.

Prentjies, vensters en spieëls

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2017

.

Elke boek wat ons lees, elke fliek, teaterstuk of skildery waarna ons kyk, die musiek waarna ons luister, en elke gesprek met 'n ander mens, teken vir ons 'n prentjie. Dit maak vir ons 'n venster oop op iemand anders se stukkie wêreld en op 'n manier hang dit 'n spieël voor ons waarin ons tog ook iets van onsself herken.

Haar mamma sê toe vir haar: Vat hierdie mandjie na jou ouma toe. Sy is siek. Sy lê in die bed. Maar moenie van die paadjie afdraai nie en moet ook nie met die wolf praat nie. Gaan reguit deur die bos na ouma se huisie toe!

Die dag wanneer 'n mens gebore word, knip hulle jou naelstring, weeg en meet jou, was die ergste bloed af en dan sit hulle vir jou 'n rugsakkie op jou rug en gee jou vir jou ouers om jou huis toe te vat. Wanneer jou ouers met jou by die huis aankom, tel hulle jou tone en vingers om seker te maak dat jy darem opsigtelik normaal vertoon en dan, voordat hulle jou in die wiegie neerlê, sit hulle vir jou 'n bril op.

Soos wat jy ouer word, word hierdie bril se lense al meer vir jou, deur hulle, gevorm. Die bril laat jou sien dat jy aan 'n bepaalde ras behoort, dat jy 'n spesifieke taal praat, dat jy binne 'n waarde-sisteem leef waar sekere norme, beginsels en reëls geld. Jou bril help jou om raak te sien dat jy in 'n bepaalde klas of stand, inkomstegroep, geslag en sosiale struktuur grootword. Al hierdie dinge vorm en verstel en kleur die lense van jou bril.

Die rugsak wat jy by die hospitaal gekry het, bly ook nie vir lank leeg nie. Want gou hoor jy dat jy jou oupa aan moederskant se kort vet vingertjies het en dat jy jou ouma aan vaderskant se skerp skril stem en groot keelgat het. En jy pak dit in jou rugsak. Later hoor jy dat jy na jou pa aard want jy is net so lui en doof soos hy wanneer jy 'n opdrag kry. En jy pak dit in. Jou graad een juffrou sê jy skryf lelik en jy kan nie behoorlik lees nie en jy sukkel om jouself uit te druk. Jy kan bly wees as jy eendag matriek gaan slaag. En jy pak dit in. Jy hou nie baie van rugbyspeel pouses nie en die ander seuns sê jy is 'n moffie. En jy pak dit in. In graad vier hoor jy dat jy nie aangelê is vir wiskunde nie, en jy pak dit in. In graad vyf hoor jy dat jy nie voor in die ry gestaan het toe kreatiwiteit uitgedeel is nie en in graad sewe word jy nie leerlingraad nie, so jy aanvaar dat jy nie leierseienskappe het nie. En jy pak dit in.

In graad agt skei jou pa en ma en jy ervaar dat jou pa ook van jou skei want al wat saakmaak is sy nuwe vrou en haar kinders. En jy pak dit is. In graad tien wil niemand saam met jou skoolsokkie toe gaan nie en in graad twaalf kry jou ma 'n nuwe vriend en jy word skielik op die agtergrond geskuif en moet met die tweedeplek tevrede wees. Alles wat met jou gebeur, alles wat jy ervaar en alles wat almal vir jou sê, of wat jy dink, ander van jou dink, pak jy in jou rugsak en jy dra dit saam.

Op 'n manier is hierdie rugsak 'n towersak want alles wat jy daarin pak, kry bonatuurlike kragte as dit lank genoeg daarin lê. Mettertyd kruip dit uit die rugsak en dit kom verander die lens van jou bril, maar dit klim ook in jou ore en bou sulke klein filtertjies en plak dit teen jou oordromme vas. En alles wat jy dan hoor, moet eers deur die filtertjie gaan voordat dit in jou denkproses spring. En van daar af gaan lê dit êrens in jou lyf. Maar die misterie is dat al hierdie goed met jou gebeur sonder dat jy eintlik daarvan bewus is. En so kyk jy na prentjies deur die vensters van jou bagasie en sien jy in die spieël dit wat jy daar wil sien!

