Persoonlike vertellings – twee paaie wat in die
Nederduitsch Hervormde Kerk begin

My pad tot ongeloof

Deur Attie Koekemoer op 1 April 2010

Ek is met die ongelowige geen gebore.

Ek kan enkele momente in my lewe herroep wat ek gevoel het dat ek in iets glo.

Dit was egter die tekort aan daardie "gevoel" van geloof wat my laat besluit het om teologie te gaan studeer.

Baie gelowiges sal my kritiseer omdat ek "geloof "met "emosie" verwar, maar dit is hoe dit aan my verkoop is – as 'n gevoel. Woorde soos "sekerheid", "tevredenheid", "dankbaarheid" en "afhanklikheid" is aan my voorgehou as die bewysstukke van ware geloof. Indien 'n mens nie só "voel" nie, verstaan jy nie die Blye Boodskap nie.

'n "Vaste wete" is ook as deel van die geloof-pakket aangebied. Dit skep na my mening die indruk dat ons met "kennis" te make het, hoewel "vaste" tog steeds 'n aanduiding van "emosie" is.

En tog dink ek dat ek wel die essensie van hierdie Blye Boodskap verstaan.

Ek kan nie soos Christopher Hitchens getuig dat ek al sedert my jeugjare 'n skeptiese ingesteldheid gehad het nie. Die Bybelstories het my net eenvoudig nie geraak nie. Oom Dana se Wolf en Jakkals, Liewe Heksie en Oom Kaspaas het 'n veel groter indruk gelaat, as die misplaaste stories van Abraham se verhoudingslewe en Jesus se laaste maaltyd.

My opvoeding het daartoe bygedra dat ek die keuse teen "geloof" kon maak. My pa was doelbewus krities teenoor enige vorm van fundamentalisme. Hy was altyd te vinde vir 'n gesprek waar geloofsake onder die vergrootglas geplaas is. Swart of wit etiese uitsprake was in sy oë net eenvoudig ongehoord.

Talle faktore was boustene op die pad wat ek nou loop:

Vir 'n verdere aantal jare het ek voortdurend hulde aan Jesus gebring. Sy filosofie om sy medemens te dien, was steeds vir my van groot belang. Hy het immers die waardigheid van agtergeblewe mense herstel deur almal gelyk voor God te stel.

Mettertyd het my agting vir Jesus vervaag. Ek het agtergekom dat Jesus se boodskap aan die mensdom nie enig in sy soort was nie. Jesaja het eeue tevore dieselfde idees verkoop. Boonop was daar deur die eeue talle geestelikes wêreldwyd wat soortgelyke waarhede verkondig het.

Die wetenskap, nie Jesus nie, het my geleer dat mense in die eerste plek dier is, van dieselfde spesie, en daarom gelyk is in sy/haar stryd om oorlewing. Ons mensdom se stryd om oorlewing en ons histories-biologiese afkoms bring genoegsame gelykheid mee. Dit is daarom nodig dat elkeen hom/haarself met die natuur moet vereenselwig.

Dr. Ian McCullum het in sy boek An Ecological Intelligence hierdie bewussyn in my wakker gemaak. Hierdie nuwe manier van dink, maak Jesus nie onsinnig nie, maar wel oudtyds en nutteloos vir die moderne wetenskaplike mens.

In ons stryd teen aardverwarming en ter wille van oorlewing, sal dit verkeerd wees om op die knieë te wag in die hoop dat God se nuwe koninkryk gou sal kom. Katastrofiese klimaatswoelinge is nie bloot tekens van die eindtye en daarom tekens van die koms van God se Koninkryk nie. Hierdie is eerder tekens van ons menslike laksheid, ons broosheid en ons grootskaalse onkunde oor ons eie posisie in die natuur.

Ek stel voor ons neem sake in eie hande en beplan die oorlewing van ons spesie tesame. Om vas te klou aan die uitgediende filosofie van Jesus hou myns insiens 'n groot gevaar in. Ons het kennis, begrip en tyd nodig – nie gebede, aanmanings en 'n spoedige oordeelsdag nie.

