Pandeïsme

Deur Abe Steyn op 1 Junie 2012

Wat is pandeïsme?

Pandeïsme is die siening dat God die heelal geskape het deur homself in die heelal te verander. Dit is die samevoeging van twee denkrigtings, deïsme en panteïsme. Dit poog om die vrae wat die twee sienings onbeantwoord laat te beantwoord. Deïsme is die siening dat God die heelal geskape het en nie verder daarby betrokke is nie. Deïsme antwoord nie die vrae hoe en hoekom God die heelal geskape het nie. Volgens panteïsme is die heelal God, maar verduidelik nie hoe het die heelal ontstaan nie.

Hoekom kan die afleiding gemaak word dat God verantwoordelik was vir die ontstaan van die heelal?

Ons kan nie altyd weet hoe het iets gebeur nie, ons kan wel na sekere dinge kyk en probeer afleidings maak om die hoe en hoekom vrae te antwoord. Daar is twee argumente ter verdediging van die siening dat 'n god verantwoordelik was vir die ontstaan van die heelal, nl. die Kalam kosmologiese argument asook die sterk antropiese beginsel. Beide is al baie bespreek, ek gaan dit net kortliks noem en ook die teenargumente antwoord.

1.   Kalam kosmologiese argument:
a) Alles wat begin bestaan het, het 'n verwekker.
b) Die heelal het begin ontstaan.
c) Dus het die heelal 'n Verwekker
Hierdie is maar slegs die filosofiese uiteensetting van die wet op die behoud van energie/materie. Hiervolgens kan iets nie uit niks ontstaan nie. Dit skep 'n dilemma, want die heelal waarin ons lewe het nie 'n onbeperkte ouderdom nie en het 'n ontstaan gehad. Ons kan op vier maniere antwoord:

1.   Ons kan aanvaar die heelal het uit niks ontstaan.
Hierdie is 'n baie swak hipotese, want dit kan nie verduidelik hoe kan so iets gebeur nie. Dit word verder verswak omdat so 'n belangrike natuurwet ontken word.

2.   Die heelal het ontstaan uit die kwantumveld.
Hierdie is 'n baie gewilde siening onder moderne fisici. Dit is egter nie sonder probleme nie. As die heelal uit 'n kwantumveld bestaan het, waaruit het die kwantumveld dan ontstaan? Die kwantumveld beantwoord nie die vraag nie, dit verskuif dit net.
Daar kan ook geargumenteer word dat die kwantumveld vir ewig bestaan het en dat ons dus nie nodig het om die ontstaan daarvan te verduidelik nie. Hierdie siening skep egter ook baie probleme. Die kwantumveld is nie staties nie, daar is gedurig "skommelinge". Dit skep die probleem dat die kwantumveld nie tydloos kan wees nie, want daar is gebeure in die kwantumveld (en dan logies 'n voor en 'n na, m.a.w. tyd, 'n gebeurtenis.) So 'n ewige kwantumveld sal dus tyd asook bewegings/ gebeure sonder einde bevat. Dit skep probleme omdat 'n oneindigheid nie kan bestaan nie. Hoekom kan 'n oneindigheid nie bestaan nie? Want iets wat selfweersprekend is kan nie bestaan nie! Ek gaan weereens die voorbeeld van 'n oneindige aantal gode gebruik:
Stel jouself voor daar is 'n oneindige hoeveelheid gode. Op 'n mooi dag breek daar 'n vreeslike epidemie onder hulle uit. Kom ons gestel 1) die helfde van hulle gaan dood (wat 'n oneindige hoeveelheid is), dan is daar nogsteeds 'n oneindige hoeveelheid oor. 2) Of miskien gaan almal dood, nou is daar geen gode nie. 3) Of miskien sterf almal en net drie bly oor. Hieruit kan ons weet dat 'n oneindigheid nie bestaan nie, want dit lei tot weersprekings, dit sal duideliker word as ek dit wiskundig uitskryf:
( ∞ is die teken vir oneindigheid)
1) ∞ - ∞ = ∞
2) ∞ - ∞ = 0
3) ∞ - ∞ = 3
Al drie antwoorde is korrek, maar tog
∞ ≠ 0 ≠ 3, die antwoorde weerspreek mekaar dus.

