error – by mastering the error part.
  7. Avoid losers. If you hear someone use the words 'impossible', 'never', 'too difficult' too often, drop him or her from your social network. Never take 'no' for an answer (conversely, take most 'yeses' as 'most probably').
  8. Don't read newspapers for the news (just for the gossip and, of course, profiles of authors). The best filter to know if the news matters is if you hear it in cafes, restaurants ... or (again) parties.
  9. Hard work will get you a professorship or a BMW. You need both work and luck for a Booker, a Nobel or a private jet.
  10. Answer e-mails from junior people before more senior ones. Junior people have further to go and tend to remember who slighted them."

So die vraag vir 2012, Quo vadis? (Waarheen is jy op pad?), kan jy sonder huiwering antwoord: "Ek weet nie, maar ek's met elke tree op pad!"

My wens vir elkeen wat hier lees is 'n wakker en sinvolle 2012!

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za