Nadat sy in die bos gestop het om 'n paar blommetjies vir ouma te pluk, en die wolf haar van 'n kortpad oortuig het, kom sy toe uiteindelik by ouma se huisie aan en sy klop aan die deur.

Plato was 'n Griekse filosoof wat in Athene gebly het. Hy het 'n stukkie grond by sy pa geërf. Op die lappie aarde was daar 'n olyfboord aangeplant. Plato was 'n leerling van Sokrates. En omtrent in die jaar 387 voor ons huidige jaartelling, besluit hy toe om 'n skool op sy plasie te begin. Hy noem sy skool toe: Die Akademie. Dit het later ontwikkel tot die eerste universiteit in die Westerse wêreld. Aristoteles, onder andere, was 'n leerling van Plato, wat vir omtrent twintig jaar lank 'n ingeskrewe student by die Akademie was.

Die interessante ding van Plato se Akademie was sy onderrigfilosofie. Plato het gereken dat 'n mens die meeste leer deur te redeneer. Om dialektiese debatte te hê en gesprekke met ander te voer, verruim jou denke. Om met die opinies van ander kennis te maak, hetsy deur lesings van hulle by te woon, boeke van hulle te lees, of gesprekke met hulle te voer, laat jou meer van die lewe en die dinge rondom jou leer.

Elke mens kom vanuit 'n bepaalde verwysingsraamwerk met jou eie insigte en kennis, en wanneer jy dan blootgestel word aan die kennis en oortuigings van ander, verruim en verbreed jou eie verstaanshorisonne.

Toe sy die huisie se deur oopmaak, stap sy in en gaan staan langs ouma se bed. Sy kyk haar ouma snaaks aan en sê: Hoekom is ouma se oë so groot? "Om beter te kan sien, my kind!" En hoekom is ouma se ore so groot? "Om beter te kan hoor, my kind!"

Wanneer ons by 'n ander mens aankom, of by 'n gesprek, of 'n boek, of 'n fliek, of 'n leersituasie, is sien en hoor ook die ding wat ons doen. Maar ons kom daar aan met 'n bril op ons neus en 'n rugsak oor ons skouers. En alles in die rugsak het klaar merke op ons brillense gemaak en aan die filters in ons ore gestel en êrens in ons lyf gaan lê. Ons is dus nooit volledig oop vir enige ervaring nie. Ons daag oral op met bagasie. Ons interpreteer en verstaan alles vanuit ons persoonlike geskiedenis.

Dit was eers toe Rooikappie uitvra na die ouma se groot mond dat sy die wolf herken en die situasie interpreteer vir wat dit is. Toe sy die wolf herken, breek die oomblik van waarheid en konfrontasie aan.

Vir ons eie spirituele en emosionele groei, is dit van wesenlike belang dat ons ook die wolf herken. Ons moet bewus wees en al meer bewus word van onsself en ons rol as gespreksgenoot, as leser, as lewensmaat, as vriend, as kind, as staande in verhouding tot iemand anders.

Plato het dikwels met sy studente in die olyfboord gaan stap en in die koelte van die bome 'n tema aangekondig om dialoog oor te voer. "Buite in die oopte," was simbolies vir die voorvereiste van groei en die vermeerdering van kennis. Om te kan groei, is daar ruimte nodig. Om die prentjie te kan sien, moet die venster oop wees.

Vir ons groei, is dit nodig om in die spieël te kyk! Om die lense en filters en rugsak wat ons as bagasie saamdra, te identifiseer, en neer te sit, want dit word vooroordele vir ons gesprekke. Dit perk ons groei in. Dit verhinder ons om in die styl van Plato van mekaar te leer wanneer ons met mekaar praat want ons bou mure om ons en ons bagasie hou ons denke en verhoudings gevange.

Toe die houtkapper die wolf doodmaak, het die beeld in die spieël verhelder, en is die waarheid oor ouma ontbloot, die prentjie het deur die venster sigbaar geword en Rooikappie het vir lank gelukkig saam met haar familie gebly.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.