.

Die religieuse toneel verander: Die opkoms van “Progressiewe Christenskap”

Deur Johann Basson op 1 Julie 2014

.

Lesing gelewer deur Johann Basson, PrIng, BSc(Ing), MBL, Mei 2014 by Nuwe Hervormings Netwerk byeenkoms.

Opsomming

Nigel Leaves bespreek in sy boek Religion under attack die talle aspekte wat godsdiens verdag maak en dat dit nodig is dat teologiese denke in voeling moet kom met hedendaagse kennis, navorsingsresultate en metodes van kommunikasie ten einde 'n ondersteuningskorps met integriteit te behou. Die verdeelde samelewing moet besin oor wapenstryd, etnisiteit en die waardes van lewe en omgewing. Die verdelende kerke kyk vas teen historiese stryde soos die rol van die vrou / ordening van vroulike predikante, die aanvaarding van gay mense, die klem op 'n lewe wat kom en Christelike eksklusivisme. 'n Nuwe kyk is dus nodig, na my mening ook deur groepe soos ons wat losgemaak is van kerkstrukture en godsbeskouings van die verlede. 'n Verbete aanval teen kerke doen na my mening meer kwaad as goed, veral as ons nie kennis dra van die oorgangsproses wat op 'sagter' en meer natuurlike maniere reeds besig is om plaas te vind nie.

Daar is heelwat organisasies, asook gemeentes, wêreldwyd besig om 'n nuwe paradigma in te gaan – 'n verwysingsraamwerk wat die Bybel of ander heilige geskrifte as literêre werke beskou, dit wil sê as kreatiewe menslike produkte soos ander kunswerke waarin mens moontlike betekenis in die metafore kan vind. Hiermee saam verskuif die fokus van 'n teïstiese God na 'n lewenswyse volgens die goeie dinge in verhale oor die lewe en lering van Jesus. Hierdie verskuiwing plaas die klem dan ook op die transformasie van werklikheidsaspekte soos etiek, verantwoordelikheid, sosio-ekonomiese geregtigheid, ekologie, harmonie en vrede. Is hierdie paradigma tekenend van 'n nuwe Christendom wat weggestap het van teïsme, of die bonatuurlike, en nou meer gerig is op lewensvaardighede en kennis?

Die doel van die lesing is om aan te toon hoe die religieuse toneel reeds verander het, die maniere van kommunikasie en ontwikkelende narratiewe oor waardes, dinge wat meer aktueel mag wees om die mensdom vir 'n beter toekoms toe te rus.

1  Inleiding

In sy boek Religion under attack: Getting theology right analiseer die Australiese akademikus en Anglikaanse teoloog, Nigel Leaves (2011), waarom veral die Christelike en Moslemgodsdienste ernstig bedreig word. In sy inleiding meld hy "when a nation advances in terms of democratic, egalitarian education and prosperity it will lose its faith. Supernatural props are not needed when a nation improves the lot of its people and the disparity between rich and poor is lessened". Progressiewe teoloë soos Spong, Borg, Holloway, Funk, Geering, Cupitt, Morwoord, Vosper en Armstrong neem in hulle geskrifte en lesings sterk standpunt in vir 'n minder dogmatiese en outoritêre geloof.

Tot onlangs was ateïsme die etiket wat die ortodoksie vrylik toegeken het aan filosowe, akademici en skrywers, mense wat as vrydenkers bekend staan of anders glo. Sommige mense word ateïste om emosionele redes, om standpunt te neem teen die negatiewe effek van godsdiens. Maar etikettering raak baie gekompliseer met die vinnig veranderende en individualistiese godskonsepte veral onder westerlinge vandag.

'n Sterk katalis was Karen Armstrong se waagmoed met haar 1993 boek, A History of God, waarin sy duidelik aantoon dat ook God 'n ontwikkelende storie het. Dit het saamgeval met die inleiding van die era van nuwe ateïste wat oortuig is dat die God-hipotese nie meer nodig is nie en dat mense 'n effektiewe etiek en 'n gemeenskaplike mensheid kan ontwikkel sonder die hulp van godsdiens. Geloof in God is nie 'n voorvereiste vir mense om goed te wees nie. Hierdie ateïste is meer en meer georganiseerd, konfronterend en huiwer nie om openbare uitdrukking te gee aan hulle weerstand teen godsdiens nie. Bekende name is Richard Dawkins, Sam Harris, Daniel Dennett, wyle Christopher Hitchins, Michel Onfray en Anthony Grayling. Hulle forseer die mensdom om minstens 'n standpunt in te neem oor een fundamentele saak: dat die mens se teenwoordigheid nie te danke is aan 'n bonatuurlike wese nie, maar aan die wette van biologie en fisika. Ateïste het dikwels ook die siening dat godsdienste intellektueel bankrot is, aangesien ondersteuners nie gewillig is om vrae oor hulle godsdiens te vra nie en weerstand bied teen enige kritiese (akademiese) ondersoek van hulle heilige geskrifte, belydenisse en dogmas. Die meeste godsdienste verpak hierdie drie dinge as 'n heilige pakket wat onaantasbaar is.

