.

Ou teks, nuwe lig

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Maart 2017

.

Ek kry gedurende die week 'n epos van 'n ouerige NG dominee wat vir my skryf na aanleiding van verlede keer se praatjie. Hy sê dat hy reeds jare gelede opgehou glo het aan 'n opstanding uit die dood en 'n tipe lewe in 'n hemelse hiernamaals. Dat hy ook nie glo aan gebed in die sin van dat jy 'n rympie of 'n lysie goed met God moet bespreek nie. Hy aanvaar ook dat die Bybel 'n mitologiese geskrif is, tog preek hy nog elke Sondag, maar hy wroeg met die vraag of hy homself nog 'n Christen kan noem.

Sy epos het my toe aan die dink gesit oor wat dan die definisie vir 'n Christen is? Toe ek daaroor begin dink, besef ek dat ook die Bybel nie uit een mond praat oor wat 'n Christen is en hoe 'n Christen glo nie, en dat daar in ons eie kerkgeskiedenis hier in Suid-Afrika ook nog nooit net een definisie bestaan het nie.

Lees mens die evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes, noem nie een van hulle die volgelinge van Jesus, Christene nie. Hulle dink aan hulleself as Jode. Jesus was ook nie vir hulle die verlosser of redder soos wat Christene vandag glo nie, maar hy was 'n gesalfde. 'n Christus, 'n Messias. 'n Gestuurde profeet wat vir die mense leiding sou kom gee terwyl hulle in 'n moeilike tyd en omstandighede geleef het. Die verwagting was dat hy hulle dalk van Romeinse oorheersing sou kon red. Hy het met hulle gepraat en vir hulle in sy optrede gewys hoe God is.

En na sy dood, het hulle getuig dat hy reg was oor God. Maar Jesus was nooit vir die gelowiges van die eerste twee eeue, God nie. Hy het nie vir hulle aan die kruis gesterf vir hulle sonde nie. Jy het nie nodig gehad om jou sonde te bely en tot bekering te kom om 'n volgeling van Jesus te kon word nie. Jy moes maar net in die God van Israel geglo het. So, die gelowiges van die eerste paar eeue was nie Christene genoem nie, maar Jode. Hulle het nie in 'n kruis, of 'n opstanding, of 'n leë graf of 'n maagdelike geboorte geglo nie. Hulle was Jode, maar net op 'n ander manier: want hulle het geglo dat Jesus reg was oor God en nie die Fariseërs nie. Hulle was met ander woorde 'n Joodse sekte omdat hulle van die hoofstroom verskil het.

Teen die jaar 60 omtrent, het die Evangelie van Thomas ontstaan. Die groepie gelowiges wat hulle rondom daardie leer geskaar het, het ook niks geweet van sonde en vergifnis en 'n ewige lewe nie. Hulle het wel gehoor van 'n Jesus wat geloop en preek het en hulle het 'n paar van sy stories en segginge geken, maar hulle het nie geweet dat hy wonders en genesings gedoen het nie. Hulle het ook nie geweet dat daar mense was wat Jesus as die gesalfde of die Christus gesien het nie. Jesus was vir hulle 'n profeet wat jou geleer het hoe om 'n Christus te word. Dit was volgens hulle die doel van 'n mens se spirituele reis, naamlik om 'n Christus te word (net soos wat dit in ander tradisies jou doel is om 'n Boeddha te word).

As jy dan 'n Christus word, ervaar jy hemel en die ewige lewe hier en nou want dan is jy in Christus en alles is tog uit en deur en tot hom. Dus word jy deel van die goddelike alles wat die heelal vul.

Paulus het, om dit so blatant te sê, nie 'n saak gehad met Jesus van Nasaret nie. Lees mens sy briewe, sien mens dat hy nie eers geweet het dat daar iemand met die naam Jesus in Palestina rondgeloop en gepreek het nie. Paulus ken nie een van Jesus se gelykenisse of segginge nie. Hy weet nie van een wonderwerk of een genesing wat Jesus sou gedoen het nie. Hy het nie 'n idee gehad dat daar so iemand rondgeloop en dissipels bymekaar gemaak het nie.

