‘n Paar los gedagtes oor Deïsme

Deur Hans Pietersen op 1 Augustus 2011

Redelike denke, vergestalt in die wetenskap, laat nie meer veel ruimte vir gode nie. Hoe harder ons soek na verklarings vir ons waarnemings, hoe kleiner word die gapings in ons kennis waar gode nog kan wegkruip. Galileo het die Aarde verskuif na 'n onbenullige hoekie van die heelal. Darwin het verduidelik hoe gode onnodig is om die ontwikkeling van mens en dier te verklaar. Freud het verduidelik hoe die mens se "siel" verstaan kan word. Marx het uiteengesit hoe gemeenskappe se ontwikkeling ontleed kan word.

Elkeen van hierdie groot geeste se verklarings was onvolledig, maar hulle teorieë was die begin van die einde van die wegkruipplekke vir die gode en het die hoekstene geword waarop hele wetenskaplike vakgebiede later gevestig is. Om nog in gode te glo verg óf ontkenning van feite, óf die verdraaiing van navorsingsbevindinge om vals ruimtes te skep waarin geestelike betekenis nog ingestop kan word. Die Esoterika, Populêre Sielkunde en Mistisisme-rakke in die boekwinkels loop oor van die resultate van sulke oefeninge.

Ons is nog ver van die einde van teologie. Die meerderheid volwassenes vind nog ontvlugting in een of ander (of meer) persoonlike god, oftewel teos. Ongetwyfeld word hierdie vasklewing sterk beïnvloed deur onkunde; groot groepe van die mensdom veg nog teen basiese uitdagings van malaria en diarree en vir hulle is 'n omvattende vergelyking van Die Lewe, Die Heelal en Alles, laag op hulle lys van prioriteite.

Hierdie tekortkoming laat ruimte vir sendingwerk, die volgehoue pogings om magiese denke te onderhou ter wille van geldelike skenkings. Vir ander is die legitimiteit wat geloof bied om Die Vyand uit te delg 'n belangrike bron van militêre aankope. Die een se dood is die ander se brood. En waar die wetenskap darem te naby aan die been sny is daar altyd die ontvlugting wat "kopskuiwe" binne die ruimtes wat oefeninge in die paranormale, esoteriese en pseudowetenskappe bied.

Nie so vir die deïs nie. Tevrede met die vordering van die wetenskap vind die deïs ruimte in die tydperk t=10-30, oftewel daardie ontsaglike kort tydperk na die Oerknal waar ons begrip van die heelal onvolledig is, om sy Misterie te vind. Waar die teïs oortuig is van die bestaan van minstens een van meer as 2800 gedokumenteerde gode en die ateïs van een minder, voer die deïs aan dat daar destyds, sowat 13.7 miljard jaar gelede toe ons heelal sy ontstaan gehad het, 'n godheid betrokke was. In daardie uiters kort, onvolledig verklaarde tydperk kruip die deïs se Misterie nog weg. Waar die deus homself sedertdien bevind en wat sy planne vir ons toekoms is, kan ons net raai.

Die rede wat aangevoer word is nie dat 'n Misterie se vingerafdrukke in die agtergrond van die heelal gevind is nie, maar dat die Misterie "kon" bestaan het; dat dit makliker is om te aanvaar dat "Iets" die bal aan die rol gesit het as dat die bal op sy eie begin rol het. Dit is nou maar eenmaal ons gewoonte om verklarings uit die duim te suig waar ons nog nie verklarings het nie, ongeag hoeveel nuwe misteries ons in die proses skep.

In wetenskaplike terme sou ons sê dat daar tans verskeie kompeterende hipoteses is wat moontlik die ontstaan van die heelal kan verklaar. Hipotese een kan stel dat die heelal spontaan uit die membrane van M-teorie ontstaan het. Hipotese twee kan aanvoer dat die heelal uit "niks" ontstaan het. Hipotese drie kan verduidelik dat 'n Misterie gesê het "laat dit wees", en dit was. Daar is ander teorieë soos die string-teorie en meervoudigeheelalteorie, maar ons hoef nie in detail vas te val nie.

Die koelkop wetenskaplike of skeptikus sal al die hipoteses op die tafel plaas en argumente (hoofsaaklik wiskundig en uit waarneming) gebruik om te besluit watter hipotese voorkeur behoort te geniet. Hierdie oefening is nie lukraak nie – uiters duur eksperimente met uiters gesofistikeerde apparaat (dink aan CERN) word gebruik om hipoteses mee te toets en die fisika daaragter mee uit te pluis.

Nie so vir die deïs nie. Vir sielkundige redes eerder as uit wiskundige oortuiging, dit wil sê weens sentiment eerder as rede, word al die onvolledige teorieë en onderlinge hipoteses van die tafel afgevee en die groot Misterie, die godheid van die deïs, vooropgestel as Die Een wat erkenning vir ons bestaan behoort te kry. Dit ongeag die feit dat ons in die afgelope sowat 200 jaar keer op keer met rooi wange moes erken dat die kulturele gewoonte (alombekend as 'religie') om elke onbekende met 'n Misterie te probeer verklaar, 'n uiters swak baanrekord het.

Die deïs gee oor aan die antieke gewoonte om die onbekende deur middel van agente te verklaar, 'n ingebore neiging sedert oertye. Hy is onstuitbaar – hoe verder terug in ons verlede ons probeer kyk, hoe vaer word die beeld en hoe groter word die gaping (volgens die deïs) van die Uiteindelike Misterie. Dis weliswaar 'n tweedehandse god; die god van Jan Alleman wat uit die Ystertydperk oorgeërf en daarna agtertoe geskuif is, ver die verlede in, tot hy te ver is om hom met die dag-tot-dag lewe van die gelowige te bemoei. Maar ons MOET ruimte laat vir sy voorgestelde Oorspronklike Misterie.

Is deïsme rasioneel? Dalk, in soverre Misteries nog die onverklaarde verklaar.

Moet ons deïsme respekteer? Miskien; maar nie meer as my buurman se siening dat sy vrou mooi en sy kinders slim is nie.

Is deïsme belangrik? Waarskynlik nie, anders sou die term "adeïs" sekerlik bestaan het.

Maar tussen die salige onkunde of hardnekkige ontkenning van die teïs en die eksistensiële waagmoed wat van die ongelowige verwag word, bied deïsme seker 'n laaste vastrapplek om vanaf terug te kyk na die brandende skip van religie.

Spring, vriend, die water is heerlik.

Hans Pietersen, skrywer van die boek "Vrese van ons Vaders", kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za