Dan is daar die aanslag van wetenskaplikes teen godsdienstige aannames oor die goddelike oorsprong van die wêreld en dat 'n bonatuurlike God die natuurwette kan opskort om in die lewens van 'sy' skepsels in te gryp. Die wetenskaplike metode van empiriese waarneming en eksperimentele voorspelling (prediction), toetse en bewyse staan vandag in direkte opposisie tot mitiese en metafisiese spekulasie.

Die rewolusionêre aard van wetenskaplike ontdekkings het tot volle wasdom gekom met Charles Darwin se On the Origin of Species waar hy voorgestel het en inderdaad bewyse aangebied het vir sy teorie dat alle spesies oor tyd ontwikkel deur die proses van natuurlike seleksie. Hierdie teorie het die lering van die kerk en sy letterlike interpretasie van die Bybel uitgedaag. Hiermee sou die ateïstiese filosofie akademiese aanvaarding kry. Godsdienste moes terugtree van hulle voorskriftelikheid van "wat is" en hulle beperk tot "hoe ons behoort te leef". Hulle rol het as 't ware gekrimp tot 'n betrokkenheid by die etiek eerder as die definiëring van realiteit. Die nuwer dissiplines van die sosiale wetenskappe, deur die werk van Durkheim, Freud en Jung, het godsdienste as natuurlike verskynsels ontleed wat vanuit kultureel gekondisioneerde menslike bronne ontwikkel het. 'n Jaarlikse wetenskapskonferensie, waar 30 top wetenskaplikes die noodsaak van godsdiens bevraagteken en die moontlikheid van 'n beweging na 'n toekoms "Beyond Belief" bekyk, het in 2006 vir die eerste keer plaasgevind. Die deelnemers het drie vrae op die tafel gesit: Behoort die wetenskap weg te doen met godsdiens? Wat moet in die plek daarvan kom? Kan ons goed wees sonder God?

2  Godsdienstig of spiritueel?

As gevolg van hierdie en ander gebeure het daar die laaste twee/drie dekades 'n siening ontstaan van "nie godsdienstig nie, maar spiritueel". Gelowiges wat hierdie ontwikkeling voorstaan, sien godsdiens in die lig van onbuigsame dogmas en uitgediende gesagstrukture. Hulle verkies rituele wat hoogs aanpasbaar is en dinge om in te glo wat nie vasgemaak kan word in geykte belydenisse nie. Omdat tradisionele godsdiens besig is om in die weste te kwyn vind 'n gedeelte van die gesofistikeerde mensdom dat verskillende vorme van spiritualiteit hulle van die nodige bronne voorsien om die eise van die moderne lewe te hanteer. Linda Woodhead en Paul Heelas het navorsing gedoen wat daarop mag dui dat die Christendom in die Verenigde Koninkryk binne die volgende twee dekades deur 'n nuwe vorm van spiritualiteit oorgeneem gaan word en dat die beweging ingrypender as die Protestantse Reformasie van die 16e eeu kan wees. 'n Aantal Christenleiers op plaaslike vlak het hierdie besware ter harte geneem. Hulle het begin om die geloofspraktyke van ander spiritualiteite in die Christelike aanbidding te betrek, sodat daar vandag 'n nuwe mengsel van geloof bestaan wat die outeur "godsdienstige spiritualiteit" noem. (Of dit aan die konsep van nie-godsdienstig-maar-spiritueel voldoen, is 'n ander vraag.)

3  Leaves se konklusie en visie

Leaves eindig sy boek deur aan te dui dat die kerk, indien dit wil oorleef, die teologie sal moet aanpas en met 'n kreatiewe teologiese reaksie teen die aanvalle vorendag moet kom. Hy skryf: "I want to assert that 'all our failings in the church are theological'. My mantra is that your theology will determine your response. I return again to the God problem! Your characterization of the Deity, what you mean by the word 'God', will in a large measure determine how conservative, liberal, or radical is your religion. Your understanding of God will dictate how far along the exclusivist-inclusivist continuum you will go." Sy visie vir godsdienste is om oop, verwelkomend, eerlik, selfkrities, dogma-vry, buigsaam en waarde gedrewe te wees en gemeenskappe te skep wat kontak maak met die spirituele behoeftes van mense ("spiritually engaging").

4  Kwantifisering van godsdienste

Die "Pew Research Centre for Religion and Public Life" het in Desember 2012 'n omvattende studie oor godsdiens in 230 lande en gebiede wêreldwyd onderneem. In die proses is meer as 2 500 sensusse, opnames en bevolkingsregisters gebruik. Daar is bevind dat daar 2.2 miljard (mjd) Christene is (32% van die wêreldbevolking in 2010), 1.6 mjd Moslems (23%), 1 mjd Hindoes (15%), meer as 0.5 mjd Boeddhiste (7%) en ongeveer 14 miljoen Jode (0.2%). 'n Verrassende bevinding is dat een uit ses mense geen godsdienstige affiliasie het nie (1.1 mjd, 16% van die totaal, amper dieselfde as die aantal Katolieke). Hulle staan as die 'nones' bekend en groei die vinnigste van almal. 'n Studie wat twee maande vroeër ook deur dié Sentrum uitgereik is, toon dat die groep mense in die VSA met geen godsdiensaffiliasie nie oor vyf jaar (2007 tot 2012) van 15% tot 20% van die bevolking gegroei het; hiervan is 13 miljoen ateïste of agnostici (6%) en 35 miljoen (14%) sonder 'n spesifieke affiliasie.