Paulus preek oor die krag van dood en opstanding. Dat 'n mens 'n einde moet maak aan 'n bepaalde manier van leef en dat 'n mens nuut moet oorbegin. Hy gebruik dan die metafoor van die kruis. Kruisig jou ou lewe. Trek dit soos 'n ou kledingstuk uit. Beklee jou met iets nuuts. Staan op tot 'n nuwe lewe. Maar van brode en vissies, gelykenisse, en "kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is," weet die stomme broer Paulus niks!

So, in die Bybel en uit die geskrifte van ten minste die eerste twee eeue, is daar nie 'n definisie vir 'n Christen nie. En al die bronne wat vandag aangehaal word om jou te oortuig om 'n Christen te word, was deur mense geskryf wat hulleself as Jode gesien het, en wat nie 'n idee gehad het dat daar ooit ná hulle, iets soos Christene op die toneel sou verskyn nie.

En so het elkeen eintlik maar sy eie stroom en gelofie gehad, wat min met dié van die ander ooreengekom en te doen gehad het, tot omtrent in die vierde eeu toe Rome begin sien het dat daar tog potensiaal in hierdie godsdienstige strominge was. En hulle het toe begin dink dat as mens onder al hierdie strominge 'n gemene deler kon vind, sou dit iets kragtigs kon word waarmee mens die Romeinse Ryk mee kon verenig. En toe smee Konstantyn die leuse: In hoc signo. In hierdie teken gaan ek die wêreld oorwin.

Volgens oorlewering roep hy toe 'n klomp kerkleiers bymekaar, maak hulle in 'n vertrek toe, en sê: julle mag nie uitkom totdat julle uit een mond praat nie. En soldate het buite gestaan en hulle opgepas.

En toe formuleer hulle wat ons tot vandag toe ken as die geloofsbelydenis van Nicea. Die sogenaamde apostoliese geloofsbelydenis of die twaalf artikels. "Ek glo in God die vader, die almagtige..." die belydenis wat elke Sondag in die tradisionele kerke opgesê word.

Na dié belydenis, is hulle almal se lewe ten minste gespaar en die keiser het al die verskillende groepe gedwing om die belydenis te aanvaar. En so is die Christendom in die Weste gevestig. Maar van daardie dag af vir die volgende honderd of so jaar, is daar toe konstante debatte en gevegte in die kerk gevoer, want baie het gereken dat die belydenis drie gode toelaat. Die vader, die seun en die gees. Want elkeen van hulle word in die belydenis as 'n afsonderlike persoon gesien wat sy eie persoonlikheid en funksies het. Die een is die skepper, die een is die verlosser, en die een is 'n geestelike wese.

Toe kom die kerk weer in 'n sinode bymekaar in die vyfde eeu by Calchedon om hierdie stryd finaal te probeer bylê en hulle kom toe op met die belydenis wat bekend staan as die una substantia. Dat daar net een God is, en dat Jesus en die Gees een in wese met die Vader is. Al word hulle dan as drie persone geopenbaar, is dit net een God. Een wese. Dit was toe die begin van die geloof in 'n drie-eenheid.

So selfs die vroeë kerk het vir vier eeue gesukkel om by 'n punt aan te kom waar hulle kon saamstem oor wie God is. Maar dit het nie lank gehou nie want die Oosterse kerk en die kerk in die Weste het al hoe verder van mekaar af begin groei.

Spring mens oor al die eeue tussen-in tot by vandag, het ons nog steeds nie net een definisie van wat 'n Christen is nie. Dis waarom daar soveel verskillende kerke, sektes en groeperinge is.

In ons Gereformeerde tradisie in Suid-Afrika is daar nie eers konsensus nie. Daar is 'n groep wat glo dat die Bybel en elke woord in die Bybel God se woorde is. Daarmee saam moet jy ook die Twaalf Artikels, die Dortse leer en Calvyn se Institusie ernstig neem en jy moet weet dat die weg na saligheid deur Potchefstroom loop. Jy kan nie tot bekering kom nie, want geloof is 'n gawe wat God gee aan diegene wat Hy uitverkies het.