Mense wat die Bybel letterlik lees, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die teleurstelling wat Jesus se uitgestelde wederkoms elke dag bring. Hy het immers beloof dat God "in hierdie geslag" (die geslag van sy dissipels) sal kom om te oordeel en sy nuwe koninkryk sigbaar te maak. Behalwe vir hierdie leuen, was Jesus behep met die eindtyd. Ek dink dit was bloot 'n versteurde gedragspatroon, waarin hy voorgee om spesiale voorkennis van bo te hê, nes Noag van ouds.

Jesus se ganse etiek het 'n tydelike "reddingsboot"-karakter. "Byt net vas, God kom nou-nou." Duidelik blyk dit toe 'n baie lang tyd te wees. Indien iemand jou dus vra vir jou bo-kleed, moet liefs nie ook jou onderkleed gee nie, anders sal jy kaalbas jou lewe lank moet loop.

Ek noem myself nie meer 'n gelowige nie. Tog is ek 'n gelukkige mens, lief vir die lewe en sien uit na die dag van môre. Ek is nie op soek na 'n god nie, nie eers partymaal nie. Ek begeer 'n lewe met vars lug, opwinding en avontuur.

Ek wil verantwoordelik lewe. Ek sal graag lánk wil lewe omdat ek die lewe ten volle geniet. Ek geniet my vriende en my gesin. Ek staan daagliks verstom voor die resultate van spanwerk in die algemeen, maar veral in die wetenskappe. Ek glo steeds dat "speel" die beste metode van leer is.

Verder wil ek begrip toon aan almal wat nie my sentiment deel nie. Dit grief my grensloos indien ander teen my diskrimineer op grond van een of ander godsdienstige of ideologiese oortuiging.

Ek neem ook standpunt in teen mense wat hulself teen die florerende voortbestaan van hul eie spesie verset.

Attie, 'n voormalige Hervormde teoloog, is 'n avonturier wat tans in die fietsbedryf is. Hy het 'n familieonderneming wat sportklere vervaardig. Hy het verlede jaar tydens die religie-in-skole debat hom sterk uitgespreek teen die beoefening van godsdiens in skole. Sien Rapport artikel.
Huis: 011 782 3436 / Werk: 011 88 88 2 88 / Sel: 082 335 3358 /

Van fundamentalis tot bevryde

Deur Gert Janse van Rensburg op 1 April 2010

My lewensreis het as jong seun in die Nederduitsch Hervormde Kerk begin.

My ouers was aktief betrokke by die kerk. Ma by die sustersvereniging en pa op die kerkraad, eers diaken en later ouderling. Die kerk was my tweede tuiste. Ek is gedoop, gesondagskool, gekatkisasie, aangeneem en teologie gaan studeer. As boerseun is ons geleer om met respek teenoor God en die natuur te leef. Ons was diep afhanklik van 'n God wat in ons behoeftes voorsien het. As hierdie God besluit om Sy hand vir ons toe te hou, sou ons ten gronde gaan.

Ten spyte van droogtes en haelstorms het ek steeds geglo. Ek kon nie vir beter kinderjare vra nie. Sorgvry, na aan die aarde, gelukkig op skool, goed presteer, maklike tiener. Net lekker!

Wat ek wel nooit kon kleinkry nie, was waarom almal so behep met reëls en regulasies was. Dwarsdeur my lewe, op skool, in die koshuis en later op universiteit het ek gevoel ek is vasgevang deur "moets" en "moenies".

My begeerte om te "behoort" het my gedryf om die spel te speel en streng by die reëls te bly. Ek het meegehelp om hierdie reëls af te dwing.

Ek wou hê almal moes 'veilig' en 'reg' leef. Die kerk se dogma het handig te pas gekom om so 'n lewe af te dwing. Van vryheid was daar later geen sprake meer nie. My hele lewe was daarop gerig om mense tevrede te stel en op die "regte" pad te hou. Hoe meer vry ek wou wees, hoe meer het ek ander en myself gedwing, via hierdie dogma, om ingeperk en nougeset te leef.

"Vrees" was 'n goeie instrument om te gebruik. Ek kan goed onthou hoe ek as jong predikant die gemeente letterlik bang gepreek. Ek het hulle bang gemaak met die duiwel en die hel.