3.   God was verantwoordelik vir die ontstaan van die heelal.
Hierdie is die teïstiese en deïstiese antwoord. Maar hierdie antwoord is selfweersprekend! Die bewering kan nie gemaak word dat die heelal nie uit niks kon ontstaan nie en dan word daar gesê God het die heelal uit niks geskape nie, want dan maak jy die stelling wat jy 3 sekondes gelede gesê het is verkeerd:
Teïs: Die heelal kon nie uit niks ontstaan het nie!
Ateïs: Nou waar kom die heelal dan vandaan?
Teïs: God het dit geskape!
Ateïs: Waaruit het God die heelal geskape?
Teïs: Uit niks!
Ateïs: Maar jy het dan nounet gesê die heelal kon nie uit niks ontstaan het nie!

4.   God het homself verander in die heelal
God vervang volgens hierdie siening as't ware die kwantumveld, maar dit kan ook moontlik wees dat God homself nie in die heelal nie, maar in die kwantumveld, verander het. Die vraag wat dan gevra gaan word is "Waar kom God vandaan?" Anders as die heelal of die kwantumveld kan ons egter onsself 'n god voorstel wat nie 'n begin gehad het nie en wat vir ewig bestaan het. Die rede hiervoor is dat God staties kon wees, God kon absoluut niks gedoen het voor hy homself in die heelal/kwantumveld verander het nie.

2.   Die sterk antropiese beginsel
Die wette in die heelal is nie kompleks nie. Daar is egter so paar dinge aan hierdie wette asook aan die natuurkragte wat verbasend is. Die heelal is "ingestel" vir die ontwikkeling van kompleksiteit. Ek noem slegs so paar voorbeelde:
a) As die sterk kernkrag net 'n paar persentasie punte sterker of swakker was, dan kon sterre nie bestaan nie (die sterk kernkrag is die krag wat die bestaan van atoomkerne moontlik maak.)
b) Dit is nie net sekere kragte wat oor 'n sekere sterkte moet beskik nie, maar hulle relatiewe sterkte tot mekaar moet ook presies wees. Swaartekrag en die elektromagnetiese krag speel beide 'n groot rol in die werking van sterre. Indien enige van hierdie twee kragte net 1 deel uit 10^40 sterker of swakker was dan kon sterre soos die son nie bestaan nie, die heelal sou slegs blou reuse en rooi dwergsterre bevat het.
c) Die kosmologiese konstante moet ook baie presies wees (die kosmologiese konstante het te doen met die ontwikkeling van die heelal na die oerknal). Indien die kosmologiese konstante so min as 1 deel in 10^53 (1 uit 'n miljoen biljoen biljoen biljoen biljoen biljoen!) anders was, dan het die heelal onmiddelik na vorming of weer inmekaargestort of atome kon nie gevorm het nie.
d) Indien swaartekrag slegs 'n 1 000 maal sterker was sou die aarde 'n deursnee van slegs 12 meter hê. Indien swaartekrag slegs 3 000 maal sterker was, sou sterre met 'n leeftyd van meer as 'n biljoen jaar nie kon bestaan nie. (Ons son se leeftyd is 10 biljoen jaar. Die aarde is byna 5 biljoen jaar oud en het ongeveer 'n biljoen jaar gevat om genoeg af te koel voordat lewe kon vorm. Lewe het omtrent direk gevorm nadat die aarde genoeg afgekoel was.) (3000 maal sterker klink vreeslik baie, maar eintlik is dit ongelooflik min. Net vir perspektief, Swaartekrag is die swakste krag en die sterk kernkrag die sterkste, swaartekrag is 10^40 keer swakker as die sterk kernkrag!)
Dit is ook verbasend dat nie een van die kragte se sterkte voorspelbaar is nie. Ons weet nie hoekom het swaartekrag of enige van die ander kragte 'n spesifieke sterkte nie, ons kan wel uitwerk hoe sou dinge gewees het as hulle sterkte anders was. Hiervolgens kon daar baie min heelalle bestaan waar kompleksiteit kon ontwikkel. Hierdie verskynsel word op drie maniere geantwoord:

1.   Daar is meer as een heelal
Ons weet slegs van een planeet in die heelal waar lewe voorkom. Verder blyk dit ook asof die aarde spesiaal ontwerp is om lewe te kan onderhou. (regte afstand vanaf die son, 'n atmosfeer wat gasse bevat wat lewe moontlik maak, 'n maan, tektonies plate, ens, ens, die lys kan vreeslik lank gemaak word). Vandag weet ons egter daar is baie ander planete in ons sterrestelsel. Sou daar slegs een planeet wees in die heelal dan was die ontstaan van lewe asook die faktore wat die ontstaan en verdere evolusie van lewe moontlik maak 'n wonderwerk. Hoe meer planete daar egter in 'n sterrestelsel is hoe groter word die moontlikheid dat een van die planete oor die regte eienskappe sal beskik om lewe moontlik te maak. As aanvaar word dat daar planete in ander sterrestelsels ook is dan is dit nie meer so verbasend dat lewe en selfs komplekse lewe op planete voorkom nie.
Dieselfde geld vir die heelal. Indien daar slegs een heelal is wat oor die regte eienskappe beskik om kompleksiteit moontlik te maak dan sou dit 'n wonderwerk wees. Sou daar egter meer as een heelal wees is die bestaan van 'n heelal met sulke eienskappe nie verbasend nie. Die meeste van hulle sal natuurlik nie kompleksiteit bevat nie, net soos wat die meeste planete nie lewe onderhou nie.
Ons weet egter nie of daar meer as een heelal is nie."String theory" en ander kwantumfisika hipoteses voorspel wel dat dat meer as een heelal bestaan, maar dit bly alles hipoteses. Ek sal later verduidelik hoekom pandeïsme 'n beter hipotese is.

2.   Die swak antropiese beginsel
Hierdie is nie regtig 'n goeie verduideliking nie. Daarvolgens is die heelal soos wat dit is want as dit anders was sou ons nie hier gewees het nie. Hierdie stelling is niksseggend en kom daarop neer dat die heelal is soos wat dit is want dit is soos wat dit is.

3.   Die heelal is beplan
Kom ek gebruik weer die voorbeeld van planete. As daar slegs een planeet in die heelal was dan sou dit verbasend wees as daardie planeet lewe bevat het en ons sal nie kon sê dit is maar toevallig so nie. Dieselfde redenasie geld vir die heelal, die heelal kon oor 'n groot hoeveelheid eienskappe beskik het wat kompleksiteit onmoontlik maak, in 'n lukrake heelal sou selfs iets soos die vorming van sterre hoogs onwaarskynlik wees.

Hoe verduidelik pandeïsme die aard en ontstaan van die heelal die beste?

Alles wat ons sê oor die ontstaan van die heelal is hipoteses. Hoe kies ons die beste hipotese? Die beste hipotese is die een wat die meeste verskynsels verklaar en die minste aannames maak. As daar 'n godsbeskouing aan die hipoteses geheg word is die godsbeskouing ook afhanklik van hoe goed of sleg die hipotese is.

Deïsme
Deïsme het twee swak punte. Die eerste is 'n aanvaarding dat die heelal uit niks ontstaan het. (Sien punt 3 by die bespreking van die Kalam kosmologiese argument) Die tweede is die vraag oor hoekom God onbetrokke is by die heelal. Dit is verbasend dat 'n god 'n heelal op so 'n manier sou skape dat selfbewuste wesens daarin sou ontwikkel, maar dan nie betrokke raak by die wesens (waarvan die meeste 'n soeke na 'n god het!) nie.

Teïsme
Teïsme het dieselfde probleem as deïsme, nl. 'n ontstaan van 'n heelal uit niks. 'n Geopenbaarde God skep meer antwoorde as wat dit beantwoord, want die openbarings is deur die bank kultuurgebonde. Die dinge wat al die verskillende gode na bewering sou gesê het is in die meeste gevalle nie toetsbaar nie en in baie gevalle as verkeerd bewys. Baie teïstiese sienings se verduidelikings is so onwetenskaplik (soos bv. die verskillende vorms van kreasionisme) dat dit ignoreerbaar is.

Ateïsme
Ateïsme kan een van twee probleme hê: Dit glo die heelal het uit niks ontstaan, dit is om in 'n wonderwerk te glo, maar nie te glo iets/iemand was verantwoordelik vir die wonderwerk nie. Indien daar nie geglo word in hierdie wonderwerk nie dan word geglo in iets wat nie kan bestaan nie, nl 'n oneindigheid van een of ander aard.