Die bekende kerknavorser, George Barna (2006), wat self 'n evangeliese Christen is, analiseer dat die manier waarop Amerikaners hulle geloof beleef en uitdruk in die toekoms aansienlik gaan verander. Die voorspelde afname in die rol van die plaaslike kerk is duidelik in die tabel hieronder, waar Barna aantoon hoe Amerikaners hulle godsdiens beleef.

Jaar: 2000
Plaaslike kerk: 70%
Alternatiewe geloofs-gemeenskap: 5%
Familie: 5%
Media, kunste, kultuur: 20%

Jaar: 2025
Plaaslike kerk: 30-35%
Alternatiewe geloofs-gemeenskap: 30-35%
Familie: 5%
Media, kunste, kultuur: 30-35%

Gebaseer op 2002 telefoniese onderhoude het die "Public Religion Research Institute" (2013) in hulle "Economic Values Survey" bevind dat een uit vyf Amerikaners (19%) godsdienstig progressief is en dat hierdie groep besig is om vinnig te groei, 38% is gematig, 28% konserwatief en 15% is nie godsdienstig nie. Amper agt uit tien progressiewe godsdienstiges (79%) meld dat om gelowig te wees gaan om die regte dinge te doen, terwyl die meerderheid van die godsdienstig konserwatiewes (54%) van mening is dat dit primêr oor die glo van die regte sake gaan.

Dit is duidelik dat 'n groot aantal lidmate om 'n verskeidenheid van redes die gevestigde kerk verlaat en dat die ontwikkeling van Progressiewe Christenskap uit hoofsaaklik bestaande hoofstroomgemeentes een van die reaksies hierop is.

5  Aanloop tot Progressiewe Christenskap

Die bekende Amerikaanse akademikus/teoloog, Marcus Borg, gee in sy boek The Heart of Christianity 'n baie goeie beskrywing van hierdie oorgangsproses wat volgens hom baie konflik veroorsaak. Hy wil nie die terme konserwatief en liberaal gebruik nie en praat liewer van die vorige en ontluikende maniere om na Christenskap te kyk en dat dit beginselsake aanspreek van hoe ons die Bybel, God, Jesus, geloof en die Christelike lewe sien.

Die vorige paradigma sien Christenskap geanker in goddelike outoriteit wat vir die meeste Protestante in die Bybel setel. Daar is harde en sagte benaderings tot Bybelse outoriteit. Die harde benadering lê klem op die foutloosheid (inerrancy) daarvan. Die sagter benadering glo nie dat elke stelling in die Bybel korrek is nie, maar dat God die skrywers op so 'n manier gelei het dat hulle geen ernstige foute gemaak het nie, veral nie enigiets wat met die redding van gelowiges te doen het. Hierdie siening aanvaar dus dat sekere dele in die Bybel 'n antieke wêreldbeskouing reflekteer, dat dit premoderne sienings verteenwoordig en dat die "wetenskap" en wette argaïes is. Die vorige paradigma vertolk die Bybel letterlik en benadruk die literêr-feitelike interpretasie daarvan. Tot 'n groot mate is dit 'n letterlike siening van die spektakulêre, waar die bonatuurlike sentraal staan tot die waarheid en eksklusiwiteit van Christenskap. Dieselfde letterlike vertolking en sentraliteit vind mens in die belydenisskrifte wat as opsommings van die essensiële dogmas beskou word. Die visie vir 'n Christelike lewe berus op geloof in die Bybel en belydenisskrifte, die sentraliteit van lewe na die dood en op die vereistes en belonings waaroor die Christelike lewe gaan. Wesenlik gaan die Christelike lewe dus oor geloof in die Bybel en dogmas vir die doel van redding later. Borg sluit hierdie beskrywing af met die woorde: "Because it is no secret that I find the earlier paradigm less than compelling, I want to emphasize that it has nourished the lives of millions of Christians for centuries. The Spirit of God has worked through it and continues to work through it. It has not only been a comfort to many, but has produced lives of love and compassion ... For now, I simply note that, for many in our time, its vision has ceased to be compelling."

