Prof. König herkou aan geykte koutjies

Deur Naas Ferreira op 1 September 2010

Prof. Adrio König se skerp aanval op andersdenkendes se soeke na God en sy herbevestiging van sy letterlike geloof in Jahweh, die wraaksugtige god van die Ou Testament, in sy artikel: Na watter God word daar dan so hard gesoek? van Rapport se Weekliks Bylaag van 1 Augustus 2010, is een van die mees tragiese momente in die Suid-Afrikaanse teologiese geskiedenis. Dit raak net-net aan die teologiese verdediging van Apartheid deur die Afrikaanse Kerke gedurende die 20ste eeu en kan die begin van nog 'n Inkwisisie en sensurering van andersdenkendes wees. As jong teologiese student en predikant was ek nogal beïndruk met König se denke oor God. Ek het intussen ander teoloë en filosowe, soos Sallie McFague en Ken Wilber, begin lees terwyl dit lyk asof Prof. König net sy eie koutjies bly herkou het. Ek wonder hoeveel van König se voormalige studente, ek was gelukkig nooit een nie, sing dieselfde deuntjie of het die "meester" ontgroei.

Dit is te verstane dat Prof. König, asook Christelike boekwinkels soos CUM en Lux Verbi, vir die pawiljoen speel, want in die "voer" wat hy aan die "kerklike skape" opdis, lê 'n goeie inkomste vir 'n pensioenaris opgesluit.

Ek wonder net of Prof. König en baie Christene enigsins van geloofsgroei of die ontwikkeling van die bewussyn gehoor het, en of hulle daarvan bewus is dat 'n mens oor God net in metafore kan praat? Sallie McFague in Models of God: theology for an ecological, nuclear age, verduidelik metafoor soos volg: "Metaphor always has the character of 'is' and 'is not': an assertion is made but as a likely account rather than a definition. That is to say, 'God is mother,' is not to assert identity between the terms 'God' and 'mother,' but to suggest that we consider what we do not know how to talk about – relating to God – through the metaphor of mother." Dit lyk asof König en tradisionele teologie die metafoor direk gaan vertaal wat eintlik 'n verwarring tussen denotasie, of direkte betekenis, en konnotasie, of bybetekenis, is. Joseph Campbell het in Flight of the wild gander: explorations in the mythological dimension dit betreur. Wanneer mitologie verkeerdelik as direkte geskiedenis of wetenskap gelees word, verander simbole in feite, metafore word dogma, en kerkgroepe baklei onder mekaar omdat hulle verkeerdelik hulle eie simboliese tekens as die hoogste werklikheid verstaan. Dit is egter nie net kerke wat baklei vir hulle waarhede nie; dink maar aan die stryd tussen Islam en Judaïsme, Sjinese Imperialisme en Tibettaanse Boeddhisme, Islam en Christene. Mense is bereid om dood en vernietiging ter wille van hulle sogenaamde "feite" te saai.

Joyce en River Higginbotham in ChristoPaganism: An inclusive path, het in hulle navorsing oor bewussynsontwikkeling van mense, gevind dat daar groei is in hoe die mens, of die self, mites verstaan asook in die sorg wat mense aan ander gee: "If the self's moral span expands from caring only about itself to caring about all creatures, then how does this process impact the story it adopts about how the world works?" Die verhouding met die mites bepaal ook watter mites 'n mens sal aanhang.

Die Higginbothams het gevind dat die mens deur ses verskillende verhoudings met mites ontwikkel. Hulle het nie 'n vroeë stadium net na geboorte nie, aangesien die babas nog nie 'n verhouding met mites kan hê nie of waarvan ons kennis dra nie. Hulle noem die verhouding soos volg:

1.  Mities Tasbare: Die mens leer in hierdie verhouding van sy/haar identiteit in die familie, die groep of nasie en ervaar alles deur die sintuie. Die mites verduidelik hoekom dinge gebeur en ook van die kragte agter die gebeure. Indien jy goed doen sal goeie dinge met jou gebeur, indien nie sal die slegte jou oorval. Die self ervaar alles konkreet en sorg net vir die eie ek en is egosentries. Jesus word op die mities tasbare vlak gesien as 'n persoonlike verlosser wat wonderwerke kan verrig om die wêreld te verander om "my" persoonlike behoeftes en begeertes te bevredig. Omdat hierdie vlak prerasioneel en egosentries is gee Jesus, die "towenaar", net om vir "my."