Agnostisisme
Agnostici kan basies in twee groepe verdeel word. Volgens die eerste groep weet hulle nie of daar 'n god is nie want ons kan nie weet nie. Die vraag is hoe weet hulle ons kan nie weet nie en hoe weet hulle ons sal nie in die toekoms kan weet nie?
Volgens die tweede groep weet hulle nie of daar 'n god is nie want ons beskik oor te min kennis. Hulle het beslis 'n punt beet, ons sal heelwaarskynlik nooit 100% seker kan wees oor hoe die heelal ontstaan het nie en ons sal beslis nooit 100% seker kan wees oor of daar 'n god is of nie. Maar hulle benader die onsekerheid verkeerd. As ons onseker is oor iets dan stel ons hipoteses saam sodat ons iets het om mee te kan werk en iets het om verder te ondersoek en iets het om te kan toets. Ons kan ook bepaal wat is die moontlikheid dat iets bestaan of nie bestaan nie. Ons weet nie of daar lewe op ander planete is nie, maar ons kan sê die moontlikheid dat daar lewe op ander planete is sal groter wees as die moontlikheid dat die aarde die enigste planeet in die heelal is met lewe. Hoe meer kennis ons insamel hoe meer akkuraat kan ons die moontlikheid dat iets bestaan/nie bestaan bepaal.

Pandeïsme
Pandeïsme het sterk punte, maar ook so paar swak punte.
1.   Swak punte:
a) God het die heelal geskape. Hoe het God dit gedoen? Deur homself in die heelal te verander. Dit klink darem maar blerrie belaglik!! Sien egter punt (a) by Sterk punte.
b) 'n Groot probleem is dat pandeïsme nie voorspellings maak nie. (Dit is egter nie te sê ons gaan nie vorentoe iets ontdek wat pandeïsme kan bevestig nie, maar om nie voorspellings te maak nie is 'n swak punt.)
c) Daar is baie min wetenskaplikes wat ondersteuners van pandeïsme is. Die enigste twee waarvan ek weet is Bernard Haisch ('n astrofisikus met 'n klomp vreemde idees), skrywer van die boek The God Theory. Haisch is egter meer 'n panendeïs as 'n pandeïs. Die ander persoon is Robert Brown, hy het d.m.v. Informasie teorie bewys dat indien daar 'n god dan is God die heelal (hieruit kan mens egter nie logies aflei dat die heelal wel God is nie, dit plaas slegs 'n beperking op wat God kan wees)
2.   Sterk punte:
a) Die ander verduidelikings oor hoe die heelal ontstaan het klink net so blerrie belaglik!! Die heelal is 'n vreemde verskynsel en ons moet miskien aanvaar dat die verduideliking oor hoe die heelal ontstaan het ook vreemd sal wees.
b) Pandeïsme is verkeerd bewysbaar. Indien daar ooit eendag bewyse gevind sal word vir die bestaan van ander heelalle sal dit 'n groot terugslag wees vir pandeïsme (en natuurlik ook vir deïsme en teïsme). Interessant genoeg is die bestaan van meer as een heelal nie verkeerd bewysbaar nie en daarom is dit 'n swakker hipotese as pandeïsme, deïsme en teïsme.
c) Ateïsme het twee hipoteses nodig, een om die ontstaan van die heelal te verduidelik en een om die aard van die heelal te verduidelik. Teïsme en deïsme het beide slegs een hipotese nodig om beide hierdie verskynsels te verduidelik. Pandeïsme verduidelik ook die ontstaan en aard van die heelal in een hipotese, maar is verder nie afhanklik van enige wonderwerke of verbreking van enige natuurwet nie. Pandeïsme is die beste hipotese omdat dit die meeste verklaar en die minste aannames maak.

Die heelal se "goddelike" eienskappe

Die teïstiese God word baie dikwels beskryf as alwetend, almagtig en alomteenwoordig. Ek gaan probeer aantoon dat die heelal net so goed en selfs beter aan hierdie eienskappe voldoen as wat 'n god wat buite die heelal staan daaraan voldoen. (Vir duidelikheid moet ek byvoeg dat ek in al drie gevalle aanneem dat daar slegs een heelal is.)

Alomteenwoordigheid:
Die heelal is nie net die sterretjies en planete wat ons sien nie, dit is soveel meer as dit. Tyd is deel van die heelal, ruimte is ook deel van die heelal. Die heelal het slegs 'n binnekant, daar bestaan nie so iets soos buite die heelal nie. Om te sê God is buite die heelal is om te sê God is nêrens nie. Die heelal is egter alomteenwoordig omdat die heelal al die ruimte wat daar is bevat. Die heelal is orals, dit wat nie deel van die heelal is nie bestaan nie. Iets of iemand kan nie op 'n plek wees wat nie bestaan nie. Verder is dit ook logies dat as God nie deel van 'n sisteem is nie hy nie in die sisteem teenwoordig is nie, of die sisteem nou die hele heelal of net 'n deeltjie daarvan is.