Die ontluikende paradigma is wesenlik 'n reaksie op die Verligting en is al vir meer as 'n eeu herkenbaar. Hierdie spesifieke benadering tot Christenskap word wyd deur teoloë en bybelwetenskaplikes gedeel en vind meer en meer steun onder leraars en lidmate in hoofstroomkerke. Hulle sien die Bybel as 'n historiese produk van twee antieke gemeenskappe, dus is dit antieke dokumente wat in hulle antieke historiese konteks betekenis dra. Om die betekenis te herinterpreteer vir vandag se omstandighede verg dus 'n "meer-as-letterlike" en "meer-as-feitelike" metaforiese benadering. Die kern van die saak is nie die historiese feitelikheid van die Bybel nie, maar die betekenis wat dit vandag vir ons inhou. Die gebruik van die Bybel word voorts as sakramenteel gesien, as 'n moment van mediasie tot die heilige ("sacred"); dit is dus heilig ten opsigte van die toegekende status en funksie, maar nie in oorsprong nie. Die paradigma sien die Christelike lewe as een van verhoudings en transformasie en nie as die bevrediging van vereistes met 'n toekomstige beloning in 'n lewe hierna nie. Dit bevestig ook godsdienstige pluralisme; die Christelike geloof is een van verskeie groot, standhoudende godsdienste wat elk as (menslike) respons op ervarings met God of die goddelike uit onderskeie kulture gegroei het. Die verskille tussen die twee paradigmas kan as volg opgesom word:

Vorige paradigma:
Oorsprong van Bybel: Deur God ingegee
Interpretasie van Bybel: Letterlik-feitelik
Funksie van Bybel: Openbaring van dogma en moraliteit
Klem van Christelike lewe: Lewe na die dood en wat om te glo en doen om gered te word

Ontluikende paradigma:
Oorsprong van Bybel: Menslike reaksie op God
Interpretasie van Bybel: Histories en metafories
Funksie van Bybel: Metafories, sakramenteel
Klem van Christelike lewe: Transformasie in hierdie lewe deur 'n verhouding met God

Borg merk op dat die twee benaderings tot Christenskap suspisieus en self vyandig teenoor mekaar staan en dat beide kante spesifieke redes aangee. Potensiële maniere om hierdie gaping te oorbrug is volgens hom om erkenning te gee aan die diversiteit van teologiese beskouings tot Christenskap, histories en tans, asook die werklikheid van verskillende maniere van aanbidding te aanvaar. Natuurlik is daar dinge wat onaanvaarbaar is vir enige Christen, soos om ander te haat of jouself beter te ag. Maar soos kulture en benaderings tot Christenskap verskil, kan genoemde paradigmas ook baie in gemeen hê: beide bevestig die belewenis van God, die sentraliteit van die Bybel, die belangrikheid van 'n verhouding met God deur Jesus te ken en die noodsaaklikheid van 'n persoonlike en globale transformasie. Borg sluit hierdie bespreking af met die volgende woorde: "For millions, especially in North America and Europe, the earlier paradigm has become an obstacle. Thus it has become important to realize that its vision of the Bible and the Christian life is but one way of seeing Christianity, and a modern one at that."

Die sienings van Borg en weerstande teen die vorige paradigma vind op vernuwende maniere neerslag en uitdrukking in hedendaagse praktyk. Leaves kyk na eienskappe van duisende progressiewe gemeentes in die VSA en ander lande en som die fokusse as volg op:

6  Voorlopers tot Progressiewe Christenskap

Talle voorbeelde bestaan van aksies, sienings, individue en organisasies oor die laaste twee eeue wat elemente van progressiewe Christenskap insluit. Ek wil spesifiek na die Gifford lesings as voorbeeld verwys.

Lord Gifford het in 1888 £80 000 aan vier Skotse Universiteite nagelaat om jaarlikse lesings te borg om natuurlike teologie in die wydste sin van die woord te promoveer en inligting te versprei. Sy vertolking was dat natuurlike teologie deur die wetenskap ondersteun moet word en dit sluit dus die bonatuurlike uit. Vir meer as 'n honderd jaar beskou filosowe, teoloë en wetenskaplikes die voorreg om hierdie lesings aan te bied as die hoogste eer wat hulle te beurt kan val in hulle loopbaan. Die lesingreeks wat oor 'n akademiese jaar loop, word geredigeer en in 'n bundel gepubliseer. 'n Aantal van hierdie werke in teologie en filosofie en hulle verhouding tot die wetenskap het dan ook klassieke status verkry. Van die bekende sprekers was die teoloë Moltman, Niebuhr en Barth, filosowe Gilson en Bergson, geskiedkundiges Toynbee en Butterfield, wetenskaplikes Heisenberg, Bohr en Sagan, skrywers Murdoch en Arendt en 'n politikus (Balfour). Carl Sagan se lesings in 1985 is byvoorbeeld verwerk en in sy 2006 boek met die titel The Varieties of the Scientific Experience: A Personal View on the Existence of God gepubliseer. Die webbladsy (www.giffordlectures.org) het baie gegewens oor vorige lesings en profiele van sprekers.