My pa se woorde aan ons as kinders het my egter altyd bygebly: "Mens is vir niks en niemand bang nie, behalwe vir God." En hierdie bang is nie 'n vrees wat die kerk by ons aangewakker het nie maar 'n respek en ontsag vir die Absolute en Onverklaarbare.

Een Sondag by 'n doopgeleentheid het ek tydens die lees van die doopformulier onder die geweldige indruk gekom dat wat ek besig was om vir die ouers te lees, absolute nonsens was. Dit was ontstellende en bevrydende gedagtes! Ek kon nie meer vir opgewonde ouers vertel dat die wonderlike nuwe lewe, die baba in hulle arms, eintlik sleg is en tot die hel verdoem is nie! Daardie babas was perfekte wesens, perfekte siele aan die vooraand van hulle lewensreis en hier verwelkom ek hulle met woorde soos: "tot die hel verdoem!", "sondig en ellendig". Dit kon net nie meer nie.

Die doopvont het toe 'n keerpunt in my lewe gebring. Ek het begin soek. Ernstig begin lees, veral die stof wat vir die kerk onaanvaarbaar was.

My hele lewe het verander. My verstaan het vergroot en vrees het soos mis voor die son verdwyn ... ek was vry. Uiteindelik!

Die ontsag en respek wat my ouers ons as kinders geleer het, het vir die eerste keer sin gemaak. Ek kon nou ook ontsag en respek hê vir mense wat "anders" dink en wat in ander geloofstradisies is.

Alles is uiteindelik net mensgemaakte strukture waardeur die mens vir eeue lank al probeer sin maak in hierdie lewe. Om vry te raak van dogma, reëls en regulasies het nie beteken om onverantwoordelik te lewe, met geen ontsag nie. Die teendeel het eintlik waar geword: Ek het vir die eerste keer geleer om self verantwoordelikheid vir my lewe te neem. Om op te hou om ander mense, die duiwel, bose geeste of selfs God te blameer vir my eie tekortkominge en mislukkings in die lewe. Sonde het "lesse" geword waardeur ek groei en ontwikkel. Agterdog en afguns het plek gemaak vir 'n ongekende sagtheid wat 'n mens se hart met onvoorwaardelike liefde vul.

Dit bly 'n reis. Sommige dae val ek hard, om dan maar net weer op te staan, die stof af te skud en verder te reis.

In "vryheid" het ek God vir die eerste keer werklik ontdek: nie as 'n vreesaanjaende en verdoemende figuur iewers in die hemel op 'n troon nie, maar as 'n werklikheid binne en rondom my. My hartklop is God, my asem sy Gees, my lewe sy Lewe. En dit is ook in elke lewende organisme rondom my. Ek kan nie meer diere met minagting hanteer of plante misbruik nie, want God is oral en in als. Ek het God leer ken as die mooi in die natuur, as die liefde in mense, as die lesse in ons lewens, as die reis wat ons reis.

Nou is ek bevry tot 'n verstaan dat selfs in die slegte is God ook. Ons verdraai die konsep van God dikwels deur ons vieslike en onverantwoordelike optredes, maar agter dit alles lê die alomteenwoordige Bewussyn van God. Daarom is dit moontlik dat slegte ook ten goede kan meewerk.

Kan ons as mense op hierdie lewensreis in die eerste plek bevry word van die bindende dogma, leuens en korrupsie? Die antwoord is, JA. Ek het! Ons kan saamleef met 'n diepe respek en liefde, ten spyte van groot verskille. Daardie respek en liefde vind ons nie in 'n verdoemende dogma en preke nie maar in 'n vryheid om te leef en te wees wie en wat elkeen werklik is. En wat is dit? Dit is God.

Saam met Paulus kan ek insien dat God in alles, rondom alles en alles tot God is, werklik buiten God is daar niks! Jý bestaan in God, deur God en tot God.

Ds. Gert Janse van Rensburg het in 2004 die Renaissance gemeente in Pretoria begin. Hy is steeds aan hierdie gemeente verbonde.
Tel: 082 652 0490 /

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za