2.  Mities Letterlik: Op hierdie vlak word die mens bewus daarvan dat daar agter die heilige tasbare items 'n storie is wat vertel dat die items heilig is. Die storie word beklemtoon. Die mens bestudeer die storie en voel dat dit nooit die diepte van die mite kan deurbreek nie. Siende dat die godheid die mite aan die mens gegee het, word gevoel dat die reëls van die verhaal streng nagevolg moet word. Die mens is nou deel van 'n groter groep en sorg net vir diegene wat streng volgens die letter van die wet lewe. Hulle is etnosentries. Prof. König funksioneer op hierdie vlak. Jesus op hierdie vlak word as die Ewige Waarheidbringer ervaar. Hierdie fase is absolutisties in die geloofsuitsprake en daarom sal mense in die "Woord van God" glo of vir ewig in die hel brand. Omdat hierdie vlak etnosentries is sal slegs diegene wat in Jesus as hulle persoonlike Verlosser glo, gered word.

3.  Mities Rasioneel: Hier ontdek die mens dat die letterlike interpretasie van die mite nie teen rasionele ondersoeke kan staande bly nie. Die mens vind dat daar agter die mites 'n doel lê wat die fokus van hierdie vlak word. Die mens besef dat sekere universele waarhede op almal betrekking het en nie net op die klein groepie nie. Baie kerklose Afrikaners is reeds op hierdie vlak want hulle kan hulle self nie meer met die kerklike verkondiging identifiseer nie. Jesus op die rasionele vlak word 'n vermenslikte figuur, nog steeds volledig goddelik en ten volle mens, maar nou meer menslik op 'n meer aanvaarbare manier, as 'n leermeester van universele liefde van 'n deïstiese God.

4.  Mities Globaal: Wanneer die mens die universaliteit van die mites besef, is die mens in staat om meer perspektiewe te handhaaf en kan dan insien hoekom vroeëre vlakke dinge glo en doen. Die persoon mag op hierdie vlak wêreldgodsdienste bestudeer en ontdek dat alle mites min of meer dieselfde storie vertel. Jesus is een van vele mistieke leiers soos die Boeddha of Mohammed en is nie meer die enigste weg tot saligheid nie.

5.  Mities Argetipe: Op hierdie vlak word die storie minder belangrik en onderliggende patrone kry die klem. Die mens: "may identify spiritual realms where beings or elements of consciousness exist. It may form relationships with these spiritual realms or beings." Die mens beweeg buite die mitiese struktuur en betree die Wesens direk. Dit word vir die mens moeilik om woordelikse uitdrukking aan die ervarings te gee. Verder, voel die mens nie net dat hulle deel van die kreatiewe proses is nie, maar ook dat hulle die kreatiewe proses word. Op hierdie vlak word die Christen met sy of haar ware Christus Self geïdentifiseer wat as 'n geestelike eenheid met God die Skepper gesien word. Op hierdie vlak kan die gelowige waarlik sê: "Dis nie ek wat lewe nie, maar Christus wat in my leef." Die persoon met Christus Bewussyn sien alle ander mense as die Christus en tree soortgelyk teenoor almal op. Dit is die vlak van ware Christelike liefde, waar die spirituele liefde identies is aan wat die Boeddhistiese meesters ware barmhartigheid noem. Die persoon met Christus Bewussyn is vry van neurotiese projeksies en emosionele verslawing en is in staat om alleenlik in die teenwoordige te lewe, merkwaardig objektief van alledaagse probleme en angstighede.

6.  Mities Avatar: Die finale verhouding met mites is wanneer die mens nie langer in terme van argetipe konsepte dink nie, maar soos Higginbotham dit uitdruk: "Here the self realizes that myth is a vehicle whose purpose is not to describe something external to people (such as God, angels, ethical rules, and so on), but to stimulate internal transformation by directing people's attention to some truth about themselves or reality." Mense op hierdie vlak wil ander mense help om hulle bewussyn te transformeer om hulle ware Natuur in die goddelike te realiseer. Die Christus, en enigeen wat vir Jesus as die Christus tot hierdie vlak gevolg het, is nie langer in die ek-U verhouding met God nie maar in 'n Ek-Ek eenheid, 'n reine subjektiwiteit sonder 'n objek.