7  Progressiewe Christenskap in die praktyk

Talle organisasies in die VSA, Kanada, Europa, Australië en Nieu-Seeland het tot stand gekom onder die vaandel van Progressiewe Christenskap met die doel om die ontwikkeling van 'n "goeie" gemeenskap te ondersteun. Dit lê klem op regverdigheid, geregtigheid, verantwoordelikheid en barmhartighied (compassion), veroordeel enige vorm van onregverdige oorlog, korrupsie en magsmisbruik en die weerhouding van fasiliteite van armes en die uitsluiting volgens ras, geslag of seksuele oriëntasie van billike deelname in nasionale vryheid. Progressiewe Christengroepe het tot stand gekom in veral VSA se hoofstroomkerke en reflekteer globale tendense in studente-aktivisme. Hierdie beweging kommunikeer deur 'n web-ring, die "Progressive Christian Bloggers Network". Ondersteuners vind en skakel mekaar gereeld deur middel van kletskamers en streeksorganisasies en 'n aantal konferensies het die afgelope tien jaar plaasgevind.

Voorbeelde van verklarings oor kontemporêre Progressiewe Christelike geloof sluit in:

Die outeurs van die Agt Punte lê daarop klem dat dit 'n lewende dokument is en dat dit met verdere insette uit 'n veranderende sosiale en ekonomiese milieu oor tyd verbeter kan word. Hulle neem duidelik standpunt in teen die formulering van 'n eietydse dogma wat in beton gegiet word. Die essensie van die Agt Punte is dat Progressiewe Christene:

Die volgende idees van hoe hierdie beginsels in die praktyk uitwerk, kom uit die boek Why Weren't We Told: A Handbook on 'Progressive' Christianity onder redaksie van Hunt en Smith. Dit is in Australië in 2013 gepubliseer en sluit ongeveer 100 kort artikels van outeurs oor die hele wêreld in; dit is amper 'n "who 's who" van Progressiewe Christenskap.

Geloof: 'n Aksie, 'n verbintenis, 'n vertroue, in teenstelling met 'n kommoditeit of geloofstelsel.

God: Eerder as 'n God "daar buite" wat op aarde kan inmeng en die gang van die geskiedenis kan verander, het God vir baie progressiewes 'n "interne dryfkrag" en/of 'n "teenwoordigheid in die menslike bewussyn" geword wat lewe ondersteun en mense in staat stel om met geregtigheid en deernis saam te lewe. Luister na die verduideliking van Fred Plumer vir 'n progressiewe siening oor die godsdefinisie: https://www.youtube.com/watch?v=7JbqO-uFZh4

Jesus: Hy was 'n mens, hoewel 'n besondere mens, wat soos 'n vingerwysing na die onbekende en onbeskryfbare God beskou kan word as die beste weg na 'n lewe van heiligmaking.

Bybel: 'n Menslike produk waarvan die inhoud nie letterlik nie maar ernstig opgeneem moet word.

Liturgie: 'n Fokus op die menslike soeke na betekenis in gemeenskap met ander. Dit is 'n kunsvorm; die rol van die progressiewe liturg is om die drade van die tradisie saam te trek met die realiteite van hedendaagse bestaan. Dit moet 'n estetiese ervaring wees met kunstige woordgebruik, beelde en musiek wat opheffend is vir die menslike gees.

Gebed: Die idee van intersessie-gebed is problematies, so ook die idee van lofliedere aan 'n god. Gebed is eerder 'n staat van eenheid met die gees van lewe en liefde as wat dit 'n smeking is by 'n god. Gebed is dus 'n manier van leef wat mense met alle wesens verbind. Die voorbeeld hierna van 'n postmoderne Onse Vader gebed toon 'n heel ander teologie, is geensins teïsties nie, maar gerig op 'n nie-persoonlike, immanente, spirituele teenwoordigheid sonder enige versoeke van die bidder. Dit is stellings oor die interne moed van die mens om beter keuses te maak en groter dinge te vermag.

O presence and pow'r within us, Being and Life of all.
How we are filled, how we o'erflow with infinite love and gladness!
We shall this day sow Grace and Peace, and show mercy to all,
and gentle loving-kindness.
And we shall be not so self-serving, but a constant source of giving.
For ours is the essence, and the wholeness, and the fullness, forever.

Eko-spiritualiteit: 'n Geestesingesteldheid met tweeledige gerigtheid; om omgewingsvolhoubaarheid na te streef tesame met sosio-ekonomiese geregtigheid in gemeenskappe. Dit behels 'n ernstige reoriëntering van menslike gemeenskappe na billiker en meer volhoubare aktiwiteite.

Kennis: Outoritêre kennis wat op openbaring berus, is ondergeskik aan kennis wat op bewyse berus of die toets van die menslike rede geslaag het en verder deur nuwe inligting of navorsing verbeter word.