Dan is daar die ander groep wat glo dat geloof 'n gawe is en dat alle gedoopte verbondskinders wat belydende lidmate van die kerk is, ook klaar gered is. Hulle moet net met hulle lewe dankbaar op die redding reageer. En dit doen mens, tong in die kies, deur koeksisters te bak en wors vir die basaar te maak.

En dan is daar die grootste groepering wat effe verskil van die ander twee in die sin dat jy jou hartjie vir Jesus moet gee. Jy moet aanvaar dat Hy jou saligmaker is. Jy moet kies. Jy moet glo. Jy moet leer wat jou doop beteken en dan moet jy met bekering daarop reageer.

So, nie eers die sogenaamde susterskerke se definisie is dieselfde nie.

Dan is daar die ander groepe wat glo dat mens die ontstaansproses en konteks van die Bybel maar kan laat. Dis irrelevant. God se woord en die Heilige Gees werk op een of ander magiese proses deur die teks sodat dit eeue later steeds vir jou bedoel is en dat jy 'n boodskap van God af vir jou persoonlik daaruit kan aflees. Maak dit net oop op 'n plek en lees. Dis vir jou, direk van God af. Nooi Jesus in jou hart, word heilig en doen dieselfde dinge as wat Jesus gedoen het. Onthou elke sonde word neergeskryf, en jy moet joune gereeld bely, anders is jy jou plek in die hemel kwyt.

So, wat nou gemaak? Hoe glo ek vandag? Elke mens moet daardie vraag vir hom- of haarself beantwoord. As ek persoonlik moet bely, sou ek kon sê:

Ek dink anders oor God, die Bybel en Jesus.
Ek aanvaar steeds die sogenaamde Christelike waardes en norme want dit verskil nie eintlik van Islam, Boeddha en die Hindoes nie.
Ek glo saam met Paulus aan eindes en nuwe beginne. Dat mens sekere goed in jou lewe moet afsterf en van tyd tot tyd soort van nuwe beginne moet skep.
Ek glo saam met Matteus, Markus, Lukas en Johannes dat Jesus reg was oor God, want God is vir my ook in 'n sekere sin Liefde.
Ek glo soos Thomas dat elkeen 'n Christus moet word. Dit is die doel van my spirituele reis.
Ek glo soos Konstantyn dat ons in hoc signo... in die teken van die liefde die wêreld kan oorwin.
Ek glo soos die Doppers dat jy jou eintlik nêrens heen kan bekeer nie.
Ek glo soos die Hervormers dat jy dankbaar moet wees.
Ek glo soos die NG's dat jy 'n keuse moet maak en dat dit net jou keuse is.
Ek glo dalk selfs soos die charismatici dat dit nie kan skade doen om selfs vromer te probeer wees as wat Jesus self was nie.
So, eintlik kan ek myself met vrymoedigheid 'n gelowige binne die Christelike tradisie noem, want dis eintlik al tradisie wat ek ken.
Ek sou, as dit moet, myself dalk ook in daardie opsig 'n Christen kan noem. Want die definisie is wyd genoeg daarvoor.

Maar as gevolg van al die etikette, skeeftrekkings en fundamentalisme, verkies ek deesdae om sommer net te sê dat ek spiritueel is. Nie godsdienstig nie. Want die tradisie waarbinne jy leef, maak tog nie eintlik saak nie. Ek is net spiritueel. En ek probeer om met my energie en lewe 'n positiewe verskil te maak, wat mens dalk liefde sou kon noem, as jy wou. So, ek glo min. Ek probeer eerder wees. Ek probeer positief wees. Ek probeer lig en liefde wees. Definisies en etikette maak nie 'n verskil aan ons wêreld nie. Maar liefde en lig en positiwiteit ... dit maak tog wel, so hoop ek, 'n verskil.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.