Elke fase of siening van mites kyk dus met ander oë na God en Jesus. Elke vlak dink hulle vlak is die enigste en die beste. Slegs die vyfde en sesde vlakke kan die waarde van ander vlakke raaksien. Ons kan hier ook praat van 'n Kosmiese adres van God, dat God op elke vlak op drie maniere verstaan en aanbid kan word. Die kerk het egter reeds vroeg in die geskiedenis God se kosmiese adres beperk en daarmee die pot misgesit om die geestelike ontwikkeling van gelowiges op die mities letterlike fase te vries. Die oomblik (die Konsilie van Nicea in 325nC) toe die kerk, 'n mitologiese figuur, Jesus die Christus, in 'n historiese persoon, Jesus van Nasaret, verander het en as die enigste seun van God aanbid het, was die koël deur die kerk.

Daarenteen integreer Brant Cortright in Integral psychology Yoga, growth, and opening the heart (2007) Westerse en die Oosterse psigologie om die uiterlike navorsing van die Weste en die innerlike studie van die Ooste te kombineer om 'n geïntegreerde psigologie daar te stel. Integrerende psigologie sien die lewe as die goddelike ontvouing en die grondslag vir die Goddelike bewussyn. Bewussyn kom nie volgroeid tot stand nie, maar neem tyd om te ontwikkel. "Die doel van die lewe is om tot ons dieper identiteit te ontwaak sodat ons in pas met die groter, Goddelike beweging van liefde en vreugde, kan kom. Die lewe is 'n spirituele avontuur in die ontwikkeling van die menslike bewussyn. Hiervoor moet ons ons siel, ons psigiese kern, wat tegelyk die evolusionêre beginsel in ons is, ontdek." Die strewe na die ontdekking van die siel en God in die mens is die dryfveer agter alle kontemplatiewe godsdienste en op elke vlak van ontwikkeling is daar 'n bepaalde siening van God en van die self. Hier is dus 'n ander Kosmiese adres van God ter sprake.

Maar vir 2000 jaar het meeste Christene God net buite die mens, êrens daar bo in die hemel, gaan opsoek. Op sigself is dit nie verkeerd nie, maar dit is slegs een uit 18-21 moontlike kosmiese adresse van God. Dit klink baie arrogant maar die term "Kosmiese adres van God" wil nie die woonplek van God opsoek nie maar eerder die mens se geestelike ontwikkelingsvlak en uit watter perspektief, eerste, tweede of derde persoon, die mens 'n verhouding met God het. Ons siening van God bepaal hoe ons in die wêreld lewe. Die Kosmiese adres van God is 'n term wat Ken Wilber, 'n integrale filosoof, gebruik om aan te toon dat mense op een-en-twintig plus verskillende maniere God verstaan en beleef. "So we need the altitude and the perspective of both the perceiver and the perceived. We can represent this simplistically as follows: Cosmic address = altitude + perspective." Die hoogte is die ontwikkelingsvlak van die waarnemer en die perspektief is 1ste, 2de of 3de persoon perspektief.

Wanneer mense van die eerste, tweede en derde persoon perspektiewe praat bedoel ons met die 1ste persoon perspektief die persoon wat praat, die "ek." Met die 2de persoon perspektief bedoel ons die persoon met wie ons praat, die "jy en jou of U" en die 3de persoon perspektief die persoon of ding waarvan die twee mense praat, die "sy, hy of dit." Wanneer ons ervarings van God in die derde persoon het dan sien ons God as die Natuur, as dit wat ons kan bestudeer en vereer. Baie ekoloë sien God as die wonderlike en delikate ekosfeer of selfs Gaia. Hulle beskou die mens as die indringer wat plek vir die natuur moet maak. Die kosmiese adres van God vir die "natuurkinders" is die derde persoon perspektief op die rasionele en pluralistiese vlakke. Alhoewel Campbell daarop wys dat die Westerse benadering tot die natuur juis 'n "Dit" is wat een van die oorsake van die vernietiging van ons planeet tot gevolg het: Jy kan enige iets as "U" aanspreek, en as jy dit doen kan jy die verandering in jou psige aanvoel. Die ego wat die natuur as U aanspreek is nie dieselfde ego wat die natuur as 'n Dit aanspreek nie. Die tweede persoon perspektief op God is ons almal mee vertroud. Ons aanbid God as die Een met wie om praat en spreek Hom aan as "U." God bly altyd buite die mens en gryp in wanneer ons Hom daartoe vra. Prof. Adrio König verabsoluteer die tweede persoon perspektief op die Mities Letterlike vlak met sy patriargale orde en absolute "waarhede." Die gelowige kan nogtans, sonder om dit te verabsoluteer, in ontsag en nederigheid voor God buig en Haar grootheid erken.