First Presbyterian Church of Elizabethton, Tennessee

Hierdie Presbiteriaanse kerk is een met 'n verskil. Dit is 'n Progressiewe Christelike gemeenskap midde in die "Bible-belt", nie vêr vanaf die Appalasiese voetslaanpad nie. Die lidmate beskou hulleself as nie-fundamentalisties, ietwat liberaal; hulle aanvaar gays, vra vrae, neem nie die Bybel letterlik op nie, glo in sosiale geregtigheid en gee om vir die omgewing. Die huidige leraar, John Schuck, meld dat sy voorgangers die gemeente voorgestel het aan konsepte soos diepte-sielkunde, prosesteologie en die histories-kritiese metode om die Bybel te interpreteer. Die gemeente het 'n hawe geword vir mense wat besig is om uit die fundamentalisme los te raak. Shuck is baie aktief in die media en op die internet (www.shuckandjive.org) oor hulle bedrywighede en moedig die gemeente aan om belangrike progressiewe beginsels te omarm. Vir hulle is Jesus groen en hulle grootste en mees aktiewe projek is die Vredeskomitee wat 25 jaar lank die gemeente aangemoedig het om aktief te wees in omgewingsaksies gekoppel aan sosiale geregtigheid en vredespropaganda, petisies (bv. teen stroopmynbou), optogte (teen die beëindiging van oorsese oorloë en huweliksgelykheid), die skryf van briewe (bv. teen doodstraf en wetgewing wat hulle nie steun nie, sien www.fpcelizabethton.org). Shuck meld dat hierdie gemeente "Jesus Seminars on the Road" organiseer, volmaanmeditasies hou, drommespel (drumming), danse en ander aktiwiteite aanbied en dat hulle 'n bietjie heidens is, 'n bietjie Christelik en 'n bietjie ruk-en-rol, maar dat hulle 'n volwaardige kerk is in 'n baie konserwatiewe omgewing. Hy verduidelik: "Being progressive in the Bible Belt is not really about theology, philosophy, or politics. It certainly isn't about being a religous brokerage house. It is about being human and being in a community. We are all Earthlings finding our way."

C3Exchange Spirituele Gemeenskap

Hierdie spirituele gemeenskap in Grand Haven, Michigan, onder leiding van Ian Lawton (oorspronklik van Australië), gooi onbeskaamd nuwe wyn (teologie) in nuwe wynsakke (liturgie). Hulle benadering is 'n alternatief tot die gewone kerk ("church as usual") in die wyse waarop hulle aanbiedings konsekwent 'n nuwe, inspirerende aanbiddingsvorm met 'n nuwe teologie kombineer (www.C3Exchange.com). Tot op hede het hulle die volgende vernuwingselemente gevestig: Hulle funksioneer as 'n natuurlike gemeenskap (teenoor een wat op die bonatuurlike gerig is). Die effek hiervan blyk duidelik uit hulle maniere van aanbidding. Hulle verstaan dat evolusie beteken dat 'n skepper nie nodig was nie. Hulle heg nie waarde aan 'n heilige plek vir samesyn en aanbidding nie. Hulle heg waarde aan die rol van uitreik na die nood van mense, maar dan sonder die doel om iemand tot 'n spesifieke vorm van Christenskap te bekeer. Hulle gee erkenning aan die rol van die Bybel as 'n menslike produk en die tydgebonde rol van sakramente. Hulle Sondagbyeenkomste is 'n geleentheid van inspirasie en gedeelde wysheid wat begaafde plaaslike musici en liederemateriaal gebruik wat met die dag se tema verband hou. Hulle sing kore ("chants") en groepliedere en sluit voorlesings en gebede in wat die tema uitbou. Hulle moedig mekaar aan om voluit in hierdie lewe te leef en om verantwoordelikheid te neem vir alle besluite wat hulle neem. Hulle verkry wysheid van ander geloofstradisies maar is meer bekend met die Joods-Christelike. Pastorale sorg is 'n saak van deernis en onderlinge bemagtiging. Die gemeente maak voorsiening vir groot diversiteit, daar is geen sentrale outoriteit aan wie verslag gedoen moet word nie en geen enkelvormige tradisie ("shared tradition") wat gevolg word nie. Hulle kernwaardes bepaal hulle Sondagaksies en ander programme en 'n tipiese jaar lyk as volg:

Januarie:  Universele waardes in verskillende geloofstradisies; persoonlike en wêreldvrede.

Februarie:  Vrae vra ("enquiry"); wetenskaplike ontwikkelings; invloed van brein/intellek op spiritualiteit.

Maart:  In harmonie met die heelal: manlike/vader-god, moedergod in ou godsdienste, die aktiewe/reseptiewe samelewingstyle en geslagsgelykheid.

April, Mei:  Bring Paasverhale en Aardseisoene bymekaar (met die klem op die natuurlike van sterf en opstanding); eerbied vir die siklus van lewe.

Junie, Julie:  Persoonlike ontwikkeling, intieme konneksies, vertroue en vergifnis, boekevaluerings (bv. Blink, Mindful Loving, A New Earth).

Augustus:  Gesondheid, voeding, emosionele gesondheid, joga, verhoudings en spirituele praktyke soos gebed en meditasie.

September:  Tuiskoms/gemeenskap as onderdeel van die globale dorp.

Oktober:  Seksualiteit en grootword as deel van spirituele lewe – viering daarvan.

November:  Aktivisme op nasionale/globale terreine ten opsigte van hulle kernverbintenisse.

Desember:  Herinterpretasie van Kersverhaal op 'n universele en natuurlike manier.

Een van die mantras van C3 is "koppe, harte en hande" in die sin van kognitiewe resonansie, persoonlike konneksies en effektiewe aksie. Hulle is betrokke by die versorging van mense sonder huise, neem deel aan energie-ideesberade, ondersteun opleiding in sekere ander lande en 'n naburige dorp, ondersteun plaaslike groen- en intergeloofsaksies, ensovoorts.