Almagtig
Ons kan nie sê om almagtig te wees is om alles te kan doen nie. Om maar weer die eeu oue vraag te vra: Kan God 'n klip maak wat so swaar is dat hyself dit nie kan optel nie? Ons kan die vraag ook so bietjie anders vra: Kan God die wette wat hy onbreekbaar gemaak het verbreek? Die heelal kan as almagtig gesien word in die opsig dat alles wat kan gebeur binne die heelal gebeur. Niks kan buite die heelal gebeur nie, want weereens, die heelal het nie 'n buitekant nie.

Alwetend
Kan die heelal enigsins enige iets weet? Is die heelal selfbewus? Natuurlik is dit. Ons as mense kan dinge weet en ons is selfbewus. Dit is verkeerd om te sê mense is in die heelal, ons is deel van die heelal, net soveel as wat die sterre en ruimte deel is van die heelal. Ons is die deel van die heelal waar die vermoë om selfbewus te wees en kennis in te samel lê. Kom ek verduidelik dit anders: 'n Mens is selfbewus, maar tog kan ons nie sê 'n mens se lewer of longe is selfbewus nie. Die deel, nl. die brein, waar die selfbewus lê is slegs 'n deel van 'n mens. Hierdie deel van die mens kan ook kennis insamel oor ditself, asook oor die ander dele van die mens. Net so is daar dele in die heelal wat nie selfbewus is nie, maar nog steeds kan ons sê die heelal is selfbewus asook dat dit besig is om kennis oor ditself in te samel.
Verder is al die informasie oor die heelal geleë in die heelal en in daardie opsig is die heelal alwetend, al is dit nie bewustelik so nie. Daar is niks buite die heelal nie en daarom is daar ook geen informasie buite die heelal nie. Enige iets buite 'n sisteem kan egter nie volledige kennis oor 'n sisteem hê nie. Om dit eenvoudig te stel, die teïstiese God kan nie alwetend wees nie. So God kan bv. nie weet wat dit is om Piet of Sannie te wees nie, want die god is nie Piet of Sannie nie. Piet weet egter presies wat dit is om Piet te wees en omdat Piet 'n deeltjie van die heelal is kan ons sê die informasie oor hoe dit is om Piet te wees is in die heelal.

Slot

Oor die oorsprong van die heelal sal ons nooit seker kan wees nie. Dit is altyd baie moeilik om te weet wat in die verlede gebeur het, veral as daar min leidrade of inligting is. Ons verduideliking oor wat in die verlede gebeur het moet egter nie bots met wat ons weet nie. Ons weet as die heelal anders was kon kompleksiteit nie ontstaan nie. Ons weet iets kan nie uit niks ontstaan nie (en ons weet die kwantumveld is nie niks nie!). Ons weet oneindighede gee aanleiding tot weersprekings en ons weet iets wat selfweersprekend is kan nie bestaan nie. Al hierdie dinge moet in ag geneem word in ons verduidelikings.
Ek weet pandeïsme sal vir die meeste mense belaglik klink. Ek weet baie min wetenskaplikes sal met hierdie hipotese saamstem, wat nog dit ondersteun. Die beste hipotese is egter die een wat die meeste verklaar en die minste aannames maak, nie die een wat die gewildste is of die wydste aanvaar word of nie vir mense belaglik klink nie.

Hoekom het God homself in die heelal verander? Hieroor kan gespekuleer word, ek dink ook ons sal dit kan antwoord deur te kyk na wat in die heelal gebeur. So ver ons weet is mense die enigste selfbewuste wesens (selfbewuste wesens wat weet ons is selfbewus, om dit meer volledig te stel!) in die heelal, maar dit is nie te sê die heelal is geskape sodat ons hier kan wees nie. Ek dink ons sal baie meer moet leer wat doen die heelal voordat ons kan besluit wat is die doel van die heelal (pandeïsme veronderstel 'n doel). Op hierdie tydstip sal dit slegs raaiskote wees. Verder is pandeïsme 'n hipotese, om te raai wat is die doel van die heelal sal 'n verdere hipotese wees, dit is nooit 'n goeie idee om een hipotese bo-op 'n ander te bou nie.

Abe Steyn kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za