Die eerste persoon perspektief is wanneer ons eenheid met God ervaar en erken. Mistici van alle godsdienste het hierdie belewenis alhoewel nie alle kontemplatiewe Christene hierdie eenheid wil erken nie. Wanneer Jesus sê, "Ek en die Vader is een," dan bedoel hy dat alle mense van hierdie eenheid kan praat. Tog ervaar baie min mense die eenheid met God. Meester Eckhart, 'n Duitse Middeleeuse mistikus, het hierdie eenheid soos volg uitgedruk: "Die oog waarmee ek God waarneem is dieselfde oog waarmee God my sien." En ook: "Die een wat ken en die een wat geken word is Een. Eenvoudige mense verbeel hulle dat hulle God daar moet sien staan en hulle hier. Dis nie so nie. Ek en God, ons is een in kennis."

Indien Meester Eckhart vandag hierdie uitsprake sou maak sou nie net sy boeke "in die hel" gebrand het nie, maar sou hy ook heelwaarskynlik op die spreekwoordelike brandstapel beland het. Meeste kerkleiers en teoloë kom nie elke dag in aanraking met die soort taalgebruik en siening van God nie. Identifikasie of eenwording met God is vir meeste Protestantse Christene, wat God as die Gans Andere sien, onaanvaarbaar. Tog is hierdie belewenis van eenheid met God nie vreemd in die Christelike tradisie nie. Gedurende die Middeleeue, die tyd van Meester Eckhart, was daar 'n hele aantal Christen mistici wat hulle eenheidservarings op skrif gestel het om vir ander die pad na hierdie eenheid aan te dui. Theresa van Avila, Bernard van Clairvaux, Johannes van die Kruis, Franciscus van Assisi, en Hildegard van Bingen is 'n aantal bekende kerklik historiese name. Bernard McGinn noem in sy boek The essential writings of Christian Mysticism: "Om een met God te word is dikwels beskryf as die belangrikste kenmerk van mistici, maar die wyse waarop hulle God se direkte teenwoordigheid beskryf verskil."

Ongelukkig bied die kerk glad nie of baie selde geleenthede of maniere vir Christene wat na die mistieke vlakke toe wil beweeg, aan. Alan Watts het reeds in 1971 in sy nuwe voorwoord van die heruitgawe van sy 1947 boek Behold the Spirit (1971:xxi) gewaarsku, "if Christian groups cannot or will not provide mystical religion, the work will be (and is already being) done by Hindus, Buddhists, Sufis, unaffiliated gurus, and growth centers. Churchmen can no longer afford to laugh these things off as cultish vagaries for goofy and esoteric minorities – as if any intensive practice of religion had ever, anywhere at any time, been of interest to the majority of people." Verder voer Watts in Behold the Spirit (1971:xiii) aan dat: "A Christianity which is not basically mystical must become either a political ideology or a mindless fundamentalism." Hoeveel kerke het nie, as gevolg van hulle weiering om die eenheid met God te erken, in politieke ideologieë of in gevaarlike fundamentalisme verval nie?

Om die kosmiese adres van God te verstaan moet ons dus ons verstaan van mites soos hierbo uiteengesit in ag neem. Prof. König se godsbegrip op die Mities Letterlike vlak van die 2de persoon is dus baie beperk aangesien hy nie ander moontlikhede kan raaksien nie. Prof. König, die kerke, teoloë en lidmate moet nou besef dat die wêreld vinnig besig is om verby die Mities Letterlike vlak na die rasionele, globale, argetipe en selfs avatar vlakke te beweeg, en enige vorm van sensuur, of afkraking, of aanvalle gaan nie die proses keer nie. Die Gees is besig om meer mense uit hulle skynwerklikheid van die Mities Letterlike vlak wakker te maak om op die argetipe en avatar vlakke te funksioneer.

Bronne geraadpleeg:

Campbell, J. Flight of the wild gander: explorations in the mythological dimension.
Cortright, B. Integral psychology Yoga, growth, and opening the heart.
Higginbotham, J. en River. ChristoPaganism: An inclusive path.
McFague, S. Models of God: theology for an ecological, nuclear age.
McGinn, B. The essential writings of Christian Mysticism.
Watts, A. Behold the Spirit.
Wilber, K. Integral Spirituality.

Naas Ferreira het sy MTh en is 'n skrywer en godsdiens-filosoof.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za