Musiek

Een van die eerste probleme wat mense opval wat wegbeweeg het van die ortodokse Christelike belydenis is hoe die woorde van die meeste liedere steeds die ou idioom verklank. Progressiewes werk hard om iets in die plek daarvan te stel. Tradisionele godstaal en begrippe word eerder vermy en nuwe woorde vir die misterie van 'n meer omvattende godsbegrip word gevind. Talle mense werk hieraan en hulle werk word selfs in die vorm van bundels gepubliseer. Daar is voorbeelde soos "The Only Earth We Know", die werk van die "NZ Hymnbook Trust" (nuwe woorde, nuwe wysies, ekumenies, kontemporêr en van Nieu-Seelandse oorsprong), die liedere van Shirley Murray en Colin Gibson en die tydskrifte "Music in the Air" en "Sound Ideas".

Studiegroepe

Daar het die laaste tien jaar aktiewe studiegroepe in Australië, Nieu-Seeland, Europa en Kanada ontstaan as gevolg van die werk van die Jesus Seminaar en besoeke van die hoofrolspelers wat openbare lesings oor die onderwerp kom gee het. Die boek, Why Weren't We Told, gee 'n opsomming van die aktiwiteite van hierdie groepe. Interessante resultate is:

'n Treffende doelstelling van een van die groepe wat as deel van 'n gemeente funksioneer, is om 'n "baken op die heuwel" vir Progressiewe Christenskap te wees.

"Progressive Christian Network"

Die PROGRESSIVE CHRISTIAN NETWORK in Victoria, Australië het nogal 'n ooreenstemmende mandaat en werkwyse as die NHN. Dit het tans 350 betalende lede en is een van die vinnigste groeiende organisasies wat progressiewe Christelike denke en praktyk fasiliteer. Hulle reël ongeveer tien byeenkomste per jaar in die vorm van lesings, paneelbesprekings en werkwinkels wat deur sowat 100 tot 125 mense bygewoon word. Wanneer internasionale kenners optree, kan die bywoning tot twee honderd styg.

"Clergy Letter Project"

Die organisasie is in 2004 geskep met die doel om die "Clergy Letter Project" te organiseer en bedryf. In 'n verklaring verwerp 'n groep predikante van verskillende denominasies die geloof in kreasionisme wat deur ondersteuners van die beginsel van 'intelligente ontwerp' gepropageer word. Hulle werk vir groter versoening tussen godsdiens en wetenskap. Gedeeltelik ondersteun hulle die gedagte dat geloofswaarheid van 'n ander orde as wetenskaplike waarheid is en dat die doel van godsdiens nie is om wetenskaplike inligting oor te dra nie maar om harte te verander. Die projek is deur die bioloog Michael Zimmerman, tans dekaan van Skone Kunste en Wetenskappe by Butler Universiteit, Indianapolis begin. Tot op datum het 12 962 Christelike leraars dit onderteken, 510 rabbi's, 282 Unitariërs en 24 Boeddhiste en is dit ook amptelik deur sommige denominasies aanvaar. Die projek motiveer gemeentes om jaarliks 'n Evolusie-naweek te reël ten einde meer kennis en begrip oor beide geloof en wetenskap te bevorder. Die feit dat hierdie projek aansienlike konflik in sekere kringe laat ontstaan het, is seker te verstane. Die projek het sedertdien verder ontwikkel om leraars te help wat as gevolg van hulle wegbreek van die tradisionele Christelike dogma hulle poste verloor het.

"Common Dreams"

COMMON DREAMS is 'n alliansie van Australiese en Nieu-Seelandse organisasies wat die verskynsel van Progressiewe Christenskap en ander geloofsdenke ondersoek, dit bespreek, promoveer en implementeer (www.commondreams.org.au). Hulle hoofmomentum tot hierdie doelwit verkry hulle uit hulle driejaarlikse "Common Dreams" konferensie (bywoning 1000 tot 1500) asook deur besoeke van leidende internasionale kenners te promoveer en die publikasies wat uit sodanige aanbiedings voortvloei te bemark. Die groepnetwerke in Australië vind gesonde interaksie met hierdie konferensies.

"Living the Questions"

Hierdie program is deur twee jong predikante, David Felton en Jeff Procter-Murphy, in Phoenix Arizona begin. Hulle het besef dat die tradisionele bybelskoolinligting nie vir die denkende Christen geskik is nie en nie die nuutste bybelnavorsing insluit nie. Met die hulp van hoëvlak besoekende lektore (Spong, Borg, Crossan, Fox, Amy Levine) het hulle 'n CD kursus vir gebruik in hulle eie gemeentes ontwikkel. Die doel was in effek om 'n opsomming van die materiaal wat 'n predikant op kweekskool ontvang in 21 sessies aan te bied . Die materiaal is oor tyd meer en meer professioneel afgerond en ook in boekvorm uitgegee (www.livingthequestions.com). Dit is 'n buigsame kurrikulum vir beide gewone mense wat vrae vra en kerkalumni wat oortuig is dat progressiewe Christenskap nog in die 21e eeu waarde het. Dit kan mense help om die toekoms van Christenskap te ondersoek en te besluit hoe 'n sinvolle geloof in vandag se wêreld kan lyk.

"Religion for life"

Hierdie weeklikse radioprogram onder leiding van die teoloog John Shuck wat in Princeton opgelei is, is gerig op godsdiens, sosiale geregtigheid en die publieke lewe. Dit bestaan uit reguit en baie goed voorbereide onderhoude van ongeveer dertig minute met besondere navorsers, skrywers en godsdiensleiers oor die nuutste godsdiens- en verwante aktiwiteite en skroom nie om aan kontroversiële sake aandag te gee nie. Vorige klankgrepe is as MP3s op die webwerf www.religionforlife.org beskikbaar wat amper 'n katalogus van die nuutste gedagtes en denkers in Progressiewe Christenskap is. Luister na die eerste vyf minute van die gesprek tussen John Shuck en David Felton by http://religionforlife.podomatic.com/entry/2013-08-09T10_12_55-07_00 om 'n gevoel te kry vir die aard en inhoud van hierdie radioprogramme.

Ketters en hul lot

Why weren't we Told bevat 'n redelike lang hoofstuk oor bekende ketters oor die eeue, hulle misstappe en uiteindelike lot. Baie van hulle het die fout gemaak om vrae te vra en standpunt in te neem teen die heersende dogma. Daar is rof met hulle gewerk, sommiges is verbrand, ander het in aanhouding of huisarres gesterf en ander het as gevolg van die stryd en spanning gesterf. Die laaste bekende terdoodveroordeelde was Caytona Ripoli wat in 1826 deur die Spaanse Inkwisisie tereggestel is. Baie van die sake wat in Progressiewe Christenskap bespreek word, sou in die verlede as kettery gebrandmerk en veroordeel word. Gelukkig leef ons in beter tye waar ons vrae mag vra en vrylik kan assosieer, anders was die meeste van ons nie vandag in hierdie geselskap nie.

Ander inligting

'n Groot aantal boeke, webwerwe, nuusbriewe en ander inligting is beskikbaar. Dit sluit in die Progressive Christian Alliance (www.progressivechristianalliance.org), Centre for Progressive Christianity (www.tcpc.org), Canadian Centre for Progressive Christianity (eee.progressivechristianity.ca), Centre for Progressive Religious Thought, Australia (www.progressivereligion.org.au), The Progressive Christian Network of Victoria, Faith and Reason (www.faithandreason.org), Westar Institute (www.westarinstitute.org), Crosswalk America, Spirituality and Practice (bronne vir die spirituele pad), Spiritual but not Religious (www.sbnr.org), Sea of Faith (www.sof.org.nz) en andere.

Slot

Dit is duidelik dat die tradisionele Christentoneel deur sterk kragte beïnvloed word en tans vinnig aan die verander is. Seker die mees dinamiese verandering om van kennis te neem is die een wat in hoofstroomgemeentes plaasvind en bekend staan as Progressiewe Christenskap. Hulle begin al meer wegdoen met tradisionele dogmas, die bonatuurlike, die teïstiese siening van God, die klem op lewe na die dood. Nuwe aanbiddingstrukture en bestuurstyle kom na vore. Die hele Christelike toneel word herfdefinieer en op Jesus se lewe en sy lering gerig. Die praktiese betrokkenheid van die kerk in vandag se wêreld, veral in terme van sosio-ekonomiese geregtigheid, die soeke na vrede en omgewings-verantwoordelikheid, word 'n kernfokus.

Van die bronne meld dat dit wat ons nou sien in terme van teologie en organisasiestruktuur eerder 'n terugkeer is na die oorspronklike bedoeling van vele 'proto'-Christengroepe voordat die kompetisie vir mag en samewerking tussen kerkvaders en keisers dit omvorm het in die dwangbuis waarmee ons grootgeword het.

Verwysings

Barna, G; Revolution: Worn out Church, Finding Faith Beyond the Walls of the Sanctuary, Christian Art Publishers, 2006. Borg, M; The Heart of Christianity: Rediscovering a Life of faith, Harper One, 2004. Hunt, AE; Smith JWH; Why weren't we Told: A Handbook on Progressive Christianity, Polebridge Press, 2013. Leaves, N; Religion under Attack: Getting Theology Right, Polebridge Press, 2011.
Pew Research Centre for Religion and Public Life, Dec 2012, www.pewforum.org/global-religious-landscape-exec.aspx
Pew Research Centre for Religion and Public Life, Okt 2012, Nones on the Rise, One-in-Five Adults Have No Religious Affiliation, www.pewforum.org/2012/10/09/nones-on-the-rise/#who
Public Religion Research Institute, Julie 2013, Religious progressives more diverse, younger, smaller in number than religious conservatives, http://publicreligion.org/newsroom/2013/07/news-release-1-in-5-americans-are-religious-progressives/

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.